Die vrou in die vuur. Riana Scheepers

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers страница 11

Die vrou in die vuur - Riana Scheepers

Скачать книгу

probeer vasklou, hy het met die gewig van sy lyf in die modder probeer wegsak, wegswem, wegkom, maar hy kon nie.

      Die skrik in Mthetu se vleis het stadig weggesak, maar sy hele liggaam het nog gebewe. Hy het stywer aan die knopkierie geklou, dit tussen sy bors en sy opgetrekte bene vasgedruk. Vir ’n kort oomblik het hy gedink dat die vis losgekom het, of dat die lyn uit die hoek losgetrek het, want dit het skielik slap gehang, maar die volgende oomblik het dit weer geruk, styf gespan en die knopkierie amper uit sy hande gepluk. Mthetu kon net aan die stok klou, hy was nie sterk genoeg om die vis in te trek nie. Aan die ander kant van die lyn het die vis weer begin wegswem. Mthetu het gevoel hoe die lyn hom water toe trek. Hy het aan die stok geklou asof sy lewe daarvan afhang.

      En toe het hy stadig op sy boude agtertoe begin skuif. Die lyn het skietgegee, gekom, en weer styf gespan. Hy het al verder agtertoe geskuif, sy kop teen sy knieë, die knopkierie in sy nek vasgedruk. Hy het nie gevoel hoe die stywe lyn in sy wang insny nie, hy het nie gevoel hoe sy hande brand nie, hy het net gedink aan die vasklou.

      Mthetu se kop was nog steeds teen sy knieë vasgedruk toe die vis se plat kop bo die water verskyn. Hy het nie gesien hoe die vis se bek in die lug ooprek nie. Hy het nie gesien hoe die vinne op die droë grond roei en die lyf wild rondswaai nie. Dit was eers toe die brak skerp begin tjank dat hy sy oë oopmaak en sy kop opgetel het. Die brak het naby die rivier op die wateroewer gestaan, en op skrikkerige bene vir die ding geblaf. Die vis het op die grond gelê, sy stert nog in die water, sy bek oop, sy vislyf ’n sparteling van vinne en modder en water. Hy het vir ’n oomblik stil gelê. Mthetu was seker dat hy stip na hom gekyk het.

      Dit was die lelikste ding wat hy nog in sy lewe gesien het. Leliker as die uTokoloshe, óf die Impundulu waarvan sy ugogo hom in die aande vertel het. Hierdie ding met die stekels om die bek en die dik, bruin lyf en die skerp rugvin. En die oë wat vir hom kyk. Die vis was mooier in die water.

      Hy het opgestaan en die vis met die knopkierie verder opgetrek, tot in die koelte onder die bome. Dit was swaar. Hy het die knopkierie om ’n boomstam gedraai sodat die vis nie kon loskom en teruggaan water toe nie. Dit het nog lank daar gelê en flap. Mthetu kon dit hoor. Die brak het naby die vis gestaan, sy kop op sy voorpote, sy agterbene regop en stokstyf. Met elke ruk van die vis se lyf het die brak geblaf.

      Mthetu het nie geweet wat om met die vis te maak, noudat hy dit gevang het nie, want hy wou nie met sy hande aan die vis raak nie.

      Later, toe die vis heeltemal stil lê, het hy versigtig, met die punte van sy vinger, die haak uit die vis se bek gaan skeur. Hy het ’n iCheckers wat daar naby teen ’n bos vasgewaai het, gaan haal, en die vis kop eerste daarin gedruk. Die sak was te klein; die vis se stert het nog uitgehang, en ’n stuk van sy rugvin het deur die plastiek gesteek.

      Mthetu het by die waterkant gaan sit en afgekyk in die troebel water. Hy het bly kyk of hy nie dalk ’n donkerder skaduwee tussen die palmietwortels kon sien wegsak nie.

      Nagloop

      Die vrou word wakker, haar kaal bolyf natgesweet in die tropiese hitte. Sy lê ’n rukkie en luister na die geluide van die nag. Dit is al baie laat, maar êrens, diep in die nag in, kan sy die dowwe dreuning van tromme hoor.

      Sy ken die geluid. As kind het sy dikwels in haar bed lê en luister, en aan die slaap geraak met die melancholiese ritme van Afrika. Dit is ’n vreemd-gerusstellende geluid, deel van hierdie aarde se asemhaling.

      Sy staan op sonder om die lig aan te skakel, en strompel in die bekende donkerte van die huis na die badkamer. Die dik mure is koel en vertroud onder haar vingers soos wat sy met haar hand teen die muur afloop, voelend in die donker om nie in die gang verby die badkamerdeur te loop nie.

      Met die terugkomslag gaan sy by die kinders se kamer in om die lakens wat hulle in die nag wegskop, weer oor hul skouers op te trek. Sy skakel die liggie op die boekrak aan. Die vensters staan wawyd oop in die naglug, die gordyne bol effens uit oor die breë vensterbank. Die vrou ruik die swoel, somerse geur wat deur die vensters kom. Beesmis en seringbloeisels en die rokerige karamelgeur van gebrande suikerriet.

      Hét sy vroeër vanaand die vensters oopgemaak?

      Die oudste kind lê met arms en bene wyd oor die bed, sy mond effens oop in sy slaap. Sy trek die koel laken oor sy onderlyf op, sien dat ’n muskiet hom op die kaal skouerblaaie gebyt het, ten spyte van die room waarmee sy hom vroeër die aand ingesmeer het.

      Die ander bed is leeg. Die kind wat daarin geslaap het, lê nie in die warboel van weggeskopte beddegoed nie.

      Die vrou loop terug na haar kamer, wetende dat die kind, wat nog soms met sy mond na haar borste soek, in die nag by haar in die vertroudheid van die groot koperbed kon ingekruip het. Sy skakel die bedlampie aan, lig die lakens en die kussings op om te soek na die slapende hopie van ’n klein seuntjie.

      Daar is niks nie.

      “Here, my kind,” skrik die vrou.

      Sy gaan skakel die hooflig aan. Die elektriese lig skyn skerp oor die paar meubelstukke, die omgewoelde bed. Sy skakel die ganglig aan en gaan kyk in die badkamer of hy nie daar is nie. In die kombuis. Op die rusbank voor die televisiestel in die woonkamer. Sover as wat sy loop skakel sy die ligte aan. Sy gaan terug na die kinders se kamer en kyk onder die bed of die kind nie in sy slaap afgerol het nie. Sy hardloop uit op die stoep.

      “Here!”

      Haar voete hardloop asof vanself na die swembad in die hoek van die tuin. Die hek van die omheining is nog op knip. Selfs in die dowwe naglig kan sy duidelik sien dat daar nie ’n liggaampie op die water dryf nie. Daar is ook niks op die bodem nie.

      “Die vensters,” onthou die vrou terwyl sy terughardloop huis toe, “die vensters was wawyd oop. Enigiemand kon my kind gevat het.”

      ’n Skielike oervrees sê vir haar presies waar haar kind is. Wat met hom gebeur het. Dat hy êrens in ’n donker hut lewendig gehou word.

      “Here,” huil sy, “ek het nét my kinders.”

      Sy staan ’n oomblik stil om te luister. Die dreunritme van die dromme is stil.

      Die histerie breek uit haar keel. In die hardloop probeer sy dink watter nommer sy eerste moet skakel. Die polisie? Die bure? Die pa van haar kinders?

      Toe sy op die stoep kom, hoor sy hom huil. Vaak en klaerig en bang.

      “Waar is jy?” skree die vrou, buite haarself van angs en ongeloof.

      “Mammaaaa,” huil die kind ongeduldig, “hier is ek!”

      Hy staan in die oop voordeur met sy vuisies voor sy oë teen die skerp lig. Sy kort slaapbroekie is deurnat.

      “Waar was jy?”

      Die kind huil vakerig. “Ek sóék vir Mamma!”

      Sy tel hom op en druk hom teen haar vas. Die nat broekie is koud teen haar vel, sy asempie ruik na slaap. Die vrou sluit die voordeur, sit die ligte een na die ander af. Die kind hang swaar oor haar skouer. Hy is al amper weer aan die slaap. In die kinderkamer maak sy die vensters toe, ruk die gordyne reg. Die ander kind lê nog soos sy hom gelos het.

      Sy klim in haar bed, die slaperige kind nog steeds in haar arms, sit die bedlampie af en voel hoe haar liggaam onbeheers ruk. Sy lê lank so, dink aan absoluut niks. Die kind het aan die slaap geraak, sy beentjies teen sy lyf opgetrek sodat sy knieë skerp in haar maag steek.

      Later,

Скачать книгу