Abel se lot. Chris Karsten
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Abel se lot - Chris Karsten страница 4
“Van Abel Lotz verwag ek enigiets. Hy’s nie rasioneel nie. En kry die video wat die polisiefotograaf van die nuuskieriges by die begraafplaas geneem het.”
“Ek’s op siekverlof, kolonel.”
“Kyk daarna. Bestudeer elke gesig, kyk of jy Abel Lotz herken, of iemand wat soos hy lyk.”
Is hy doof, of ignoreer hy haar bloot? wonder sy.
“Ek’s op siekverlof, kolonel. Mag nie werk nie.”
“En doen dit sommer vanaand al.”
“Hy’s landuit. By Komatipoort oor die grens Mosambiek in. Sit iewers in Afrika.”
“Byna twee maande al? Hy’s nie daai soort nie.”
Nee, dink Ella, Abel is onlogies, nie van daai soort nie. Hy sal sy ma kom opsoek, al is dit net haar graf. Sonder sy ma is hy verlore.
Hulle ry deur die verlate landelike strate van Doradopark, neem die oprit na die R82 noordwaarts Johannesburg toe. Vyftien kilometer verder steek hulle die lykswa van Poppe & Son verby, teen gewyde spoed met die modderige ou kis sigbaar agter die groot glaspanele. Junior agter die stuurwiel, pa en seun albei kiertsorent, yl vaal hare plat teen hulle skedels.
Ongetwyfeld in diepe diskoers, dink Ella in die verbygaan, oor die wondere van meneer Poppe Junior se balsemtegnieke. En oor die voordele van langtermyn- bo korttermynbalseming, veral as mens in ag neem dat daar uit arme Dorkas Lotz se dennekis agter hulle g’n snuffie van ’n reuk is nie. Miskien redeneer hulle selfs oor die moontlikheid van ’n balsempatent wat in die Dorkas-geval opgesluit lê. As hulle net die geleentheid gegun sou word om die kis oop te maak en haar van naderby te bekyk, te betas, te prik, selfs ’n klein snit te maak om die gepreserveerde weefsel te ondersoek!
“Waar sou hy wegkruip?” wonder Ella hardop.
’n Retoriese vraag; sy verwag geen antwoord nie. Die vraag in die gemoed van elkeen wat Abel se handewerk in die ou huis in Doradopark aanskou het. Dit blý spook.
“Hy kan nie vir altyd vlug nie,” sê kolonel Sauls.
Die werk van die reeksmoordenaar wat die Nagsluiper gedoop is, is nie die grootste stel reeksmoorde in die land se misdaadgeskiedenis nie. Verreweg nié, net vier slagoffers. Ook nie die ergste nie. Geen ledemate of geslagsdele is vir moetie afgesny nie, of die slagoffers gemartel in ’n uiting van woede en frustrasie of in perverse seksuele dade wat sulke moorde kenmerk nie. Wel vreemde rituele. Abel Lotz se gekwelde gees is ’n raaisel.
“Ek sal hom kry,” sê Ella. “Waar hy ook al is.”
Dit was haar eerste saak as ondersoekbeampte. Aanvanklik net een moord, en kolonel Sauls, takbevelvoerder van moord-en-roof, het gemeen dis tyd dat sy bevel neem van ’n ondersoek, dat sy gereed is om haar eerste saak te vat en op te los. Niemand kon voorsien dat daardie een moord net die begin was nie, dat sy byna self ’n slagoffer sou word nie, ’n stukkie statistiek.
“Obsessie kan jou gemoed oorvat,” sê Silas. “Laat ons eers die ding met die kis uitsorteer. Laat ons dit stap vir stap vat, elke stap logies deurdink en deurpraat. Laat die kop regeer, nie die hart nie.”
“Hy’t my lewe gespaar. Hoekom? Dit sou maklik gewees het, vinnig …”
“Jy bepraat dit tog met jou traumaberader, Ella.”
Wanneer hulle alleen is, is sy “Ella”, nie “adjudant” nie. Wanneer hy haar in hulle private ruimte “Ella” noem, stribbel sy nie teë nie, rig sy geen skanse op nie, is hy soos ’n pa wat met sy dogter praat. Sy lê diep in die sitplek, half skuins sodat sy sy gesig in profiel kan sien, nou in die skemerte van die aand met skaduwees oor die groewe en kontoere van sy wange en ken en nek.
“Om dood te maak, is nie wat hom dryf nie, kolonel. Dis bysaak. Hy oes die velle. Hy’s agter die velle aan.”
“En toe hy joune nie kon kry nie, was daar geen rede om jou lewe te neem nie. Is dit wat jy sê?”
“Hy sou niks bereik deur my dood te maak nie. Hy wou ’n stuk van my maagvel hê. Om wat mee te maak? Wat’s die betekenis van die velle?”
“Hy’t jou lewe nie gespaar uit ’n gevoel van skielike deernis nie. Hy’t jou nie skielik jammer gekry nie. Hy’s onderbreek. As hy nie onderbreek is nie …”
Sy weet wat hy wil sê, waarom hy sy sin kortknip, dit in die lug laat hang. Sy wéét wat met Abel se vierde slagoffer gebeur het, die een wat haar lewe in daardie huis kom red het, wat die Nagsluiper onderbreek het terwyl hy besig was om haar maagvel te oes. Bam.
Silas ry by die terrein van die provinsiale hospitaal in, agterom na die laboratoriumgebou van forensiese patologie, half eenkant, kroongrond van dokter Koster.
“Ek wil haar sien,” sê Ella.
“Is jy seker?” vra Silas toe hulle uitklim.
“Sy’s deel van Abel. Hulle is onlosmaaklik, Abel en sy ma. Sy’t my die eerste keer na hom toe gelei.”
“Uit haar graf uit.”
“Sy kan my ’n tweede keer help.”
“Eers wanneer jou siekverlof verby is, wanneer die trauma-berader jou afgeteken het.”
Hulle stap in. In die lang, stil gang na dokter Koster se kantoor hang ’n onmiskenbare reuk. Nie die medisynereuk van hospitaalgange nie, maar van ontbinding, van sterk reukweerders en reinigers, ondertone van chloor en formaldehied en Dettol.
Nie ’n opheffende werksomgewing nie, maar hier het Ella Abel se eerste twee slagoffers leer ken. Hier, nakend en weerloos op die vlekvryestaal-outopsietafel, praat die liggame met dokter Koster. Hier vertel hulle wat met hulle gebeur het, vorm ’n beeld van hul noodlottige ontmoeting met die dood.
Hier het Ella kom kyk na Mia Vermooten, die ambisieuse hoogvlieër, die Nagsluiper se eerste slagoffer. En daarna die hupse Emma Adams.
“Waar’s die kis?” vra dokter Koster.
Aan sy oorjas is bruin smeersels en vlekke, droë bloed, of dalk koffie, vermoed Ella. Sy ouderdom is onpeilbaar, grys stoppels aan gesigvore, bruin pigmentvlekke op sy voorkop en rugkante van sy hande. Aan die stompkant van die sestigs, miskien al sewentig, sou sy skat.
“Tee sal lekker wees,” sê Silas, “terwyl ons op die menere Poppe wag.”
Dokter Koster sit die ketel aan. Ella kyk hoe hy ’n skeppie koffie in ’n beker gooi. Hy onthou, dink sy met genoegdoening, dat sy nie tee drink nie.
Die derde slagoffer, die joernalis, het sy ook hier by dokter Koster kom besoek. Dit was vir haar erger om af te kyk op iemand op die outopsietafel wat sy in lewe geken het. Sy kon sy stem nog hoor, die knipper van sy oë sien, al het hy daar gelê sonder gesig, van sy kopvel gestroop.
“Wat gaan julle met haar doen?” vra dokter Koster. “As ons klaar is met haar kis.”
Silas haal sy skouers op. “Terug in haar graf in. Wat anders?”
“Sy