C'est la vie. Lanie van Reenen
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 4
Ons is jonk en fiks en kyk wie kan eerste bo-op die Brandwagkrans staan. Toe ek uitasem net ná hom daar aankom, tel hy my op en swaai my in die rondte. Ons staan hygend en kyk hoe die son ondergaan, hoe die laaste strale die kranse rooigoud kleur sodat dit soos die poorte van die hemel lyk. Daar is nie ’n gelukkiger mens as ek nie.
Hoofstuk 4
Ek en Michael het verloof geraak toe ek in my tweede jaar op universiteit was en hy besig met sy M-graad in die sielkunde. As ek dan ’n troumeisie is, waarvoor wag ons? het ek begin neul. Op ’n verlowingspartytjie in sy ouers se huis in Pretoria steek hy ’n karbonkel van ’n ring aan my vinger, met ’n erfstukdiamant daarin, geskenk deur ouma Van Reenen van Golden Gate. Ek praat daarna dromerig oor trou en kinders kry en het nie die vaagste benul dat sy keel aan die toetrek is nie.
Een aand in April in my derde jaar kom laai hy my op, soos elke aand. Maar dié keer ry hy nie, bly net deur die voorruit staar. Dan draai hy sy kop na my en sê swaar en met seer in sy stem: “Lanie, ek kan nie voortgaan met ons verhouding nie, met ’n troue nie. Ek is nie reg daarvoor nie.”
Ek lag eers, want dit is so simpel. Hy maak seker net ’n grap. Dan sien ek die erns en pyn in sy oë. Ek skreeu. Ek huil en naderhand smeek ek. Hy kyk verslae na my. Ek haal my verloofring af, gooi dit neer, spring uit die kar en hardloop terug koshuis toe en op na my kamer. Dit gebeur nie met my nie, dit gebeur nie met my nie, dink ek paniekerig. Nie dit nie, asseblief nie dit nie!
My beste vriendin, Robin, kom sit op my bed en troos my, streel my hare terwyl ek myself aan die slaap huil.
Die volgende aand is my ma en pa daar; hulle het van Johannesburg deurgery nadat ek hulle gebel het met die nuus. Dit is die eerste liefdesteleurstelling in ons gesin. Dit voel my almal is versigtig met my, soos met ’n bom wat kan ontplof.
Ek hinkepink verdrietig deur die volgende paar maande, ’n liefdesteleurstelling is ’n vreeslike ding. Michael gaan vinnig weer uit met, ja wragtag, ’n joolprinses! Ek is bang om in hom vas te loop op kampus en bang dat ek hom nooit weer sal sien nie. Ek kry dit uiteindelik reg om meer aandag aan my studie te gee, want so sonder kêrel kan ’n mens maar net sowel swot. Met my akademie gaan dit vir die eerste keer sedert standerd 5 goed.
Ná ses maande kry ek een Saterdagmiddag ’n oproep by my ouers se huis in Johannesburg. Dis Michael. “Ek verlang,” sê hy, en voordat ek iets kan sê: “Kan ek jou weer sien?”
“Ek doen nou prakties by Tara-hospitaal,” sê ek. “Dis ons ses weke lange prakties in psigiatrie.”
“Ek sal jou by jou ma-hulle se huis kom oplaai,” sê Michael.
’n Week later word ek een-en-twintig. Op my partytjie is ek en Michael weer ’n paartjie. Nog ’n week later word ek in die Denmar-kliniek wakker met Michael wat bekommerd langs my bed staan. Iets het met my gebeur wat ek nie verstaan nie, en ek weet Michael verstaan dit ook nie. Wat ek wel weet, is dat ek hom nou verskriklik nodig het. Dit weet hy ook, en so word ons vir altyd vasgevang in hierdie oomblik. Vir die res van ons lewe saam sal hierdie oomblik van tyd tot tyd opdoem, en vir Michael dan laat glo dat hy net hier ’n fout begaan het.
In die somer van 1972 verras ek en Michael almal met die nuus dat ons gaan trou. Ons wil ’n klein troue hê, met net ons naaste familie en vriende, en die troue moet in Oupa en Ouma Golden Gate se huis wees.
My ma is nie links nie, sy weet van ’n vrou wat trourokke maak en ’n paar weke voor die troue kies ons materiaal en ’n patroon vir my trourok en sommer ook vir die going-away-rok.
Michael se ma, Hanna, en sy tante Nellie versier die voorkamer van die plaashuis met wavragte blomme. ’n Enorme rangskikking staan in een van Ouma se groot koperpotte bo-op die kopertafel wat ek so bewonder het met my eerste kuier op Golden Gate. Die tuinpaadjie waarop ek aan my pa se arm sal aankom, word deur my vriendinne versier met gerwe kosmos wat hulle in die oggend in die veld gaan pluk het en in elke emmer wat hulle op die werf kon kry ingebondel het. In die voorkamer langs die dominee wag ’n baie mooi man effe senuagtig op my.
Die jong Dopper-dominee van die kontrei doen die bevestiging voor sowat veertig familie en beste vriende. Dis ’n mooi diens, en asof hy weet wat voorlê, preek die dominee vir ons uit Efesiërs 4: “. . . vergewe mekaar”. Ons sê die huweliksformulier agter hom aan, beloof liefde en trou vir altyd en in alle omstandighede. Ons sê ja en ja. Ons is kinders . . .
Die onthaal was in die groot eetkamer van die pas voltooide Brandwaghotel, destyds een van die Vrystaatse Parkeraad se nuwe sierade. Dit was die heel eerste geselligheid in die hotel en ons bruilofsgaste die eerstes wat daar oorgeslaap het. Die hotel sou eers die volgende week amptelik open, en ons troue was ’n proeflopie waarin die bestuur en personeel alles uitgehaal het om Aletta en Man van Reenen se kleinseun en sy bruid se troue vlot te laat verloop. Die blomme was asemrowend mooi en die driegangmaaltyd uitstekend.
My boet Ferdie maak ’n mooi toespraak en stel sommer tegelyk ’n heildronk in op die bruidspaar en hulle ouers sodat die gepratery gou kan oor wees. Toe hy vir oupa Van Reenen vra om die tafelgebed te doen, antwoord Oupa: “Ag, ou Boet, vra tog eerder vir oupa Van Rooyen, hy is ’n bliksem met ’n bid.”
As ek terugdink aan ons troudag, aan ons wittebrood en die eerste jare van ons getroude lewe, dan tref dit my dat geluk en angs in daardie tye gewedywer het om alleenreg oor my binneste.
Hoofstuk 5
Ek en Michael woon in ’n woonstel in Sunnyside. Ek werk as arbeidsterapeut by ’n kinderleidingkliniek en hy as kliniese sielkundige by Tukkies se studentediensburo, terwyl ons ’n huis laat bou op ’n nuwe erf in Weavind Park. Een oggend kry Michael skaars die modder van die bouperseel op die deurmatjie afgevee of ek val hom om die hals met die nuus: Ek is swanger! Ons is albei heeldag uit ons vel.
Ek word egter daardie nag met so ’n angs wakker dat ek nie kan asem kry nie. Michael gryp ’n papiersak en laat my daarin asemhaal. Dit help ’n rukkie, maar ek moet uit, ek versmoor! Ons is uit by die deur; Michael met die papiersak in die hand. In pajamas en pantoffels lei hy my al om die blok. Ek haak uit, ek haak uit, dink ek. Ek wil net bly en gelukkig wees. Om ’n baba te hê is my grootste wens. Hoekom haak ek uit? My hart klop wild, ek is natgesweet en voel naar. Michael praat kalm en rustig met my in sy ligbruin stem, en ek fokus daarop asof my lewe daarvan afhang.
Uiteindelik is ek kalm genoeg om terug woonstel toe te gaan, en ek raak genadiglik aan die slaap. Die volgende oggend word ek wakker met iets swaars in my. Die vrees dat ek weer so ’n aanval gaan kry, word deel van my daaglikse bestaan. Ek raak al hoe stiller.
Michael besluit dat ons vir ’n paar dae Laeveld toe moet ry om my uit ons benoude woonstelletjie te kry. Ons is albei lief vir die Bosveld, die son skyn daar. Ons neem elk ’n week lank verlof.
Michael het ’n ruk tevore ’n ou MG gekoop en omdat die motor binnekant erg na petrol ruik, ry ons heelpad met die kap afgeslaan. Ek weet hy het ’n prentjie in sy kop van ’n sportmotor met ’n mooi laggende meisie daarin, sorgeloos en vry. Ek wil graag vir hom daardie meisie wees, maar ek voel swaar en donker. Boonop is dit ’n taamlike ontbering om so ver so verwaai te word. Ek is waarskynlik op my beste nie ’n langafstand-afslaankap-meisie nie.
Op Hazyview bly ons in ’n rondawel op ’n verwaarloosde gasteplasie. Dit bedruk my. Eintlik bedruk alles my, en my liewe man kry my nie opgevrolik nie. Hy gaan stap een oggend met sy verkyker om voëls te kyk, maar ek wil nie saam nie. Ek bly sit net op ’n bankie voor die rondawel.