Vegter en balling. Chris Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vegter en balling - Chris Schoeman страница 8

Vegter en balling - Chris Schoeman

Скачать книгу

Villiers het ná die verlies van die Slaapkrans-stellings op 28 Julie besluit om terug te val en nie opnuut stelling in te neem nie. Dit was egter nie ’n goeie besluit nie omdat hy daarmee die kommando’s en vlugtelinge se kanse verspeel het om via Golden Gate weg te kom. Hierdie onwilligheid van De Villiers om voort te veg dui daarop dat Prinsloo en sy offisiere nie meer hul hoop op militêre teenstand geplaas het nie, maar op onderhandelinge met die Britse magte. Dis wel ’n ope vraag of Prinsloo in daardie stadium enige ander keuse gehad het omdat die Britse grofgeskut op die vlugtende kommando’s sou kon losbrand ná die verlies van die Slaapkrans-stelling. De Villiers het trouens aan sy kommando gesê hulle was op 30 Julie heeltemal omsingel en die saak was “hopeloos”. Dit was ook weens die treurige toestand van die perde en trekosse wat dit sekerlik onmoontlik sou maak om vinnig deur Golden Gate te vlug.88

      De Villiers het dus vir Prinsloo gesteun in sy besluit om oor te gee. Dit blyk dat daar ná die geveg by Slaapkrans ’n vergadering was waar Prinsloo, De Villiers en ander offisiere besluit het om onderhandelinge te begin met die doel om oor te gee. Volgens De Villiers het die oorgrote meerderheid van die krygsraadvergadering ten gunste van oorgawe gestem.89 Vir De Villiers en waarskynlik ook vir Prinsloo was die voort­setting van die oorlog sinloos en sou dit net tot onnodige lewensverlies en skade aan eiendom lei.90

      Die eerste rondte onderhandelinge met die Britse magte oor ’n moontlike oorgawe is deur Prinsloo, De Villiers en S.G. Vilonel bygewoon. Prinsloo se keuse van onderhandelaars is insiggewend: De Villiers se handelinge het reeds daarop gedui dat hy die beëindiging van die oorlog voorgestaan het, terwyl Vilonel91 ’n veroordeelde landsverraaier was (hy was in werklikheid in aanhouding by die Vrystaatse magte). Prins­loo het moontlik vir Vilonel as gesant gebruik omdat hy geglo het die Britte sou eerder vir Vilonel as enige ander Boere-af­gevaardigde aanvaar. Lt.kol. P.W. le Gallais (Hunter se hoof van staf) en kapt. J.E.H. Balfour (aide de camp) was die Britse magte se verteenwoordigers.92

      Volgens G.P. Kriek, een van De Villiers se adjudante, het die burgers kennis gedra van die onderhandelinge en was hulle tevrede met die inhoud daarvan.93 Ná die vergadering is voorbereidings in die kamp getref vir die oorgawe wat die volgende oggend sou plaasvind. Hoewel oorlogsmoeë burgers ’n besluit tot oorgawe sou steun, moes dit geskied op voorwaardes wat vir die meerderheid offisiere en burgers aanvaarbaar was. Een voorwaarde was dat die burgers toegelaat sou word om na hul wonings terug te keer.94 De Villiers het uitdruklik verklaar dat dit die geval sou wees.95

      Die vraag is of Von Maltitz onder hierdie groep burgers getel het. In die lig daarvan dat hy skaars ’n maand tevore nog ’n plan aan pres. Steyn voorgelê het om die Kaapkolonie binne te val, is dit moeilik om te dink dat hy so skielik oorlogsmoeg sou word.

      Dit blyk boonop daar was ’n groep burgers wat nie van die onderhandelinge bewus was nie. Jan Brink, ’n lid van die Senekal-kommando, het ontken dat hulle enigiets daarvan geweet het.96 Volgens hom sou die onderhandelinge nie sy of die ander burgers se goedkeuring weggedra het as hulle daarvan bewus was nie.

      Dit moet wel in gedagte gehou word dat die Senekal-kom­mando reeds in die omgewing van Nauwpoort was ten tyde van die oorgawe en dat hulle waarskynlik gedink het hulle sou maklik deur Golden Gate kon ontsnap. Charles se Ficksburg-kommando was egter een van die agterste kommando’s wat nader aan die Britse magte was en veronderstel was om enige aanslag teen die vlugtende kommando’s af te weer. Die Boere in die agterste kommando’s sou uiteraard ’n ander perspektief op die situasie gehad het as dié in die voorste kommando’s.

      Ooggetuies van die gebeure in die Brandwaterkom soos Jan Brink en lt. Gerrit Boldingh, die Hollandse artillerie-offi­sier, beweer dit was op 29 en 30 Julie 1900 wel nog moont­lik om deur Golden Gate te ontsnap.97 Of Von Maltitz-hulle wel vanuit hul posisie hierin sou slaag, is egter ’n ander saak.

      Volgens Elizabeth (née Anderson) von Maltitz, Pieter se vrou, het albei broers geglo daar was nog ’n kans om uit die Brandwaterkom te ontsnap.98 Al was hulle dalk nader aan die gevaar, het nie Charles of sy broer Pieter dus blykbaar gedink dis nodig om oor te gee nie. Dit is ook opmerklik dat in die lywige doktorale tesis van J.H. de Bruin oor die oorgawe van die Oranje-Vrystaat se konvensionele magte ge­du­­­­rende die Anglo-Boereoorlog, die mees omvattende onder­soek na die gebeure in die Brandwaterkom tot nog toe, Charles se naam nêrens voorkom nie, ten spyte van heelwat verwy­sings na die Ficksburg-kommando.

      In sy tesis, Winburg’s war: an appraisal of the Anglo-Boer War of 1899-1902 as it was experienced by the people of a Free State district, skryf J.G. Bojé die volgende in ’n voetnoot: “Crowther and De Villiers, together with Field Cornet von Maltitz of the Ficksburg commando, were suspected of treachery in connection with Prinsloo’s surrender.”99

      Ter motivering haal Bojé vir Malan as bron aan. Bojé voeg dan die volgende oor Charles by wat betrekking het op die tyd wat hy in Simonstad aangehou is. “It is interesting to note that Crowther and Von Maltitz had a meeting with [governor Hamilton] Goold-Adams early in January 1901, and that Crowther subsequently met with the peace envoys Chris­tiaan Laurens Botha and Piet de Wet.”100

      Dit is nie duidelik wat Bojé met dié verwysing wou sê nie. Die blote feit dat Charles die goewerneur ontmoet het, be­teken nie dat hy dislojaal was teenoor die republikeinse saak nie. Dit blyk boonop uit sowel Charles as Jacob de Villiers se dagboeke dat ander burgers ook na die ver­gadering met Goold-Adams gegaan het waar die goewerneur bloot aan hulle gesê het die anneksasie van die Boere­republieke is onomkeerbaar.101

      Wat wel ter sake is, is dat Charles in werklikheid botweg geweier het om die vredesgesante C.L. Botha en Piet de Wet te ontmoet toe hulle die kamp in Simonstad besoek het.102 Hierdie feit is waarskynlik belangriker as enigiets anders aangesien dit ’n aanduiding is van hoe sterk sy afkeer was van diegene wat die stryd gewonne gegee het. Om Charles se karakter en lojaliteit te probeer peil, hoef daar slegs na sy optrede in die krygsgevangenekampe in Groenpunt en Indië gekyk te word. Dit weerspreek die aanspraak in Malan se boek en die suggesties in Bojé se tesis.

      Uiteindelik het sowat 3 000 burgers onder Prinsloo by Ver­liesfontein op Slaapkrans (Surrender Hill) oorgegee en op 31 Julie meer as 1 000 man by Klerksvlei net anderkant Golden Gate.103 Teen 9 Augustus het die Britte 4 314 man, drie kanonne en 2 800 beeste in aanhouding gehad en sowat ses miljoen rondtes ammunisie vernietig.

      Daar was egter Boerekrygers wat hulle nie met die oorgawe kon vereenselwig nie. Van hulle het in kleiner groepe verdeel en deur die Britse kordon gebreek.

      Prinsloo se oorgawe in die Brandwaterkom was getalle­gewys van dieselfde omvang as dié van genl. Piet Cronjé by Paardeberg. Hoewel Cronjé se oorgawe nog altyd beskou is as ’n keerpunt in die oorlog, het die oorgawe in die Brand­waterkom ook ’n groot impak gehad. Prinsloo word dikwels van lafhartigheid en selfs verraad beskuldig.

      Prinsloo en ook De Villiers se motiewe word veral bevraag­teken weens die enkele uitsonderings op die bedingde voorwaardes van die oorgawe. Prinsloo en sy vrou, wat ’n invalide was, het Fouriesburg op 2 Augustus onder begeleiding van ’n Britse offisier verlaat om na Winburg te gaan. Prinsloo is kort daarna saam met die ander offisiere na die Groenpunt-krygsgevangenekamp in Kaapstad geneem, maar anders as die ander offisiere is hy later op parool vrygelaat. Sy vrou kon ook weer by hom aansluit, hoewel hy parool geweier is om na Bloemfontein terug te keer.

      De Villiers is ná die oorgawe toegelaat om na sy huis in Ficks­burg terug te keer. Genl. Hunter het aan die begin van Augustus 1900 parool aan De Villiers toegestaan en hy is dus nie soos ander offisiere en burgers na ’n krygsgevangenekamp gestuur nie. Volgens sy seun, P. H. de Villiers, sou daar aanvanklik ses dae verlof aan De Villiers toegestaan word om na sy siek vrou in Winburg (die aansluiting vir die Kaap) te gaan en hy moes daarna in dié dorp as krygsgevangene aanmeld.104 Deur die bemiddeling van vriende is hy egter toegelaat om op parool by die huis te bly aangesien hy daardeur glo armoedige families in die omgewing sou kon help.

      De Villiers het

Скачать книгу