Kobie regeer. Stella Blakemore
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Kobie regeer - Stella Blakemore страница 5
“Dit gaan darem gebeur. Ek sal sorg dat Heloise in haar spoor trap.”
“So? Hoe gaan jy dit doen?”
“Laat dit maar aan my oor. Dis my saak. En ek? Ek sal maar vergeet hoe ek myself ’n lewe van plesier belowe het. Ek sal my soos ’n vrou uit die Bybel voordoen, sodat almal kan dink dat ek nie lank op hierdie sondige wêreld sal bly nie. Dit sal miskien nie te swaar wees as ek so hard werk dat ek vir niks anders tyd het nie. Maar ek moet tyd hê om my oog op Heloise te hou. Daar is nog ’n ander ding. Sê nou daar kom ’n tyd wanneer ek my nie meer kan inhou nie en ek gooi juffrou Muller, ons hooggewaardeerde Yskis, met ’n pen terwyl sy ons leer hoeveel boontjies vyf maak? Of sê nou Breggie hits vir Heloise aan om juffrou Viljoen se stoel onder haar weg te trek?”
“Moet tog nie van sulke vreeslike dinge praat nie!” soebat Ruth.
“Maar dis tog dinge wat kan gebeur. Daar is altyd so ’n moontlikheid. Jy moet jou teen die gevaar beskerm.”
“Hoe?”
“Jy moet iets doen sodat mammie jou vir niks op aarde sal wegneem nie – al sou Heloise of ek die skool afbrand.”
“O,” sê Ruth sarkasties. “En kan jy my miskien vertel wat ek behoort te doen?”
“Natuurlik. Ek praat nie van planne sonder om ’n plan te hê nie. Jy moet die Joubertbeurs wen.”
“W-wat!”
“Wat makeer nou? Wil jy sê jy verstaan nie? As jy die beurs wen om universiteit toe te gaan, sal ma te trots daarop wees om jou nie te stuur nie.”
“Is jy van jou verstand af? Ek sal dit nooit kan doen nie. Ons skryf oor twee maande eksamen daarvoor. Ek moet natuurlik skryf, want ma wil dit hê, maar almal weet Vera sal wen. Sy was nog altyd eerste in die klas en ek dikwels nie eens tweede nie.”
“Omdat sy altyd eerste was, wil dit nie sê sy moet so aanhou nie,” sê Kobie. “Die enigste moeilikheid met jou is dat jy nie genoeg probeer nie.”
Ruth is dronkgeslaan. Dat sy haar deur Kobie moet laat berispe – Kobie wat al haar onderwyseresse grys hare gee!
“Dis waar,” sê Kobie kalm. “Jy werk hard en jy’s gaaf, maar jy het nie genoeg deursettingsvermoë nie. As jy iets wil doen, sê jy: ‘Ag, ek sal maar probeer, maar ek weet ek kan dit nie doen nie.’ Dis nie die regte manier nie. Jy moet sê: ‘Ek wil en ek sal!’ Jy is tog ’n mens, net soos Vera, en jy het dieselfde boeke om uit te leer. As jy van nou af tot die Joubertbeurs-eksamen elke oomblik studeer en jou hele siel daarin sit, sal jy self skrik om te sien wat jy kan doen. As jy dink Vera is slimmer as jy, moet jy maar net harder leer as sy – dis al. En nog iets. Ek het niks teen Vera nie. Sy is ’n gawe meisie, maar daar is iets wat jou gaan help. Sy is ’n bietjie te seker van die beurs. Julle hou aan om vir haar te sê sy gaan dit wen tot sy dit self glo. Studeer jy nou maar dat jou kop so draai en sê niks nie, en ons sal sien! Maar elke dag as jy klas toe loop, as jy aan tafel sit, in jou bad – waar jy ook al is – moet jy net sê: ‘Ek is slim! Ek gaan wen. Ek wil en ek kan!’ Natuurlik help dit nie sonder werk nie.”
Ruth sluk ’n paar maal voordat sy weer haar stem kry.
“Magtig, Kobie! Waar het jy geleer om so te preek? Wat het oom Dawie jou in die Bosveld gegee om te eet?”
“Toe, spot maar!” sê Kobie. “Jy weet tog ek is reg en jy gaan die beurs wen, al moet ek van die oggend tot die aand agter jou staan. Ek gee nie om dat jy ouer as ek is nie. Dis tyd dat iemand hierdie gesin van ons begin beheer.”
Sy stap soos ’n soldaat met haar kop in die lug weg en laat haar suster alleen in die tuin staan.
Ruth gaan na die sitkamer terug en val op haar stoel neer.
“Ai!” sê sy.
“Wat makeer?” vra Vera, wat met haar boeke besig is.
“Niks! Behalwe dat ek van Kobie ’n berisping gekry het. Sy het my lelik sleggesê! Dis darem waar wat my ma sê. Kobie het karakter. Sy het altyd ’n plan en sy sorg dat sy dit uitvoer.”
Vera lag.
“Ek het altyd gesê daardie kind sal eendag hier hoof wees.”
“Ja,” sê Ruth, “as sy nie vir die galg grootword nie!”
3
_____________
Kobie vat die leisels
Kobie moes nou na haar maats toe gegaan het, maar in plaas daarvan draai sy links van die voorste saal af en maak die deur van die kleintjies se speelkamer oop.
Hier is ’n klomp meisies tussen nege en tien jaar oud met die uitpak van boeke en speelgoed besig en hulle gesels oor die vakansie.
Net ’n groepie van omtrent tien kinders is nie besig nie. Hulle staan rondom Heloise en ’n meisietjie met swart krulle en blou oë en ’n gesig wat ongelukkig nie van die skoonste is nie. Die eienares van die gesig het lekkergoed geëet en baie daarvan sit om haar mond vas. Breggie Landsberg, die jongste meisie in die skool, kan nie maklik verleë gemaak word nie. Sy vertel op die oomblik vir die ander kinders iets wat hulle baie interesseer.
“En toe kom meneer Van Velde ook in met ’n ander man en toe hy juffrou Hattingh sien, glimlag hy en hy het ook vir my geknik, en naderhand het hy gesê my rok is die mooiste van almal daar, en …”
Kobie weet dadelik waarvan die kleintjie praat.
Dis natuurlik die bruilof van meneer Van Velde wat in die groot huis langs die skool woon. Hy is met juffrou Hattingh getroud – juffrou Hattingh, Maasdorp se populêrste onderwyseres – en omdat Breggie hulle so te sê bymekaar gebring het, het hulle haar blommemeisie gemaak.
Een aand die vorige kwartaal het Breggie – natuurlik teen die regulasies – oor die heining geklim om ’n tennisbal te kry. Daar het sy meneer Van Velde ontmoet en hom in ’n oomblik van verdriet getroos. Daarna wou hy die ander Maasdorpmense leer ken en op dié manier het hy met juffrou Hattingh in aanraking gekom.
“En toe dit tyd was om te eet, het hy my langs hom laat sit en ek het baie geëet. Die volgende middag het hulle met ’n skip weggegaan Engeland toe en ek het hulle gaan groet – Mammie het my geneem, en Heloise se ma het haar laat saamkom, nè, Heloise? Dit was pragtig daar op die skip! Daar was baie blomme vir hulle en juffrou Hattingh se ma het vreeslik gehuil, maar dis dom, want hulle kom oor ’n paar maande terug. Hulle wou eers langer wegbly, maar meneer Van Velde kan sy sake nie laat verwaarloos nie.”
Kobie kom vorentoe.
“Mag, Sonstraaltjie!” sê sy. “Jy lyk so trots, mens sou dink dis jy wat getrou het.”
Die kleintjies skree van geluk toe hulle haar sien en hardloop almal om haar te soen en haar hande vas te hou. Hulle is dol oor Kobie.
“Kobie – ag, soen my tog!”
“Dis nie reg nie! Jy het Lina twee maal gesoen!”