Vegter en balling. Chris Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vegter en balling - Chris Schoeman страница 7

Vegter en balling - Chris Schoeman

Скачать книгу

      Die net het al hoe stywer om die Vrystaatse magte gespan en by ’n krygsraad op 25 Julie is besluit dat ’n aantal kommando’s posisies tussen Fouriesburg en Slabbertsnek sou inneem. Dit was om te verseker dat die kommando’s van Lady­brand, Ficksburg en Wepener nie afgesny word nie. Daar is ook besluit dat genl. Roux Nauwpoort moes oop­hou. Vol­gens kmdt. Gerrie van der Merwe was die gees onder die burgers toe al baie sleg. Die posisie tussen Fouriesburg en Slabbertsnek is vir ’n dag en ’n nag gehou totdat die agterste kommando’s – genl. Prinsloo met die kommando’s van Sene­kal, Ladybrand en Ficksburg – deur was.

      Op 27 Julie het die Boere van Nauwpoortsnek af langs die Klein-Caledonrivier na Golden Gate probeer ontsnap, maar hulle is deur die mag van genl. Hector MacDonald voorgekeer en hulle moes na Slaapkrans uitwyk. Slaapkrans het ’n toegangsroete na die Caledonvallei gebied en van daar sou dit moontlik wees om die gebied via Golden Gate te verlaat.72 Kmdt. P.H. de Villiers van Ficksburg het bevel gevoer oor die kommando’s by Slaapkrans, terwyl genl. Prinsloo toesig gehou het oor die waens en kanonne wat teruggeval het.

      By Slaapkrans het genl. Hunter se voorhoede betrokke ge­raak in gevegte met die agterhoede van die Vrystaatse magte. Friedrich von Maltitz, wat saam met sy broers Charles en Pieter by Slaapkrans vasgekeer was, het die Britse aanval treffend beskryf:

      Die 28ste Julie 1900 sal ek nooit vergeet nie (ek was toe nog maar ’n seun van skaars 16). ’n Klompie van ons Ficks­burgers en Ladybranders moes die skok van die vuur van 23 kanonne van kort ná sonop tot laat die aand verduur. Ons het net twee kanonnetjies – van minder belang – gehad. Een is feitlik met die eerste skoot in die lug geblaas en die ander moes gou skuiling soek en ons het sy stem nooit weer gehoor nie.

      Bovermelde twee kommando’s het hulle posisies gehou en donker die aand is ons teruggeroep om nuwe stellings [Nauwpoort] vir die volgende dag in te neem. Vaal van die stof, honger en dors het ons drie broers – Charles, Pieter en ek met ons oom Pieter von Maltitz – ongedeerd uit die ‘in­ferno’ gekom. Vroeg die volgende môre is ons in nuwe stel­lings en ek kan sê van die beste wat ek op die veldtog gehad het. Broer Pieter was in bevel terwyl Charles ander posisies besigtig het. Teen elfuur kom daar berig dat ’n wapen­stilstand gesluit is en oombliklik is daar ’n doodse stilte.

      Ons was verbaas om te sien hoe naby aan ons stellings die vyand hul verskyning maak, dus moes hulle ook gedu­rende die nag aangeskuif het. Wat beteken dit?

      Laat die middag kom die berig dat genl. Prinsloo oor­ge­gee het en dat die burgers na hul wonings kon terugkeer, en dat diegene wat probeer vlug en gevang word deur die Engelse as rebelle en vrybuiters doodgeskiet sou word. Alle soorte gerugte was gou in omgang. Die oudstryders was weemoedig en wanhoop was op die meeste gesigte te bespeur . . .73

      Soos vroeër genoem, was die roete uit die Brandwaterkom via Nauwpoort reeds op 28 Julie deur die Britse magte afgesper. Enige kommando’s of vlugtende vroue en kinders kon vanuit hierdie posisie deur die Britse magte gebombardeer word. Hierdie besef sou waarskynlik die burgers se moraal verder verlaag het. Genl. Roux het aan genl. Prinsloo gerapporteer dat die weg deur Nauwpoort afgesluit was, maar Prinsloo het nogtans vir kmdt. Gerrie van der Merwe daarheen gestuur om te sien of dit wel so was. Dit dui op ’n wan­troue jeens Roux. Van der Merwe het die middag toe wel gesien Nauwpoort is deur die Britte afgesper.74

      Intussen het kmdt. Sarel Haasbroek wat met die Winburg-kommando naby Nauwpoort stelling ingeneem het, sy stel­lings ontruim. Dit het Prinsloo genoodsaak om die Senekal-kommando te beveel om die ontruimde stellings daar te beset. Toe die Senekal-kommando in die omgewing van Nauwpoort stelling inneem, was die kommando’s van Lady­brand en Ficksburg direk agter hulle.

      Genl. Roux het toe ’n krygsraad vir dieselfde aand (28ste) by Nauwpoort belê vir die verkiesing van ’n hoofkommandant, aangesien die teenwoordigheid van drie waarnemende aanvoerders – hyself en genls. Prinsloo en Frederik Hat­tingh – tot verwarring gelei het. Daar is besluit dat Prinsloo as hoof­kommandant sou optree tot tyd en wyl al die offisiere (van hulle was so ver as Golden Gate) die geleentheid gehad het om hul stemme uit te bring.75

      Volgens kmdt. Van der Merwe – een van vyf kommissie­raadslede van die krygsraad – is daar ook teen onvoorwaar­delike oorgawe gestem. ’n Voorstel is aanvaar dat Prinsloo ’n wapenstilstand van vier dae by genl. Hunter moes aanvra sodat hulle met genl. De Wet in verbinding kon probeer tree. Sou Hunter hul versoek weier, sou hulle aanhou veg. Dit was al dagbreek toe die krygsraad beëindig is.76

      Hierna is genl. Crowther en kmdt. Van der Merwe na Golden Gate gestuur om die orige stemme in die verkiesing van ’n hoofkommandant in te win. Daardeur is waardevolle tyd op minder belangrike sake vermors, te midde van gebrekkige lei­ding aan die burgers. Nadat al die stemme ingesamel is, het dit geblyk dat Roux die nuwe hoofkommandant sou wees.77 Op pad terug van Golden Gate na Nauwpoort het Crowther en Van der Merwe vir Roux teëgekom en hulle is saam terug na die laer.

      Intussen het genl. Prinsloo sonder hul medewete twee bur­gers onder die wit vlag na genl. Hunter gestuur om te vra vir ’n wapenstilstand.78 Op pad het Crowther, Van der Merwe en Roux ’n rapport van Prinsloo gekry dat hy met Hunter onderhandel. Hulle was nog nie by die laer nie toe hulle ’n tweede rapport van Prinsloo ontvang dat “hij zaken geregeld had”79, dat ’n onvoorwaardelike oorgawe plaasgevind het en dat die kommando’s versoek word om nie verder te trek nie. Toe hulle uiteindelik by Prinsloo aankom, lê hy ewe rustig onder sy verewa. Genl. Roux was “seer boos op hem en schold hem uit als een landsverrader”80. Prinsloo het beweer dat hy geen afskrifte van sy briewe aan Hunter gehou het nie81, wat moontlik die vermoede kon laat ontstaan dat hy iets gehad het om weg te steek.

      Die volgende dag het genl. Roux ’n amptelike protes teen die oorgawe aan Hunter gestuur, maar soos verwag kon word, het Hunter geweier om met hom te onderhandel. Hunter se argument was dat aangesien Prinsloo ook die Winburg-kom­mando – waaronder Roux ressorteer – oorgegee het, Roux geen keuse gehad het nie.82 Teen daardie tyd was hulle in elk geval feitlik omsingel.

      Van der Merwe, wat uiteindelik saam met Charles von Maltitz in die krygsgevangenekamp by Groenpunt sou beland, was self onwillig om oor te gee. “Ik weigerde eerst om over te geven, doch deed dit later op aanrading van generaals Roux en Crowther,” het hy geskryf. “De volgende dag legde de Ficksburg Commando [Von Maltitz en sy broers] de wapens neer en ik met de Senekal Commando de dag daarop.”83

      Waar staan Charles von Maltitz in hierdie saga? Volgens een historiese bron is Charles en van die ander offisiere van ver­raad beskuldig weens hul optrede. In sy biografiese bundel oor die Boere-offisiere, Die Boere-offisiere, 1899-1902, skryf Jacques Malan in sy bondige skets van genl. Jan Crowther as volg: “Jan Crowther was een van die generaals wat saam met hoofkommandant Marthinus Prinsloo op 29 Julie 1901 [die jaar was 1900, nie 1901] in die Brandwaterkom oorgegee het. Hy is in dié verband saam met kmdt. [Paul] De Vil­liers en veldkornet [Von] Maltitz van verraad beskuldig.”84

      Malan verskaf egter nie enige motivering vir dié aan­spraak nie. 85 Is dié aanklag geregverdig? Om dié vraag te probeer beantwoord, word vir eers langer stilgestaan by die Ficksburg-kommando waarin Charles as veldkornet gedien het en hul betrokkenheid in die Brandwaterkom-fiasko.

      Die Ficksburg-kommando onder kmdt. Paul de Villiers het ná die val van Bethlehem by pres. Steyn toestemming gekry om in die Brandwaterkom agter te bly.86 Kmdt. De Villiers het aangevoer dit sou weens sy kommando se stellingsposisies onmoontlik wees om hul posisie teenoor die Britse magte te ontruim.87 De Villiers het kort vantevore ook aan De Wet en Steyn gesê die burgers van die Ficksburg-kommando is oorlogsmoeg en die voortsetting van die oorlog sou net tot die vernietiging van die Vrystaat lei. Of hierdie moegheid vir al die burgers gegeld het, weet ’n mens nie. Dit is wel so dat daar ’n gebrek aan dissipline en ’n gees van défaitisme onder baie van die burgers geheers het ten tyde van hul skuiling in die Brandwaterkom. Dit het heel waarskynlik ook ’n rol ge­speel in Prinsloo

Скачать книгу