Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3. Louise Prinsloo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Gedaantes en Geraamtes-omnibus 3 - Louise Prinsloo страница 3
Wikus soen sy ma op haar wang. “Toemaar, Ma. Moenie worry nie. Ek sal versigtig wees.”
Sy pa kom by die kombuis in. “Mmm . . . dit ruik lekker.” Hy slaan sy arms om Wikus. “Ek hoop jy geniet die naweek, ou seun. Moet asseblief net nie weer ’n spook om elke hoek en draai wil sien nie.”
“Hoekom maak julle altyd of dit net my verbeelding is? Daar ís iets soos spoke.”
Sy pa knik sy kop en sit ’n ernstige gesig op. “Ja . . . só sê jy altyd.”
3
“Wikus!” roep sy ma toe ’n donkerrooi 4x4 later voor die huis stilhou. “Die Viljoens is hier!”
Wikus gryp sy tas, gooi sy lapsak met sy spookboeke oor sy skouer en knyp sy slaapsak onder sy arm vas. Hy stap met haastige treë voordeur toe. Sy ma het die koelsak met padkos reeds reggesit, en staan en gesels met Giepie se ouers.
“Ons sal so teen Sondagnamiddag se kant terug wees. Jy hoef jou oor niks te bekommer nie,” sê Giepie se pa en sy ma beaam dit met ’n kopknik.
Wikus soen sy ma vinnig. “Baai, Ma. Sê groete vir almal . . . Hei, ouens!” Hy wink Karel en Giepie nader. “Kom help my dra.”
Wagter warrel opgewonde om die seuns se bene, asof hy verwag om saam te gaan. Wikus vryf sy kop en sê: “Ons gaan nie lank weg wees nie, my honne. Jy moet bly om die huis op te pas.”
Giepie en Karel help om Wikus se bagasie in te laai. Hulle gee ook vir oulaas vir Wagter ’n vryf oor sy kop en klim in.
“Baai, Tannie!” roep die twee seuns, en Giepie se pa druk die toeter soos hulle wegry.
Wikus se ma glimlag en waai. “Geniet die naweek!” roep sy en stap met die tuinpaadjie op huis toe.
Giepie se pa stuur die 4x4 na die N2 en skakel die radio aan. Vrolike musiek vul die motor. Die pad is besig; motors, vragmotors, woonwaens en motorfietse suis verby.
Wikus maak die koelsak oop en almal smul lustig aan die padkos.
“Jis,” sê Karel en suig aan ’n hoenderboudjie, “dit was nou lekker.” Hy gooi die beentjie in die plastieksakkie, en vee sy hande en mond aan ’n papiersevet af voor hy sy kamera uithaal. “Ek soek eerste prys met ’n seer hart.”
“Wat is die tema?” wil Giepie se ma belangstellend weet toe sy sien hoe Karel die lamppale wat verbyflits afneem.
“Iets buitengewoons, Tannie,” antwoord Karel met die kamera styf teen sy gesig, “met ’n gepaste byskrif.”
“En wat kan jy dié keer wen?”
Karel sit sy kamera neer, maak die fototydskrif oop en wys vir Giepie se ma ’n kleurfoto van ’n nuwe model kamera. “Dit is die eerste prys.”
“Fantasties! Ons kan gerus by ’n paar plekke stop sodat jy foto’s kan neem,” sê sy entoesiasties. “Mosselbaai het ’n groot verskeidenheid sandsteen- en rooigranietgeboue wat uit die 19de eeu dateer. Dan is daar ook . . .”
“Wag nou, Netta!” lag Giepie se pa. “Jy oorweldig die arme kind.”
“Ek dink maar net aan die kamera wat hy kan wen. Dis ’n wonderlike prys!”
“Ek weet, ek weet, maar laat hom self besluit wat hy wil afneem.”
“Dis oukei, Oom,” sê Karel, “ek sal graag daardie geboue wil afneem.”
Giepie sit sy iPod aan en luister na nuwe liedjies wat hy afgelaai het. Hy knik sy kop ritmies op en af. Hy het duidelik vrede met Karel en sy fotonemery.
Wikus lees ’n spookstorie van ’n afgestorwe gees wat deur die nou donker gange van ’n Europese kasteel dwaal op soek na sy geliefde. Hy het besluit om Die geheimsinnige graf eers weer verder te lees wanneer hulle in Mosselbaai is.
Die snelweg neem hulle verby Somerset-Wes en Caledon. By Swellendam stop Giepie se pa om bene te rek en brandstof in te gooi. Hy koop vir almal hamburgers en iets om te drink. Daarna ry hulle gou na die geskiedkundige Drosdy waar Wikus foto’s neem van die statige ou huis en sy tuine en die eeue oue eikebome op die sypaadjie.
“Ons móét by die Moederkerk ook stop,” sê Giepie se ma. “Karel, dit is ’n pragtige ou gebou uit die vroeg 19de eeu – met die interessantste grafte in die kerkhoffie reg rondom die kerk. Jy sal baie mooi foto’s daar kan neem.”
Dan is dit weer in die pad val. Heidelberg, Riversdal en Albertina. Hoe nader hulle aan Mosselbaai kom, hoe duideliker word die vlamme van PetroSA teen die lug wat nou al skemer word.
“PetroSA was vir baie jare bekend as Mossgas,” vertel Giepie se pa. “Die gas word in die see aan die Agulhasbank ontgin en hier verwerk.”
“En daar’s die Outeniqua- en Langeberge,” beduie hy na ’n bergreeks wat oor die baai uitkyk. “Die tuinroete begin hier en kronkel al langs die see tot by die Stormsrivier.”
Wikus sit met sy neus teen die vensterruit en kyk na die plantegroei met die berge in die verte. Hoog teen die lug sweef ’n albatros met wydgestrekte vlerke.
Toe hulle by Mosselbaai inry, sê Giepie se pa hulle moet gou ’n draai by die Maritime Museum maak voor dit donker word.
Hy gaan wys vir hulle die ou melkhoutboom wat as poskantoor gebruik is in die 15de eeu toe seevaarders daar verbygekom het om vars groente en vrugte op te laai. Karel neem ’n paar dramatiese foto’s van die replika van een van Bartholomeus Dias se karvele in die museum en hulle maak ook ’n vinnige draai by die skulpmuseum en die ou Maleiergrafte.
“Die Portugese het hierdie baai Aquada São Bras genoem,” sê Giepie se pa toe hulle weer by die motor kom. “Dit het eers baie jare later Mosselbaai geword.”
Hulle ry verder tot by die St. Blaize-vuurtoring wat soos ’n reuse spierwit verspieder oor die see waghou. “Hierdie hele gebied,” verduidelik Giepie se pa toe almal oor die see uitkyk, “is Die Punt . . . en daar agter die vuurtoring is die Khoi-San-grot . . .”
Karel is die ene ore en geniet hom gate uit met die fotonemery, maar Giepie sit verveeld eenkant en luister na sy musiek. Hy het hierdie stories al baie gehoor, want hulle kom gereeld Mosselbaai toe.
Wikus sit ingedagte en staar na ’n rots waarop twee vissermanne staan en hengel. Hy sien hoe ’n yslike brander oor die mans breek. “Jis! Het julle dit gesien? Die branders het nou net een van die ouens daar afgeslaan . . . Kyk, daar dryf hy in die water.”
“Dis die branderplankryers, man!” lag Giepie, wat net besig was om sy iPod te bêre. “Sal my glad nie verbaas as dit Ross is nie. Hy kom gereeld hier by Die Punt surf.”
Wikus voel ’n eienaardige koue oor hom spoel. Hy trek sy oë op skrefies toe hy ’n lang, donker voorwerp in die vlak branders gewaar. Hy wys met sy vinger. “Daar ís iemand in die branders!”
“Dit lyk vir my meer na ’n stuk seebamboes,” sê Karel met sy hand bokant sy oë.
“Nee, man, dis dryfhout!”