Êrens is daar liefde. Schalkie van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Êrens is daar liefde - Schalkie van Wyk страница 4

Êrens is daar liefde - Schalkie van Wyk

Скачать книгу

op haar wang. Sy weet sonder om te kyk wie dit is, en sy tree gewillig onder die druk van sy hand agteruit sodat hy die deur geluidloos kan toemaak.

      “Is jy ’n privaat speurder, meneer Wiehahn? Het tant Lynette jou gehuur?” vra Lara gedemp toe hy sy hande laat sak.

      “Nee, op albei vrae. Ek doen net ’n guns vir my beste vriend.” Wiehahn glimlag verskonend. “Ek is jammer ek moes jou deel maak daarvan, maar toe jy die voordeur agter jou laat oopstaan, was die versoeking te groot om te weerstaan. Dis makliker om die getuienis van jou eie oë te glo – en nou weet ek vir seker. Ek is dankbaar jy het nie gegil nie.”

      “Met jou yslike hand op my neus en mond? Ek het geskrik, totdat ek die geur van jou naskeermiddel herken het.” Sy glimlag skeef. “In my werk is die geure van vloeistowwe soms lewensgevaarlik, veral as die bottel nie ’n etiket het nie.”

      Hy frons verwonderd, lyk asof hy haar wil uitvra, maar kyk vinnig na Ryno se kantoordeur toe Ryno se harde lag weer vanuit sy kantoor opklink.

      “Ek sal vir jou ’n ruiker stuur om dankie te sê, Lara, maar nou …”

      “Nee, wag!” val sy hom in die rede. Sy gryp hom impulsief aan sy baadjiemou vas en ruk dan haar hand met ’n gevoel van verleentheid weg. “Ek gaan nie hier bly nie. Wat oom Ryno agter tannie Lynette se rug doen …”

      Sy swyg toe ’n meisiestem skielik aan die ander kant van die deur opklink. “Nee, Ryno! Ek het lank genoeg gekuier, jou kantoor bewonder en die drankies geniet, maar ons speel met vuur. Bespreek vir ons ’n kamer in ons gebruiklike hotel en ek sal môremiddag daar wees, maar nou moet ek gaan.”

      “Maar dit reën nog hard, my liefste. Ons motors staan ses straatblokke hiervandaan. Jy kan nie nou gaan nie. Toe, kom drink nog ’n drankie saam met my,” protesteer Ryno, sy tong lomp.

      “Jy het reeds te veel gedrink, Ryno-lief. Slaap ’n paar uur lank op daardie gerieflike rusbank voordat jy dit agter ’n stuurwiel waag. Maar ek loop nou,” antwoord die meisiestem vasbeslote.

      “Klop hard aan die deur, Lara – gou!” beveel Wiehahn sissend. Hy retireer na die oop voordeur en bly afwagtend staan, sy oë gebiedend op haar.

      Lara klop met ’n gebalde vuis aan Ryno se kantoordeur. Sy sien Wiehahn met ’n haastige wuif van sy hand by die voordeur uitglip en roep hard: “Oom Ryno! Is jy hier, oom? Mag ek inkom?”

      Dis onmoontlik om voetstappe op die sagte mat van Ryno se kantoorvloer bo die reëngedruis te hoor, maar sy kan haar voorstel watter geskarrel op haar woorde volg, dink Lara met ’n wrang glimlaggie. Sy het altyd geglo die buitedeur wat uit Ryno se privaatbadkamer lei, is daar ingeval hy ’n onredelike kliënt wil ontwyk, maar die deur het duidelik ander voordele: soos om van ’n geheime minnares ontslae te raak.

      “Het iemand geklop? Wie is daar?” roep Ryno eindelik, sy stem verder weg as tevore.

      “Dis ek, Lara! Het oom ’n kliënt? Sal ek vir julle tee maak?” Lara besef dat sy die situasie terdeë geniet en voel dan skuldig: tant Lynette sal beslis nie saam met haar lag oor oom Ryno se dislojaliteit nie.

      “ ’n Kliënt? Ja, ja, ek het ’n kliënt gehad!”

      Ryno se stem kom vinnig nader. Dan gaan die kantoordeur oop. Hy vervolg met gul hartlikheid: “Jy weet nie hoe bly ek is om jou te sien nie, Laratjie! Ou mevrou Scoombie wou haar testament vir die twintigste maal verander, en sy het daarop aangedring dat dit nog vandag gedoen moet word. Maar kom binne, kom binne! Sal jy ’n drankie saam met my drink? Jy is mos nou al mooi groot.”

      En dis hoe ek wil bly: mooi en groot, dink Lara en draai haar kop weg om nie deur die walms van Ryno se drankasem oorweldig te word nie.

      “Nee, dankie, oom. Ek drink nie as ek moet bestuur nie.” Sy kyk vraend rond. “Dan is mevrou Scoombie reeds weg?”

      “Ja, ja … nou net. Sy woon mos in ons straat en sy is sommer by die buitedeur van die badkamer uit. ’n Komieklike ou mens, maar skatryk en glad nie suinig om te betaal vir my diens nie.”

      Ryno merk dat Lara na die twee gebruikte drankglase staar en borduur oortuigend voort: “Lief vir haar drankie ook, al sy is byna tagtig. Drink graag ’n glasie rooiwyn.”

      Tot ’n paar minute gelede was sy lief vir Ryno Marx, want hy was deel van haar lewe vanaf haar kinderjare, dink Lara ontnugter. Oom Ryno en tant Lynette was die vrygewige kinderlose egpaar wat vir haar en al die ander kinders in hulle straat geskenke gekoop het met hulle verjaardae en Kerstyd: wat nooit geweier het om mildelik by te dra as hulle geld moes insamel vir hulle skool se sportklub nie. Dis waarom sy nie eens gehuiwer het om die pos van ontvangsdame te aanvaar toe hy iemand nodig gehad het om hom ’n maand lank uit te help nie.

      Sy kyk na die groot man met sy rooi gesig wat met lomp hande probeer om die glase en drankbottels weg te pak. Sy het nooit aan hom in terme van aantreklikheid gedink nie, maar toe sy klein was, het sy gedink hy is ’n mooi oom, moontlik omdat hy altyd vriendelik was. Miskien is hy aantreklik met sy koringblonde hare, diepblou oë en reëlmatige gelaatstrekke, maar sy voorkoms, sy hele menswees vervul haar op hierdie oomblik met ’n gevoel van weersin. Hoe kan enige getroude man so veragtelik optree? Sy sal nooit trou nie, want sy sal nooit ’n man kan vertrou nie, dink sy en draai weg.

      “Ek moet nou gaan, oom Ryno. Ek het net my selfoon kom haal. Ek sien jou môre weer,” groet sy oor haar skouer.

      “Ek ry saam, Laratjie, want ek moes my motor laat insleep – weer probleme met die petrolpomp.” Hy kom op onvaste bene nader. “Waar het jy jou motor geparkeer?”

      “Langs die stoeptrap. Klim solank in, oom. Ek sal die alarm stel en die deur sluit,” antwoord Lara gelykmatig, verlig dat Ryno besef hy kan nie ná soveel drankies bestuur nie.

      Sy sluit die voordeur, stap die stoeptrap af en frons onthuts toe sy Ryno agter die stuurwiel van haar motor sien sit, reeds besig om die enjin aan te skakel.

      “Nee, ek sal bestuur, oom! Ek glo nie jy –”

      “Ry jy of bly jy, Lara?” vra Ryno met ’n harde lag en trek vinnig weg.

      “Dis mý motor, ek wil bestuur!” roep Lara boos uit. Maar Ryno lag harder en ry onverskillig in die rylaan af na die dienspad.

      Lara hardloop na die rylaan en steek dan verskrik in haar spore vas toe ’n luukse wit motor skielik tussen die digte struike van die voortuin verskyn en langs haar tot stilstand kom.

      “Klim in, Lara!” roep Wiehahn uit die motor. “As ons gelukkig is, kan ons ’n noodlottige ongeluk voorkom!”

      2

      Lara ruk die passasiersdeur van Wiehahn se motor oop, klim in en klap die deur toe.

      “Ry, meneer Wiehahn! Ek vermoed oom Ryno het links gedraai, en daar is ’n gevaarlike kruising aan die onderpunt van die dienspad. Ons moet hom keer!” beveel sy, haar stem skril van vrees.

      Wiehahn hou sy sakdoek na haar uit terwyl hy sy motor bekwaam in die rylaan af na die dienspad stuur. “Jy het ’n handdoek nodig, maar dit sal help,” sê hy, sy blik turend deur die stortende reën.

      “Dankie, meneer Wiehahn,” sê sy, ineens oorbewus van haar druipnat klere en haar hare wat in nat slierte in haar oë hang. “Ek hoop nie ek beskadig die leersitplekke met my nat klere nie.”

Скачать книгу