Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit страница 19

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit

Скачать книгу

bloos bloedrooi. “Ek … ek het nooit gesê ek is verloof nie,” stamel sy verleë. “Ek het net gesê daar is ’n moontlikheid dat ek miskien gaan trou.”

      Die blou oë is skerp, ondersoekend. “En nou? Wat het nou gebeur? Het hy jou afgesê?”

      ’n Onwillige glimlaggie verjaag vlugtig die skaduwee van haar gesig, maar sy skud haar kop. “Ek kan dit nie met jou bespreek nie. Dis … dis iets waaroor ek self moet besluit.”

      Hy kyk ’n oomblik na haar, dan steek hy sy hand uit. “Kom, dit word etenstyd. En hou maar moed. Met tyd kom raad.”

      Sonder ’n woord lê sy haar hand in syne. Sy vingers sluit sterk en vertroostend om hare en hy trek haar langs hom op.

      Hulle was al halfpad huis toe toe sy agterkom dat hy nog altyd haar hand vashou, asof sy ’n kind is wat troos nodig het. Haastig trek sy haar hand uit syne, dankbaar dat sy haar verleentheid agter Emily se hoed kan wegsteek.

      Tillie se motor staan nog voor die deur. Sy eet blykbaar saam met die familie. Ria het nie baie lus vir Tillie se geselskap nie, maar voor sy verskoning kan maak, sê Paul: “Gaan was jou gesig en kom tafel toe. Emily het genoeg probleme met Mona. Sy kan nie nog ’n pasiënt behartig nie.”

      Vererg kyk sy na hom van onder Emily se hoed, maar hy kyk reg voor hom en is blykbaar nie eens bewus daarvan dat sy haar vervies het nie.

      Mona het ná middagkoffie vir die eerste keer weer te voorskyn gekom. Sy was nog bleek, maar het gesê haar hoofpyn is beter. Ria het later weer gaan stap, maar haar voete was vandag sonder veerkrag – miskien was dit maar net haar hart wat swaar was – en moeg en tam het sy heelwat vroeër as gewoonlik weer by die huis gekom. Sy gaan stort en terwyl sy besig is om aan te trek, hoor sy iemand in die sitkamer sing: “When Irish eyes are smiling, sure it’s like a voice in spring.”

      Verras luister sy. Dis ’n vrouestem, soet, suiwer en gevoelvol. Vinnig trek sy klaar aan, dan stap saggies sitkamer toe om te sien wie die kuiergas is. Sy bly verstom in die deur staan. Dis Mona wat voor die klavier sit. Met haar kromgetrekte hande kan sy haarself nie behoorlik begelei nie, maar haar aanslag is lig, amper liefkosend. Roerloos bly Ria in die deur staan, ontroer deur die pragtige stem en die amper stralende uitdrukking op Mona se gesig. Eers as die liedjie klaar is, draai sy stil om en stap weg.

      Sy kry Emily by die hoenderhokke, besig om eiers bymekaar te maak. Terwyl sy help eiers soek, vertel sy haar wat gebeur het. Emily glimlag oor haar verbasing.

      “Het jy nie geweet sy sing nie? Sy is natuurlik baie sku en sal nooit voor vreemde mense sing nie. Haar ma het ook ’n pragtige stem gehad.”

      “Vertel my van hulle ma, Emily. Jy het haar mos geken, nè?”

      Daar is ’n dringende klank in Ria se stem en Emily sit die mandjie met eiers neer en gaan sit op ’n boomstomp. Sag sê sy: “Ek het Eileen goed geken. My pa was destyds ’n bywoner hier op Towerwater, maar die mense was baie goed vir my en ek het dikwels by hulle aan huis gekom. Dit was in die hartjie van die depressie en almal het swaargekry. My pa kon nie bekostig om my op skool te hou nie, maar hulle het gesorg dat ek matriek maak en my toe weggestuur sodat ek as verpleegster opgelei kon word.

      “Eileen was van Ierse afkoms – Paul en Mona het albei haar Ierse blou oë geërf – en ek het gedink sy is die mooiste mens wat ek nog ooit gesien het. En sy was nie net mooi nie, sy was ook vriendelik en baie begaafd. Sy kon nie net sing nie, maar ook baie mooi klavier speel. George het haar en die twee kinders aanbid. Almal wat hier gekom het, kon aanvoel hoe gelukkig hulle is. Maar dit het nie lank geduur nie. Eileen is met die geboorte van haar derde kind oorlede – Paul was toe vyf en Mona agt – en daarna was die lewe nooit weer dieselfde nie. Die een ramp ná die ander het hulle getref totdat die mense begin sê het daar rus ’n vloek op Towerwater.”

      “Ek glo dit nie,” sê Ria vinnig. “Hoe kan daar ooit ’n vloek op so ’n mooi plaas soos Towerwater rus?”

      “Ek glo dit ook nie, maar dit was ’n tyd van groot teëspoed. Mona se siekte – eers polio, toe rumatiekkoors – het George byna net so diep getref soos sy vrou se dood. Die familie was bitter gekant teen ons huwelik. George was twee-en-twintig jaar ouer as ek en ek was die bywoner se dogter, groot en grof en onaansienlik. Hulle kon hulle nie versoen met die gedagte dat ek Eileen se plek hier op Towerwater moes inneem nie. Ek het egter nooit probeer om haar plek in te neem nie; ek was self terdeë bewus van my tekortkominge. Maar ek kon die huishouding waarneem en Mona verpleeg, en ek het hard probeer om vir George ’n goeie vrou te wees. Hy was baie goed vir my en ek was nooit spyt dat ek met hom getrou het nie.”

      Ria kyk na haar, dan sê sy sag: “Ek dink nie jy is grof en onaansienlik nie, Emily. Jou gesig lyk soms soos ’n madonna s’n en ek dink jy het baie mooi hande. Ek is seker Paul se pa het nie net met jou getrou omdat jy ’n opgeleide verpleegster was nie, maar omdat jy van binne mooi is. Paul en Mona was gelukkig om so ’n stiefma te kry.”

      Emily skud haar kop verleë, maar voor sy kan praat, vra Ria. “Het jy nooit daaraan gedink om ná Paul se pa se dood van Towerwater af weg te gaan nie?”

      “Toe Paul getroud is, wou ek weggaan, maar Winnie was jonk en onervare, en Paul het my gevra om nog ’n rukkie aan te bly en haar met die huishouding te help. ’n Jaar later het sy tydens ’n groot storm hier op die plaas verdrink. Dit is nou byna agt jaar gelede en ek is nog steeds hier op Towerwater. Somtyds wonder ek of ek ooit hier sal weggaan.”

      Ria wil graag meer vra, maar sy het nie die moed nie. Emily tel die mandjie met eiers op en hulle stap stadig in die skemer terug huis toe.

      Die aand ná ete sê Ria vir Mona: “Ek het jou vanmiddag hoor sing, Mona. Weet jy dat jy ’n pragtige stem het?”

      Mona se gesig verhard dadelik en sy haal haar skouers onverskillig op. Sy swyg.

      “’n Mens mag nie so ’n talent vir jouself hou nie,” probeer Ria weer. “Ek sou jou graag weer wou hoor. Wil jy nie vanaand ’n bietjie vir ons sing nie?”

      “Ek het nooit enige opleiding gehad nie,” sê Mona stroef. “Ek sing nie vir vreemdelinge nie.”

      “Ria is nie ’n vreemdeling nie,” sê Paul onverwags. “Kom sing vir haar. Ek sal jou begelei.”

      Sonder ’n woord staan Mona op en stap saam met Paul na die vleuelklavier wat in die een hoek van die vertrek staan. Met genot luister Ria na die mooi suiwer stem, haar hart vol deernis vir die vrou wat al soveel deurgemaak het. En tog, as sy kon losbreek uit haar selfbejammering en hierdie wonderlike gawe met ander kon deel, hoeveel ryker sou haar lewe nie wees nie.

      Paul speel goed en sing later ook saam met Mona. Hy het ’n ryk, aangename stem en Ria luister verras. Saam met die blou oë het albei, Paul en Mona, ook hulle ma se musiektalent geërf. Watter verrassings sal Towerwater nog oplewer?

      Waarom het Paul nie weer getrou nie? wonder sy weer. Is dit omdat hy Winnie en die tragiese omstandighede van haar dood nie kan vergeet nie? Of is dit uit jammerte vir Mona en ’n pligsgevoel teenoor haar? En Emily? Emily met haar diepe lojaliteit aan George Theron se kinders – wil sy nie ook haar eie lewe hê nie? Sy sal ’n wonderlike vrou wees vir enige man wat dieper kyk as die uiterlike. En Paul en Mona, wat haar liefde en lojaliteit so vanselfsprekend aanvaar, het haar nie meer regtig nodig nie. Dis tyd dat hulle op hulle eie bene staan. Eendag sal sy dit nog vir hulle sê.

      Ria het dié nag maar min geslaap. Dit was drukkend warm en sy het rusteloos rondgerol. Wat moet sy doen? Al haar goeie voornemens laat vaar, teruggaan na Johannesburg en die bietjie

Скачать книгу