Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 4

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

tussen politici was die enigste gereelde herinnering aan die voorvalle van verraad. Tydens verkiesingsveldtogte is die verraaierkwessie by tye met besondere venyn opgeroep. Individuele kandi­date wie se optrede gedurende die oorlog verdag was, is dikwels in politieke moddergooiery daaroor geteiken.

      Algaande sou die geheues van dié wat nog gelewe het, ook geleidelik verdof. Met die afsterwe van die betrokkenes het van die inligting saam met hulle na die graf gegaan.

      Dit is insiggewend dat geen Afrikaanse of Engelse historici tot op hede die saak uit die verraaiers se oogpunt gestel het nie.35 In nie een van die vertol­kings wat in die eeu na die oorlog verskyn het, is probeer om die verskynsel van verraad onder Afrikaners te probeer regverdig nie. Die seun van genl. Hendrik Schoeman het wel in 1950 ’n boek getitel Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? gepubliseer waarin hy sy pa se afvallige optrede probeer verduidelik het, maar dié werk is nie ’n analitiese ontleding van die ver­skynsel van verraad nie. Die waarde daarvan lê eerder daarin dat dit uitwys watter pynlike nagevolge verraad vir die verraaier se nageslag meebring.36

      Op die Afrikaanse akademiese gebied was daar veral voor die 1970’s ’n groot traagheid om temas te ondersoek wat hoegenaamd indruis teen die gevestigde opvatting dat die Afrikaners as ’n hegte volk in ’n stryd teen Brittanje saamgestaan het. Die akademiese werke was meestal beperk tot gewilde onderwerpe van militêre aard, individuele Boereleiers, krygsgevan­genes en die lyding en swaarkry van die vroue en kinders in die konsentra­siekampe. In die gloed van nasionalisme is die oorlog as ’n heldestryd beskou en enigiets wat dit weerspreek, geïgnoreer. Dit blyk dat ’n groot aantal meestersgraad- en doktorale studente die kwessie van Afrikanerverraad voor Grundlingh se werk as taboe beskou het. Selfs in 1960 nog meld F.G. Grobler in sy meestersgraadverhandeling getiteld “Die Carolina-kommando in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902)” dat ’n joiner se naam liewer nie genoem moet word nie.37

      In die Britse geskiedskrywing het die verraaiervraagstuk ook weinig aan­dag gekry. In 1985 het Emanoel Lee in To the Bitter End nog soos volg oor die joiners opgemerk: “The story of these Boer volunteers is a sad, in some cases disreputable one, which has received little attention in Britain . . . Amongst Afrikaners they are remembered to this day with such hatred that it is almost impossible to get any information about them.”38 In 1979 het Thomas Pakenham tot ’n soortgelyke gevolgtrekking in sy populêre The Boer War gekom: “The fact that a fifth of the fighting Afrikaners at the end of the war fought on the side of the British was a secret that has remained hidden till today.”39

      Al bogenoemde faktore het daartoe meegewerk dat belangrike inligting oor die teregstellings verlore geraak het en dat die gebeure onder die mat gevee kon word. Genoeg inligting is egter beskikbaar om ’n sinvolle vertolking van die gebeure te gee.

      Die skande van verraad en die onverwerkte trauma weens die teregstellings het nietemin sekere gevolge vir die ontwikkeling van die politieke psige van die Afrikaner ingehou. Die geskiedenis van die Afrikaner in die 20ste eeu kan nie ten volle verstaan word sonder om kennis te neem van die sielkundige nalatenskap daarvan nie en daarom dié ondersoek na Afrikaner-verraad tydens die Anglo-Boereoorlog.

      2

      Vroeë verraad

      Die eerste Boereverraaier wat deur sy eie mense tereggestel word, sterf die middag van 31 Desember 1880 voor ’n vuurpeloton aan die oewer van die Mooirivier by Potchefstroom.1 Hans van der Linden se verraad vind tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog plaas.

      Dié teregstelling het grootliks in die Afrikaner se volksgeskiedenis vergete geraak. Al was die voorval buitengewoon in die vroeë geskiedenis van die Boererepublieke, ontvang dit min of geen aandag in gepubliseerde werke oor die Eerste Anglo-Boereoorlog. Wat sou republikeinsgesindes van ’n jong Afrikanervolk daartoe gedryf het om een van sy eie mense te fusilleer?

      Om dié vraag te beantwoord, moet ’n mens besef dat die ontwikkeling van die Afrikaner se nasionale bewussyn teen 1880 veel verder gevorder was as wat dikwels aanvaar word.2 Sy afgesonderdheid, die geslagte lange oorloë teen swart stamme en die voortdurende teistering deur Brittanje sedert die Groot Trek het alles meegehelp om ’n nasionale volksbesef te ontwikkel. In dié omstandighede het ’n jong, dinamiese Afrikanerpatriotisme onder republikeinsgesindes gedy.

      Die eensydige Britse optrede met die anneksasie van die Transvaalse Republiek in 1877 was dus uit die staanspoor onaanvaarbaar vir die Boere. Dit lei tot die uiters plofbare situasie teen einde 1880 toe met die volksverga­de­ring by Paardekraal (by die huidige Krugersdorp) besluit word om tot wapen­geweld teen die Britse oorheersers oor te gaan.3

      Tydens die volksaamtrek het die Transvaalse burgers in die geheim voor­bereidings vir die komende oorlog getref. Die Britse aanvoerders van die besettingsmag in Transvaal was uiteraard gretig om daardie belangrike inligting te bekom. Vir dié doel het ’n Britse spesiale kommissaris, maj. M. Clarke, en die polisiehoof, kmdt. P. Raaff, op Potchefstroom twee plaaslike inwoners gewerf om onder valse voorwendsels na die volksaamtrek te gaan om inligting in te win. Hulle was die Transvaler Johannes (Hans) van der Linden en Christiaan Woite, ’n Potchefstromer van Duitse afkoms. Die twee spioene het onafhanklik van mekaar opgetree.4

      J. VAN DER LINDEN

      † 31 Desember 1880, Potchefstroom

      Hans van der Linden het klassieke Bybelse verraad gepleeg. Hy het ’n beloning van 30 sjielings per dag van die Britse militêre owerheid op Potchefstroom ontvang om die volksvergadering by Paardekraal by te woon en inligting aan hulle deur te gee. Om hom beter van sy taak te kwyt, het Van der Linden hom boonop as korporaal by die Boeremag aangesluit en daardeur trou aan die nuwe Transvaalse regering gesweer. By die byeenkoms het die Boeremag se bevelvoerder, genl. Piet Joubert, uitdruklik die geleent­heid aan diegene gebied wat die vryheidsaak nie goedgesind was nie om die terrein ongehinderd te verlaat. Nie een van die aanwesige burgers, insluitend Van der Linden en Woite, het daarop gereageer nie.

      Die inligting wat die twee spioene daarna oor die Boere se geheime be­planning by Paardekraal inwin, dra hulle aan Britse offisiere op Potchefstroom oor. Dit het die Britte in staat gestel om hul troepe te laat verskans en vir die stryd voor te berei nog voordat enige krygsbedrywighede begin het. Daardie inligting is deur die Britse offisiere in ’n skriftelike verslag saam met die oorspronklike dokumente bewaar. Dié optrede het noodlottige gevolge vir die verraaiers ingehou.5

      Die Eerste Anglo-Boereoorlog (Eerste Vryheidsoorlog) breek op Gelof­te­dag, 16 Desember 1880, uit met ’n skermutseling tussen die Boere en die Britse magte by Potchefstroom. Tydens ’n geveg twee dae later op die dorp neem die Boere vir Clarke en Raaff saam met ’n aantal Britse soldate en burgerlikes gevange. Onder hulle was ook Van der Linden en Woite. Ver­slae wat Van der Linden en Woite oor die Boere se voorbereiding vir die

       komende stryd opgestel het, word saam met ander inkriminerende dokumente aan Clarke gevind. Een van die dokumente het boonop aangedui Van der Linden het op 6 Desember 1880 die eed van getrouheid teenoor die Britse koningin afgelê.6 Dit was net voordat hy na Paardekraal vertrek het, waar hy sy korporaalskap in die Boeremag aanvaar het. Met al die verdoemende feite wat geopenbaar word, was die twee verraaiers se lot beslis.

      Die oggend van 31 Desember 1880 het ’n krygsraad Van der Linden na ’n kort verhoor op Potchefstroom aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Die krygsraad van 22 lede het hom eenparig skuldig bevind, maar daar was nie eenstemmigheid oor die vonnis nie. Sestien lede het ten gunste van die doodstraf gestem en ses daarteen.7

      Die krygsraad het uit vooraanstaande lede van die omgewing bestaan, van wie party in die Tweede Anglo-Boereoorlog ’n prominente rol sou speel. Twee het die hoogste offer gebring: Een het in ’n geveg gesneuwel en ’n ander het beswyk aan wonde wat hy op die slagveld opgedoen het. Nie almal wat deel was van die krygsraad het met eer uit die latere stryd getree nie. Die voorsitter van die

Скачать книгу