Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 3
Sy is net vaagweg bewus van die gewerskaf in die graf, hoor die opdragte van die menere Poppe aan die twee grawers. Natuurlik is die begrafnisondernemers nie ingelig oor die rede waarom Dorkas Lotz se kis opgegrawe word nie. Ella vermoed hulle sal graag wil weet, maar hulle vra nie uit nie. Die lasbrief vir die opgrawing het meneer Poppe Senior sorgvuldig bestudeer, sy kop geknik en dit geliasseer. Dit is net gepas dat sy onderneming die opgrawing doen, aangesien hulle destyds die gestorwene hier ter aarde bestel het. Hulle sal ten beste weet hoe om die kis en sy inhoud te hanteer.
Die menere Poppe hoef ook nie te weet dat dit byna twee maande geduur het voordat die aansoek om ’n lasbrief uiteindelik goedgekeur en deur die hooflanddros self onderteken is nie. Selfs met grondige redes en motiverings wou die landdros homself eers vergewis dat die polisie inderdaad geen naasbestaandes van die oorledene kon opspoor oor die opgrawing van die kis ná byna ses jaar nie.
Ook Interpol se hulp is ingeroep om die enigste bekende naasbestaande – Dorkas se seun, Abel – te probeer opspoor. Nie net vir sy instemming dat sy ma se graf oopgemaak kan word nie, maar omdat hy gesoek word as vermeende reeksmoordenaar. Onverrigtersake het die landdros oplaas die lasbrief onderteken.
Nou word die kis met groot gesukkel uit die graf gelig.
“Dis swaar,” sê meneer Poppe Senior, gebukkend oor die katroltakel.
“Sy was ’n swaar vrou, as ek reg onthou,” sê meneer Poppe Junior.
Ella kyk na die graf links van Dorkas s’n. Die inskripsie op die kopsteen lui:
Johanna (Hannie) Maria Linde (née Yssel), 24.05.1893 – †16.03.1981. En kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. – Openbaring 6:8.
Ma en dogter, weet Ella nou; die raaisel is opgeklaar. Abel se ma en ouma, wat húlle delusies in die seun se ontvanklike gemoed oorgeplant en besete versterk het.
“Maar hoeveel jaar is dit al?” steun meneer Poppe Senior. “Hoe kan sy steeds so swaar wees? Net skelet en beendere, en wat weeg dít, ’n hopie bene?”
“Ek moes haar balsem, onthou,” sê meneer Poppe Junior, balsemdeskundige van Poppe & Son Undertakers & Embalmers van Fordsburg, Johannesburg.
“O ja, dis wat haar seun wou hê. Sy ma moes gebalsem word sodat sy vir ewig behoue kon bly.”
“Hier kom sy nou op,” waarsku meneer Poppe Junior.
Ella draai om graf toe. Die kis verskyn, rustende op die sterk bande van die hystoestel, purper valle om die kante gedrapeer.
“Vat dit staatslykhuis toe,” sê kolonel Sauls.
“Maar ons kan dit daar by ons gaan oopmaak.” Meneer Poppe Junior is onthuts.
Ella merk die teleurstelling. Besef Junior, self al in sy sestigs, sal ’n lit van sy linkerpinkie gee om sy handewerk te aanskou, as’t ware sy balsemtegnieke-in-aksie te bestudeer.
“Dokter Koster wag al,” sê kolonel Sauls.
“Wat moet dokter Koster met die liggaam maak?” vra meneer Poppe Junior.
“Hy moet ’n regsgeneeskundige verslag opstel; dis wat forensiese patoloë doen. Vat die kis, ongeopen, staatslykhuis toe. En dankie vir julle hulp.”
Meneer Poppe Senior kug en skud sy kop. “Steeds so swaar. Sy moes al ligter gewees het, verdroog, net vel en been.”
“Ons sal die rekening stuur,” sê Junior.
“Laat weet wanneer ons haar weer ter ruste moet lê,” sê Senior. “Dis ’n sonde om ’n liggaam so te versteur.”
Rein is ek, sonder oortreding, geëts in Ella se gemoed.
“Ek soek ’n wag hier, Fred,” sê Silas. “Deurnag. ’n Patrollie-voertuig van die plaaslike polisiesektor. Geen getjommel van agies en joernaliste om die grafte nie. Ek wil respek hê vir die mense wat hier lê. Dis ’n begraafplaas, nie ’n dêm sirkus nie. En ’n misdaadtoneel, so hou hulle weg. Kom, adjudant.”
“Dis nie eintlik ’n misdaadtoneel nie,” sê Fred Lange.
Langs haar steek Silas vas, draai na Fred toe.
O moer, dink Ella. Hier kom dit! Fred met sy groot bek.
“Wil jy nou hare kloof, luitenant?”
“Sê net, kolonel … Tegnies is hier nie ’n misdaad gepleeg nie.”
When you’re in a hole, Fred, don’t dig, dink Ella met ’n tikkie behae oor die hou wat die ou hand op die krop moet vat. Met ’n beneukte kolonel Sauls is jy nie ’n wysneus nie.
“Sê jy dis nie ’n misdaadtoneel nie, eintlik net ’n toneel wat miskien verband kan hou met ’n misdaad? Is dit wat jy wil sê? Is jy ’n dêm wysneus, Fred?”
“Nee, kolonel.”
“Nee wát?”
“Ek sal twee konstabels van Doradopark opkommandeer, kolonel.”
“Dan’s dit reg, Fred.”
“Hoe lank sal dit vat, kolonel? Tot wanneer moet hulle die graf oppas, kan ek sê?”
“Dit vat so lank as wat dit vat. Tot ons klaar is. Dra dit so aan hulle oor.”
Ella buk agter Silas onder die polisiebanier deur, kry koers na die wendyhuis. Die opsigter, termosfles onder ’n arm vasgeknyp, leë Tupperware-houer in die hand, is hinkend op pad na sy kar onder ’n sipres.
“Niemand kom by daardie grafte wat afgebaken is nie,” beveel Silas. “Nie eens naasbestaandes nie, gehoor. As iemand wil kom blomme neersit, bel jy my eers. Of vra die polisiewagte om my te bel.”
Die opsigter frons. “Maar ek kan mense tog nie van hulle grafte weghou nie.”
Hemel tog, dink Ella. Kan mense nie sien die leeuhok is oop nie? Hier kom dit wéér!
“So, jy’s van plan om ’n polisie-ondersoek te bedonner?”
“Nee, maar …”
“Dis wat jy sê. Jy sê jy gaan jou nie aan my opdragte steur nie.”
“Dis nie …”
“Nie? Wat sê jy dan?”
“Niemand sal by daai grafte kom nie, kolonel.”
“Goed. As iemand soontoe wil gaan, dan bel jy my. Of jy bel vir adjudant Neser. Dis adjudant Neser hier by my. Jy’t ons nommers en jy’t ’n sel. Jy bel dadelik, summier, pronto, veral as ’n man hier aankom met ’n bos blomme wat