C'est la vie. Lanie van Reenen

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу C'est la vie - Lanie van Reenen страница 3

C'est la vie - Lanie van Reenen

Скачать книгу

weke later verskyn die artikel oor ons gesin in Huisgenoot. Ons lyk soos ’n normale, gelukkige, bevoorregte, voorstedelike gesin. Wat ons is.

      ’n Oud-Tukkie in die Kaap is ’n bedreigde spesie. As die oud-Maties in die Kaapse stadskom, waar ek woon, so lekker in die kudde spog oor hul universiteitsdae, dan hou ek my maar effe stil en eenkant. Dit voel asof jou universiteitsdae nie rêrig tel nie en paranoïes verbeel jy jou dat as jy jou rug draai, hulle fluister: “Siestog, sy was ’n Tukkie.” Wanneer jy dan weer by die groep aansluit, is almal effe jammer vir jou, soos vir iemand met ’n tekortkoming. Of dis in elk geval hoe jy jou dit verbeel. Maar as jy lank genoeg vasbyt, en die kudde besluit daar is tog nou en dan iets goeds wat uit die ou Transvaal en Tukkies gekom het, aanvaar hulle jou uiteindelik – solank jy net nie vir die Blou Bulle skree nie. Uit selfbeskerming het ek gou ’n WP-ondersteuner geword, en vandag kan ek my nie voorstel dat dit ooit anders was nie.

      Op Stellenbosch word gesokkie; op die Tukkie-kampus het ons gebokjol, veral in die Rautenbachsaal onder die Aula-teater. Die planke van die houtvloer het gewieg as die studenteorkes, Scene Four, “Ob-la-di, Ob-la-da” gespeel het. Ons het dan opgehou met langarm dans, in ’n lang ry agter mekaar ingehaak en gehuppeldans terwyl ons luidrugtig saamsing. Ek het altyd gewonder of die vloer sou hou.

      Ek onthou die uitbundigheid van ’n bokjol met soveel vreugde – kon ’n sokkie op Stellenbosch ooit so lekker gewees het of ’n orkes so great?

      In my eerste jaar het ek Scene Four se hoofkitaarspeler opgemerk; hom so van ver af bewonder, soos eerstejaartjies maar maak met onbereikbare “ou manne” op die kampus.

      Michael van Reenen.

      En toe ek hom uiteindelik een aand by ’n braai van aangesig tot aangesig ontmoet, voel dit vir my asof ek voor ’n celebrity staan en maak hy my skoon senuweeagtig. Hy dra ’n nerfaf baadjie van skaapleer en ’n swart rolnektrui by sy jeans; hy is bebaard en het blou-blou oë. Sy stem is warm en sy glimlag skewerig. Hy is selfversekerd en gemaklik met sy gewildheid.

      Toe almal rustig om die vuur sit, laataand, speel hy vir ons kitaar en val weg met “Me and Bobby McGee”. Ek ken die liedjie goed en kan self nogal sing en teen die tweede vers val ek in. Maar die oomblik is te groot en in plaas daarvan dat ek met selfvertroue die noot vat, kom daar net so ’n dun piep uit – so dun en pieperig dat Michael verbaas opkyk. Hy sien my skok en verleentheid, draai glimlaggend na my en help my die liedjie in deur harder te sing totdat ek my stem vind. Ons sing die liedjie klaar, sonder te veel verdere pyniging vir my en die toehoorders.

      ’n Week later word ek oor die interkom in my koshuiskamer geroep: “Telefoon, juffrou Quass!” Seker my ma, dink ek toe ek na die telefoonhokkie stap, maar dis ’n man. “Dis Michael van Reenen,” sê hy, en my knieë word so lam dat ek teen die muur van die hokkie afgly en plat op die vloer gaan sit. My ore tuit en ek praat nie lekker nie, maar sê darem ja toe hy vra of hy my die Vrydagaand kan uitneem.

      En ná die Vrydagaand wil hy my die Saterdagaand ook uitneem, en teen Sondagaand soen hy my. En kon hy! As ’n man goed kan dans, dan dans jy maklik met hom; met soen is dit klaarblyklik ook so. Hy fluister in my nek: “Jy maak my bang; jy lyk na ’n troumeisie en ek wil nie nou al ’n troumeisie leer ken nie . . .”

      Die Maandag ontmoet ons op ’n afgespreekte tyd op kampus. Vir my voel dit ek sweef elegant in my baie kort minirok en hoë wighaksandale oor die lang grasperk voor die Ou Lettere-gebou, maar later sê Michael ek het só ongemaklik en stywebeen aangestap gekom dat hy gedink het ek het die een of ander gebrek.

      Maar ons gaan gou vas uit. ’n Gróót kys. Ek voel soos ’n uitverkorene, asof die gode glimlag en in my rigting die kop knik.

      Hoofstuk 3

      ’n Paar maande ná die Groot Kys, ry ons vir ’n naweek na Golden Gate sodat Michael my aan sy ouma en oupa Van Reenen kan gaan voorstel. Hulle woon in die mooi ou opstal tussen die twee bergkranse waar Golden Gate sy naam gekry het.

      Die plase Golden Gate en die aanliggende Glen Reenen in die Oos-Vrystaat is ’n paar geslagte reeds Van Reenen-grond – Michael se oupagrootjie, Jan Nicolaas Rossouw van Reenen, het hom in 1876 hier kom vestig en sy oumagrootjie, ’n nooi Moody, het die poort sy naam Golden Gate gegee. Oupa Van Reenen het ’n ding oor vanne gehad en het vas geglo dat hy iemand se karakter aan die hand van sy van kon uitlê. Toe Michael hulle bel om te sê hy bring ’n meisie saam vir die naweek, Lanie Quass, wil Oupa weet: “Wat vir ’n van is dit, Boet? Klink vir my Portugees?” Maar toe ek vlot Afrikaans blyk te wees, is Oupa sommer verlig. Gedurende die naweek kry ek kans om te vertel van my Oostenrykse oupa Quass wat in Middelburg met ’n Duitse meisie getrou het. En dat daar aan my ma se kant darem Pretoriusse en Snymans is.

      Ek kry ’n kamer met ’n hoë houtkatel, gestyfde wit linne en ’n donskombers wat ouma Van Reenen self gemaak het van haar eie ganse se dons. Daar is ’n waskom en ’n beker wat saans wanneer jy bed toe gaan met warm water regstaan, ’n warmwatersak tussen jou lakens en ’n piepiepot onder die bed, sodat jy nie snags ’n koue, donker gang hoef te trotseer nie.

      Die huis ruik soos geen ander plek wat ek ken nie, ’n mengsel van katjiepiering en vloerpolitoer en kamfer en soetgebak uit die kombuis.

      Ek ken dit nie, ’n ouma en oupa wat op ’n plaas woon met ’n kombuis waaruit daar die wonderlikste kos te voorskyn kom, drie maal per dag, en dan nog boonop tee, koek, koekies en terte tussenin. ’n Mens wil naderhand huil van al die eet.

      Ouma Van Reenen maak kosbaarhede bymekaar wat sy koop van ’n handelsreisiger wat ’n paar maal per jaar met sy ware daar aandoen. Hy weet al waarvoor om uit te kyk vir haar: fyn blou-en-wit porselein, mooi glas- en koperware. Ek kan my verkyk aan die mooigoed wat uitgestal word op, onder meer, ’n agthoekige tafel van okkerneuthout waarin ’n groot, blink, ronde koperskinkbord versink is. Ouma sê dat die kopertafel een van haar kosbaarste aankope was – sy het dit van ’n katalogus bestel en moes baie lank daarvoor wag. Dit lyk vir my of die herkoms Indies kan wees en ek is verbaas dat ’n mens daar op daardie afgeleë plek iets so mooi kan bekom. Ek is verlief op die kopertafel.

      Michael wys vir my die plekke van sy kleintyd. Die kloof wat agter die opstal begin en waarin ons plek-plek moet leopard crawl omdat dit heeltemal vergroei het sedert hy dit as seun verken het.

      Ons klim na die witkruisarende se nes in die krans aan die oorkant van die huis. Oupa Man sit die arende daagliks met ’n verkyker en dophou en hy het gesê ons moet gaan kyk, hy dink daar is kuikens. Ons moet egter agterom klim tot bo-op die krans en dan op die maag tot by die rand van die sandsteenrots seil om in die nes in te kan sien.

      Dié avontuur is so reg in my kraal, maar net toe ek my neus oor die rand van die afgrond stoot en tot in die nes kan sien, kom ek agter Michael is nie meer langs my nie. Ek roep saggies: “Daar is twee kuikens in die nes, kom kyk.” Ek hoor egter niks nie en kyk om.

      Michael sit spierwit in die gesig vir lewe en dood aan twee graspolle en vasklou. “Kom weg daar van die afgrond, asseblief,” roep hy. “Nou dadelik!”

      Ek seil agteruit tot weer by hom. Sweet blink op sy gesig. “Ek het hoogtevrees en jy het nou amper my hart laat staan,” sê hy.

      Ek voel sommer ’n hele ent liewer vir hom omdat hy sy kwesbaarheid vir my kon wys.

      Michael neem my na die reusagtige holkrans waar hy as seun met die buurplaas se seun en die plaaswerkers se kinders oorgeslaap het, en vertel hoe sy ouma elke uur ’n gesant van die huis gestuur het met nog kos en koeldrank. Eintlik maar om seker te maak die kinders oorleef nog.

      Ons stap tussen die grafte

Скачать книгу