Kobie regeer. Stella Blakemore

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Kobie regeer - Stella Blakemore страница 6

Kobie regeer - Stella Blakemore Maasdorp

Скачать книгу

kyk –”

      Kobie steek haar vingers in haar ore.

      “Nee wat! Bly tog stil! Ek soen g’n mens meer nie! Gaan staan ’n bietjie daar oorkant, sodat ek julle kan sien. Hoe gaan dit, Naatjie? En Lina? En Zantie? Julle lyk gesond genoeg.”

      Sy kyk na Heloise en Breggie wat nog aan haar arms hang.

      “Julle stoute kleingoed! Wag maar, ek sal met julle werk! Heloise, kom jy saam met my. Ek wil met jou praat.” Die koor begin weer.

      “Ag nee, Kobie!”

      “Moenie so gou weggaan nie!”

      “Bly nog so ’n rukkie?”

      “Later, my kinders, later.” Met die kleintjies so om haar voel sy lekker oud. “Op die oomblik het ek sake met my suster.” Sy vat Heloise aan die oor. “Kom, kind!”

      “Ek kom ook!” sê Breggie beslis.

      “Jy bly waar jy is,” sê Kobie. “Ek kan jou nog nie gebruik nie.”

      Breggie lyk nors, maar sy gehoorsaam Kobie altyd.

      In die gang kyk Kobie haar sussie aan. Onder die krul op haar voorhoof het Heloise se bruin gesiggie ’n mismoedige uitdrukking.

      “Wat hoor ek van jou en jou rapport?” vra Kobie vol belangstelling.

      “Dit was te gemeen!” bars Heloise uit. “Hulle het my ’n vreeslike rapport gegee en ek was bang mammie sou kwaad wees, en ek dag dit sou ’n goeie plan wees om die ou ding maar te verloor. Maar net toe ek die handsak daarmee deur die treinvenster stoot, sien juffrou De Wet my en sy skryf vir Wessie die hele ding, en toe hoor mammie ook daarvan.”

      “Waar kom jy aan sulke planne?” vra Kobie ’n bietjie jaloers. “As ek dink hoeveel ma my berispe het oor my rapporte!”

      Heloise wil nie komplimente ontvang wat sy nie verdien nie.

      “Die idee was Breggie s’n,” sê sy. “Maar ek wens nou ek het dit nie gedoen nie. As mammie die rapport gekry het, sou sy my berispe en laat studeer het, maar ek sou nie pak gekry het nie, en …”

      “Moenie so dom wees nie!” sê Kobie. “Hoe kan jy sulke onsin praat? As ma dit gekry het, sou sy eers ’n halfuur geraas het; dan sou jy elke dag twee uur hard moes werk, terwyl ’n pak op die ergste net drie of vier minute kan aanhou – anders sou jy dood gewees het! Vergelyk nou vier minute met twee uur op ’n dag vir drie weke en sê my watter een die ergste is!”

      “Ja,” sê Heloise onseker. “Maar …”

      “Nou ja, jy weet natuurlik dat as jy hierdie kwartaal ’n slegte rapport kry, mammie ons almal by die huis sal hou, en jy weet dat jy by die huis dikwels pak kan kry?”

      “J … ja …”

      “Nou gaan jy jou hierdie kwartaal gedra,” sê Kobie met ongelooflike strengheid. “Ek sal sorg daarvoor. Ek gaan my oog op jou hou en as jy net een maal skeef trap, moet jy oppas!”

      Heloise trek ’n spottende gesig.

      “Jy kan lekker grootpraat!”

      “So? Noem jy dit grootpraat? Ek sal jou sê hoe ek dit gaan doen! Elke keer wanneer jy ’n regulasie oortree, moet jy my vyf rand betaal.”

      Heloise skater soos sy lag.

      “Jy’s ’n mooi aap!”

      “Ja, ek is. Elke keer as ek hoor jy het iets verkeerd gedoen, kom haal ek vyf rand by jou. En as jy parmantig is en dit nie wil gee nie, weet jy wat ek gaan doen?”

      “Nee, en ek wil nie weet nie. Jy is nie my baas nie.”

      “Dis wat jy dink. As ek ’n woord van jou hoor, gaan sit ek en skryf vir ma ’n pragtige brief, waarin ek haar vertel dat ek regtig nou probeer om ons albei reg te hou, maar jy wil glad nie luister nie en jy is stout en parmantig.”

      “Jy sal tog nie so ’n ding doen nie!”

      “Ja, ek sal. Ek sal enige ding doen om Ruth te help sodat sy universiteit toe kan gaan. As mammie hoor ek probeer om jou soet te hou, sal sy haar so lam skrik dat sy sal vergeet dat dit regtig Ruth is wat vir jou verantwoordelik is. En jy sal weer ’n afgedankste pak slae kry as jy huis toe gaan.”

      “Kobie, moet tog nie!”

      “Dan moet jy luister as ek met jou praat.”

      “Maar wat gaan jy doen met al die geld wat jy van my vat?”

      “Ek sal weet wat om daarmee te maak,” sê Kobie uit die hoogte.

      “Ja, maar, Kobie –”

      “Genoeg!” sê Kobie beslis. “Ek praat nie meer met jou nie. Ek het klaar gepraat.”

      Heloise kyk haar suster verwonderd aan.

      “Haai, as jy so praat, is dit kompleet soos mammie! Ek het nooit geweet jy kan so wees nie.”

      Kobie dink ’n bietjie na, haar kop so effens skuins.

      “Ek ook nie,” sê sy. “Maar nou dat ek die gesin begin regeer, verstaan ek hoe swaar ma kry.”

      Heloise staan verstom.

      “Is jy siek?” vra sy.

      “Nee, ek is nie en ek sal alles doen wat ek jou belowe het.”

      Kobie stap weg, baie tevrede met haarself, terwyl Heloise na Breggie toe vlug.

      4

      _____________

      Breggie het besigheid

      Juffrou Van der Westhuizen staan op die verhoog en kyk af op die see van jong gesigte in die groot saal.

      Die eerste oggend van ’n kwartaal moet mens hulle altyd ’n bietjie langer as gewoonlik beskou met dié gedagte: Hoe sal dit hierdie kwartaal gaan? Sal alles goed afloop, sonder siekte of sonde?

      Op die oomblik lyk die meisies gesond genoeg. Daar is tweehonderd of meer, en almal, van die grootste tot die kleinste, dra ’n donkerblou rok met swart kouse en swart haarlinte.

      Voor staan die prefekte baie sedig en bedaard. Agter hulle staan die graadelf-meisies; goeie kinders, dink juffrou Van der Westhuizen, maar ’n bietjie sonder lewenslus. Met die graadtiens is dit anders, want in hul eerste ry staan ’n klompie meisies wat bekend is vir hul ondeundheid – Kobie, Elsabe, Tokkie Nel met haar rooi hare en opvlieënde geaardheid, Hannie Landsberg, Breggie se groot suster, Tienkie Duvenhage, ’n bietjie dromerig, Marie Dempers en Hilda Meintjies. Die maters van hierdie sewe het in graad nege agtergebly – Terrie, Bettie Botes en nog ’n paar wat vir die onderwyseresse ’n las was. Heel agter staan die kleintjies. Daar sien ’n mens in die eerste ry Heloise Malan se ernstige gesiggie en sagte bruin krulle, en Breggie met haar blou oë.

      Ná die laaste lied gaan die

Скачать книгу