Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit страница 17

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit

Скачать книгу

middag ’n lang ent gaan stap en hoe meer sy van Towerwater gesien het – selfs so bruin en droog – hoe meer het die ou plaas haar bekoor.

      Die mense van Towerwater was ’n ander saak. Hulle was vriendelik teenoor haar, maar het haar tog, elkeen op sy eie manier, op ’n afstand gehou. Dit was byna asof hulle bang was dat sy te naby sou kom. Drie mense wat saam in een huis woon, saam en tog apart, elkeen met sy eie hunkerings en eensaamheid.

      Sy het dikwels gedink aan wat Katy haar vertel het en gewonder hoeveel van die verhaal waarheid was en hoeveel die versinsel van ’n lewendige verbeelding. Dit was opvallend dat die huismense nooit van Winnie, Paul se oorlede vrou, gepraat het nie en dat daar nêrens in die huis ’n foto van haar te sien was nie.

      Ria was besig van die oggend tot die aand. Die dae was te kort vir alles wat sy wou doen. Mense het kom kuier en af en toe het hulle ook gaan kuier. Sy het weer met nuwe geesdrif aan die jeugverhaal begin werk en was gelukkiger as wat sy in ’n lang tyd was. Die probleme waarvan sy weggevlug het, was nog daar, maar sy het hulle voorlopig op die agtergrond geskuif. Die tyd sou wel raad bring. Maar die spanning van die afgelope maande het verdwyn en daar was rus in haar gemoed.

      Tot haar teleurstelling was daar in die briewe en ander geskrifte uit oom Pieter se houtkissie min persoonlike gegewens oor groottante Sophia Maria. Sy het begin twyfel of sy genoeg stof bymekaar sou kry vir ’n biografie soos sy oorspronklik beplan het. Onder die briewe was daar twee wat Sophia Maria self geskryf het toe sy in haar veertigerjare was: lewendige, interessante briewe vol spot en humor waarin sy vertel van gebeure op die dorp en in die distrik, van ’n konsert wat sy besig was om te reël en van hoë besoek wat hulle te wagte was.

      Die ander briewe, geskryf deur nasate wat in later jare op Donkerfontein gewoon het, was meer gewoon, maar het tog ’n interessante beeld gegee van die lewe in daardie veelbewoë dae van droogtes en veeverlies, van geboorte en siekte en dood, van die ontvangs van ’n nuwe predikant en ’n deftige bruilof, van blink koetse en spoggerige perde.

      Die dokumente was net ’n droë relaas van kerklike en politieke gebeure, maar terwyl sy dit lees, het ’n ander idee in Ria se kop begin vorm aanneem.

      Ek gaan tog ’n boek oor Sophia Maria skryf, het sy besluit, nie ’n biografie nie, maar ’n roman geteken teen die agtergrond van Donkerfontein se wording en groei. En as die boek ’n sukses is, gaan sy ’n tweede en miskien ’n derde een skryf oor die nakomelinge van daardie pioniers, tot by die huidige geslag en die wêreld waarin hulle vandag woon. Dié idee, besef sy skielik, is reeds die dag daar in oom Pieter se studeerkamer gebore.

      Later die oggend drink Ria en Paul saam tee in sy studeerkamer. Deur die venster sien sy die rooi stofwolk wat teen die horison lê: vrugbare grond wat deur die westewind verwaai word. Paul volg haar blik en, moontlik om haar gedagtes af te lei, sê hy: “Vertel my ’n bietjie van die stad. Is jy gelukkig daar?”

      Dis of sy haar gedagtes van ver af moet terugbring. Dit voel of sy al maande lank uit die stad weg is en dit is nog skaars twee weke. Nadenkend sê sy: “Ek hou van die stad, van die mense wat jy daar ontmoet, van die opvoerings en musiekkonserte. Die lewe is stimulerend en interessant; daar gebeur altyd iets. Dis wonderlik om in die skemeraand op jou balkon hoog in die lug te staan en te sien hoe die stadsliggies om jou begin flikker totdat Johannesburg soos ’n goue sprokiestad aan jou voete lê. Die pas is vinnig; jy moet altyd hardloop om by te bly.”

      “En jy hou daarvan?”

      Sy glimlag en haal haar skouers op. “Dis my lewe.”

      Op ’n ander toon vra hy: “Hoe gaan dit deesdae met Sophia Maria? Het die kissie toe enige verdere inligting oor haar opgelewer?”

      “Ongelukkig nie. Ek is bevrees daar is nie genoeg gegewens vir ’n biografie soos ek oorspronklik beplan het nie. Maar ek het ’n ander idee gekry.”

      “Mag ek vra wat dit is? Of is dit ’n geheim?”

      Sy vertel hom van haar nuwe plan en hy luister met belangstelling. “Ek dink dis ’n blink gedagte,” sê hy. “Wanneer begin jy?”

      Sy glimlag. “Wel, eintlik het ek reeds begin. Ek het die idee … Nou kom nog net die navorsing en die skryf.”

      “Ek hoop jy gaan die boek hier op Towerwater skryf.”

      Sy kyk verbaas na hom. Hy lyk doodernstig.

      “Ek dink nie jy besef wat jy sê nie. Dit sal my ten minste ’n jaar, moontlik langer, kos om die nodige gegewens in die hande te kry en die boek te skryf. As dit goed gaan, word dit dalk nog twee, selfs drie boeke.”

      Sy vertel hom van haar gesprek met oom Pieter en sy vrees dat jong mense vandag nie genoeg waarde heg aan hulle erfenis waarvoor hulle voorvaders so hard geveg het nie. Dat hulle, omdat hulle soveel makliker grootgeword het, nie opgewasse is vir die eise wat die lewe nog aan hulle gaan stel nie.

      “En jy? Glo jy dit ook, Ria?”

      “Nee, ek glo dit nie. Ek het vir hom gesê elke geslag het sy helde en lafaards – jy kan nie ’n hele geslag veroordeel omdat daar ’n paar individue is wat afdwaal nie. Dit was hulle onblusbare gees wat ons voorouers na hierdie land gebring het en die Voortrekkers met hulle ossewaens die onbekende laat intrek het. Daardie gees is in ons ook, en ons sal dieselfde deursettingsvermoë aan die dag lê as dit nodig is.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy sag: “Ek raak seker nou dramaties, maar dis wat ek graag met my boek wil sê.”

      Hy kyk belangstellend na haar. “Die eerste boek sal seker die maklikste wees. Avontuur, oorloë, heldedade, hartstog, ’n wilde land wat getem moet word, ’n nimmereindigende stryd om te bestaan … dit is lekker stof vir ’n roman.”

      “En tant Sophia Maria – sy moet ook in die boek kom.”

      Hy glimlag. “Natuurlik. Wel, Ria, ek hoop dit werk uit soos wat jy beplan. As jy jou idees op papier kan sit, sal dit wonderlike boeke wees.”

      “Ek kan maar net probeer.”

      Hy bly ’n rukkie stil, dan sê hy: “Mag ek jou ’n baie persoonlike vraag vra? Jy sê dit sal jou minstens ’n jaar of langer neem om die nodige inligting bymekaar te kry en die eerste boek te skryf. Dan duur dit nog maande voor dit gepubliseer word en jy betaal word. Waarvan lewe jy in die tussentyd?”

      Sy glimlag. “Dis ’n goeie vraag. Jy bedoel natuurlik, waarvan lewe ek as ek in die stad is, ver van my gasvrye familie? Ek het vroeër skoolgehou, maar daar het toe maar min tyd vir skryf oorgebly. Nou skryf ek voltyds – kortverhale, vervolgverhale, sketse en verhale vir die radio, met so een maal per jaar ’n liefdesroman of ’n jeugverhaal. Ek het ook ’n klompie leerlinge vir wie ek Afrikaans probeer leer, en so hou ek kop bo water. Intussen droom ek van die meesterstuk wat ek eendag gaan skryf – ’n boek wat in baie tale vertaal word en miskien selfs verfilm word.”

      “Miskien sal die boek waarvan jy nou droom daardie boek wees. Ek hoop so.”

      “Dankie, Paul.” Meer ernstig sê sy: “Paul … ek … daar is iets wat ek graag met jou wil bespreek. Ek sal sommer reguit met jou praat. Dit sal my seker nog ’n hele ruk vat om die inligting vir my boek bymekaar te maak – ek wil nog in die biblioteek en die kerkargief gaan navorsing doen en ek wil graag nog ’n rukkie hier rondkuier sodat ek die regte atmosfeer vir die verhaal kan kry …”

      Hy kyk na haar, maar sê niks nie. Aarselend vervolg sy: “Ek waardeer julle gasvryheid en ek bly heerlik hier op Towerwater, maar ek wil nie ’n oorlas wees nie. Aunt Mildred het

Скачать книгу