Vegter en balling. Chris Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vegter en balling - Chris Schoeman страница 3

Vegter en balling - Chris Schoeman

Скачать книгу

van 1877 tot 1878 as eiendomsagent in Ficksburg23 gepraktiseer. Maar ook dít het hom gou begin verveel en hy is daarna weer terug na Wittekrantz.

      Daar het Adriaan weer met oorgawe begin boer en selfs ’n bietjie geld gemaak, maar sy rusteloosheid het nogmaals die oorhand gekry. Hy het in 1880 gedurende die Basoeto-oorlog as ’n vrywilliger by die Kaapse regeringstroepe aange­sluit. (Die sogenaamde Basoeto-oorloë is veroorsaak deur geskille oor grondgebied tussen die Basoeto’s van Moshoe­shoe I in vandag se Lesotho en die boere van die Oranje-Vrystaat. Die eerste oorlog het reeds in 1858 uitgebreek en die laaste in 1880 waarna vrede in 1881 bereik is.)24

      Daarna is Adriaan Kaapkolonie toe waar hy ’n kleinhandelbesigheid in sy geboortedorp, Colesberg, begin het. Hy het Wittekrantz in die hande van sy plaaswerkers gelaat, maar moes met sy terugkeer vyf jaar later agterkom die plaas is verlate en die huis van alles gestroop.25 Hy het weer begin boer en sy verblyf daar is eers weer deur die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog onderbreek.

      Charles se ma, Alida, was ’n innemende, saggeaarde vrou, wat ook uit ’n gegoede familie gekom het. Haar pa was ’n vooraanstaande inwoner van Colesberg voordat hulle na die Ficksburg-omgewing verhuis het. Dit sê baie van haar karak­ter dat sy ná die gemaklike jare in Colesberg die moeilike tye op die plaas in die Oos-Vrystaat te bowe kon kom.

      Die Von Maltitz-kinders het, soos hul ouers, ’n goeie opvoeding gehad. Hulle is onderrig deur ’n eerwaarde Fowkes wat op ’n naburige plaas gewoon het. Fowkes was ’n gekultiveerde Engelse heer wat daarvoor gesorg het dat hulle ’n deeglike algemene kennis opgedoen het wat hulle later in hul lewe baie goed te pas sou kom.26

      Charles het oënskynlik baie van sy pa se eienskappe geërf. Soos sy pa was hy ’n lang man van goed oor die ses voet, maar het wat gelaatstrekke betref meer op sy ma getrek. Hy het ’n hoë voorkop, reguit hare en ’n prominente Romeinse neus gehad wat hy glo van sy Roos-voorvaders geërf het.27

      Hy was ’n belese man wat baie wilskrag gehad het. Charles het reeds as jongman nie vir uitdagings geskrik nie en sommer vroeg al sy eie winkel in Ficksburg geopen. In 1887, op 18-jarige ouderdom, het hy voorts ’n gedeelte van die plaas Wittekrantz uit sy oupa, Charl Roos, se boedel gekoop. (Charles se seun Johan het in die 1960’s steeds daar geboer.)

      Charles was ook ’n vurige kêrel, van die soort wat iemand nie maklik sou vergewe as hy eers aan sy verkeerde kant beland het nie. Dié eienskap word goed geïllustreer deur die volgende staaltjie wat oor hom vertel word: Charles se een suster, Johanna (Dolly), is getroud met een van sy beste vriende, Tewie Wessels, wat ’n groot perdeteler was. Op ’n dag het die twee mans op Wittekrantz stry gekry nadat Tewie glo een van Charles se opreg geteelde perde gekritiseer het. Ná hierdie voorval moes Charles eendag ’n vroulike familie­lid in Clocolan gaan aflaai waar Tewie haar sou oplaai en na sy plaas neem. Charles het sy perde aangejaag, die familielid vinnig afgesien en dadelik omgedraai huis toe (Tewie weer het gesorg dat hy ’n uur laat was!).28

      Wat die twee mans nie toe kon geweet het nie, was dat hulle noodgedwonge sou moes versoen raak nadat hulle in die Anglo-Boereoorlog saam in die krygsgevangenekamp in Groenpunt beland het.

      Vyf jaar voor die oorlog is Charles met Hester Greyling getroud wat op ’n plaas in die Ficksburg-omgewing gewoon het. Hulle het agt kinders gehad.29 In daardie dae was die markte maar treurig en wyd verspreid. Charles het ’n geleentheid gesien om transport te ry langs die hoofroetes tussen Pieter­maritzburg, Johannesburg en Barberton. Sy broer Pieter was toe reeds uit die skool en hulle twee het besluit om met muil­waens kos en ander voorraad van Natal, asook graan van die Vrystaat, na die goudvelde in Johannesburg te vervoer.30

      Die Oos-Vrystaatse vlaktes, valleie en heuwels het dié streek baie geskik gemaak vir gemengde boerdery. Graan- en beesboerdery was van die vernaamste landboubedrywe. In die Anglo-Boereoorlog sou die Oos-Vrystaatse graanbedryf van groot belang wees vir die Boere se oorlogspoging. Genl. Christiaan de Wet het dit ook besef en hard probeer om dié streek uit die Britte se hande te hou:

      I was very anxious to prevent the ‘granary’ of the Orange Free State from falling into the hands of the English . . . This ‘granary’ lay in the Ladybrand, Ficksburg and Beth­lehem districts, and not only supplied the Free State, but also the greater part of the Transvaal . . . In spite of the fact that the English, in order to destroy our crops, had let their horses and draught oxen loose upon the land, there was still an abundant harvest . . . And so it happened that whilst the men were at the front, the housewives could feed the horses in the stable. But lord Roberts, acting on the advice of unfaithful burghers, laid his hand upon the housewives’ work, and burnt the grain that they had stored.31

      Beesboerdery in die Oos-Vrystaat was aanvanklik gerig op die verskaffing van trekosse wat op daardie tydstip onontbeerlik was vir vervoer, maar met die ontdekking van goud en die toestroming van duisende gouddelwers het die aanvraag na slagosse skerp toegeneem. Charles het hier ook ’n geleent­heid gesien en mettertyd in slagbeeste begin handel dryf. Hy het egter ’n groot terugslag beleef toe die runderpes in 1896 uitgebreek en hy nie entstof tot sy beskikking gehad het nie.32

      Voor 1896 was runderpes nog nie in Suider-Afrika bekend nie. Vroeg in 1896 is gevind dat groot getalle beeste en wild aan al twee kante van die Zambezirivier aan ’n onbekende siekte vrek, van waar dit vinnig deur transportosse suidwaarts versprei is. Ten spyte van streng voorsorgmaatreëls het die pes Kimberley in Oktober 1896 bereik en ’n groot poging is aangewend om die verspreiding by die Oranje­rivier te stuit deur ’n draadheining van ongeveer 1 000 myl (1 600 km) op te rig langs die noordelike grens van die Kaap­kolonie en sowat 1 000 treë (ongeveer 1 km) suid van die Oranjerivier.

      Teen die einde van 1898 was die runderpes onder beheer, maar teen daardie tyd het reeds meer as 2,5 miljoen beeste in Suid-Afrika alleen gevrek.33 Charles was een van die talle boere wat groot verliese gely het. Hy moes sy beesboerdery van voor af begin, maar het hom nie deur dié terugslag laat onderkry nie.

      2

      Aan die oorlogsfront

      Oktober 1899 tot Junie 1900

      Toe die Anglo-Boereoorlog op 11 Oktober 1899 uitbreek, was Charles von Maltitz 30 jaar oud. Die vreedsame, landelike bestaan van die Oos-Vrystaatse boere was eensklaps iets van die verlede.

      Charles se tuisdorp, Ficksburg, is aan die voet van die Imperani-berg geleë en lê op die walle van die Caledonrivier, wat ook die grens met Basoetoland (vandag se Lesotho) was. Die maande voor die oorlog is vir die Vrystaatse burgers langs die grens met Basoetoland deur onrustige afwagting gekenmerk. Hulle was bekommerd dat die Basoeto’s, wat Britse onderdane was, hulle aan Brittanje se kant sou skaar en die Vrystaat moontlik kon binneval. Dit het egter nooit gebeur nie en talle Vrystaters het in werklikheid in Basoe­toland gaan skuiling soek en feitlik vir die duur van die oorlog ’n heenkome daar gevind.

      Adriaan von Maltitz en vyf van sy seuns – Charles, Jan, Pieter, Adriaan (Attie) en Friedrich – het aan die begin van die oorlog by die Boerekommando’s aangesluit. Ingevolge wet­gewing van die Republiek van die Oranje-Vrystaat moes alle burgers tussen die ouderdomme van 16 en 60 militêre diens verrig, tensy hulle ’n geldige rede gehad het om nie opgekommandeer te word nie. Vroeg in Oktober 1899 het pres. M.T. Steyn34 van die Oranje-Vrystaat sy kommandante en veldkornette opdrag gegee om alle geskikte burgers vir die verwagte oorlog op te kommandeer.

      So ’n oproep tot diens kon enige tyd van die dag of nag gebeur. ’n Boervrou van die distrik Senekal, Charlotte du Preez, het onthou hoe sy en haar man so ’n nagtelike besoek deur Jan von Maltitz ontvang het. “Dit was laat die aand van die 1ste Oktober 1899 en ek en my man was al in die bed toe daar aan die voordeur geklop word,” skryf sy. “Ons kyk na mekaar, dit is seker die Kommandeerman – en so was dit ook. Dit was die dapper jong Jan von Maltitz.”35

      Jan

Скачать книгу