Helene De Kock Omnibus 10. Helene de Kock

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock страница 7

Helene De Kock Omnibus 10 - Helene de Kock

Скачать книгу

gaan weg,” konstateer Lilette sag, haar oë op die aantreklike, bruingebrande gesig van die man langs haar, en op sy sterk, manlike hande wat hy nou lig op die stuurwiel laat rus.

      “Ja,” sê hy met ’n stadige knik van sy kop, en kry verder niks uit nie, want dis asof sy keel meteens toesnoer. Sy lyk so mooi, so breekbaar mooi soos sy hier sit, met die lig wat ’n diep gloed uit haar koper hare tower, en haar oë wat vol mistieke skadu’s is.

      “Voordat jy enigiets verder sê,” praat sy weer, “is daar iets wat jy moet weet …”

      “En dit is?” vra hy met ’n vae gevoel van onrus, sodat hy sy hand na haar toe uitsteek en albei haar klein hande in haar skoot vasvat.

      “Hennie Smit … het my gisteraand gevra om met hom te trou.”

      Alles in Eugene se malende gemoed stol tot stilstand. Hy sit so roerloos dat dit voorkom asof hy haar nie mooi gehoor het nie. Die waarheid is dat die paar woorde hom onweerlegbaar wys dat hy nie kans sien om van hierdie meisie afstand te doen nie. Nie nou al nie en miskien nooit nie. Sy kakebeen voel stram toe hy vra: “Wat was jou antwoord?”

      “Ek het nee gesê,” antwoord sy dadelik.

      Sy reaksie hierop is onmiddellik en so onverwags dat hy self verbaas is. Met een haal van sy arm pluk hy haar teen hom aan, omsluit haar fyn gesig met een hand en soen haar. En in die soen is daar begeerte en blydskap en ’n nuwe betekenis. Vir die eerste maal soen hy haar nie net omdat hy haar wil nagsê of omdat hy ’n vlietende behoefte aan haar troostende vroulikheid het nie, maar omdat hy voel dat hy sal sterf as hy dit nie doen nie. Dis asof sy hom uit ’n diep put ophys en hy net haar gesig in die sonkol daarbo kan sien. In hierdie oomblik klem hy hom aan haar vas, asof sy alles wat hom kan skaad van hom kan wegweer, asof sy hom hoog bo homself kan uitlig. Toe hy eindelik nog net haar kop krampagtig teen sy bors druk, vra hy sag en smekend: “Sal jy vir my wag totdat ek terug is, Lilette?”

      “Ja …” sug sy byna fluisterend. “Ek sal vir jou wag, nie omdat ek so seker is van jou nie, maar omdat ek jou liefhet.”

      “Ek weet,” sê hy deemoedig, “en jy sal nooit weet hoe hoog ek dit op prys stel nie. Jy is seker die dierbaarste meisiekind wat daar rondloop!” Dit val hom geensins op dat daar in hierdie lofdig geen woord van wederkerige liefde is nie. Wat hy sê, sê hy in ’n opwelling van diepe en opregte dankbaarheid, en hy soen haar weer, in ’n uiting van die wonderlike warmte wat haar bekentenis in hom laat ontstaan het.

      “Ek het geweet Hennie sal die een of ander tyd sy kans benut,” sê hy ligweg, hou haar besitlik teen hom vas.

      “Jy het hom soveel kanse gegee,” antwoord sy sag, en hy hoor dat dit geen bitse verwyt is nie, slegs die waarheid.

      “Ek weet dat ek geen reg het om enigiets van jou te vra nie, Lilette,” sê hy berouvol. “Hennie verdien ’n beter antwoord van jou …”

      “Juis,” sê sy onverstoord en wikkel haarself ’n bietjie los. “Daarom het ek hom verlof gegee om my weer eendag te vra.”

      Hy kyk haar skerp aan. “Hou jy dan ’n agterdeur oop?” vra hy dadelik kwaad.

      Sy hou sy oë in ’n kalm blik. “Gene …” sê sy, “ag, Gene … jóú huis het dan ’n hele paar deure wat oopstaan!”

      Daarop vind hy geen enkele weerwoord nie. Dis waar. Wie is hy om ewige trou van haar te wil afsmeek as hy haar geen waarborg van sy eie trou kan gee nie, slegs maar van sy vrese om terug te keer van ’n vrugtelose sending en te vind dat hy haar verloor het …

      “Jy is reg,” sê hy oplaas. “Vergewe my, en asseblief, wag vir my …”

      “Goed, Gene,” sê sy kalm asof die hele argument haar koud laat omdat sy buitendien die verloop daarvan kon voorspel, en haar koel inskiklikheid lui ’n stilte tussen hulle in, waarin Eugene haar opnuut met hart en verstand waardeer. Sy is werklik so geheel anders as wat hy aanvanklik gedink het, en veral hierdie gesprek het ’n nuwe openlikheid tussen hulle ingelui. Hy verstout hom om dit te sê.

      “Lilette … toe jy destyds hier kom skoolhou het, het ek my aanvanklik misgis met jou. Jy was ’n vlindertjie, onskuldig en oulik, maar nietemin woes fladderend.”

      Sy gee ’n klein laggie. “Ja, ek was werklik ’n enfant terrible, was ek nie!”

      “Wat het jou laat verander?” vra hy reguit, en met die niksvermoedende onnadenkendheid van ’n man.

      “Ag, jy weet, ná my ouers se skielike dood het die gebrek aan hul liefde en leiding, plus die enorme hoeveelheid geld wat hulle aan my nagelaat het, my totaal ontwrig. Ek het my verbeel dat almal my móét liefhê, soos hulle my liefgehad het, al doen ek ook wát. Nou ja, ek stel dit ook nou erg, maar dis waarop dit neergekom het. En toe skiet ek vir ’n onderwyspos hier naby Marcel, wat werklik my enigste familielid is, al is dit ook verlangs. En ek kuier baie by hom op Damplaas … Ek moet sê, ek was nie voorbereid vir die kentering wat julle Damplaasmense in my sou teweegbring nie. Jul liefdevolle samehorigheid het my laat smag na julle …”

      “Samehorigheid?” vra Eugene, ’n eksplosiewe ondertoon in sy stem. “Laat ek jou vertel, ek wou Peet behoorlik verwúrg in daardie stadium!”

      “O, ek wéét. Dit was duidelik vir almal wat wou kyk en sien. Maar daar was so ’n atmosfeer van liefde en toegeneentheid. En daar was jy. Jy was so seer van binne en so verward, nes ek toe was. Dit was seker maar dit wat my na jou getrek het.”

      Eugene plaas ’n speelse hand onder haar ken. “En om te dink dat ek nogal gehoop het dat dit my manlikheid is wat jy so onweerstaanbaar vind!”

      “Wél …” trek sy haar fyn gesiggie op ’n plooi, “dit mag ook wees, maar ek het nogal meer weerstand as wat jy vermoed!”

      “Dit wil so lyk,” sê hy in alle erns. “Maar Lilette, ek móét weet of jy hier sal wees as ek terugkom. Jy beteken vir my baie.”

      Maar nie alles nie, dink sy, nog nie alles nie. “Goed,” sê sy weer eens. “Goed, Gene, ek sal hier wees.”

      Hy kyk ingedagte na haar. “Hennie Smit sal ook hier wees,” sê hy sag.

      “Hennie is ’n baie gawe vriend,” sê sy luiters, en dink: miskien die enigste hier wat alles vir my veil het.

      “Jy maak dit vir my baie moeilik, Lilette,” sê Eugene met ’n halwe glimlag, en sy hand skuif besitlik om haar ken oor die kant van haar gesig, vou dit met sy sterk vingers toe. Toe soen hy haar sag. “Baie, baie moeilik,” sê hy weer.

      “Nie so moeilik soos wat jy dit vir my maak nie,” sê sy doodkalm.

      Dis asof daar met hierdie woorde ’n nugter noot in die gesprek insluip, en voordat hy nog aan ’n paslike antwoord kan dink, vra sy: “Wanneer vertrek jy?”

      “Nes ek klaar geplant het. Oor drie weke of so.”

      Hulle ry terug na die yl stippelliggies van die dorp, en voor die koshuis soen hy haar swygend goeienag, leun oor om die deur vir haar oop te maak en wag totdat sy in die geel lig van die stoep tree en omdraai om te waai, voordat hy sag wegtrek.

      Vir die eerste maal, dink hy op pad plaas toe, is daar ’n werklike verstandhouding tussen ons, noudat ek gaan vertrek. Nou is ek ook nie meer seker of ek hierdie besoek

Скачать книгу