Boos en Bisar. Chris Karsten

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boos en Bisar - Chris Karsten страница 7

Автор:
Серия:
Издательство:
Boos en Bisar - Chris Karsten

Скачать книгу

die res van die land, selfs oorsee. Die Maandagaand se opvoering van Hamlet word gekanselleer.

      Fahiem Stellenboom van die Baxter sê: “Dit is baie hartseer dat so ’n tragedie moet gebeur met ’n wonderlike, dierbare en dinamiese jong man wat so ’n wonderlike toekoms voor hom gehad het.”

      Dinsdag word Trevino Cairncross (25), ook van Crawford, in hegtenis geneem. Die polisie vermoed hy het van die slagoffers se eiendom in sy besit.

      Shawaan, Clinton en Rameez verskyn dieselfde dag vlugtig in die Kaapse landdroshof op voorlopige aanklagte wat verband hou met die besit van gesteelde goedere. Shawaan se bewoë pa, Mogamat, en sy broer, Razeen, is by die hof. Razeen Marlie sê: “Ons weet nie wat aangaan nie. Hy [Shawaan] is nie so ’n persoon nie. Dis moeilik om te glo dat hy betrokke was. Hy het ons altyd uit die moeilikheid gehou.”

      Clinton se ma sê hartseer: “Ek voel baie seer. Ek is ook jammer oor wat met daai mense [Brett en Richard] gebeur het.”

      Omstreeks twee-uur Woensdagoggend sien veiligheidswagte by die Vangate-winkelsentrum in Athlone ’n verlate motor op die parkeerterrein. Hulle bel die polisie. Richard se gesteelde Polo word opgespoor. Een van die veiligheidsgordels is afgesny.

      Later die Woensdagoggend verskyn die ses jong manne in ’n stampvol Wynbergse landdroshof, met swaar gewapende polisiemanne. Shawaan Marlie, Clinton Davids, Rameez Sayeed, Jade Wyngaard, Nurshad David en Trevino Cairncross word verdink van moord en roof met verswarende omstandighede.

      Die staatsaanklaer sê klere en ander persoonlike items van Brett en Richard is in hul besit gekry.

      Shawaan se ma sê huilend by die hof: “Hulle is lieflike seuns. Ons is ’n decent familie. Hulle is nie rubbish nie. Dit kan nie waar wees nie. Is ek besig om te droom? Hy [Shawaan] is my alles en altyd daar vir my. Ek kan op hom staatmaak.”

      Dieselfde Woensdag waarop die ses in die hof verskyn, neem die polisie nog drie mense in hegtenis. Eers vir Zubair Davids (21) en Yazeed Eyssen (25), en later die dag ’n jong vrou, Anushka Anthony (22).

      By Zubair en Yazeed kry die polisie ’n pistool. Forensiese toetse word gedoen om te kyk of dit die moordwapen is waarmee Brett en Richard koelbloedig in die agterkop geskiet is terwyl hulle nakend en weerloos op hul mae gelê het.

      Nou begin wilde bespiegelings in die media verskyn oor hierdie “Crazy”-moorde (genoem na Crazy Monkey). Was dit ’n bendemoord, ’n soort makabere inisiasie om nuwe lede by ’n bende in te lyf? Of het dit te doen met homofobie? Daar is verwysings na die massamoord op homoseksuele sekswerkers in die Sizzlers-klub in Seepunt. Of is hulle summier tereggestel oor dwelmskuld wat nie vereffen is nie?

       Was dit ’n bendemoord, ’n soort makabere inisiasie om nuwe lede by ’n bende in te lyf?

      Al hierdie bespiegelings is nie aangename leesstof vir Brett en Richard se naasbestaandes en vriende nie, maar hulle handhaaf ’n waardige stilte terwyl die polisie-ondersoek blitssnel sy verloop neem.

      Al wat die polisie amptelik sê, is dat hulle nie kan bespiegel oor ’n bendeverbintenis nie, al is Clinton Davids se broer ’n berugte lid van die Americans-bende. Die polisie beskou roof as die enigste motief vir die dubbele moord.

      Brett en Richard word op Saterdag 22 April in die Joodse deel van Wespark-begraafplaas in Johannesburg begrawe, ’n uur ná mekaar. Sowat 400 rouklaers, onder wie bekendes soos Tony Leon, (gewese) leier van die Demokratiese Alliansie, en die akteur Colin Moss, is om Brett se graf toe rabbi Ari Shishler sê: “Daar is geen woorde nie. Niks. Net stilte. Geen woorde kan die skok en woede beskryf nie. Woorde is nie genoeg om te verduidelik hoekom dít moes gebeur nie.”

      Samantha se lyf ruk soos sy huil en sy word styf deur haar pa, Peter, vasgehou. Denise staar net strak na haar seun se eenvoudige dennehoutkis.

      Rabbi Shishler sê: “Die harde werklikheid is dat ons in ’n wêreld leef wat nie beter raak nie. Ons grootste bydrae sal wees om ’n verskil te maak in hierdie land, om Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Ons weet nie wat Brett gesien of gevoel het nie, ons kan ons net indink.”

      Leon sê daarna in ’n verklaring dié moorde laat Suid-Afrika en die res van die wêreld sidder. “Wat het van ons samelewing geword? Waar is die regering in hierdie krisistyd?”

      Denise Goldin sê die land se moeders moet “hel en verwoesting” saai en toi-toi voordat húl kinders ook weens sinlose misdaad begrawe word.

       Denise Goldin sê die land se moeders moet “hel en verwoesting” saai en toi-toi voordat húl kinders ook weens sinlose misdaad begrawe word.

      Die Sondag ná die begrafnis word Reshaak Shaik (22) en Faizel Gaffoor (25) in Rylands in hegtenis geneem, twee motorwerktuigkundiges en van hul kleuterdae af boesemvriende.

      Binne agt dae, vanaf die vorige Sondagoggend nog voor die lyke gekry is tot die volgende Sondag, is elf jong mense aangekeer.

      Op 9 Mei gee die bendeleier Igshaan (Sanie American) Davids, en broer van Clinton, hom by Bellville-Suid se polisiekantoor oor nadat ’n lasbrief uitgereik is dat hy van die verdagtes in die “Crazy”-moorde geïntimideer het.

      Hy het glo aan Anushka Anthony, Zubair Davids en Yazeed Eyssen gesê: “As my broer gevonnis word, sal julle ook gevonnis word.”

      Maar in Oktober word hierdie klag teen “Sanie America” teruggetrek.

      Pleitooreenkomste

      Die regsbeginsel van “pleitooreenkoms” is vanaf 14 Desember 2001 in die Suid-Afrikaanse regstelsel van toepassing nadat die Strafproseswet gewysig is.

      Dit laat die vervolgingsgesag toe om met ’n beskuldigde wat ’n regsverteenwoordiger het, ’n ooreenkoms oor sy pleit en vonnis aan te gaan. Onderhewig aan sekere voorwaardes mag ’n hof só ’n beskuldigde dan skuldig bevind en vonnis sonder dat ’n verhoor plaasvind.

      Die beginsel van ’n pleitooreenkoms was aanvanklik omstrede, en is steeds in sekere regskringe, omdat dit sou behels dat ’n beskuldigde bereid is om op ’n minder ernstige aanklag skuld te beken in ruil vir ’n ligter vonnis, sonder die las op die staat om ’n oortreder se skuld te bewys. Sulke pleitooreenkomste geskied met die goedkeuring van slagoffers of hul naasbestaandes.

      Die regsproses in die “Crazy”-moordsaak word aansienlik bespoedig deur verskeie sulke pleitooreenkomste waarin die Goldin- en Bloom-familie insae kry.

      Jade Wyngaard en Nurshad David, wat by was toe Brett en Richard in Bakoven ontvoer is, word in Mei ná pleitooreenkomste elkeen tot 34 jaar tronkstraf gevonnis op verskeie aanklagte, onder meer menseroof en roof met verswarende omstandighede. Maar omdat van die vonnisse gelyklopend uitgedien word, beteken dit dat hulle effektief 12 jaar tronkstraf kry.

      Enkele dae later beken ook Zubair Davids en Yazeed Eyssen skuld op aanklagte van voertuigdiefstal en die besit van gesteelde goedere. Zubair beken ook skuld op aanklag van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

      Hulle word elkeen tot vier jaar tronkstraf gevonnis, waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is. ’n Voorwaarde van hul pleitooreenkomste is, soos dié van Jade en Nurshad, dat hulle in die moordverhoor van Shawaan Marlie en Clinton Davids sal getuig.

      In Junie verskyn Reshaad Shaik en Faizel Gaffoor in die hof oor die diefstal van Richard se Polo. Hulle het die kar vir R3 000 gekoop

Скачать книгу