Die Skyn van tuiskoms. Lina Spies
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die Skyn van tuiskoms - Lina Spies страница 7
Gerrit Achterberg
Ek is oor alles wat ek het
vandag so byna volledig bly
dat ek verbaas oor dié nuwe sekerheid
binne my eie wêreld kom en gaan.
Dit was jou eis, my lief, nie waar?
Dat ek oor jou nie sou bly staar
en in ’n monoloog met jou die vrae stel
en self ook weer die antwoorde verskaf.
Dis dodelik, het jy gesê, dis moord,
jy sou daarmee nie saam kon leef
terwyl jy tog van my onvermydelik
meesal geskei of ver moet wees.
Maar nou, aan die kant van die wrede grens,
geluk dit my om kop te hou;
laat ek hul tel my seëninge, een-een,
totdat ek weer oortree op jou gebied,
dit ons s’n word opnuut tot ’n bewoonde heerlikheid
al staan daaroor die tyd geskryf
en daarmee saam die tydelikheid:
o, omdat ek jou
tot in die laaste vesel lief kon hê,
kan ek uiteindelik oor niks verleë
regop en stil my niemandsland betree.
Studie
Verspot dat dit my nou moet pla,
Picasso se pienk periode:
dogtertjie met haar hand op ’n hond se kop,
vrou met ’n kind aan haar bors.
Ek gaan my daarop draai
in die blou stilswye
waarin sy naakte vrou haar keer
sodat mens knop vir knop die rugstring langs
alleen haar skoonheid en haar hartseer raai.
My bors druk teen my opgetrekte knie:
die enigste bekentenis waar voorheen
bo die skaars gedulde leegheid van my buik
gretig en teer sy mond en hande was.
En skuins oor my skouer
moet ek nog een maal terugkyk
na ons wegstap-kind,
reeds halfpad uitgedeel aan die pienk skemerte.
Kindskap
Ek is klaar met die liewe kind,
ek belet haar my huis.
Ek is soos die Hollandse Dolle Minas
voortaan baas in my eie buik.
My rol van die Engelse nanny is uitgespeel:
Mother to all, wife to no-one.
Die laai bly leeg aan suigstokkies.
Ek bêre nie meer ou koppies
vir modderkoekies bak nie.
Ek laat hulle skreeu “Wolf, wolf hoe laat is dit?”,
maar ek hardloop nie meer saam nie.
Ek is ’n wolvin
beroof van die kleintjies
wat ek nooit gehad het nie:
die skaapsklere wat ek dra,
is van ’n growwer vesel.
Woordspel i
Jy het my eenmaal beskuldig
dat ek hang aan woorde;
ek moet erken: speels, byna-liefdevol
in soverre jy in staat was
om my lief te hê.
Goed dan, ek hang aan woorde
bo die afgrond van my bestaan:
ek speel daarmee en ek spoeg dit uit
en ek ken alleen die wraak van woorde
as hulle met my owerspel kom pleeg
tot my redding en my reinheid telkemaal.
Woordspel ii
Liefhê maak taal onnodig
maar verkwansel op die lange duur
ook meer as woorde:
jy en ek word ontklee
tot die ewige hy en sy –
minder as onsself.
Daarom herstel tot
my eie doodgewone liggaam en gesig
waarna op straat
niemand om sal kyk nie
kan ek begin om in my eie toevallige taal
eiesoortig te haat
dat ’n lang wolwefluit my uiteindelik agtervolg.
Veldwerker
Ek wil jou naam noem as ’n towerspreuk
want dit is nuut aan my gegee
wanneer om my die ou verdriet hom uitstrek
soos ’n stadsplein in die winter:
alles wat ek voorheen liefgehad het
ver soos die huise, steenkoud, vensterblind,
sonder die latere genade van die sneeu.
Maar kyk, ek benoem jou tot beswering van die swygsame aarde
dat