Maal. Nicole Strauss

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Maal - Nicole Strauss страница 8

Maal - Nicole Strauss

Скачать книгу

staan op, gaan ’n verdieping laer na haar kombuis om die ketel op die stoof te sit. Sy gooi water in, draai die gasvlam aan, druk die tuit van die ketel in wat haar sal waarsku as die water kook. Sy maak die yskasdeur oop; die melk is op. Sy kyk op haar horlosie, om geen rede nie. Daar is altyd tyd om melk te koop. Sy draai die vlam weer af, kry haar handsak op die onderste verdieping op pad uit, trek die deur van haar huis agter haar toe. Buite staan twee mense – toeriste – en bewonder haar huis en die ander aan weerskante. Hulle probeer haar aandag trek, sy ignoreer dit, en hoor bloot in die verbygaan hoe hulle haar woning komplimenteer. Sy knik ’n stram erkenning.

      Normaalweg is dit kalm hier, selfs stil, ten spyte van die toeriste wat die area graag besoek, ten spyte daarvan dat Gent ’n groot stad en besig is. Gewoonlik is hier ’n rustigheid, ’n mildheid. Afgesien van die tien dae in Julie wanneer dit feestyd is. Dan is dit rondom die Graslei waar sy woon soos ’n greep uit haar lewe toe die kinders klein en sy pal op die rand van raserny was.

      Sy trotseer die groepe mense in die straat voor haar deur. Dat meer van hulle nie in die water beland nie, verbaas haar. Nou en dan hoor sy iemand met ’n groot gelag en geplons van water in die kanaal val. Daar is altyd meer as genoeg arms om hom (dit is selde ’n vrou) uit te help. Sy klem haar handsak onder haar arm vas, hou regs teen die straat af na die deli ’n blok verder. Sy sukkel om by die winkeltjie in te kom, die eienaar agter die kasregister waai vir haar, skud sy kop. Maandag as almal met leë beursies die pad vat, sal sy en hy weer lekker gesels oor die gekheid van die fees, die spandabelrigheid van die besoekers, die papiere wat soos letsels in die strate agterbly. Sy maak met moeite – die deli is tot oorlopens toe vol – die deur van die yskas oop, en haal ’n bottel melk uit.

      “Dag, Hilde,” sê die eienaar wanneer sy uiteindelik haar weg deur die koffiedrinkende geselsers na die kasregister baan, “ek dink daar is nog meer as verlede jaar.”

      “Ek dink jy is reg, Michiel. Meer as die miljoene wat tóé reeds hier was.”

      Michiel grinnik. “En baie van hulle kom terug; hulle onthou my koffie, kom hier ingewals en sê hulle wil hê wat hulle laas jaar gehad het!”

      Sy glimlag. “Hulle ken jou maar sleg as hulle dink jy sal enigiets anders as goeie koffie voorsit.” Hilde sien hoe Michiel onder die kompliment blom. “Wat sê hulle van jou wafels? Beste in Vlaandere, die hele België?” Hilde kan nie glo dat so ’n ou, gesoute man nog kan bloos nie.

      “So iets, ja,” antwoord hy skaam.

      “Nou toe. Ek kom nie môre vir my week se bestelling nie, Michiel. Hierdie skares is te veel vir my. Kan ek dit Maandag kom haal, as Gent weer ons s’n is?”

      “Natuurlik, Hilde. Vir jou, enigiets!” Hy lui die melk op.

      “Kan ek ’n baguette ook kry, asseblief.” Michiel neem een uit die mandjie agter sy rug, draai dit in bruin papier toe.

      “Dankie, Michiel. Tot siens, tot Maandag. Sterkte met hierdie klomp.”

      Hy salueer haar met die punte van sy vingers teen sy beret terwyl hy reeds die volgende klant se inkopies in ’n papiersak pak. Die rooi kleur op sy wange bly. Sy maak die deur agter haar toe en stap terug na haar huis. Dié keer stap sy saam met die stroom. Sy luister na die gesprekke, bekyk die voete op die keistene om haar plat hofskoene – sandale, tekkies, stewels. Iemand is selfs kaalvoet! Snaaks hoe gemaklik mense raak in die geborgenheid wat ’n saamtrek soos ’n fees meebring.

      Sy is bly wanneer sy by haar voordeur kom. Etlike elmboë het teen dié tyd teen haar middel geskuur en die reuk van laas nag (of vanoggend) se alkohol op die mense se asems laat haar siek voel. Die vullis in haar straat ook. Sy stap die stel trappe op na die kombuis, draai weer die ketel aan, maak die tee. Sy voeg melk by, geen suiker nie. Sy neem die koppie tee na die boonste vlak. Sy sit ’n CD in die speler – Callas – en probeer weer die boek. Callas se omvattende stem dryf die geraas buite en in haar kop uit. Sy lees drie hoofstukke terwyl Callas sing. Wanneer die musiek sterf, is die feesgeluide terug. En die horlosie wat so tik.

      Teen laatmiddag raak die groot huis te klein vir haar. Sy neem ’n ligte baadjie van ’n kapstok in die portaal, en haar wandelstok wat op sy plek teen die muur langs die voordeur staan. Sy maak die deur oop. Die skare buite is kleiner, stiller; sy weet hulle rus vir die aand. Sy het voorheen al die fout gemaak om te dink dat daar ’n stil aand voorlê wanneer daar teen laatmiddag of vroegaand ’n verposing in die rumoerige teenwoordigheid van die feesgangers is. Sy het al geleer dat hulle net asemskep vir wat dit ook al is wat hulle tot laatnag en vroegdag aan die gang sal hou.

      Sy stap in die straat uit, draai af in die rigting van die universiteit. Sy hou haar kop onderstebo, is nie lus vir oogkontak nie; feesgangers eien dit dikwels as ’n uitnodiging tot gesprek. Hulle is gretig om hul ondervindings met iemand te bespreek. As dit iemand is met ’n gedeelde ervaring, soos dat hulle dieselfde teaterstuk gesien het, soveel te beter.

      Hilde stap langs die kanaal af. ’n Klein dogtertjie met pienk hoëhakskoentjies op ’n fiets kom voor haar ingejaag – die fiets het nog die ekstra stel agterwiele wat kinders help om hul balans te vind. Die dogtertjie het geen beheer oor die fiets óf oor haarself nie. Hilde struikel. Sy bestendig haarself met haar wandelstok. Die kind se pa kom agterna gehardloop, rooi in die gesig en verskonend, amper jammerlik.

      “Verskoon tog, mevrou,” sê die pa as hy by Hilde kom, “ek is jammer. Sy kan nog nie ry nie, maar sy weier dat ek haar help. Sy weier om ander skoene aan te trek. Sy weier om op die sypaadjie te bly. Sy weier om na my te luister, ek praat met die wind.” Die pa staan met sy hande in sy hare, sy oë onseker op Hilde. Sy weet hoe hy voel: hy weet nie of die vreemde ou vrou met die wandelstok in haar hand en die serp om haar hare sy dilemma gaan verstaan en of sy gaan kwaad wees oor sý gebrek aan beheer nie.

      Hilde glimlag toemond. Sy haal haar skouers op. Sy is bly vir die sonbril oor haar oë. Sy dink aan al die raad wat sy die man kan gee, maar groet net, loop verder. Sy hoor hoe die pa met die kind pleit. Dan sien sy haar vervaard dwarsoor die pad jaag, haar pa agterna. Iemand anders spring vies voor die fiets uit, skud sy kop in ongeloof.

      Die kinders is op fietse. Op die Vrijdagmarkt. Graag ry hulle daar, al is daar heelwat ander mense, al moet die mense vir haar kinders koes. Katrijn wankelend verbete op ’n fiets, Albert nog op die een met wieletjies. Om en om die standbeeld van de wijze man van Gent ry hulle. Sy sit op ’n bankie en kyk op na hom, Jacob van Artevelde; sy smeek vir ’n aks, ’n leksel, van sy opgetekende wysheid. Hy bly altyd so onverbonde voor hom uitkyk, die toekoms in. Of is dit die verlede wat hy sien? Wanneer die kinders begin baklei, luidkeels op mekaar skree, wanneer Katrijn Albert se fiets onder hom uitgryp omdat sy moeg is vir balanseer en op die maklike fiets wil ry, en Albert skreeuend oor die plein na haar toe snel, vloek sy hom soms, ou Jacob, herinner sy hom dat hy verniet so meewarig en soewerein daar staan, dat al die wysheid in die wêreld hom nie veel gehelp het toe die moordenaar met die byl gekom het nie. Al was hy sy lewe lank so slim en goed. En wanneer Katrijn haar ma se versoeke, gesoebat, mooipraat en gille om Albert se fiets terug te gee, ignoreer, aflag, wegvee soos wasem teen ’n ruit, verbeel sy haar dat Jacob háár aankyk – onverpoosd, onverbind – en die glimlag van iemand wat beter weet om sy mondhoeke speel.

      Hilde stap verder. ’n Koel somerbries waai van die water af teen haar aan en sy stop om haar baadjie aan te trek. Die strate raak weer voller, dit is amper tyd om terug huis toe te gaan. Sy stel die omdraai uit. Sy sien nie kans vir die mense nie, maar ook nie vir die mure, die leegheid, die klok in haar huis nie.

      Miskien moet sy vir Katrijn bel en vra of sy die klok wil hê.

      Sy gaan sit in ’n koffiehuis, bestel koffie. Die winkel is vol, maar net vol genoeg dat die stemming gaaf en warm is; daar is nie te veel mense nie. Die

Скачать книгу