Madeliefies van staal. Pat Stamatélos
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Madeliefies van staal - Pat Stamatélos страница 7
“Jy’s te traag om verantwoordelikheid vir die huwelik te neem,” is Dae-Yung se gereelde beskuldiging (asof sy kan praat) terwyl sy bene gevou by Cheryl se koffietafel sit met haar biltong-sarmie en groen tee.
Kou-kou, bêre jou kos in jou kies, breek ’n windjie en verstik in jou tee. Dis die Koreaanse manier, miskien die Chinese manier, want Dae se ma is van Chinese afkoms. Die vadertjie weet, soms wonder Cheryl hoekom sy so erg is oor die vrou.
Wat mans betref, het Cheryl ongelukkig die gewoonte aangeleer om elke vrygesel wat oor haar pad kom met haar broer Ashwin te vergelyk. En hulle skiet almal te kort: aan nederigheid, prag en praal, brains en brawn.
Sy zigzag vinnig deur die maalstroom van pretmakers en losbolle en gly ongesiens die besige deli binne.
Toe die goddelike geure haar soos ’n golf tref, gaan staan sy stil en trek die lekkerte diep in haar longe in. Oom Dudley, dink sy, waar’s jy! Hierdie plek sal jou mal maak met sy oorvloed en uitspattigheid van die lewe se noodsaaklikhede.
Tegnies haar stiefpa, is Dudley Brown ’n connoisseur van goeie kos, geheime breier van slaapsokkies en jintelman uit ’n modeboek. Droog en oënskynlik oninteressant, maar met ’n wonderlike sin vir humor. Hy is die een wat haar waardering geleer het vir die fyner dinge in die lewe, soos kwaliteitkos en warm slaapsokkies.
Sy lewensfilosofie is dat ’n goeie maaltyd tot vrolikheid lei en warm slaapsokkies tot prettigheid – alles noodsaaklikhede vir ’n gelukkige (verkieslik getroude) lewe. Die feit dat hy en moeder Dulcie steeds geluksalig is ná nege jaar saam is seker ’n bewys daarvan.
Cheryl haal haar lysie uit haar handsak. Sy het onlangs gelees die benaming cold meat kom van die woord cadaver, maar dis nie nou die tyd om daaraan te dink nie (dis skoonsus Lucy se afdeling).
Sy begin by die kaastoonbank, verkyk haar aan al die verskillende soorte. Vergeet van Coco Chanel, Pierre Balmain of Louis Vuitton. Name soos ricotta, pepato fresh, haloumi en feta is soos balsem vir haar siel en vul haar verstand en mond met liplekker sensasies.
Ashwin sal ook hierdie verskeidenheid kase waardeer. Hy kan soms so ’n ot van homself maak as hy voor ’n goeie kaas inskuif.
Haar selfoon lui. Ashwin. Is dit nou telepatie of wat? wonder sy, heimlik tevrede met haarself.
“Ashwin! Hoe gaan dit?”
“Haai, Cheryl, is jy by die huis? Ons wil graag kom kuier . . . as jy nie te besig is nie?”
Sy stel haar voor hoe haar broer lyk terwyl hy oor die foon praat: Lucy se handjie in syne en hy wat afkyk na sy skoene. Sy voel ’n knop in haar keel. Sy mis hom verskriklik.
“Jou tydsberekening is perfek. Ek staan hier in ’n delikatesse propvol lekker goed. Wat wil julle ouens hê om te eet? Salami, Duitse wors, hoender, ham . . .”
“Enige kase?”
“Baie! Sal ek ’n paar gerookte eendborsies en ’n olyfham bygooi?”
“Sheena sê as jy ’n stringetjie worsies en haloumi by die slaai voeg, sal sy twee rooies saambring vir die dors.”
“Ashwin!” hoor Cheryl ’n verontwaardigde Sheena laggend op die agtergrond protesteer. Haar broer kan soms sy stiefdogter se siel so uittrek, maar nodeloos om te sê geniet Sheena die aandag terdeë.
Hulle groet en Cheryl gryp ’n mandjie en begin laai.
Sy druk saggies aan ’n stuk gerookte ham en toe sy opkyk, is dit vas in ’n gedaante in wit gewaad. Engelagtig mooi. Droom sy?
Hy word omhul deur wit lig en kom al hoe nader, wapperende vlerke en ’n wankelrige halo. Sy skreef haar oë om beter te sien, die lig van die deur se kant is skerp. Deur die heilige mistigheid sien sy hoe sy smeulende oë haar aanstaar, bruin soos truffels, en aangevul deur wippende krulle die kleur en tekstuur van sjokolade, afgerond met ’n strooisuikersoet glimlag.
Is hy te koop? wonder sy.
Onder die gedempte lig by die toonbank kom die pragtige droombeeld geleidelik in fokus. Hy dra onder elke arm ’n meter lange baguette en dié vertoon soos vlerkies teen die agtergrond van helder lig. Sy halo is niks meer as ’n bakkershoed nie, hoog en rond en uitgepof aan die bopunt.
Met sy Romeinse neus en skamerige glimlag lyk hy nes ’n jong Rafael met swart krulle.
“Can I . . . help?” fluister hy.
Hy klink so hees dat sy instinktief terugfluister: “What?”
“I said . . .” hy leun oor die toonbank, sy perfekte neus amper teenaan hare, “how can I help you?”
Cheryl trek haar asem vinnig in. Is dít sy MO: om met ’n diep, hees stem so sexy te praat dat sy woorde omtrent onhoorbaar is? In ’n aksent wat mens net in ’n Federico Fellini-film hoor?
“Is dit jou modus operandi – die hees stem, die kamma-aksent – om weerlose vroue te verlei as hulle hierheen kom om ’n polonie te koop?” fluister sy vererg, vergeet skoon om Engels te praat.
Hy skud sy kop, strek sy hand uit om haar aan die arm te vat en trek haar nader. “Soccer. Last night. My team won.”
Hy los haar arm en vir ’n paar sekondes staar sy hom aan. Toe kom die kloutjie by die oor.
“O!”
Die bakker beduie sy moet haar mandjie aangee en pak haar goedjies een vir een op die toonbank. En sonder rede voel sy skielik verleë, soos om ’n manspersoon agter die toonbank by die vroue se onderklereafdeling te vind.
Sy haal haar kredietkaart uit en kirts! trek hy dit deur die masjientjie en kirts! skeur hy die papiertjie af en gee dit vir haar. Sy teken haar naam, gee dit vir hom terug en met nog ’n kirts skeur hy die kwitansie af. Hy vou dit om haar kaart en gee dit vir haar terug, maar toe sy dit by hom wil neem, laat hy nie los nie.
“Getroud, C.M. Douglas?” fluister hy, ’n pragtige fronsie tussen sy wenkbroue.
“Uhm . . . nee. En jy?”
Hy skud sy kop.
“Vaste kêrel?” kwaak hy, sy oulike frons nog dieper.
Sy aarsel. Om te erken dat jy nie ’n kêrel het nie, klink so treurig, sies tog, foei tog. Maar om nee te sê vir ’n váste kêrel is iets anders.
Sy skud haar kop, vol selfvertroue.
“Koffie?”
Is hy besig om haar koffie van die rak af aan te bied of nooi hy haar uit vir ’n koppie koffie?
Hulle bekyk mekaar op en af, haarlyn na ken en terug, terwyl hulle aan die stukkie plastiek vashou, vingertoppe wat voel-voel aan mekaar raak.
Sy gee ’n sagte kuggie. “Knik jou kop as ek die jackpot slaan. Nommer een: Probeer jy koffie aan my verkoop?”
’n Kopskud, die wys van pragtige tande, en ’n lag in sy oë.
“Nommer