Vegter en balling. Chris Schoeman

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Vegter en balling - Chris Schoeman страница 5

Vegter en balling - Chris Schoeman

Скачать книгу

en ons stormjaers ontmoet hulle op ’n kaal bult tussen Mod­derrivier en Koornspruit.

      Dit was ’n warboel: hulle te voet en ons op perde wat toe al sowat 20 uur onder saal was. Die vyand swaai regs in aflosformasie. Oral sak perde neer weens swakheid of koeëls – myne inkluis met ’n skoot deur die kop.

      My kommandant, Gerrie van der Merwe, kry ’n skoot deur sy longe en sak net voor my inmekaar. Ek was te swak om hom staande te hou, maar kon sy hoof ophou tot ander hulp opgedaag het.

      Ek was toe ook al uitgeput van honger, dors, vrees en wat meer en stap toe maar terug na waar ek my perd gelaat het.47

      Hiervandaan het die jong Friedrich die ses myl (10 km) na sy laer teruggesukkel met sy gewonde perd en nog ’n lig gewonde Engelse perd wat hy langs die pad gevind het. Sy makkers het geskrik toe hulle hom sien, want hy was nog bevlek met sy kommandant se bloed en sprakeloos van uitputting.48

      Op 4 April het De Wet ’n Britse kolonne by Mostertshoek verslaan.49 Vyf dae later het sy beleg van Brabant’s Horse50 by Jammerbergsdrif naby Wepener begin. De Wet moes ná 16 dae se gure weer egter die aftog blaas. Teen daardie tyd het die Britte begin om op die Oos-Vrystaat toe te sak.51

      Lord Roberts het op 3 Mei met ’n mag van sowat 25 000 man noordwaarts vanaf Kareestasie (net noord van Bloem­fontein) vertrek. Terselfdertyd het ’n ander mag na die ooste onder genl. Ian Hamilton en maj.genl. sir Henry Edward Colville parallel met Roberts se mag noordwaarts vertrek. Die volgende dag het lord Roberts vir genl. sir Leslie Rundle, wat die 8th Infantry Division by Thaba Nchu aangevoer het, opdrag gegee om die Boere te verhoed om die suidoostelike Vrystaat te herbeset.

      Gedurende hierdie Britse operasies is die Boere se plase op groot skaal verwoes en geplunder. Die briewe van die pre­dikantsvrou Margaret Marquard van Winburg gee ’n goeie idee van hoe die plaaslike bevolking getraumatiseer is deur die vernietiging wat met hierdie aksies gepaardgegaan het. Op 15 Mei 1900 skryf sy: “Today and yesterday we have had visits from women from the country . . . some – especially a poorer one today – had horrible tales of the destruction and wholesale robbery on their homesteads: for wickedness they [the British] are hard to equal . . . The details seem too trying to go over – carts, horses, ‘trekgoed’, wagons, forage, ‘alles wat op een zolder is’, nothing spared.”52

      Dit was ook in hierdie tyd dat Adriaan von Maltitz, Charles se pa, deur die Britte gedwing is om die eed van neutraliteit af te lê. Op daardie tydstip was daar ’n Ierse regiment op Wittekrantz gestasioneer. Op 22 Mei 1900 is twee burgers by Wonderkop in die Senekal-distrik aangekeer en na die Britse kamp op Wittekrantz geneem. Die twee burgers kon in die huis slaap, maar is regdeur die nag bewaak. Die volgende oggend het Alida von Maltitz hulle iets te ete gegee voordat Adriaan saam met die twee burgers na Clocolan geneem is waar hulle voor ’n paar offisiere verskyn het en die eed van neutraliteit moes aflê. Hierop het elkeen ’n pas ontvang wat hulle op “beskerming” deur Britse troepe geregtig gemaak het, maar later geblyk het waardeloos te wees.53

      Adriaan het goed bevriend geraak met twee offisiere van die Ierse regiment, sir John Keene en maj. George Grey. Hulle het saans gereeld saam gekuier, en die offisiere het ook vir hom interessante literatuur gebring. Hul vriendskap het hom egter nie van latere gevangenskap gevrywaar nie. Meer as ’n jaar later, in November 1901, is Adriaan eers na die tronk op Winburg geneem waarna hy na die deurgangskamp Tin Town in Natal geneem is voordat hy as ’n krygsgevangene na St. Helena gestuur is. Hy sou eers in Sep­tember 1902 na Ficksburg terugkeer. Soos die geval was met honderde ander plase het daar van syne niks oorgebly nie en hy moes van voor af begin.54

      Op 29 Mei 1900 het die Slag van Biddulphsberg naby Senekal plaasgevind, waartydens die Britte gevoelige verliese toe­gedien is en genl. Leslie Rundle na Senekal moes terugval. Die deelnemende kommando’s was dié van Ladybrand onder bevel van kmdt. Jan Crowther (die grootste groep), die Sene­kal-kommando onder genl. Andries de Villiers, die Ficksburg-kommando (met Charles von Maltitz in sy geledere) onder kmdt. Paul de Villiers, die Wepener-kommando onder kmdt. Paul Roux, die Smithfield-kommando onder kmdt. J. Pot­gieter en die Thaba Nchu-kommando onder kmdt. Robert Crowther. In dié slag is genl. Andries de Villiers van die Senekal-kommando ernstig gewond en hy het later aan sy wonde beswyk. Kmdt. Paul Roux, ’n predikant van Senekal, is in sy plek as veggeneraal aangewys.55 Roux sou ’n belang­rike rolspeler word in die gebeure wat hulle twee maande later in die Brandwaterkom in die omgewing van Fou­ries­burg afgespeel het.

      Twee dae later was Charles weer op die slagveld toe die kommando’s onder genls. De Wet en Prinsloo die Britse magte by Lindley (Yeomanry Hill) oorval het. De Wet het op 7 Junie ook groot sukses by Roodewal behaal toe hy Britse goedere van £100 000 buitgemaak het. Hierop het Roberts ’n groot dryfjag op die Boere in die Oos-Vrystaat begin en feitlik die ganse Vrystaatse mag moes uiteindelik na die Brand­water­kom terugtrek (meer hieroor in die volgende hoof­stuk).

      Die Von Maltitz-broers het in daardie stadium vir agt maande reeds aan verskeie veldslae deelgeneem, tientalle kartetse sien ontplof en baie koeëls hoor fluit, maar ongedeerd daarvan afgekom. Op 10 Junie 1900 word hulle egter deur die noodlot getref toe die derde oudste seun, Jan, in ’n aanval op Engelse skanse by die spoorbrug by Virginia Siding doodgeskiet word. Jan moes in opdrag van genl. Paul Roux met ’n uitgesoekte groep van 200 Senekallers en Lady­bran­ders van hul kamp naby Senekal uitgaan om die brug oor die Sandrivier te gaan opblaas. 56

      Friedrich wou ook saamgaan, maar omdat sy perd te ge­daan was ná ’n verkenningsveldtog in die voorafgaande dae, het Jan hom aangeraai om liewer te bly.

      Dit was nog donker en bitter koud toe Jan en sy manne die Engelse skanse onder die doringbome aangeval het en die Kakies was op hul hoede. Hulle was ’n garnisoen van die Royal Engineers en het ook koloniale troepe ingesluit.57 Jan het sy manne beveel om te skuil maar nie te retireer nie, maar nie voordat twee van hulle noodlottig gewond is nie. Jan en ’n paar van die burgers aan die voorpunt het in die rivier se syslote geskuil, maar hy is tussen die oë geskiet net toe hy hom effens gelig het om oor die sloot se walletjie aan te lê. Van die tien Boere in die voorste posisie is vier doodgeskiet en twee gewond.58

      Dié vier, waaronder Jan, is deur die Britse soldate begrawe in die sloot waar hulle gesneuwel het. Die Von Maltitz-familie het in 1904 ’n grafsteen vir Jan laat maak, maar hulle kon nie sy beendere vind nie.59 Dit het vermoedelik in die rivier afgespoel. Sy grafsteen is daarna in die Virginia-kerk­hof opgerig.

      3

      Oorgawe in die Brandwaterkom

      Ten spyte van hul verlies het die oorlog vir Charles en die ander Von Maltitz-broers meedoënloos voortgegaan. Die Vry­staatse kommando’s het op daardie tydstip reeds na die Brand­waterkom naby Fouriesburg begin uitwyk om uit die kloue van die Britse kolonne te ontsnap. Verskeie kommando’s, waaronder dié van Bethlehem, Senekal, Winburg, Ficks­burg, Harrismith en Vrede, het ’n onmiddellike belang daarby gehad om in die Brandwaterkom stelling in te neem aangesien hulle dan relatief naby aan hul eie distrikte was.

      Een aand in Junie 1900 toe die kommando’s hulle aan die voet van die Leeukop by Ficksburg bevind het, het ’n blykbaar ywerige Charles ’n plan aan pres. Steyn voorgelê om die Kaapkolonie binne te val.60 Hy wou met 400 vrywilligers, wat hy self uit die kommando’s van Ficksburg en Senekal sou kies, deur die Engelse linies probeer dring en die burgers wat ná die val van Bloemfontein die wapen neergelê het, her­organiseer. Hulle sou dan aanvalle op die Kaapkolonie loods. Die streek anderkant die Oranje was natuurlik vir Charles bekende wêreld, veral rondom Colesberg waar hy gebore is en wat hy eers op 17-jarige leeftyd verlaat het. Pres. Steyn het egter Charles se versoek geweier, moontlik omdat hy in daardie stadium sy manne bymekaar wou hou.61

      Die Britse magte het op 6 en 7 Julie ’n belangrike oorwinning oor die Boere by Bethlehem behaal. Hierna het die Vry­staatse magte finaal na die Brandwaterkom teruggeval.

Скачать книгу