Raaisels op Keurboslaan #5. Theunis Krogh

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Raaisels op Keurboslaan #5 - Theunis Krogh страница 3

Raaisels op Keurboslaan #5 - Theunis Krogh Keurboslaan

Скачать книгу

      Fanie loop in sy ou sweetpakbroek en gelapte hemp met sy hande in sy sakke straataf. Wat sal die hoof sê as hy een van sy leerlinge só sien? Wat sal hy sê van die kinders saam met wie Fanie die res van die oggend deurbring?

      Hulle is die taaiste seuns in die minder gegoede buurt wat aan die Nieuwenhuise se voorstad grens. Hulle ken Fanie as ’n seun wat meer beskaafd as hulle is, maar hom nie beter hou nie. Hy gee dikwels vir hulle van sy lekkers, en selfs van sy sakgeld. Die seuns kry hom jammer dat hy in so ’n deftige, bekende kosskool is. ’n Mens kry glo slae daar. As ’n onderwyser hier dit waag, sal die seuns se pa’s en ouer broers die skool stormloop!

      Toe Fanie hulle vandag vra om iets vir hom te doen en belowe om hulle daarvoor te betaal sodra hy sy verjaardaggeld kry, stem hulle in. Hulle weet hy sal woordhou.

      Die res van die oggend werk almal aan ’n plan van aksie.

      Die vakansie is vinnig verby en ná die uitpakkery op skool hardloop al die seuns na die waterkuile. Fanie roep sy spesiale vriende op die rotse bymekaar. Hy vertel vir hulle wat hy gehoor het, en hoe die kastig beroemde meneer Markham op sy plek gesit gaan word.

      Die hele bende is hier: Bertrand Spaulding met sy silwerblonde hare en vonkelende, spottende oë; Flip Venter, ’n gesonde seun met bruin oë en ’n snaakse neus; Neels Pieterse; Dollie Combrink; Snyman wat verwag om met respek behandel te word omdat sy suster Annabelle met die hoof se broer dokter Martin Serfontein getroud is; die slaperige Koos Krige; die stil, groot Wentzel Elsenach met sy rooibruin hare; Tonie Wilke, die aangenome weeskind; Geer, ’n skraal sestienjarige met dromerige blou oë wat jare lank reeds die bende se leier is; Breda; Bezuidenhout en nog ’n hele paar. Die bendelede verskil heelwat in ouderdom, maar nie wat deursettingsvermoë betref nie.

      “Jammer ons kan nie self daar wees nie!” sê Bertrand wie se stem nie meer ’n spoor van ’n Engelse aksent verraai nie. “Dis nie genoeg om die vent met vrot tamaties en eiers te gooi nie. As ék daar kan wees, sal ek hom met my buikspraak nog tien keer meer simpel laat lyk.”

      “Sal ons hoor wat gebeur het … Ás dit ooit gebeur?” vra Flip.

      Hy verafgod doktor Serfontein wat soveel vir hom gedoen het, en geen straf is volgens hom te kwaai vir iemand wat die hoof nie ordentlik behandel nie.

      “Ons sal dit in die koerante lees,” sê Fanie seker van sy saak.

      “Kyk, hier kom die uitverkorenes!” sê Bertrand.

      Vanjaar se prefekte was lank besig by die koshuis en kom nou eers by die kuile aan. Almal is stewige kêrels, danksy al die sport waaraan hulle hier op Keurboslaan deelneem.

      Die jonger seuns kyk hulle met respek aan terwyl hulle verbyloop: Piet Kannemeyer, Rools Lategan, Meyer Bruwer, Hannes Nolte, Hektor Strydom, Paul Kreft en Gerard Bornmann.

      Almal wonder hoe Bornmann as hoofseun gaan vaar. Sy broer wat ’n paar jaar gelede ook hoofseun was, het hom buitengewoon goed van hierdie taak gekwyt. Gerard het miskien nie so ’n sterk persoonlikheid nie, maar hy is pligsgetrou en slim, en onder sy leiding behoort dinge glad te verloop.

      “Swem julle kêrels dan nie?” vra hy vir Geer-hulle.

      “Een van die dae!”

      “Spring nou in, of gaan trek aan. Die windjie raak koud. Ons wil die jaar nie met verkoues begin nie. Dan verwaarloos julle weer julle sport.” Hy bly staan om te sien of hulle na hom luister.

      Die seuns doen dit maar.

      Toe hulle later weer warm aangetrek is, kom hulle saam by die koshuisgebou uit. Die bendelede is nooit ver van mekaar af nie. ’n Mens weet nooit wanneer jy hulp nodig kry nie.

      Bertrand gaan sit met sy trekklavier op die trap wat na die groot voordeur lei, en speel deuntjies terwyl die ander saam fluit of neurie. Hy het met die hoof se hulp ’n goeie dansorkes gestig en die skool is trots daarop. Baie van die lede speel ook in die simfonie-orkes wat die bejaarde meneer Beunk met soveel geesdrif lei.

      “Kyk!” sê Flip skielik. “Daar kom Tessa, en dit lyk of sy begrafnis toe gaan.”

      Tessa groet almal, vaag en afgetrokke, en stap stadig en bedruk verby.

      In plaas van haar gewone seunsagtige klere, dra sy nou ’n netjiese rokkie en haar hare is gevleg.

      Bertrand glimlag geamuseerd. Hy geniet haar toneelspel.

      Hy loop met trekklavier en al na haar toe. “Wat nou?”

      “Moenie met my praat nie,” sê sy. “Ek mag nooit meer iets met julle te doen hê nie.”

      “Hoekom nie?” vra Geer.

      “Oom Roelof sê ek mag nie meer met seuns speel of seunsklere dra nie. Ek gaan miskien kosskool toe gestuur word. As straf omdat ek teen daai nare Gawie Jonker geboks het en die ander seuns hom uitgelag het …”

      “Watter Gawie Jonker is dit?” vra Geer.

      “Die mense met die groot plaas anderkant die dorp se seun,” vertel Bezuidenhout. “Hy’s so bederf, dit maak ’n mens siek. My oom en tannie wat daar naby bly, is bang as hy met hulle seuns kom speel, want hulle wil hom in stukkies opkerf.”

      “Hy moet baie simpel wees om teen ’n meisie te boks – ja, ek weet ons eie kleintjies boks teen Tess, maar dis anders – en dan ook nog by sy ma te gaan tjank. Het hy nie ’n pa wat hom kan foeter nie?” vra Geer.

      “Ja. Tannie Helen sê hy is gaaf, maar hy is baie weg met verkiesings en goed, en hy dink Gawie is maar so omdat hy nog klein is,” sê Tessa.

      “Toemaar, ons staan by jou,” sê Bertrand. “Ek sal ’n plan maak, al weet ek nog nie wat nie. Die Jonkers gaan jammer wees hieroor!”

      2

      DIE TOETS

      Meneer Nieuwenhuis stap stadig met die gang langs tussen die slaapkamers deur; sy eerste aand op skool. Meneer Serfontein het hom aangeraai om voorlopig sy oë oop te hou, en sy mond so ver moontlik toe. Die nuweling is bly ’n ervare kollega soos die hoof se broer kan hom as koshuisonderwyser touwys maak.

      Sover lyk alles in orde. Fanie bly uit sy broer se pad. Hy voel effens ongemaklik met sy ouer broer op die personeel, maar ignoreer sy vriende wat hom daaroor terg.

      Die heel kleintjies se slaapsaal word deur mevrou Mostert versorg. Nadat meneer Nieuwenhuis haar ontmoet het, is hy nie bang hulle sal moeite gee nie. Maar hy ken natuurlik nog nie Keurboslaan se leerlinge nie.

      Een van die kamerdeure is oop en hy bly staan om in te kyk. Daar is agt beddens in hierdie wit-en-groen vertrek waarin seuns van verskillende ouderdomme woon. Twee lyk klein genoeg om nog in die babasaal te wees. Klein Oosthuizen sit regop in die bed en lyk baie trots op sy verhoogde status.

      ’n Ander outjie lyk minder tevrede met die lewe. Sy hande is styf om sy knieë gevou en sy oë knip byna nie.

      Al die seuns, groot en klein, kyk ernstig op toe die nuwe onderwyser inkom.

      “Wat is jou naam?” vra hy vir die grootste een.

      “Geer, meneer.”

Скачать книгу