C'est la vie. Lanie van Reenen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 10

C'est la vie - Lanie van Reenen

Скачать книгу

Ek en Michael is nou albei in ons veertigs, gevestig in ons onderskeie beroepe en erg bedrywig. Michael doen dít waarmee hy veral goed is: Hy verfyn sy kursusse in selfontwikkeling en spanbousessies en bied dit oral in die land aan. Dit beteken dat hy dikwels weg van die huis is. Hy koop ook ’n plaas aan die Breederivier naby Swellendam en noem dit Walkabout. Daar ontwikkel hy seminaargeriewe met buitelug-aktiwiteite waarheen hy die groepe vir sy vyfdag-kursusse neem.

      Ek en Lillibet se Biggie Best-winkel is suksesvol. Die nuwe eienares van die Biggie Best-groep, Prue Phul, noem op ’n dag aan my dat Struik Uitgewers graag ’n Biggie Best-boek wil uitgee, ’n praktiese dekorhandleiding, en of ek dalk iemand ken wat dit sal kan skryf? Toe ek dit die aand aan Michael noem, sê hy: “Wie dink jy sal dit beter kan doen as jy?”

      “Hmmm . . . niemand?”

      “Nou ja toe,” sê hy.

      Die volgende oggend bel ek vir Prue en sê ek sal die boek skryf.

      “Jy?” sê sy. “Maar natuurlik!”

      En wat ’n heerlike projek! Die skryf kom maklik, want ek ken die onderwerp so goed. Elke gordyn, blinding, deken, kussing, nagval . . . alles wat jy met ’n stuk Biggie Best-lap kan maak, moet beskryf, geïllustreer, gemaak en afgeneem word. Dit raak ’n spanpoging – uitgewer, redakteur, illustreerder, fotograaf en ek. Die eerste boek verskyn in April 1990, in Engels en in Afrikaans, en is so ’n sukses dat dit twee herdrukke beleef en daardie jaar een van Struik se topverkopers is. ’n Tweede boek volg kort daarop, dié keer weer ’n doen-dit-self-handleiding met alles anders wat jy met ’n stuk Biggie Best-lap kan maak wat nie in die eerste boek was nie. Maar dit gaan druk met die skryf daarvan, want nou werk ek weer amper voldag by die winkel, het twee tienerdogters en ’n baba. En ’n man! Lizzie Jacobs wat by ons in die huis werk, is my steunpilaar. Smiddae tussen vier en ses pas die meisies vir Nicolaas op, maak Lizzie aandete en skryf ek aan my boek. Wanneer die huishouding dan saans tot bedaring kom, skryf ek nog ’n paar uur.

      Maar as ek deesdae deur daardie boeke blaai, wil ek sê: “Ekskuus, Suid-Afrika, ek is persoonlik verantwoordelik vir baie opgekitschde voorkamers, slaapkamers en toilette met hul bovalle, ondervalle, syvalle, nagvalle en kantvalle, wat onvanpas hang daar waar hulle nooit bedoel was om te hang nie, en lankal afgehaal moes gewees het en stoflappe geword het.”

      Ons lewe is woelig en lekker met baie balle in die lug. Maar ná jare van winkel-en-dekor is ek nou lus vir ’n nuwe uitdaging. My persoonlike smaak beweeg ook nou weg van die blommerige styl wat ek moet verkoop, en ek doen dit met al hoe minder entoesiasme . . . Ek wil eintlik glad nie meer ’n veelkleurig geblomde lap sien nie.

      Dit is 1995, Suid-Afrika het sosiaal-polities ’n kwantum-sprong gemaak, en die wêreld is so tevrede met ons dat hulle in hul duisende kom kuier. Ek het nog altyd gedroom van ’n “klein hotelletjie êrens”, en te midde van die nuwe toerismegolf besluit ek om ons ou Victoriaanse kasarm in ’n gastehuis te omskep. Welgelegen word gebore, ’n uitvloeisel van dit waarvan ek hou en dit waarmee ek goed is, naamlik om ’n plek mooi te maak en om gasvrou te speel. Maar ek doen dit dié slag in my nuut aangekweekte, meer manlik-eenvoudige styl.

      Ons gesin moet egter ook ’n woonplek hê, en daarvoor koop ek die huis agter Welgelegen; ek en die buurman beklink die transaksie een oggend sommer so oor die heining.

      Ek het aandele geërf ná die dood van my oom Fred. My broer en sussies het besluit om hulle keuraandele net so te behou, maar myne het ek verkoop en die opbrengs daarvan in eiendom belê. Eiendom waarmee ek kon woeker. En toe daar ’n cottage in Hofmeyrstraat, naby Welgelegen, op die mark kom, het ek nog genoeg geld oor na die koop van die nuwe woonhuis dat ek die deposito op die cottage ook kan bekostig. Die res leen ek. Ek skakel die cottage by Welgelegen in as ’n verhuurbare eenheid en kan maklik die paaiemente dek met die inkomste daaruit.

      Michelle en Nina is albei op universiteit en woon op Stellenbosch, maar het elk nog hulle eie kamer in ons nuwe huis. Michael, Nicolaas en ek word erg geraak deur die leë nes, veral Nic mis sy sussies.

      My gastehuis werk en Michael se Walkabout werk. Ek begin ook saam met hom fietsry en ons word lekker fiks. Hy hervat ook een van sy ou liefdes, motorfiets ry, en dit bied ons soms die kans om ’n naweek weg te glip. Ons alleentye, wanneer dit net weer ons is, is kosbaar en allerbelangrik. Dan gesels ons weer soos die beste vriende wat ons eintlik is en verstaan al hoe meer hoe ons dinge tot hier verloop het.

      Michael bring ook baie tyd op Walkabout deur. Naweke kom hy huis toe, of ons gaan saam met vriende na hom toe om op die rivier te baljaar. Dit is heerlike tye. Ons dogters se studentevriende kom graag saam en bedags roei en swem almal in die Breederivier en saans kuier ons saam in die lapa om ’n groot vuur.

      Kosmaak is altyd ’n spanpoging en ’n groot deel van al die lekkerte. Michael speel kitaar en sing die liedjies wat ’n leeftyd al saamkom. Klein Nicolaas sit altyd naby sy pa en volg elke akkoord op sy eie kitaar na. En nie net die akkoorde nie, ook sy pa se maniërismes, die manier waarop hy sy oë skrefies trek van lekkerkry, die keelskoonmaak-kuggie en die ingedagte tokkel op die snare tussen liedjies. ’n Appel wat na aan die groot boom lê, sy pa se “ou maat”.

      Met die baie wegwees van die huis het Michael ooglopend afgesien van sy voorneme om nie weer te drink nie. Ek let op dat daar altyd ’n glas wyn naby hom is op hierdie jolige aande by Walkabout, maar wil nie te veel daarvan maak nie. Ek wil tog nie weer die pretbederwer wees wat afkeurend gluur wanneer hy nog ’n glasie skink nie. Miskien kan my man tog, noudat ons gelukkig en in kalm waters is, soos ander mense net sosiaal drink. Dit maak hom ontspanne en gemoedelik, en as hy so is, is dit lekker om by hom te wees. Ek hou ook nie van hierdie stramheid wat oor my kom nie. Leef ’n bietjie, laat hom begaan.

      Vir ’n lang tyd kry Michael dit ook reg om matig te drink, en ek kry dit reg om nie te sê: “Ek wens jy wil liewer nie . . .” Maar wanneer elke glas Coke en elke koppie koffie naderhand ook ’n dop brandewyn bykry, wanneer hy ’n glas whiskey net so ná die inskink wegslaan, wanneer my man sommerso in die sit aan die slaap raak, wanneer sy tong sleep as hy praat, wanneer hy steier as hy stap, wanneer hy in die oggend nie kan onthou wat die vorige aand gebeur het nie, wanneer ek nie kan verdra om langs hom te slaap nie, word sy probleem weer my probleem, weer óns probleem.

      Alkoholisme.

      Die woord word deel van ons gesin se woordeskat. Dit is toe ons – ek en Michael – dit begin regkry om die woord hardop te sê, dat hy begin navraag doen en hulp vra. Hy is drie weke lank in ’n rehabilitasiekliniek. Ek en die kinders word ook by die proses betrek en woon groepsessies vir familielede by. Daar is ook uitpraatsessies vir ons gesin in die teenwoordigheid van ’n terapeut. Dit is ’n geleentheid vir eerlikheid en reguit praat, en vir insig in hoe die siekte, alkoholisme, elkeen van ons se lewe raak. Dit is vir ons almal seer en moeilik, maar ek kan ook die “geskenk” van hierdie tyd in ons lewens raaksien. Sy kwesbaarheid maak dit makliker vir ons om ons eie weerloosheid in te sien en te deel. Michael het die vermoë om werklik te luister; dit is wat van hom ’n goeie terapeut maak. Almal praat eerlik. Dit is ’n gelykmakende proses.

      Die rehabilitasie is suksesvol en Michael hou op drink. Hy verloor wel ’n wyle sy vrolikheid en ligtheid; raak ernstig en ietwat asosiaal. Hy lees wyd en skryf baie, ontwikkel sy kursusse verder en raak toenemend in aanvraag. Dit kom tog voor asof hy meer van homself hou, en ek ontspan oor hom, voel al hoe minder dat ons lewe permanent bedreig word. Wanneer hy by sosiale geleenthede alkohol van die hand wys en daaroor uitgevra word, sê hy net lig en gemaklik: “Dis omdat ek my kwota reeds opgedrink het.”

      So word ons lewe weer “normaal”, en ek leef sonder die vaagste benul van hoe ek nog sou terugverlang na hierdie normaliteit nie.

      Hoofstuk 12

      Michael

Скачать книгу