Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock страница 5

Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock

Скачать книгу

nooit weer daarvan gepraat nie – en nou weet ek dat jy jou in ’n milde oomblik bloot verspreek het …”

      “Ek het nie,” weerlê hy dadelik. “Ek was net … te haastig. Ek wou die toekoms vooruitloop …”

      “En nou?”

      “Nou … wéét ek nie, Lilette.”

      “Maar ék weet. Jy moet jou toekoms gaan haal, Eugene. Jy is iemand wat moet veg vir jou môres, dit weet ek nou. Jy sal slegs tevrede wees met ’n trofee. Jy wil niks op ’n skinkbord hê nie. Selfs Damplaas sal eers werklik joune wees as jy hier gewerk en gewoel het.”

      “Dis waar,” sê Eugene ootmoedig. “En dis baie groot van jou om dit so mooi vir my te sê. Wat stel jy voor moet ek doen, Lilette?”

      “Plant jou koring klaar en gaan dan weg vir ’n ruk lank,” antwoord sy asof sy reeds lank die vraag sien kom het.

      “Na Peet en Elsje?” vra hy byna kinderlik.

      “Dis ’n goeie begin,” antwoord sy.

      2

      In die dae ná Frederik Basson se begrafnis dwaal Eugene ure lank alleen op die plaas rond asof dit ’n plek is wat hy moet ontdek. Hy wandel rustig onder die amber herfsgloed van die ou populiere, om net oomblikke later gedrewe deur die roesbruin veld te stap en turend oor die wye einders van Damplaas te soek. In die huis kan hy homself nie herberg nie, want die ruim ou opstal voel hol sonder sy pa se gedrae teenwoordigheid.

      Oplaas staan hy eendag by die groot nuwe droogoond wat hy en sy pa net ses maande tevore opgerig het, en ervaar die eerste flikkering van belangstelling in boerderybedrywighede sedert sy pa se dood. Hier by die droogoond en kolossale skuur sal hy nog menige druk uur van sy lewe deurbring. Hy alleen sal verantwoordelik wees vir sy uitgebreide koringboerdery, en alle beslissings sal by hom berus. En dan is daar nog die Simmentaler-stoetery waarvoor Marcel verantwoordelik is.

      Dis asof hierdie nagedagte ’n skielike openbaring bring. Waarom kan hy Marcel nie ook vra om die stropery van die lentekoring vir hom waar te neem nie? Hy is seker Marcel sal heeltemal regkom; hy was tog al drie maal teenwoordig met die stropery en droëry. En dan stel dit hom vry om die pad te vat.

      Want presies só eenvoudig is dit. Hy kan nie meer hier voortgaan asof daar niks in sy lewe gebeur het nie. En wát gebeur het, is ook veel meer as net sy pa se afsterwe. Ja, die susbestaan waarin hy homself gaandeweg gewieg het nadat Peet en Elsje weg is Leiden toe – die stil span van die bekende lewe op Damplaas – is meteens weg, stukkend gebreek soos ’n beskermende dop. En wat oorbly, dink hy met sy oë op die reuseskuur, is ’n vreemde mengsel van my eie ek en ’n vaag bekende, maar baie ontwykende persoon. Ek is nie meer tuis by myself nie, besef hy; ek is skigtig soos met ’n vreemdeling. Miskien is dit waar wat Lilette sê, dat ek nie een van daardie mense is wat kalm met die vloei van die lewe kan saamgaan nie, maar dat ek altyd met ’n vaart stroomop wil beur. Ek weet net een ding: iets daar anderkant roep my.

      Sy gedagtes gaan onwillekeurig terug na die dag toe hy en Peet as klein seuntjies met bootjies op die dam gespeel het, en hoe Peet sy bootjie laat wegdryf het oor die dam totdat dit ’n spikkeltjie geword het wat deur die kabbeling ingesluk is. Waarom het jy nou dit gedoen? het hy aan Peet gevra. Peet het hom afwesig aangestaar, en toe stadig gesê: Ek vaar saam met hom weg – wie weet waar ek gaan uitkom. Jy weet, Gene, ek hoor partymaal hoe die wêreld daar buite vir my wag, ek voel dit.

      Tóé het hy Peet onbegrypend aangekyk en gou-gou sy eie bootjie aangekeer na die veilige wal se kant toe. Maar vandag ervaar hy daardie selfde gevoel – dis asof die plaasstilte ’n dik, afwagtende swye geword het met ’n dowwe frekwensie wat ver, ver uitkring en sy gedagtes saamneem.

      Ek gaan nou dadelik dorp toe om met Marcel te gaan praat, neem hy sy eerste besluit sedert sy pa weg is. En dan gaan ek na Lilette en ek gaan haar vra om te wag op ’n man wat nie seker is of hy na haar toe gaan terugkom nie.

      Daarmee draai hy om en stap vinnig deur die veld, terug opstal toe, om te gaan aantrek vir die dorptoeganery.

      Kwalik ’n kwartier later klim Eugene in die Duitse spogmotor wat hy ’n paar jaar gelede by sy pa present gekry het, en ry dorp toe deur die milde Riemlandse herfsaand, gebaai in die roesrooi van die laaste sonstrale. Rondom hom, al met die breë grondpad langs, glooi die heuwellanderye omlaag, en hier en daar vang die dik kontoerwalle die diep koper van die laat daglig, net om diep skadustrepe te word totdat daar nog net die donker is en ’n oranje gloor op die verste kim lê. Hy ry rustig, sy oë dwalend oor die bekende toneel.

      Toe hy ’n kind was, was die son wat sak oor die deining van die lae, netjies bewerkte heuwels vir hom prentjiemooi. Nou is dit roerend skoon – ’n fluistering van die goddelike.

      Nee, om heeltemal eerlik te wees, dink hy toe hy die dorp binnery, dit was eers sedert ek Elsje verloor het en die seer vir die eerste maal aan my lyf gevoel het, dat ek werklik sensitief geword het, dat ek met nuwe oë na al die wonderlike vanselfsprekendhede van my behaaglike bestaan begin kyk het.

      En toe hy voor Marcel en Maryn se groot huis op die boomryke erf stilhou en die motor afskakel, bly hy ’n oomblik lank stil sit, dink ver terug aan ’n dag toe hy as stormagtige tiener in woede uitgevaar het omdat hy gemeen het dat ’n onderwyser hom verkeerd behandel het – en dit net nadat hy ’n paar dae tevore emosieloos en ongemotiveerd gekla het dat hy nie bra weet wat hy op universiteit gaan soek nie, want hy kom tog eendag terug Damplaas toe. En kort daarna het hy weer in ’n argument met Maryn betrokke geraak oor wie van hulle twee nou eintlik die Basson-koppigheid geërf het, en haar so onnadenkend gedomineer dat sy in trane na hul pa gevlug het. Sy pa het hom by al hierdie geleenthede streng betig, maar die woorde wat hy sekerlik nooit sal vergeet nie, het hy gebesig die aand voordat hy universiteit toe vertrek het om landbou te gaan studeer.

      “Kind,” het sy pa gewigtig gesê, “’n mens word nou wel met ’n sekere temperament gebore, maar ai, jong, tussen die drif van ’n Paulus en die flegma van ’n Abraham lê daar ’n goue gebalanseerde persoonlikheid! Soek dit!”

      “Hóé, Pa?” het hy vertwyfeld gevra, en eerlik soos wat hy nog altyd was, geweet dat hy tempering nodig het.

      “Ondersoek jouself, Gene, en verootmoedig jou. En vrá daarvoor!”

      Maar vir verootmoediging, moet hy nou erken, was daar in die jare wat gevolg het nie veel tyd nie. Alles het so glad en goed gegaan. Geen moeite met die studie nie, geen inspanning om die meisie van sy keuse na hom te trek nie, geen rede tot verootmoediging nie, want die drif het bedaar en die flegma het geneig na gemoedelikheid. Dit was asof hy in ’n lome windstilte geleef het. Totdat die krisis met Peet en die beeldskone Elsje gekom het, en hy, onseker soos ’n kind, moes erken dat hy homself nog glad nie ken nie. En ook daar langs sy pa se graf in die Damplaasgrond, wat die vrug van hul albei se liefde dra, het hy geweet dat hy homself sou moes vind of vir altyd huiwer om te lewe. En dit kan hy alleen doen as hy lig het. Hierdie begeerte om Leiden toe te gaan, voel hy aan as só bestem, so suiwer is die verlange om Peet en Elsje weer te sien, so brandend is hy om alles weer goed te maak. En hy hoop en bid met mag dat Elsje vir hom nie meer sal wees wat sy was nie …

      Op dié gewigtige noot klim hy stadig uit die motor en stap stoep toe, waar Maryn al uitgekom het om te kyk hoekom hy nie binnekom nie.

      “Ons het al gewonder waar jy is en wat jy met jouself aanvang,” groet sy sag. “Elke keer as ons Damplaas toe bel, sê Selina jy is uit, iewers in die veld.”

      Hy loop tot by haar, buk en soen haar op haar voorkop. “Ek het baie gehad om oor te

Скачать книгу