Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock страница 8
In die dae wat volg, werk Eugene en Sagrys, een van Paulus en Selina se kinders saam met wie hy grootgeword het, soos besetenes om die planters reggemaak te kry. Van smôrens vroeg tot saans watter tyd swoeg hulle aan die plaasgereedskap wat maar altyd lol om ’n skeet te hê, en menige maal spreek die haastige Eugene die vurige wens uit dat Peet – die presiese perfeksionis wat altyd sy pa se implemente so mooi in stand gehou het – sommer uit die niet sal verskyn om hom te help. Sagrys skud maar net kop en help plan maak vir die tyd dat Eugene nie daar sal wees nie. Dis hy wat Eugene daaraan herinner dat Marcel gesê sal moet word om die koring te bespuit sodra dit kuithoogte is. En dag vir dag hou Eugene die weer dop in die onuitgesproke wens dat die winterkoue tog vroeg mag kom vanjaar, want dis bekend dat koring wat in koue geplant word, ’n goeie oes omtrent waarborg.
’n Paar maal ry Lilette ook uit Damplaas toe om ’n paar uur lank by hulle te sit en gesels en, op Selina se aandrang, vir hulle koekies en koffie aan te dra. Eenkeer ry sy selfs saam met Hennie Smit uit plaas toe en steur haar net mooi niks aan Eugene se betrokke gesig toe hy merk wie by haar is nie. Sy soen hom openlik voor Hennie toe hulle weer vertrek, en toe hy haar agterna daaroor wil kapittel, herinner sy hom ewe soetjies daaraan dat hy in der waarheid geen seggenskap oor haar het nie. Tog is dit asof Eugene en Lilette mekaar sedert die aand van hul gesprek verstaan, en ongestipuleerd is daar ’n band tussen hulle wat nie ontken kan word nie. Dis asof Eugene vir die eerste maal daarvan bewus raak dat iets van hierdie meisie hom tóg aankleef – miskien is dit haar heerlike, praktiese optimisme; dalk haar warm, ontvanklike gees, of haar fyn vroulikheid, wat hom glad nie onaangeraak laat nie. Sal hy nie maar bly nie? wonder hy een aand toe hy doodmoeg die rus van sy bed opsoek. Bly en gou met haar trou … haar syne maak en hom toesluit vir enige roep van buite af. Of hoor ’n mens buitendien maar op ’n gegewe dag daardie roep en moet jy soos ’n trekvoël noodgedwonge saam met die seisoen vertrek? Maar voordat die beswyming van die slaap hom opeis, weet hy in een helder oomblik: hy het die roep klaar gehoor, en die drang om te gaan, los hom vir geen oomblik nie.
In die week daarop is daar ’n siedende bedrywigheid op Damplaas, want die eerste ryp het gekom en voordat die aarde kliphard is, moet daar geplant word. Die lande is reeds skoongemaak, en Eugene slaak ’n yslike sug van verligting toe hy en Sagrys en nog ’n paar ander met die waens vol saad en kunsmis lande toe kan gaan. Maar net toe alles klopdisselboom wil gaan, raak die kunsmisstrooier agter en hou die ploeëry op, en Sagrys kom rapporteer dat daar rye en rye waens op die dorp staan. Die koöperasiemense doen hul bes, maar dit sal nog ’n ruk duur voordat die Damplaaswaens aan die beurt kom. Dit kos Eugene die uiterste wilsinspanning om nie sy hoed op die grond neer te gooi en soos ’n kind daarop te trippel nie. Daar is soveel werk, en hy is só haastig. Eindelik daag die kunsmis ook op en kan hy op die groot vierwieltrekker spring en met Sagrys en nog een op die planter, die eintlike werk begin. Hy kan ween van dankbaarheid toe Marcel ook na ’n paar dae opdaag en hom bedaard verwittig dat hy kom help het. Met Marcel op die ander trekker gaan dit voor die wind. En met nog ’n paar hande wat kom help semels strooi teen miswurm, staan die werk einde se kant toe. Toe die plantery op Damplaas se uitgestrekte landerye eindelik voltooi is, is Eugene stram van moegheid en hy slaap een hele dag byna om. Daarna sak daar ’n rus oor Damplaas toe. Niks kan nou meer gedoen word nie, behalwe om te wag dat die goeie aarde weer moet gee. Nou kan hy maar met ’n geruste hart vertrek.
Hy ry een naweek stil-stil Johannesburg toe en koop vir hom ’n stel klere wat sal pas by die klimaat in Leiden in die somertyd daar. Vir die wis en die onwis koop hy ook ’n paar warm truie en langbroeke, en op aandrang van ’n wyse winkeljuffer ook ’n parka. Met die Hollandse weer weet ’n mens nooit, meen sy. En gedagtig aan Peet se liriese geklaag in sy briewe oor die weer wat so wispelturig soos ’n jong nooi en so morbied neerdrukkend soos die buie van ’n ou ou tantetjie kan wees, rus Eugene hom goed en paslik uit vir die nukke van miswolk en koue.
Terug op Damplaas tref hy die laaste paar reëlings voor sy vertrek. Hy kuier by ’n paar ou vriende en neem meesal vir Lilette saam. Dat dié vriende effens skuins opkyk omdat hy so lank en so ver weggaan noudat dit begin lyk asof dit wil vlam vat tussen hom en Lilette, val hom op, maar hinder hom nie. Hy en sy gaan ook een aand by Maryn en Marcel eet, en kuier lank én lekker by hulle. Maar dis duidelik dat Maryn steeds haar bedenkinge het oor haar broer se reislus en sy sê dit ook aan Lilette, van wie sy baie hou. Maar Lilette antwoord haar heel kalm.
“As ek hom nie laat gaan nie, Maryn, sal ek nooit weet of ek hom het nie.”
Die aand voor sy vertrek kuier hy en Lilette alleen. Hy het haar vir ete uitgeneem na die hotelrestaurant op die dorp en hulle sit feitlik heeltemal alleen in die groot vertrek met sy yl lig wat kom van klein lampies op elke tafel.
“Weet Hennie Smit van ons reëling, Lilette?” wil hy onrustig weet, sy oë dringend op haar gesig, wat vanaand omraam is deur die koperkleurige hare wat hier en daar sag glim in die lamplig. “Weet hy dat ek na jou toe terugkom?”
Sy poog om te glimlag, maar haar mond bewe so dat sy faal en haar kop laat sak sodat hy skaars haar uitdrukking kan uitmaak.
“As hy dit weet,” sê sy sag, “dan weet hy meer as ek.”
3
Die oggend van Eugene se vertrek is dit koud. Vroegdag al is daar misvure by die werkers se huise gemaak en nou trek die rokies in lang, lui slierte oor die werf en die veld en oor die dolblink damwater, om te meng met die mis wat daarvandaan opstyg.
Eugene het opgestaan toe dit nog donker was, vir laas sy tasse en dokumente nagegaan en hom toe soos ’n tiener wat vir die eerste maal na ’n buurpartytjie gaan, met die grootste sorg geklee. Hy wou-wou darem vir homself lag kry. Maar vlak onder die stuwende opgewondenheid is daar ’n knabbelende vrees – dat hy dalk weer kan verloor, dat hy dalk te lank gaan wegbly. Oplaas keer hy homself in die kombuis voor toe hy koffie drink. Besluit: Ek gaan, en daar is niks wat my keer om vroeër terug te kom nie. En ’n tweede gedagte: Daar is niks wat Lilette verhoed om in die vakansie vir my te kom kuier nie! Dié gedagte kikker hom so op dat hy in ’n opgeruimde stemming is toe Marcel, Maryn en Lilette voor die huis stilhou om hom te kom oplaai na Johannesburg. ’n Halfuur later het hy almal op die plaas gegroet en hulle vertrek.
Die vier jong mense ry lustig geselsend deur die winterse oggend, gaan eet in Johannesburg en dwaal lank in die middestad rond. Hulle kom kort voor vyf op die lughawe aan. Daar is nog ruimskoots tyd om eers weer rustig te gaan eet, en hulle maak so. Lilette gesels vrolik saam, maar toe die oomblik aanbreek dat Eugene die lokaal vir oorsese passasiers moet binnegaan, klem sy woordeloos aan sy arm en groot trane biggel uit haar oë. In ’n oomblik van stomme weet-nie-wat-nou-nie, druk hy haar krampagtig teen hom aan.
“Ek kom sommer gou weer. Jy moet dadelik vir my skryf. Jy moet wag vir my. Ek kom vir seker terug,” praat hy, en bly eers stil toe sy sag ’n hand oor sy lippe plaas, haar strek om hom te soen en toe vinnig tussen die mense in wegbeweeg. Half verdwaas groet hy sy suster en Marcel, draai vir laas by die toonbank om om vir hulle te waai, en stap toe deur.
Maar dis eers toe die reusevliegtuig se romp van die aanloopbaan af lig, dat Eugene ’n sidderende sug van verligting en ontlaaiing slaak. Dis asof die spanningsgreep waarin hy sedert sy vader se siekbed en afsterwe onophoudelik geleef het, stadig en byna traag verslap, en toe hulle hoog bo die grootse wydtes van die kontinent vlieg, sit hy steeds roerloos soos ’n marionet waarvan die toutjies geknip is. Tog weet hy vir die eerste maal seker dat hy die regte ding gedoen het, want selfs in hierdie kort tyd en groeiende afstand wat hulle skei, kan hy al helderder dink – oor hom en die klein rooikopmeisie. Daar is ’n goeie kans, dink hy nou in luilekker en veilige bespiegeling, dat ek en sy dalk net saam geluk sal vind. As ek my twakkerigheid, soos sy pa sou sê, my kortgebondenheid en koppigheid laat vaar, sal sy my dalk baie liefkry en ek vir haar.
Dat hierdie siening geensins deur die ware