Tryna du Toit-omnibus 6. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit страница 15

Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit

Скачать книгу

kyk haar onthuts aan.

      “Maar natuurlik het ons jou nog hier nodig. Ek weet nie hoe ons ooit weer sonder jou sal klaarkom nie. Ek het van dokter Theron verstaan dat jy bereid was om vir ’n onbepaalde tyd Poortjie toe te kom – dat jy graag ’n tyd lank uit die stad wou wegkom. Ek besef natuurlik dat jy baie hard gewerk het. Ek het probeer help waar ek kon, maar Mercia se siekte het ’n dubbele las op jou skouers geplaas, en dan is tant Susie ook nog daar. Ek weet sy is dikwels lastig en onredelik …”

      Hy lyk so bekommerd dat sy hom jammer kry.

      “Ek kla nie oor die werk nie. Ek het jou gesê ek verwelkom harde werk.”

      Hy kyk haar ondersoekend aan.

      “As dit ’n kwessie van betaling is – geld kan nooit vergoed vir wat jy die afgelope weke vir ons beteken het nie – maar ek sal jou met graagte dubbel betaal as jy net op Poortjie sal bly.”

      Sy skud haar kop verleë.

      “Dis nie ’n kwessie van geld nie. Ek sal graag bly solank julle my hier nodig het. Maar ek weet hoe gou en maklik die koste van so ’n siekte kan oploop, en ek het maar net gedink … aangesien tant Bettie soveel beter is …”

      Hy sug verlig.

      “Dan is die saak afgehandel – ons gesels nie verder daaroor nie. Tant Bettie is beter, maar jy weet net so goed soos ek dat sy nog lank nie buite gevaar is nie en dat die geringste terugslag noodlottig kan wees.”

      “Sy het wonderlik herstel. Ek het eerlik nie gedink sy sal weer opstaan nie.”

      Hy kyk peinsend na die dammetjie met die eende, wat nou in die diep skaduwee van die wilger rus, dan sê hy stil: “Tant Bettie het die afgelope maande baie agteruitgegaan – ek twyfel of sy weer gesond sal word. Dokter sê haar hart is in ’n treurige toestand.” Hy kyk onseker na haar en vervolg: “Hy het my gewaarsku dat tant Bettie tydens een van haar hartaanvalle kan beswyk – of dat sy eendag sommer stil in haar slaap kan gaan.”

      “Aan die ander kant kan dit nog maande duur. En intussen raak almal se senuwees al hoe meer gespanne.”

      “Wie se senuwees?” vra hy.

      Sy haal haar skouers op.

      “Jy is blykbaar die enigste een wat jou nie oor jou erfenis bekommer nie. Ek het al gewonder of dit is omdat tant Bettie jou in haar vertroue geneem het en jy reeds weet wie Poortjie na haar dood sal erf.”

      Die vriendelikheid verdwyn uit sy gesig en koel antwoord hy: “Dis ’n familiesaak wat ek nie met jou of enigiemand wil bespreek nie.”

      Sy glimlag effens verleë, maar haar oë glinster. Gedwee sê sy: “Ja, Frans. Goed, Frans.”

      Hy kyk agterdogtig na haar. Die lang wimpers is neergeslaan, maar die skaduwee van ’n glimlag speel om haar mondhoeke. Sy gesig versag effens en onverwags sê hy: “Ten spyte van die min slaap en harde werk lyk jy al baie beter as die aand toe jy op Poortjie aangekom het.”

      “Het ek so sleg gelyk?”

      “Klein en bleek en moeg en verwese – soos ’n skoolmeisie wat die eerste keer alleen van die huis af weggegaan het.”

      Sy is bewus van die harde hamerslae van haar hart.

      “Daarom dat jy my bed toe gestuur het?” vra sy liggies. “Wel, ek dink dis tyd vir tant Bettie om terug te gaan bed toe.”

      Sy wil opstaan, maar hy sit sy hand liggies op haar arm.

      “Net ’n oomblik. Jy het baie mooi oë, net jammer dat hulle so selde lag. Ek hoop dat jy my eendag wanneer ons mekaar beter ken, sal vertel wat gebeur het en wie die persoon is wat jou so seergemaak het.”

      Hy trek haar langs hom op, dan tel hy die reisdeken op en skud dit uit. In stilte stap Lydia saam met hom terug huis toe, te verbaas om ’n woord te sê.

      Toe hulle met die stoeptrap opklim, draai hy weer na haar toe.

      “Jy hoef nie bang te wees nie, ek is nie besig om op jou verlief te raak nie.”

      Sy stem klink tergend, maar sy waag dit nie om na hom te kyk nie.

      “Dit is ’n verligting,” sê sy koel en stap vinnig voor hom uit.

      Hoofstuk 6

      Lydia staan voor die spieël en bekyk haarself ondersoekend. Sy het ’n groen linnerok aan met wit sandale, en sy wonder of dit is omdat sy vir ’n verandering uit die wit uniform kon klim dat sy so lughartig en opgewonde voel. Frans het een van die buurvrouens gevra om die oggend by tant Bettie te kom sit sodat sy met ’n geruste hart kan saamgaan. Sy is vandag presies vyf weke op die plaas en dit is die heel eerste keer dat sy die uniform uittrek en haar pasiënt vir langer as ’n uur of twee aan die sorg van iemand buite die familie toevertrou.

      Tant Bettie se toestand bly onveranderd. Party dae is sy soveel beter dat sy ’n hele ruk in die groot stoel voor die venster kan sit en selfs besoek kan ontvang; ander dae is sy te moeg om op te staan en lê sy die meeste van die tyd met toe oë, sonder om veel notisie te neem van wat om haar gebeur. Frans se kuiers is al wat haar dan laat opflikker, en stilswyend, haar donker oë stip op hom gerig, luister sy terwyl hy verslag doen van die dag se werksaamhede op die plaas. Fouché, die assistentbestuurder wat met sy gesin in ’n kliphuis ’n entjie van die hoofhuis af woon, het elke oggend kom hoor hoe dit gaan, en af en toe, wanneer sy ’n goeie nag gehad het, het tant Bettie hom vir ’n paar minute kamer toe laat kom. Gewoonlik was sy egter tevrede om alles aan Frans oor te laat.

      Mercia het elke dag ’n paar uur by tant Bettie gesit en lees of teken sodat Lydia ’n entjie kon gaan stap of agterstallige slaap kon inhaal, maar op Frans se instruksie kon hulle tant Susie nie alleen by tant Bettie los nie.

      Af en toe het Lydia tant Susie wel toegelaat om ’n bietjie met haar pasiënt te gesels, maar haar gebabbel het tant Bettie gou vermoei en dan was Lydia verplig om haar op die een of ander voorwendsel uit te stuur.

      Behalwe dat hy haar blykbaar nie in die siekekamer vertrou nie, was Frans geduldig met tant Susie, maar Mercia het haar sover moontlik vermy.

      “Ek wens Frans wil die ou skepsel huis toe stuur,” het sy net die vorige dag weer teenoor Lydia gekla. “Wanneer sy met daardie hol blou oë na my kyk, kry ek skoon die ritteltit. Ek kry al glad nagmerries. Ek het nou die nag gedroom ’n spook jaag my oor die bulte en ek was yskoud en papnat gesweet toe ek wakker skrik.”

      “En tant Susie was die spook?”

      “Wel, sy het net sulke hol oë soos tant Susie gehad,” het sy gesê en Lydia het geglimlag. “Jy kan maar lag, hoor, maar ek is doodernstig.”

      “Jy verbeel jou dinge,” het Lydia saggies gesê. “Dis net party dae as sy nie lekker voel nie dat haar oë so ’n bietjie snaaks lyk.”

      Mercia het haar skouers opgetrek.

      “Sy haat my.”

      “Ag, Mercia! Waarom sal sy jou haat?”

      “Sy wil hê Sam moet Poortjie erf.”

      “Poortjie

Скачать книгу