Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3. Louise Prinsloo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo страница 10

Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo Gedaantes en geraamtes

Скачать книгу

. . . tók . . . tók!

      Stadig dring dit tot Wikus deur dat daar ’n man voor die venster staan. Hy voel hoe die bloed stadig uit sy kop sypel. Die haartjies op sy arms en teen sy nek staan regop. Hy sluk, en sluk weer. Hy wil die ander twee roep, maar dis of sy stem in sy keel vassit. Sy hart bons wild teen sy ribbes. Hy staar na die man asof hy na ’n video in stadige aksie kyk.

      Tok . . . tok . . . tok.

      In die lig van die flikkerende kers kan Wikus hom nou duidelik sien. Die man het ’n ruie swart baard en ’n snor. Sy bloedrooi mus sit windskeef op sy kop. Sy een kruisband hang oor sy skouer en sy hempsmoue is opgerol. In sy hand hou hy ’n kromsteelpyp. Sy lippe beweeg terwyl hy teen die ruit klop.

      Tok . . . tok . . . tok.

      Karel steun en vroetel in sy slaapsak. Giepie mompel iets in sy slaap.

      Wikus voel hoe sy bangheid stadig oorgaan in nuuskierigheid. Wie is die man? En hoekom klop hy so dringend teen die ruit?

      Wikus lig sy hand en waai vir hom. Die man waai terug.

      Versigtig, sodat hy Karel en Giepie nie steur nie, wriemel Wikus hom uit sy slaapsak. Die plankvloer is koud onder sy voete en kraak toe hy die eerste treetjie gee. Hy skrik en wag, maar toe die ander twee nie roer nie, skuifel hy tot by die vensterbank, sit die kers eers op die vloer neer en sukkel die venster oop.

      “Naand, Meneer,” fluister hy huiwerig. “Kan ek help?”

      “Ek het die kers in die venster gesien. Het daar iets gebeur? Moet ek kom help?”

      “Nee . . . ee . . . Ek het die kers sommer hier neergesit vir die eensame wandelaar, soos wat hulle in die ou dae gedoen het. Dit was maar net vir atmosfeer,” sê Wikus nou effens verleë.

      Die man neem ’n paar trekke aan sy pyp en blaas die rook in stadige sirkels uit. “Nou dan groet ek maar. Lekker slaap,” sê hy en draai om en stap terug see se kant toe.

      Wikus gryp sy kop met albei hande vas. “Ag nee! Ek het vergeet om sy naam te vra!”

      “Uggghhh,” kreun Karel. “Wat maak jy voor die venster? Die wind is koud; maak toe!”

      “Ek kyk sommer,” antwoord Wikus vinnig, want hy weet Karel en Giepie sal hom tog nie glo nie.

      Giepie word wakker en vryf oor sy arms. “Maak toe die venster, man. Dis ’n koue wind wat hier inkom.”

      Wikus sit die kers weer op die vensterbank, klim terug in sy slaapsak en raak vas aan die slaap.

      Ki . . . ok! Ki . . . ok! . . . Ki . . . ok! Ki . . . ok! weerklink die geroep van ’n swartrugmeeu deur die vroeë oggend. Ki . . . ok! Ki . . . ok!

      Giepie mompel iets in sy slaap en Karel roer in sy slaapsak. Wikus gaap, knip-knip sy oë en sien hoe die sonstrale die lug met ’n mengsel van goud en rooi kleur.

      Die uitgebrande kers op die vensterbank staan soos ’n silhoeët teen die ruit. Wikus lig homself op sy elmboog en frons toe hy die oop venster, seesand en ’n plas water sien.

      Versigtig klim hy uit sy slaapsak en gaan staan voor die venster. Dis vreemd, dink hy terwyl hy na ’n versameling interessante skulpe kyk. Hy kan nie onthou dat hy dit gisteraand gesien het nie. Daar is swart en bruin mossels en stringe seepampoentjies in verskillende skakerings van groen en turkoois. Ook ’n swetterjoel klein skulpies.

      “Waarna kyk jy?” wil Karel weet terwyl hy hom gapend uitrek.

      “ ’n Klomp skulpe,” sê Wikus dronkgeslaan. “Was hulle gisteraand hier?”

      “Wag, laat ek sien.” Karel kom langs hom staan. “Ek kan nie onthou nie, maar ek’t seker nie goed opgelet nie.”

      Giepie word wakker. “En nou, as julle twee voor die venster staan en vergadering hou?”

      “Jy ken mos skulpe,” sê Wikus en beduie na die vensterbank. “Kom kyk ’n bietjie hier.”

      “Ek dog julle gaan my sê as julle strand toe gaan,” verwyt Giepie en spring uit sy slaapsak. “Dis nou pelle!”

      “Ons was nêrens nie!”

      “Nou waar kom die skulpe vandaan?” wil Giepie weet toe hy afkyk na die vensterbank.

      Wikus glimlag. “As jy daardie vraag kan antwoord, kan jy almal kry.”

      Ingedagte tel Giepie ’n paar skulpe op en bekyk hulle van alle kante. Hy tik op ’n klein wit skulpie wat soos ’n uitgedroogde duisendpoot lyk. “Dis ’n ramshoring . . . Die oranje-bruin skulp met die fyn spiraalvormige riffies is ’n bobbejaanboud en hierdie dofgeel spitsvormige skulpie is ’n koringaar.” Hy tel ’n bruinerige skulp met krom stekels op. “Dis ’n takbok . . .”

      Tip . . . tip . . . tip.

      “Dis ’n muis,” fluister Giepie en kyk rond. “Ek hoor hom!”

      Tip . . . tip . . . tip.

      “Dit klink eerder soos ’n kraan wat drup.” Wikus draai om en stap badkamer toe met die ander twee nuuskierig agterna. “Nes ek gedink het,” sê hy toe hy die kraan toedraai.

      Sjorrr . . . sjoeeiii spoel die toilet agter die toe deur.

      Giepie hardloop holderstebolder terug na waar hulle geslaap het. “Die huis spook wragtig!”

      “Wag vir my!” roep Karel kort op sy hakke.

      8

      Wikus sluip tot by die kleinhuisie se binnedeur. “Het jou!” roep hy en pluk die deur oop, maar al wat hy sien, is ’n hopie tydskrifte wat langs die toilet opgestapel lê.

      Dronkgeslaan stap hy nader, tel die boonste tydskrif op en blaas die ergste stof van die voorblad af. HUISGENOOT staan in groot wit blokletters op ’n rooi agtergrond geskryf, met 3 Februarie 1988 direk daaronder. Prinses Diana se glimlaggende gesig loer vir hom uit die verkreukelde papier. Ingedagte begin hy blaai.

      Die tydskrif is amper nog dieselfde, dink hy toe hy advertensies vir hondekos, verskillende soorte verslankingsmiddels en artikels sien.

      Daar’s iets oor ’n brand op Tafelberg, foto’s van die wenners van ’n Valentynswedstryd en Raaiselpret. Die kleurfoto van branderplankryers trek sy aandag. Maar . . . dis mos Mosselbaai! Sy oë gly oor ’n artikel oor Bartholomeus Dias wat op 3 Februarie 1488 by Munrobaai voet aan wal gesit het. Hy blaai na die volgende bladsy en snak na asem toe hy die dik swart letters van ’n opskrif lees:

      MOSSELBAAI GIS NA 6 DEKADES NOG OOR VERDWYNING VAN EEN VAN SY KLEURRYKSTE KARAKTERS

      “Ag nee!” kreun hy. Die res van die artikel is uitgeskeur. Teleurgesteld maak hy die tydskrif toe en stap terug na die voorhuis waar die ander twee besig is om hulle slaapsakke op te rol.

      “Wie was toe in die toilet?” wil Karel weet terwyl hy sy slaapsak in ’n sak steek en dit met ’n rek vasbind.

      “Niemand nie.” Wikus swaai die tydskrif deur die lug. “Kyk wat het ek gekry – ’n stokou Huisgenoot met ’n artikel van Mosselbaai daarin.”

Скачать книгу