C'est la vie. Lanie van Reenen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 7
Daardie week breek Michael die Primal-boks in die motorhuis af. Hy het pas van die Primal Center in Amerika gehoor dat ons terapeut nooit daar as Primal-terapeut gekwalifiseer het nie. Michael reken tog dat hy waarde uit die terapie geput het, en sy kollegas stem saam. Hulle sê die persoonlike ervaring van hoe disintegrasie tot integrasie lei, dra by tot groter insig in die proses van die heling. Dit maak van hulle goeie terapeute en gevoelvolle medemense, sê hulle.
Hoofstuk 7
By die huis dwaal ek in die dal van doodskaduwee. My gedagtes maak my bang, veral soggens nadat ek my dogtertjies by die kleuterskool afgelaai het. Ek dink obsessief aan die dood. Op pad huis toe van die kleuterskool fantaseer ek oor hoe ek met die gang in ons huis gaan afstap na die slaapkamer, Michael se rewolwer uit sy bedkassie haal en myself skiet. Dit voel vir my ek het losgekom van die wêreld en dat ek alleen wegdryf.
Van ons ouers was my pa die skeptiesste oor die volksvreemde Primal-terapie. Met die aanvang daarvan het hy vir my die nuwe Afrikaanse vertaling van die Nuwe Testament en Psalms gegee. Voorin het hy geskryf: Aan Lanelle – vir terapeutiese doeleindes. Daarby ’n lysie van sy gunsteling-aanhalings. Gedurende die terapie het ek vir eers godsdiens, die “opium van die massas”, eenkant geskuif, en ook enige diep gesprek oor godsdiens of die Primal-terapie met my ouers vermy.
Een oggend kom ek van die kleuterskool by die huis aan, weer oorweldig deur my angsgedagtes, en neem ek die Bybeltjie en lees een van die Psalms op my pa se lysie: Psalm 37. Woon en werk rustig voort, staan daar. Doen wat goed is. Laat jou lewe aan die Here oor, Hy sal sorg.
So eenvoudig? Werklik so eenvoudig?
Die volgende oggend ry ek haastig van die kleuterskool terug om dié versie weer te lees. Elke oggend wanneer ek by die huis kom, lees ek eers dié versie, oor en oor soos ’n mantra. En dan gaan woon en werk ek rustig voort. Ek doen wat goed is. ’n Mens weet mos wat góéd is.
Ek maak my huis mooi. Ek hou op koffie drink en rook en besef toe eers hoe sleg dit vir my was. Ek geniet my kinders – ons speel weer, lees stories, sing liedjies. Ek maak vir hulle mooi klere. Ek stel nog ’n vrou aan om te help met die tuisnywerheid en verdien nou ’n goeie inkomste daarmee. Ek neem kooklesse en maak lekker kos vir my huismense en ons vriende. Ek lees baie. Ek begin weer met dansklasse. Ek doen moeite met my verhouding met my man. Ek voel weer lief vir hom. Baie lief.
Ek maak ’n afspraak met ’n “gewone” sielkundige, ’n jong man, pas klaar gestudeer. Ná ’n paar sessies het hy dié mondvol wysheid oor my te sê: “Jy het ’n selfaktualiseringskrisis,” sê hy. Ek onthou nie eens sy naam nie, en min sal hy weet hoe dié wysheid, of raaiskoot, die kol getref het, en hoe dit die res van my lewe in ’n bepaalde rigting gestuur het.
Hoofstuk 8
Selfaktualisering? dink ek toe ek by die jong sielkundige uitstap. Ek moet dus my volle potensiaal ontgin; ek moet word wat ek veronderstel is om te wees. Daardie aand sit ek in my werkkamer en dink: As selfaktualisering my voortaan uit die moeilikheid en my demone op hulle plek gaan hou, kan ek net sowel ’n beroep daarvan maak.
Die deeltydse tuisnyweraar word toe propperse entrepreneur, daardie woord vir almal wat waagstukke aangaan om idees en drome in besigheid te omskep; daardie mense wat baie hard sal werk agter net ’n vae mog-het-troffe-hoop aan dat die mark goed sal reageer op die behoefte wat deur hulle geskep word.
My eerste onderneming is ’n winkeltjie in Pretoria wat ek saam met my vriendin Erna Rickards begin. Sy maak lappoppe in haar ouers se motorhuis, en ons twee ry reeds geruime tyd saam om weekliks ons mandjies vol produkte aan geskenkwinkels te lewer. Ek maak steeds laslapdekens en brei my reeks kruie- en speseryprodukte verder uit – en ek maak badsakkies, wynsakkies, geursakkies, kruiesakkies, de lot. En ek maak ’n blommepers, wat uiteindelik my beste verkoper word. Ons loop ander tuisnyweraars raak wat, soos ons, hulle inkomste verdien met handewerk. Die “Cottage Industry” het van Amerika af oorge waai en blom in daardie stadium in Suid-Afrika. Ons piepklein winkeltjie, Clutter and Thyme, in Festivalstraat in Hatfield, is stampvol, van die vloer tot teen die dak, met handewerk wat ons aankoop by mense wat oraloor smous met hul ware. Daar is truie van handgeweefde rou katoen, skaapvel-pantoffels, rokke van Duitse sis, skilderytjies op sy, keramiekware, juwele, kant lampskerms, Erna se grootoog-poppe en my laslapdekens en kruiesakkies.
By ’n groothandelaar in Johannesburg koop ons teen ’n weggeeprys die laaste van sy rolle laslapmateriaal uit Amerika. In ’n era waarin laslapwerk weer ’n gier is, is dié materiale ons groot lokaas. Daar is dae dat mense voor die winkel tou staan om in te kom, want daar kan hoogstens ses mense gelyk daarin pas.
Ek voel “geaktualiseer” en gelukkig. My wêreld werk weer.
In dié tyd loop Michael ’n studentevriend, Gerrit van Wyk, by ’n sielkundekongres raak, en Gerrit vra hom of hy dit sou oorweeg om by sy praktyk in Kaapstad aan te sluit. Ek is skoon uit my vel oor die moontlikheid: Kaapstad, daardie magiese plek waar die uitverkorenes woon . . .
Ek en Michael gaan ’n paar dae Kaapstad toe om dinge ’n bietjie uit te kyk. Ons bly by Gerrit en sy vrou Lillibet, in hulle Victoriaanse huisie in Tamboerskloof. Hulle neem ons na al hulle gunstelingplekke en op ’n Saterdagoggend in die deli Zerbans in die Tuinesentrum besluit ons om Kaap toe te trek, oor ’n Bauernfrühstück (boere-ontbyt) en koffie. Dié Duitse deli is die soort plek wat aan Kaapstad ’n Europese gevoel gee. Ons weet so seker soos ons lanklaas was: Net hier wil ons woon! Tafelberg staan met wye arms en wink.
’n Paar maande later trek ons by ’n verwaarloosde kasarm van ’n Victoriaanse huis in die Tuine in. Dit was voorheen ’n Joodse weeshuis en het maande lank leeg gestaan. Niemand het kans gesien om dit op te knap nie. Ons sien kans. Veral party van ons . . . die een wat onlangs die helende krag van selfaktualisering ontdek het. En Michael sê daar’s goeie geeste in die huis. (Later sou ons ontdek dat daar aan die begin van die twintigste eeu Van Reenens daar gewoon het.)
In die vroeë 1980’s is eiendom in Pretoria duurder as dié in Kaapstad en ná die verkoop van ons beskeie siersteenhuis in ’n middelklas-woonbuurt in Pretoria en die aankoop van ’n dubbelverdieping Victoriaanse dame, weliswaar gehawend, maar met nege slaapkamers en ses toilette in die hart van Kaapstad, is daar genoeg oorskietgeld om die nodigste opknapwerk te doen en die binne- en buitemure oor te verf.
Die binnekant van die huis laat verf ek donkerpienk. Maar toe Michael se niggie Patricia tien jaar later opmerk: “Rather like living inside a polony,” kry die huis ’n gedaanteverwisseling – bottergeel. Modes, ai!
Op my geluksgrafiek lê die herinnering aan die dag toe ek, Michael en die dogtertjies in Stephenstraat intrek op een van die hoogste pieke. Ná ’n hele dag se gewoeker is ons goed uitgepak en ons beddens opgemaak. My skoonma het vir my die kopertafel gegee wat ek so bewonder het met my eerste besoek aan Golden Gate. Sy het dit van ouma Van Reenen gekry toe sy ná Oupa se dood van Golden Gate weggetrek het. My skoonma het geweet hoe verlief ek op die tafel was en het dit as geskenk vir my en Michael saamgestuur vir ons Kaapse huis. Ná ek ’n bos aronskelke gerangskik en op die blink koperskinkbord neergesit het, stap ons vroegaand, ná ’n bui reën, na die Nelson’s Eye vir aandete. In Kaapstad sit die son om sewe-uur nog hoog en daar hang ’n reënboog in die lug – spesiaal vir ons gesinnetjie, die Van Reenens van Kaapstad, voel dit vir my.
In Kerkstraat, in die hartjie van die Kaapse stadskom, kry ek ’n winkelperseel en maak ’n tweede Clutter & Thyme oop met vragte vol voorraad van ons Pretoria-winkeltjie