Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit страница 18

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit

Скачать книгу

      Hy staan op en stap venster toe. Met sy rug na haar gekeer sê hy: “Wanneer wil jy gaan?”

      Sy kyk verslae na hom. Hoe moet sy nou die man verstaan? “Ek het nog niks besluit nie. Ek bespreek maar net die saak met jou. Wat makeer, Paul? Waarom is jy nou vir my kwaad?”

      Hy draai om na haar toe. “Ek is nie vir jou kwaad nie. Dit staan jou vry om na Aunt Mildred of enigiemand anders toe te gaan net wanneer jy wil. Ek het gedink jy sal dit nie lank hier op Towerwater uithou nie.”

      “Wat bedoel jy nou?” vra sy vinnig, ontsteld.

      “Wie is nou kwaad?” vra hy, en sy sien die glinstering in sy oë. “Ek bedoel maar net dis stil hier op die plaas; daar is nie veel afleiding nie. Ek besef ons is maar treurige geselskap vir ’n mooi, lewenslustige meisie wat gewoond is aan die stad met al sy vermaak.”

      Sy is stil terwyl sy soek na die regte woorde. Ná ’n rukkie sê sy: “Ek het jou gesê ek hou van die stad. Maar ’n mens kan daar ook eensaam wees, nog meer as op die plaas. Dit hang van jouself af. Jy dra jou geluk binne-in jouself – dit is nie van ’n plek afhanklik nie. Ek bly lekker hier op Towerwater. Ek skryf weer en daar in die stad het ek begin dink die fonteintjie het opgedroog. En vandat ek hier gekom het, was ek nog nie een dag verveeld nie. Inteendeel, elke dag is te kort vir al die dinge wat ek wil doen.”

      Sy kyk reguit na hom en sê: “As ek kon kies, sou ek liewer hier op Towerwater wou bly. Ek wil hier wees as die reën kom; ek wil die bruid se sluier met my eie oë sien. Maar ek wil nie ’n oorlas wees nie en ek het gedink as ek my kuiertyd onder die familie verdeel, sal dit vir julle makliker wees.”

      Sy blik is ondersoekend. Amper kortaf sê hy: “As jy so oor die saak voel, bly dan hier op Towerwater. Ons het jou nodig.”

      Hulle hoor ’n motor buite aankom en hy draai om om te sien wie dit is. Verras kyk sy na hom en haar hart klop ’n bietjie vinniger as gewoonlik. “Ons het jou nodig.” Wat sou hy daarmee bedoel?

      Die motor hou voor die deur stil en Tillie du Plessis klim uit. Sy het ’n netjiese, geblomde rok aan en kom blykbaar net van die dorp af. Paul gaan uit om haar te groet.

      Is Tillie verlief op Paul? wonder Ria terwyl sy hulle ongemerk deur die studeerkamervenster dophou. Sy bel hom dikwels om raad te vra en hy is altyd gereed om haar te help. Is hulle net goeie bure of hou Paul meer van die jong weduwee as wat hy miskien self vermoed?

      Hulle kom reguit studeerkamer toe.

      “Tillie het vir ons pos gebring,” sê Paul terwyl Ria vir Tillie groet. Hy kyk die pos vinnig deur en gee vir Ria ’n hand vol briewe. “Almal vir jou.”

      Sy neem die briewe gretig en kyk vlugtig na hulle. Daar is ’n brief van haar broer Danie, een van haar pa, een van die uitgewers en – met ’n tinteling van opwinding herken sy die handskrif – een van Bill. Sy sit hulle eenkant op die lessenaar neer.

      “Ek sal vir Emily gaan sê jy is hier, Tillie. Hoe lyk dit met ’n bietjie tee?”

      “Dankie, dit sal lekker wees.”

      Ria neem die vuil koppies kombuis toe. Emily is besig om vrugteslaai vir middagete te maak en Ria sit self die koppies reg en maak vars tee. Toe sy terugkom in die studeerkamer, is Paul en sy buurvrou verdiep in ’n gesprek oor ’n siek melkkoei. Ria skink die tee en gaan stil eenkant sit. Sy luister graag wanneer die boere gesels, en sy luister met dubbele belangstelling wanneer Paul en sy buurvrou gesels – al gaan die gesprek oor ’n siek koei.

      Emily kom later in en Ria glip weg kamer toe om haar briewe te lees. Die brief van die uitgewer, geteken deur Bill, is net om te sê dat die proewe van Die Blom van die Berge op pad is. Haar pa se brief is vol stywe gemeentenuus, maar in die laaste paragraaf wens hy haar voorspoed toe met haar boek. Sy het Danie se brief twee maal gelees, dit was so warm en onderhoudend geskryf. Vir die eerste keer vandat sy op Towerwater gekom het, is sy bewus van ’n tikkie heimwee.

      Met vingers wat effens bewe, skeur sy Bill se brief oop. Dis warm in die stad, skryf hy, en die lewe is maar saai en vervelig. Cynthia is weg en hy mis die kinders meer as wat hy verwag het, maar hy mis Ria die meeste van almal. Noudat sy weg is, besef hy hoe ’n belangrike deel van sy lewe sy geword het, en hy weet nou dat hy nooit weer gelukkig saam met Cynthia sal wees nie. Hy het Ria lief; hy het haar nodig; sonder haar het die lewe vir hom min betekenis. Hy wil hê sy moet so gou moontlik terugkom stad toe sodat hulle die toekoms kan bespreek en besluit wat hulle moet doen.

      Diep ontsteld vou sy die brief op en steek dit weer in die koevert. Sy het verniet gedink sy het die afgelope veertien dae hier op Towerwater berusting gevind. Bill se brief het weer al die verlange in haar hart blootgelê.

      In die gang gryp sy een van Emily se ou hoede en vlug by ’n sydeur uit. Die fel strale van die middagson skroei op haar neer, maar sy kies half blindelings koers verby die dam en vyelaning en deur die jong bloekomplantasie tot sy haarself voor die toe hekkie van die plaas se kerkhof bevind. ’n Oomblik aarsel sy, dan maak sy die hekkie oop en gaan in.

      Sy was een maal vantevore saam met Paul hier, maar toe het hulle nie lank gebly nie. Vandag stap sy tydsaam deur die netjiese kerkhoffie terwyl sy die opskrifte op die grafstene lees. Hier rus hulle almal, die Therons van Towerwater, ná die woelinge en storms van die lewe. Paul Theron, hulle ou voorvader, en sy vrou is langs mekaar begrawe, maar niemand weet waar Sophia Maria se graf is nie. Daar is ’n paar onbekende grafte – miskien is een van hulle hare. Niemand kan met sekerheid sê nie, en eintlik maak dit ook nie saak nie. Die herinnering aan haar leef voort en sy sal sorg dat dit vir altyd vir die nageslag bewaar word.

      Sy staan ’n lang ruk stil by Winnie se eenvoudige grafsteen. My geliefde vrou, Winifred Julia … Hoe bitter jonk was sy nie. Pas een-en-twintig.

      Ria haal haar hoed af en gaan sit plat op die kweek met haar rug teen ’n sipresboom. Die wind roer saggies in die hoë bome, veraf is daar die gezoem van bye.

      Sy sluit haar oë en laat die vreedsaamheid van die loom somerdag oor haar seer hart spoel. Wat moet sy doen? Bill sê hy het haar lief en het haar nodig. As sy na hom toe gaan, soos hy vra, sal hulle ooit saam gelukkig wees? Het Issie se verhouding met haar vriend haar ooit gelukkig gemaak?

      “Geluk is nie die belangrikste ding nie,” het Danie gesê. “’n Mens moet met jouself en jou gewete kan saamleef.”

      Die kerkhof se hekkie kraak en toe sy opkyk, sien sy dis Paul. Haastig vee sy met haar hand die trane van haar wange af, maar sy staan nie op nie. Hy kom tot by haar.

      “Is dit waar jy wegkruip? Ek het gewonder waarheen jy verdwyn het.”

      “Het jy gedink ek het weggeloop?” vra sy. Haar stem is spottend, maar haar lippe bewe effens.

      Hy hurk langs haar op die kweek. Hy kyk na haar wit gesig, die tekens van trane wat nog op haar wange lê, en vra sag: “Wat makeer, Ria? Wat het jou ontstel?” Die simpatie in sy stem bring ’n knop in haar keel en sy skud net haar kop.

      “Het jy slegte nuus van jou familie – jou pa of jou broers – gekry?”

      “Nee, dit gaan goed met hulle. Hulle sê groete.”

      Hy ignoreer dit. “Wil jy nie vir my sê wat gebeur het nie? Ek kan mos sien iets het jou ontstel. Is dit jou verloofde?”

      “My verloofde?” Sy kyk verbaas na hom, haar trane vergete. “Ek is nie verloof nie. Waar kom jy daaraan?”

Скачать книгу