C'est la vie. Lanie van Reenen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 8

C'est la vie - Lanie van Reenen

Скачать книгу

      Clutter & Thyme in Kaapstad het aanvanklik die voordeel van ligging, ligging, ligging, want die winkel is oorkant Exclusive Books en die mense wat daar aandoen, stap ook by my winkel in. Maar dit hou net twee maande. Daarna verskuif ligging, ligging, ligging na die nuwe Goue Akker-winkelsentrum in Adderleystraat en al die voete stroom skielik soontoe. Exclusive Books trek ook Goue Akker toe en Clutter & Thyme bly alleen agter aan die onderpunt van Kerkstraat.

      Wêreldwyd ken die eienaars van klein winkels seker die gevoel as daar teen eenuur die middag nog nie ’n siel in jou winkel was nie en die kasregister registreer nul. En my winkel is só mooi? My ma se laslapkombers hang een muur vol; dis werklik iets besonders.

      ’n Bejaarde man stap op ’n dag die winkel binne en bewonder dié kunswerk. Hy vra: “Wie het dit gemaak?”

      “My ma,” antwoord ek.

      “Sê vir jou ma ek het haar lief,” sê hy toe hy uitstap.

      Ek weet dat onder meer die laslapmateriaal wat ek verkoop uniek is, maar hoe verkondig ek die boodskap?

      Dis hoe: Ene Penny Dobbie ontdek eendag my winkeltjie. Sy maak pragtige laslapdekens en gee boonop naaldwerkklasse aan ’n groep vroue. Met haar volgende besoek bring sy ’n vriendin saam, Lynn McAdam. Lynn is die eienaar van die Biggie Best-dekorwinkel in die Cavendish Square-sentrum.

      In die entrepreneursberoep hoor ’n mens nou en dan iemand sê dat hulle “op die regte tyd op die regte plek” was, en jy hoop maar dat hierdie geluk ’n slag met jou sal gebeur. Penny en Lynn se besoek was die aanloop, en uiteindelik het dit so gebeur:

      Die plek is my winkel wat sukkel in Kerkstraat. Die tyd is middagete. Twee jong mans is haastig op pad na Mark’s Coffee Shop, ’n paar winkels verder op in Kerkstraat. Hulle stap haastig verby my winkel, maar stop dan, draai terug en kyk na my uitstalvenster. Dan kom hulle binne.

      “This is the one,” hoor ek een sê, en dan praat hy met my: “Would you like to move your shop to the New Constantia Village Shopping Centre?”

      Hoofstuk 9

      Die inhoud van Clutter & Thyme in Kaapstad staan in bokse in ons huis. Sodra die Constantia-winkelsentrum klaar gebou is, trek ek oor soontoe om my nuwe winkel, Sweet Emma, te begin.

      Ek is kwaad vir Michael omdat hy my nie ’n steek gehelp het met die oppak van die winkel in Kerkstraat en met die trek van die voorraad na ons huis nie. En hy is kwaad vir my omdat ek “deesdae altyd besig is”. Dit is waar, ek weet dit, maar ek glo nou vas dat dit die spoke van vroeër op hulle plek hou.

      Ek weet egter Michael se beswaar gaan oor meer as dit: My selfaktualisering het oorgegaan in werkverslawing, ek is verslaaf aan besig wees. Maar goed, as ek bereid is om die balk in my eie oog raak te sien, kan ek tog seker ook aan myself erken dat my man meer drink as waaroor ek gemaklik voel. Nie sosiaal waar ander dit sou agterkom nie, maar tuis, elke aand ná werk. Twee stywe doppe met die intrapslag en dan, so met die verloop van ’n aand, genoeg wyn om hom net so in sy stoel voor die TV aan die slaap te laat raak. Ek raak stil bedonnerd hieroor en soms luid afkeurend.

      Maar die gevoel dat daar onheil op pad is, verdring ek, skud ek byna letterlik van my af soos ’n hond wat hom droogmaak.

      Met my winkelvoorraad opgepak en gestoor, gaan ek en die dogtertjies vir die wintervakansie saam met my skoonouers na hulle vakansiehuis op Clarens naby Golden Gate. Michael bly tuis. Hy het onlangs begin met selfontwikkelingskursusse wat hy aanbied vir groepe bestuurslui van korporatiewe ondernemings. Dit gaan goed met sy werk. Hy is in aanvraag, het die een kursus ná die ander en kan nie saamkom na Clarens nie. My mooi, slim man met sy sagte oë en warm botter in sy stem.

      Ná die drie weke lange vakansie ry ek en die kinders met die trein terug Kaap toe.

      Slaap op ’n trein is mos ’n heerlike ding. Vroegaand word die beddens opgemaak met skoon wit spoorweglakens, ’n dik grys wolkombers en swaar kussings in katoenslope. Amper soos ’n mummie-kooi. Die dogtertjies kies die twee hoë afslaanbeddens naby die plafon van die kompartement. Ek slaap onder. Die ritmiese klik-klak van die wiele op die treinspoor sus ons aan die slaap.

      Ek wil die aand op die trein versigtig onthou. Ek wil nie die ervaring inkleur met my eie verbeelding nie . . .

      In die middel van die nag is ek skielik helder wakker. Is hier iemand in ons kompartement? Ek skrik en lê doodstil. Die Karoo-volmaan skyn in deur die venster. Dan kom daar ’n dringende en duidelike gedagte by my op, amper soos ’n stem: Kyk na jou kinders.

      Ek kruip uit my knus treinbed en gaan staan tussen die twee hoë afslaanbedjies waarop my dogtertjies rustig lê en slaap. Ek kyk eers na Michelle en dan na Nina. Hulle is so perfek en my liefde vir hulle so na aan heilig as wat ek in my aardsheid kan vermag.

      Dan is daar nog ’n gedagte, ook helder, asof ek dit hoor: Dit is ’n wonderwerk. Hulle verwekking, hulle groei in jou, hulle geboortes, hulle bestaan.

      Dit voel vir my asof ek binne-in die grootsheid van hierdie gedagte staan. Ek en my kinders in die kompartement wat soos ’n kapsule deur die heelal sweef. Veilig.

      Ek kruip terug in my bed en slaap verder.

      Toe ek die volgende oggend wakker word, weet ek met sekerheid dat iets belangriks dié nag gebeur het. Dat ek nie gedroom het nie. Ek het ’n kalmte in my, maar met êrens ’n tikkie hartseer tussenin. Ek verstaan die hartseer nie.

      Hoofstuk 10

      Toe Michael ons by die stasie in Kaapstad oplaai, weet ek dadelik iets skort. Intuïtief. Soos ’n vrou haar maat ken. Soos ’n mens net wéét. Aan die manier waarop hy sy oë afwend as ek hom entoesiasties groet; die dogtertjies lank en styf teen hom vasdruk, maar eerder afgetrokke as bly lyk.

      “Wat is fout, Michael?” Hy het die koffer in ons slaapkamer neergesit en ek het die deur agter ons toegetrek.

      “Dis niks nie, ek is net moeg, ek het hard gewerk,” sê hy.

      Ek los dit.

      Later die aand, toe die kinders in die bed is, sit ons voor die kaggel. Hy het pas ’n vierde glas whiskey geskink en voor ek iets kan sê, sê hy: “Ek is gatvol daarvoor dat jy so controlling is. Ander mense laat my nie voel asof ek ’n drankprobleem het nie.”

      “Ander mense, Michael? Wie?” vra ek kwaad. Nou sal ek nie laat los totdat ek weet nie; voordat my wéét deur hom bevestig word nie. Voordat ek dit nie hardop hoor nie.

      Hy is seer, verward, kwaad, verwytend. Gaan haal dinge uit die verlede waaroor hy my van voor af kwalik neem.

      “Michael, dis mos ou issues daardie,” sê ek, “dinge wat ons al deurgepraat het. Hier is iets anders aan die gang. Wat is dit? Nee, wié is dit?”

      En ná ek verder torring, kom hy uit daarmee. Hy het iemand ontmoet, sy sielsgenoot, sê hy. Hy het haar ontmoet in die eerste week van ons wegwees, by die kursus wat hy aangebied het. Om langer te vertoef in ons verhouding sal die onvermydelike net uitstel, sê hy. Dan sal hy ’n skelm affair hê, wat hy nie wil doen nie.

      ’n Week later trek Michael by ons huis uit en by sy sielsgenoot in. Ons sê vir die dogtertjies dat hy moet weggaan vir werk. Maar in die week daarop wil Michael hê dat ons die kinders vertel. “Doen jy die praatwerk, Michael,” is al wat ek kan sê.

      Hulle

Скачать книгу