Helene de Kock Omnibus 9. Helene de Kock
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Helene de Kock Omnibus 9 - Helene de Kock страница 10
“Ek verstaan jou nie altyd nie, Peetman – maar dis maar goed so.”
“Probeer dit verstaan, Eugene,” sê Peet ernstig, maar hy weet by voorbaat dat hy bloot aanspraak maak op ’n soort broederlike simpatie, nie werklike begrip nie. Eugene kán nie begryp hoe hy voel nie. En Maryn mág nie begryp nie. Want sy sal ongetwyfeld voel dat hy nie mooi weet wat hy wil hê nie, en dit sal tog ook nie waar wees nie.
Kopskuddend stap Eugene uit en maak asof hy nie weet dat Peet onsiende deur sy dik bril na hom staar nie.
Peet werk tien minute lank skynbaar onverstoord terwyl gedagtes wild deur sy brein kolk. Op ’n oomblik toe sy gedagtes regtig wil vassteek by hom en Maryn, kom Elsje die skuur binne met ’n skinkbord vol teegoed. Toe hy opkyk en haar gewaar, is hy dadelik bewus van die strammigheid in sy keel, en hy verwens homself hartlik daaroor. Maar, besluit hy opeens toeskietlik, dit kan hom vergewe word – sy is so oorweldigend mooi. Hy wonder vlietend of Eugene ooit werklik besef hóé mooi Elsje is. Selfs nou, sonder enige grimering en met haar goue hare – witgeel gebleik deur die somerson – los op haar skouers, is sy asembenemend. Sy het ’n koel, wye katoenrokkie aan bo-oor haar baaikostuum en haar lang bruin bene is so welgevorm dat sy oë sommer vanself van die kartelige roksoom sak na die sierlike lyn van kuit en enkel. Maar dis na haar oë dat hy uiteindelik kyk, in die hoop … Hy keer die gedagte aan net voordat sy brein dit behoorlik kan formuleer, beskou haar net fyn. Haar groot blou oë is vriendelik, dog met versigtige spekulasie, op hom gerig.
“Hallo,” sê hy vinnig. “Waar’s Maryn dan?”
“Hallo,” groet sy met haar spierwit glimlag, “waar’s Eugene dan?”
Peet gee Elsje ’n wye, vriendelike glimlag.
“Eugene het gaan hulp soek by ou Paulus, Els. Jy sien, hier’s net te veel om te doen voordat ons volgende week begin stroop. Oom Frederik reken die vier heel boonste lande na Driefontein se kant toe is reg daarvoor. Jy moet dit net sien, dis sommer so geelwit,” en hy beduie met die hand. “Dit wieg as die wind so waai …”
“Baie mooi,” sê Elsje saggies. “Ek en Eugene het gister daarlangs gery met die bakkie. Maar jy weet, hierdie tyd van die jaar, met die natuur so vol in drag, maak my so half onrustig … Dit laat my voel ek is nie heeltemal in stemming met die dinge rondom my nie, asof ek in ’n groter volwassenheid te kort skiet.”
Peet staan asof versteen, steek ’n stowwerige en beoliede hand uit om die tee wat sy na hom uithou, te neem, stort ’n hele plas in die piering.
“Dis … ’n opwindende tyd van die jaar,” stem hy ’n bietjie aweregs saam, tuur in sy koppie en sluk die kokende tee sonder ’n oogknip af. Hoe gouer hy klaar drink, hoe beter. Hy wens Maryn wil ook kom. Waar is sy in elk geval? Dis die eerste maal hierdie vakansie dat hy en Elsje heeltemal alleen is, en dit ontstel hom. Die feit dat hy weet hy’s dwaas ontstem hom nog meer. Elsje is Eugene s’n en klaar, klaar, kláár. Hy wat Peet is, is glad nie in die prentjie nie.
“Dink jy dis opwindend?” vra Elsje skerp, voordat hy sy kop bymekaar kan kry om weer na Maryn te verneem. “As jy so dink, is dit omdat jy gelukkig is hier. Dis jou wêreld en jou mense!”
“Wát laat jou dit dink?” vra Peet vererg, en bars daarmee deur sy skans. Hy word nog kwater toe hy sien dat dit is wat sy gesoek het. Haar pragtige mond is halfoop in afwagting op sy verdere woorde, maar dis haar oë, gloeiend en baie ernstig, wat hom laat sluk. “Jy … kan nie sommerso ’n aanname maak nie,” sê hy lamlendig.
“Ek weet hoe jy voel oor die motor, Peet,” sê sy onverwags, asof ’n wind die woorde van netnou weggewaai het.
Maar hy kry tog ’n hou in.
“Ek dag dit het ook jou mense en jou wêreld geword, Els?”
“Dit het,” sê sy kalm, en sy wenkbroue lig omhoog. “Maar nie in die verhouding waarna dit op die oog af lyk nie.”
Dit laat hom stilbly, doodstil. Hy staan haar en aankyk en sluk-sluk aan ’n droë kol in sy keel. Toe kapituleer hy.
“Ag, Els, wat die motor betref – ek dink nie jy moet te veel insig probeer hê in Damplaas se dinge nie.” Sy stem word skor. “Dit sal net ontnugtering bring.”
“’n Mens kan jou blind hou en net so ontnugter raak,” antwoord sy knap, en vir die eerste keer sluip daar in haar stem ’n klankie in wat hom weer na haar laat kyk. Haar beeldskone gesig is afgewend en haar skraal hande is krampagtig om haar elmboë gevou. Toe sy weer opkyk na hom, skiet sy die blonde hare uit haar gesig met ’n enkele kwaai kopbeweging, haar wange rooi van ingehoue emosie. Tellings lank hou hul oë mekaar in ’n blik waarin hulle mekaar miskien vir die eerste maal werklik herken.
Sy lag weer, maar dis ’n lag wat niks verder as haar mond kom nie. Toe stap sy vinnig uit die halfskemer van die skuur. Toe sy uit is, laat vaar Peet sy greep op die stroperketting en kom staan in die middel van die vloer tussen die klomp gereedskap. Sy hande rus op sy heupe en sy kop hang vooroor asof die wil om dit regop te hou, meteens losgeskiet het weens die spanning van die afgelope kwartier. ’n Mens, dink hy, kan vir hom angsaanjaende voorstellings maak van allerlei dinamiese gebeure, maar vandag weet hy vir seker dat ’n statiese ding in jou gemoed kan swel met al die geweld van ’n donderstorm en die skrik van weerlig.
Elsje! Elsje met die goue hare en die gesig van ’n engel … Elsje!
Maryn ry ’n wye draai om die boonste koringlande om by die drukgang, wat naby die nuwe weidingskampe geleë is, te kom. Agterop die bakkie is die drie groot mandjies met tee, koffie en reuse-stukke dikmelkbeskuit vir die werkers. En, het ou Selina alwetend gesê, vir die basie met die seer-seer in sy oë moet Maryn sommer twee stukke beskuit voer, want dalkies word sy hart gesond van baie kos en baie son en … Aan wat die ou vrou kwytgeraak het met haar sewentig jaar se vrye sê, wil Maryn liewer nie dink nie. Maar onmagtig om haarself te keer, hoor sy weer die ou vrou se woorde in haar krakerige stem: “ … en baie son … en ’n vrou wie se hart hy eers sal moet stukkend breek voorlat hy die goue trane daarin met sy oog sal sien, soos die kleipot wat breek voor die water kan uitloop … Jy hoor vir my, Marynatjie, jy hoor vir my …”
Waarom sy die ou vrou se woorde so ter harte neem, kan sy self nie verklaar nie. Sy weet net dit: Marcel Hoffman interesseer haar geweldig. Ek is jammer vir hom, dink sy toe sy die bakkie tot stilstand bring; baie, baie jammer …
Selfs in ’n kort oomblik van selfondersoek, vind sy hierdie gevolgtrekking aanvaarbaar, want sy weet dat sy ’n barmhartige mens is. ’n Gebrek aan meelewing was nog nooit een van haar foute nie.
Gesus deur hierdie klein analise, klim sy uit in die hittige son, voel die weldadige warmte daarvan op haar kaal hals en arms. Soos Elsje, het sy ook net ’n sonrokkie oor haar swemdrag aangetrek. Ek moes my slaprandhoed gebring het, dink sy, want selfs in hierdie kort kwartiertjie gaan die son my karnuffel.
Later sou sy daaraan dink dat sy die son nie eens gevoel het nie, want die skroeiende besef waartoe sy gekom het, het niks met die hitte te doen gehad nie.
Nou stap sy agterom die bakkie en maak die flap oop sodat sy kan opklim om die eerste van die groot mandjies by te kom. Sy het verbasend baie krag in haar skraal lyfie en sy lig die mandjie met die vyf groot flesse met gemak af. Dis toe sy die tweede een wil aftel, dat ’n kragtige, songebruinde hand dit by haar afneem.
“Gee maar vir my,” sê Marcel, en sy kyk met ’n ligte skok af in sy gesig. Hy is so songebruin dat sy groen oë eintlik ligter vertoon; sy hare so gebleik deur