Tryna du Toit-omnibus 4. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit страница 20

Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit

Скачать книгу

aan ander dinge. Met tyd kom raad, het Paul gesê. En wie weet wat die toekoms nog vir haar inhou.

      Sy dink aan Mona en haar mooi stem. Wat ’n raaisel is die vrou nie. Hoeveel mense weet van haar sangtalent? En skielik dink sy aan iets anders: daardie skildery van Paul wat in die studeerkamer hang – wie het dit geskilder? In die sitkamer hang nog twee skilderye – ook geskilder deur dié “vriend” van Paul. Hulle het ’n vreemde, strak skoonheid wat jou amper teen jou sin aangryp. Wie is die onbekende vriend? Net môre sal sy vir Emily vra.

      Sy het later aan die slaap geraak en van Towerwater gedroom. Dit was nag en die maan het geskyn. Dit het gereën, water het oor die krans gestort en die skuim het hoog in die lug opgeskiet. En langs die waterval het ’n vrou gestaan in ’n lang wit rok en ’n wasige sluier wat die wind soos ’n wolk om haar waai. Een oomblik was dit Mona wat daar gestaan het, toe was dit sy, Ria, en terwyl sy nog so kyk, het die vrou oor die rand verdwyn en was sy een met die wit skuim en die water.

      Ria word met ’n ruk wakker en haar wange is nat van trane. Die droom was so helder dat sy voel sy moet opstaan en gaan kyk of dit nie die werklikheid is nie. En dan onthou sy: die rivier is droog; daar is nie water nie.

      Mona het die volgende oggend laat geslaap en eers ná ontbyt te voorskyn gekom. Ria het toe nie vir Emily oor die skilderye uitgevra nie; sy het besluit om Mona self te vra.

      Sy was in Paul se studeerkamer besig om aan haar jeugverhaal te werk – of te probeer werk – toe Mona inkom. Sy het haar naaldwerkmandjie by haar en Ria onthou skielik dat Mona ook pragtig borduurwerk doen.

      “Kan ek maar hier sit of sal ek jou pla?’ vra Mona skugter.

      “Kom sit gerus. Jy sal my nie pla nie. Mona, ek wil jou iets vra. Daardie skildery van Paul,” sy wys na die skildery wat teen die muur hang, “en daardie twee in die sitkamer – wie het dit geskilder?”

      Mona maak haar mond oop om te antwoord, dan maak sy dit weer toe. Daar was iets in Ria se stem wat haar getref het. ’n Oomblik aarsel sy, dan sê sy uitdagend: “Ek het dit geskilder. Glo jy my nie? Dink jy omdat my hande gebreklik is, kan ek nie skilder nie?”

      “My liewe Mona, ek het nooit so iets gedink nie. Ek dink glad nie jy is so danig gebreklik nie. Het jy nog nie van die vereniging van mond- en voetskilders gehoor nie? Dis mense wat nie arms en dikwels ook nie bene het nie, en met hulle monde of voete skilder om so ’n lewe te maak. Wat my verbaas, is dat jy dié wonderlike talent het en dit wegsteek asof jy skaam is daarvoor.”

      “Ek skilder net vir my eie plesier. Dis nie nodig dat iemand anders daarvan weet nie.”

      Ria skud net haar kop. “Het jy ooit les gehad?”

      “Hier het eenkeer ’n skildervriend van Paul gekuier wat my ’n paar wenke gegee het, maar dis al. Verder het ek maar geëksperimenteer en my self geleer.”

      “Is daar nog ander skilderye?”

      “’n Hele kamer vol.” Sy aarsel, dan sê sy: “As jy regtig belang stel, sal ek jou wys.”

      “Ek wil hulle baie graag sien.”

      Ria stap saam met Mona na haar kamer toe. Dis ’n mooi kamer met streng, eenvoudige meubels maar helder gordyne en matte, en dis vol interessante snuisterye. Uit haar slaapkamer loop ’n groot, sonnige vertrek wat blykbaar haar werkkamer is. Haar esel is daar, en ’n boekrak vol boeke oor kuns.

      Teen die mure en op die vloer is daar omtrent twintig voltooide skilderye en ’n hele paar wat halfpad klaar is. Daar is landskappe, stillewes van blomme, skilderye van katte en voëls, en ’n besonder treffende portret van Emily. Haar mooi hande rus op haar skoot en daar is diepe deernis op die growwe gesig. Die gesig van ’n madonna – vreemd dat hulle dit albei raakgesien het.

      Mona se kwistige gebruik van helder kleure val dadelik op. Die skilderye spreek van gevoel – soms wrang en bitter, soms byna idealisties, soos Emily se portret – en almal dra die stempel van Mona se onmiskenbare talent.

      Toe sy al die skilderye deurgekyk het, vra Ria: “Wat sê Paul van jou skilderwerk?”

      “Hy moedig my aan om te skilder – ek dink omdat hy weet dat ek dan gelukkig is.” Sy kyk nuuskierig na Ria. “En jy, wat dink jy daarvan?”

      “Ek dink jy het groot talent, Mona. Te groot om dit hier op Towerwater weg te steek. Jy moet vir my kom kuier wanneer ek weer terug is in die stad, dan reël ons ’n uitstalling van jou skilderye. Ek het ’n vriend wat by een van die kunsgalerye werk en hy sal al die reëlings vir ons tref. Ek hoop jy sal dit doen.”

      Mona skud net haar kop. “Ek het jou gesê ek skilder net vir my eie plesier. Ek hou nie van vreemde mense nie – die manier waarop hulle na my kyk, die spot en bejammering in hulle oë … Ek is gelukkig hier op Towerwater. Waarom sal ek weggaan?”

      “Omdat jy ’n groot talent gekry het en dit moet uitleef. Het jy al gedink hoeveel vreugde jy ander mense daarmee kan gee?” vra Ria ernstig.

      “Jy kan maklik praat. Jy is nie gebreklik nie; jy kan trou en kinders hê. Wat hou die lewe vir my in behalwe pyn en frustrasie? Wat het ek gedoen dat ek so gestraf moet word?”

      Ria hoor die bitterheid in haar stem en sê saggies, vertroostend: “Hierdie dinge gebeur nie om jou te straf nie, het my broer Danie eendag gesê, maar om jou te toets. Helen Keller was blind, en wat het sy nie vir die mensdom beteken nie? Beethoven was doof, en dink aan die wonderlike musiek wat hy vir die wêreld gegee het. Die liggaam is nie belangrik nie; dis die gees wat tel.”

      Sy is skielik bewus daarvan dat hulle nie meer alleen is nie en draai vinnig om. Paul staan in die deur, sy gesig streng en ontevrede.

      “Wat gaan hier aan?”

      “Mona en ek is besig om te gesels,” antwoord sy koel.

      “Waaroor gesels julle?”

      Sy voel hoe hartseer en ontsteltenis soos ’n golf in haar opstoot, maar bedwing haar en sê kalm: “Mona het vir my haar skilderye gewys. Ons was besig om dit te bespreek.”

      Hy kyk na Mona, wat bleek en ontsteld eenkant staan, en sê koud: “Mona het al ’n paar dae lank hoofpyn. Laat staan liewer die bespreking tot later.”

      Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy kwaad: “Ek wil dit nie laat staan nie. Dis tyd dat iemand vir haar die waarheid vertel, en vir jou ook. Dis julle skuld dat Mona is wat sy vandag is: ’n eensame, verbitterde mens vol selfbejammering. Haar hele lewe lank het julle almal – jou pa, jy, Emily – haar in watte toegedraai en haar kastig beskerm teen die wrede wêreld daar buite. Sy het nooit geleer om op haar eie bene te staan nie. Haar talent, wat haar en baie ander mense se lewens kan verryk, steek julle weg asof dit iets is waarvoor ’n mens skaam moet wees. As dit nie vir julle was nie, kon sy vir haarself naam gemaak het as skilder en ’n vol en interessante lewe gehad het.”

      Paul se gesig is hard en geslote, sy blou oë so koud soos ys. “Jy weet nie waarvan jy praat nie. Ek dink dit sal beter wees as jy jou in die toekoms by jou boek bepaal en ons uitlos.”

      Ria kyk na hom, wit van ontsteltenis. Wat het haar besiel om so te kere te gaan? Sy draai na Mona en sê berouvol: “Ek is jammer, ek het nie bedoel om jou seer te maak of te ontstel nie. Dis jou lewe, jy moet self besluit wat jy daarmee wil doen. Moet net nie toelaat dat ander vir jou voorskryf nie.”

      Vir Paul sê sy: “Jy is reg.

Скачать книгу