Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock страница 9
“Iemand wat ’n deel van homself weggesluit het,” sê Elsje wyslik, en hou die skinkbord vir Maryn om die leë koppies op te pak. En om die dood kan Maryn niks vind om daarop te sê nie. Dis kompleet asof Elsje die sleutel in die slot gedraai het van ’n deur wat reeds toe was.
3
Die vakansie op Damplaas begin in ’n roes van somerdae waarin die koring vergeel en die oestyd nader kom. Dis dae waarin die twee meisies eintlik die enigstes is wat werklik vakansie hou, want soggens, nadat hulle klaar ’n bietjie in die huis gehelp en die spyskaart saam met ou Selina beplan het, gaan lê hulle langs die swembad wat oom Frederik ’n paar jaar gelede aan die agterkant van die huis tussen ’n klomp geil kerspopuliere laat bou het. Die lang, regop bome se welige blink blare gooi in die somer genoeg skadu rondom die bad dat hulle nie te lelik verbrand in die warm son nie, en die grootste deel van die dag lê hulle en lees of gesels of luister na die programme oor Maryn se klein draradio. Binne ’n week is hulle uitgerus en baljaar al hoe meer in die warm gebakte blou water, totdat hulle sonbruin en fiks is. Eugene en Peet spot hulle fyntjies hieroor, want hulle speeltyd is maar min dié tyd van die jaar. Slegs saans, so teen skemer, kom hulle – en soms Marcel ook – om saam te swem of sommer net ’n slag in die water te val en dan op die kant te gaan lê en die saligheid oor hulle te laat kom.
Bedags werk die mans egter baie hard. Eugene en Peet is, soos altyd voor strooptyd, druk besig om die vyf groot stropers se masjinerie na te sien. Want wanneer strooptyd aanbreek, gaan dit soos ’n getygolf oor die plase, en ’n stroper wat gaan staan omdat ’n ketting breek, is ’n seer saak en ’n dooie verlies. Dus verdwyn hulle soggens in die groot skure en kom slegs vir middagete en teen swemtyd te voorskyn. Omdat oom Frederik ’n boer is wat hoofsaaklik in die verbouing van koring en ’n paar ander wintergrane spesialiseer, is hy besonder gesteld op sy menigte peperduur plaasgereedskap, en hy het ’n paar groot sinkskure gebou om dit te huisves. Teenaan dié skure is nog ’n kolossale sinkskuur gebou en ook twee droogoonde, wat gedurende die volgende weke – met uitsondering van die Sabbat – voortdurend sal dreun.
Dis hier waar Peet en Eugene daagliks die sweet van hul aanskyn sien, want daar is baie werk. Veral Peet – die perfeksionis – werk dat dit klap.
Soms kom Marcel Hoffman ’n wyle belangstellend toekyk, want sedert Peet sy bakkie bewerk het, loop dit soos ’n bom en het daar ’n soort swygende goedkeuring tussen die twee mans ontstaan. Dis ’n vreemde, bot verhouding, want hoewel hulle soms blikke wissel wat boekdele spreek, is hul woorde min. Wat albei egter weet, is dat hulle sprekend eenders voel oor oom Frederik se grootse filantropie; albei is lief vir die ou man, waardeer sy belangstelling, maar vind die bewyse van sy liefde vir ander mense verswelgend. Hulle kom egter nie sover om tot praat te kom nie. Hulle is eenvoudig te besig.
Marcel self is druk aan die gang met die oprig van behoorlike en baie moderne stalle en die afkamp van ’n paar weidingskampe. Ook reis hy dikwels, want hy besoek oral in die Oos-Vrystaat vooraanstaande geregistreerde stoetboere wat al op skoue naam gemaak het met hul Simmentalers. Hy is soms dae lank weg, want hy ry na Vrede, na Petrus Steyn om ’n week lank by Vorentoe se mense te gaan kyk hoe die dinge gedoen word, na Reitz, Harrismith en Bethlehem – alles op aandrang van oom Frederik. Tog geniet hy dit skynbaar, want hy kom telkens vol nuwe planne terug, wat hy begeesterd met die baas van die plaas bespreek. Dis asof die koms van Marcel Hoffman en sy enorme hond ’n hele nuwe bedeling op plaas en werf ingelui het.
Die bloudruk van vakansies op Damplaas was met die eerste verskyning van hierdie somber man aan flarde. Niks verloop sedertdien soos altyd nie. Weg is die kalme rustigheid in die onderlinge verhoudings, want diep onder in die gemoedswaters is daar roeringe soos fonteine wat deur die bodem wil breek. Dit is nie iets wat sommer gepeil kan word nie; dis slegs vae rimpelings wat soos ’n vlietende emosie kom en gaan. Dit is Peet wat hierdie gedagte heel eerste vasvang, en wel uit ’n baie prosaïese gesprek met Eugene terwyl hulle sukkel om die slukketting van ’n stroper die regte spanning te gee.
“Dié Hoffman-kêrel lyk baie entoesiasties oor al Pa se skemas met die beeste. Ek hou nogal van hom,” sê Eugene toe hy ’n slag sy pêrelende voorkop afvee.
Peet kyk skaars op.
“Hm, ek ook. Eersteklas man … Jy weet, ons moet die stroper se tromspoed ook nog regkry. Dit was laas veels te vinnig en het die koring fyn gemaal. Jy sal onthou hoe ’t jou pa gebrom daaroor!”
“Ja, gits,” beaam Eugene, “daar’s nog baie te doen. Ons moet die perde en leunwaens ook nagaan. Pa het dit nogal spesifiek gevra vanoggend.”
“Ek het self ook so gedink,” antwoord Peet besadig. Hy dink vlugtig geamuseerd daaraan hoe doodverbaas Marcel was om te ontdek hulle praat in die Vrystaat van ’n perd en sy leunwa, en dat hulle daarmee bedoel die groot vragmotor met sy enorme tenk agter waarin koring vervoer word. Langs die kante van die tenk is daar klein luike waaruit die koring weer ter geleëner tyd getap kan word.
“Ek gaan solank met die perd begin,” bied Eugene aan. “Ek gaan net vir my ’n helper of twee by ou Paulus haal. Hy het juis gesê sy seuns wil dié vakansie graag werk en hulle is mos flukse manne. Ek dink ek moet heel eerste die kalfie se nuwe bande aansit, en daarvoor het ek hulle hulp bepaald nodig …”
Peet luister met een oor na Eugene se pratery. Peet luister altyd half na Eugene, want hy weet Eugene spreek sy gedagtes een vir een uit soos hulle by hom opkom. Hy kan dit maar doen, dink Peet nou ook weer met vae humor; Eugene het ’n rein hart en hoef nie te vrees wat by sy mond gaan uitkom nie. Peet sug meteens diep. Wat laat hom tog nou weer in so ’n rigting dink? Nee wat, keer hy sy gedagtes netjies aan, hy weet buitendien veel beter wat met die kalfie, die sleepwa wat by die perd en leunwa pas, skort. Hy self het Juliemaand al, toe hulle mielies gestroop het, gesien die kalfie kort nuwe bande, maar dis nie wat hom nou laat ophou werk en ingedagte na Eugene laat staar nie.
“Sê my,” roep hy, sodat Eugene by die groot deure omdraai en hom vraend aankyk, “het jy gister gesê dat Marcel geweier het dat jou pa ligte in die Ou Huis insit?”
Eugene staan Peet hand in die sy en beskou.
“Ja-nee,” antwoord hy half traag, “hy wil niks weet nie. Hy sê as daar ligte in te sit is, sal hy dit self uit sy eie sak doen – en buitendien hou hy van lamplig …” Hy wag ’n rukkie voordat hy half laggend en tog teësinnig byvoeg: “Jy moes Pa se gesig gesien het toe die man dit sê … jy veral sou dit geniet het!”
Daarop het Peet niks te sê nie en hy raak bedrywig by die stroper. Eugene kom nader, ’n ligte frons op die gladde voorkop wat so tekenend is van sy algeheel goedige geaardheid.
“Ek dag jy sou dit toejuig dat daar nog iemand is wat hom teen my pa kan verset,” sê hy, ’n onseker trekkie van ’n lag om sy gul mond.
Peet verstil langs die stroper, staan effe weg en draai om om met sy kuite teen die trappies wat na die stroperkajuit lei, te leun. Met die pols van een besmeerde hand druk hy sy bril reg op sy neus.
“Eugene,” begin hy met sy mooi gemoduleerde stem, en hy voel hoe die afstand tussen hom en Eugene tasbaar word op hierdie hete oggend, “ek wil my nie teen jou pa verset nie, die hemel weet …”
“Tog doen jy dit,” sê Eugene met sy kenmerkende, sporadiese onwrikbaarheid. “Jy het nog skaars met jou nuwe motor gery. Dit staan al die afgelope week agter slot en grendel. Selfs Maryn sien dit raak!”
“Ek weet,” antwoord Peet kalm, “ek weet. Maar jy, en miskien die ander ook, vertolk dit heeltemal verkeerd. As julle dink dat