C'est la vie. Lanie van Reenen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 2
Klein Franz was skrander, en as hy bang was vir ’n kwaai klasonderwyseres het hy gesorg dat hy na die volgende standerd spring. Só skryf hy dus op vyftien al matriek, studeer aan Tukkies en behaal sy doktorsgraad in chemie voor die ouderdom van dertig. Brandstofnavorsing was sy spesialiteit. Hy trou met sy universiteitsliefde, maar sy sterf in hulle bed aan meningitis voor hulle ’n jaar getroud is. Hy treur baie lank, en verdiep hom in sy werk en studies.
My ma, Fransie, was ’n nooi Pretorius, die tweede jongste van agt kinders. My pa was bevriend met haar broers, wat saam met hom aan Tukkies studeer het. Die eerste keer dat hy haar gesien het, was sy ’n twaalfjarige rabbedoe, en die volgende keer ’n pragtige vrou van twee-en-twintig met die “mooiste bene in die Suidelike Halfrond”. Hy was ’n “ou wewenaar” van twee-en-dertig vir wie die wêreld weer geglimlag het.
Ek was vyftien toe my pa deur die regering aangestel is om Soekor (Suidelike Olie-eksplorasiekorporasie) op die been te bring om vir Suid-Afrika olie te probeer kry. Hy het dikwels vertel hoe hy, dr. Ampie Roux en dr. B.J. Vorster, toe eerste minister, met die inhuldiging van die eerste olieboor in Barkly-Oos op die boorplatform gestaan het. Dr. Vorster het aan hulle twee gesê, so het my pa vertel: “Franz, vind jy vir ons olie, en Ampie, sorg jy vir die atoombom, dan sal die wêreld ons nie kan aanraak nie.”
Vir my was die voordeel van my pa se aanstelling dat ons gesin van Pretoria, waar my pa by die WNNR gewerk het, na Johannesburg verhuis het. In Pretoria was ek in die Hoërskool Menlopark, maar in standerd 7 het my pa my weggestuur na die Hoërskool Middelburg, waar hy skoolgegaan het en waar my boet Ferdie daardie jaar in matriek was. Toe ons Johannesburg toe trek, kon ek weer uit die huis uit skoolgaan, en wel aan die Hoërskool Linden.
Die jaar in standerd 7 in Middelburg het my egter in ’n klein hel-en-bliksem verander. Ek het aanvaar my ouers het my koshuis toe gestuur omdat ek stout was, en half onbewus het ek blykbaar besluit: Nou ja, laat ek julle dan wýs hoe lyk stout! As daar ’n dare was onder ons klomp dogters in die koshuis, was ek die een wat getender het daarvoor. Naderhand is jy stout sonder om eers regtig lus te wees daarvoor, maar jy het nou eenmaal die reputasie verwerf. Ek het omtrent elke naweek in die studielokaal deurgebring as straf, en selfs daar het ek kattekwaad beplan en uitgevoer.
Toe ek in standerd 8 in die Hoërskool Linden aankom, was daar reeds hegte vriendekringe gevorm en ek het nêrens regtig ingepas nie. Maar toe ek op ’n dag skool bunk en weer die week daarna, saam met ’n groepie ander belhamels, besef ek dat die kinders van my notisie begin neem en my naam begin ken. Lanie Quass. Kan julle glo sy het al weer gebunk! Min weet hulle dat dit gou vervelig raak om in Hillbrow rond te hang tot jy en jou maters weer die bus kan neem terug Linden toe. Ek word nie uitgevang nie. Ek neem selfgeskryfde verskoningsbriefies skool toe: Lanie moet tandarts toe gaan en Lanie het blindedermontsteking.
Maar in standerd 9 loop ek my rieme styf. Ons skoolhoof, meneer Dirks, kondig op ’n Maandagoggend in die saal aan dat die volgende stokkiedraaiers summier uit die skool geskors sal word. Ons neem omsendbriewe hieroor huis toe, wat ons ouers moet teken.
’n Dare doen pouse die rondte: Wie sal dit wil waag om twee dae agter mekaar te bunk? Ek hou my maar skaars, ek wil regtig nie. Maar weer raak ek ingetrek as groepies gedurende pouses bymekaarkom en die groot bunk beplan.
Daar is drie seuns wat “in” is, maar geen meisies nie. Ek hou van een van die seuns, maar hy maak my ook so ’n bietjie bang. “Toe, Lanie, ek dare jou,” sê hy. En ná skool stap hy die eerste keer saam met my huis toe. “Sien jou môre by Hennie se huis,” sê hy toe ek ons tuinhekkie opstoot. “Dink net aan die lekker pies by Fontana in Hillbrow, as die ander suckers in die skool sit.”
Die volgende oggend pak ek in plaas van my skoolboeke my jeans, tekkies en ’n T-hemp in my tas in. En my sakgeld. By Hennie, wie se ouers albei werk, se huis verklee ons en spring in die bus wat elke oggend om halfnege reg voor die huis stop. Dan is dit nogal opwindend om deel van die groep te wees, al voel ek naar op my maag van spanning. Ons eet Fontana-pies, drink Coke, rook menthol-sigarette en luister musiek by Hillbrow Records. Ek is “one of the boys”.
Toe my sussie Linda, wat in standerd 7 is, ná skool voor Hennie se huis verby loop, sluit ek by haar aan, nou weer in my skooluniform. “Slaps het gevra oor jou,” sê sy. “Ek het gesê jy is siek. Ek het nie meer lus om namens jou te jok nie.” Sy is kwaad vir my, maar ook bang ek sal dink sy is nie cool nie. Slaps, die Latynonderwyser, is die gewildste onderwyser in die skool.
Daardie aand aan etenstafel vertel my pa, ingenome met homself, dat daar ’n verslaggewer en fotograaf van Huisgenoot die volgende middag na ons huis toe gaan kom om foto’s te neem van ons gesin. Hulle gaan ’n artikel oor Franz Quass van Soekor en sy gesin publiseer.
Die volgende oggend maak ek en die drie seuns weer so. Ek is in die ding in, kan nie, wil nie kop uittrek nie. Twee dae gebunk is my grootste dare tot dusver en ek is halfpad daardeur.
Die volgende dag in Hillbrow is die pies minder lekker, proe die menthol-sigarette al hoe slegter en voel ek naar van al die Coke. Ek skrik as die seuns daggazolle rol en rook. Nee, o donner, dis te erg.
“Bangbroek,” sê Theo Kritzinger as ek nie aan sy zol wil trek nie, “ou goody two-shoes!”
Ek kan nie wag dat die bus moet kom nie.
Ek stap weer in my skoolklere na skool saam met Linda huis toe. In Derdestraat stop ’n klein Volksie langs ons. Dit is Slaps! Hy rol die Volksie se venster af, leun uit en sê stadig: “Vir jou, Lanie Quass, wil ek nooit weer in my klas sien nie.”
Ek is asvaal en my bravade is weggeskrik. Linda huil sommer en loop vir my weg. Ek gaan geskors word en dit gaan Huisgenoot haal! My hele familie gaan verneder wees. Miskien sal ek na ’n verbeterskool toe moet gaan. My pa gaan so kwaad wees, sê nou hy kry ’n hartaanval en slaan dood neer. Die lewe soos ons dit geken het, gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Die middag se fotosessie is allerpynlik. Ons gesin poseer in ons uitgaanklere. Dan moet ek en Linda oor en oor met ons twee kleinsussies in die swembad spring. Die Quass-gesin se laaste normale dag voor hulle standerd 9-dogter uit die Hoërskool Linden geskors word, word op film vasgelê. Hoe sal ek kan verduidelik dat ek eintlik in my hart weet dat ek goed is, dat ek myself en my aandagsoekery eintlik verag, dat ek eintlik net wil hê my pa moet trots wees op my? Soos hy laas was toe ek hoofmeisie van die laerskool was. Wel, dis nou verby, ou sussa.
Ek slaap die aand niks nie. Ek en Linda loop skool toe die volgende oggend, al twee van ons stil en benoud. Die eerste drie periodes het ek Latyn by Slaps. Ek gaan sit in my bank en die ander kyk my grootoog aan. Nie rêrig bewonderend nie. Slaps kom in en begin dadelik met die les. Net soos altyd.
Ná die eerste periode kom staan hy voor my bank. “So, jy was siek, sê jou sussie.”
“Nee, Meneer, ek was nie siek nie.”
“Nou waar was jy dan?”
“In Hillbrow, Meneer.”
“Was dit lekker?”
“Nee, Meneer.” Die trane brand in my oë.
Hy gaan aan met die klas. Ná die tweede periode stap hy uit en sê ons kan rus. Nou kom dit, dink ek. Hy gaan terugkom met meneer Dirks en ek sal saam met hom na sy kantoor toe moet gaan. Miskien is my ouers reeds daar. Ag, liewe Here tog.
Slaps kom terug. Alleen. Hy sit die les voort en toe die klok ná die derde periode lui, verdaag hy die klas.
Nooit het hy ’n verdere woord oor die voorval gesê