Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 5

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

op 27 Februarie 1900 by Paardeberg met byna 4 000 burgers.8 ’n Ander lid, veldkornet J.D. Weilbach, het na die eerste fase van die Tweede Anglo-Boereoorlog as ’n kommandant blatant afvallig geword. In Junie 1900 het genl. Koos de la Rey hom weens verraad laat arresteer, “omdat hy allerlei ontmoedigende praatjies onder sy burgers versprei het” om nie met die stryd voort te gaan nie.9 In 1880 was almal klaarblyklik nog sterk getrou aan die vryheidsgedagte.

      Uit die dele van die oorkonde wat bewaar gebly het, kan ’n mens aflei Van der Linden het regsverteenwoordiging gehad. Daar is onder meer beswaar gemaak toe die staatsaanklaer nie prosedureel korrek opgetree het nie. ’n Regsargument wat waarskynlik te gesofistikeerd vir ’n gewone burger soos Van der Linden was, is geopper, naamlik dat die krygshof nie die jurisdiksie gehad het om oor die saak te besin nie omdat Van der Linden op 12 Desember 1880 aan die Britte verslag gedoen het. Eers die dag daarna, op 13 Desember, is die herstel van die Transvaalse onafhanklikheid en die gewapende stryd afgekondig. Dié argument is verwerp. Van der Linden se optrede is as strafbare hoogverraad beskou. Daar is gelas dat die vonnis nog die­selfde middag om 16:00 voltrek moes word. Die opdrag om die doodsvonnis te voltrek, is aan een van die krygshoflede, kmdt. H.R. Lemmer, opgedra.10

      C.N.J. du Plessis, ’n Potchefstroomse burger en ooggetuie van die fusil­le­ring, se dagboekaantekeninge is in 1882 as Geschiedenis van de emigranten-Boeren van den Vrijheidsoorlog gepubliseer, met die later afvallige krygshoflid Weilbach as mede-outeur. Du Plessis huiwer nie om sy afkeur uit te spreek wanneer daar gevoelloos teenoor die gedoemdes opgetree is nie. Tog was hy ook ’n vurige Afrikanerpatriot en sy weergawe is veral in dié opsig belang­rik. Dit gee insig in hoe die Afrikaner die verskynsel van verraad twee dekades voor die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 beoordeel het.11

      Van der Linden se vrou is sowat ’n halfuur voordat hy na die plek van die teregstelling geneem is, laat haal om hom te groet. Du Plessis beskryf die tragiese afskeidstoneel: “Om haar te zien aankomen, in het rouwkamertje te zien ingaan en hem om den hals te zien vallen en afscheid nemen, is voor mij te zwaar en niet mogelijk te beschrijven. Ik hoor haar nog tegen hem zeggen: - ‘Ik heb jou gezegd moet nie . . .’.”12

      Daarna het die prediker eerw. D. van der Hoff die terdoodveroordeelde geestelik gaan bystaan. Intussen is ses gewere in die Potchefstroomse raadsaal gelaai, drie met dodelike ammunisie en drie met loskruit. Volgens Du Plessis is ses burgers op ’n onpartydige wyse uit die aanwesige burgers as lede van die vuurpeloton aangewys. Die gewere is aan hulle oorhandig son­der dat hulle geweet het watter daarvan met die dodelike koeëls gelaai was.13

      Onder begeleiding van Lemmer en ’n wag van 25 burgers is Van der Linden na die oewer van die Mooirivier geneem, waar die graf reeds gegrawe was. Sowat 300 mense het saamgegaan om die teregstelling te aan­skou. Of hulle uit blote morbiede nuuskierigheid saamgegaan het en of toeskouers doelbewus toegelaat is om as ’n afskrikmiddel vir ander verraaiers te dien, kon nie vasgestel word nie.

      ’n Sombere spektakel het hom afgespeel toe Van der Linden sowat 40 treë van die oop graf eerbiedig sy hoed afgehaal het. Die aanwesiges, wat hom klaarblyklik stip dopgehou het, het sy voorbeeld gevolg.14

      Die stemming by die graf was droefgeestig. Van der Hoff het “een kort maar hartroerende gebed . . .” gelewer.15 Terwyl die aanwesiges ’n gesangevers gesing het, is Van der Linden aan die kop-ent van die graf laat kniel. ’n Engelssprekende inwoner van Potchefstroom, George Austen, het op dieselfde dag nog in sy dagboek geskryf: “Certain religious formalities were gone through but it was thought by men of the world . . . who were there that it was only prolonging the agony.”16

      Die reeds makabere gebeure het ’n amper surrealistiese karakter aangeneem toe ’n doodskleed oor Van der Linden getrek is. “Een lang wit overkleed, met zwart afgezet, en nog al fraai opgemaakt, werd hem over’t hoofd getrokken met een breede strook afhangende tot de knieën,” skryf Du Plessis.17

      Die ses lede van die vuurpeloton het sowat drie treë van die veroordeel­de stelling ingeneem. Lemmer het langs Van der Linden gaan staan en sy linker­hand op die veroordeelde se kop gesit. Daarna het Lemmer met die knop van sy rysweep beduie waar die lede van die vuurpeloton Van der Linden op sy liggaam moes skiet. Du Plessis het gemeen dit is ongevoelig: “Ik keur de handelwijs van den commandant af, en laat het verder aan zijn eigen oordeel over.”18

      Drie koeëls het Van der Linden getref wat sy liggaam agteroor laat ruk het. Tog het hy steeds tekens van lewe getoon. ’n Aanwesige geneesheer, waarskynlik die Hollander dr. Poortman, het aanbeveel dat hy nog ’n koeël moes kry.19 Die kommandant het een van die jong burgers van die vuurpeloton, ene J. Grundling, beveel om Van der Linden nog ’n skoot te gee, wat hy gedoen het.

      Later het van die nabye omstanders aan Du Plessis vertel Grundling het dié profetiese woorde geuiter: “Ja, nu moet ik u schiet; maar mijn tijd is nabij.”20 Inderdaad het Grundling net die volgende dag in ’n skermutseling met die Britse troepe by Potchefstroom gesneuwel.21 Lemmer het as Boere­generaal in Desember 1900 in die Tweede Anglo-Boereoorlog omgekom.22

      Na die teregstelling het die skare stil na die dorp teruggekeer. Du Plessis sluit sy beskrywing van die teregstelling so af: “Ieder betreurde het lot van een verrader van zijn eigen natie.”23

      C. WOITE

      † 6 Januarie 1881, Potchefstroom

      Die 42-jarige Christiaan Woite het sy dienste as geneesheer aan die Boere­magte by Paardekraal aangebied. Weens die skaarste aan sulke dienste voor die Eerste Anglo-Boereoorlog het die burgers sy aanbod met groot waardering aanvaar. “Hij kwam als engel,” is gesê.24

      Woite se oogmerk was egter nie om die Boere se saak te bevorder nie. Hy het sy vertrouensposisie doelbewus misbruik deur inligting van die Trans­vaalse burgers se voorbereiding vir die naderende wapenstryd aan die Britte op Potchefstroom oor te dra. Sy oudste seun, die 19-jarige Wilhelm, het hom waarskynlik in sy verraad teenoor die Boere bygestaan.25

      Woite was nie ’n gekwalifiseerde geneesheer nie, maar het sy mediese kennis deur ondervinding opgedoen. Met die uitbreek van die oorlog het hy ’n gevestigde reputasie as ’n medikus op Potchefstroom gehad.26

      Al het Woite hom onder valse voorwendsels met die Afrikanersaak vereenselwig, kan hy nie streng gesproke as ’n volksverraaier beskou word nie, want hy was ’n Duitser van geboorte.27 Dat hy hom wel doelbewus deur spioenasie aan verraad teenoor die Boere skuldig gemaak het, spreek vanself.

      Nadat Woite met die geveg op 16 Desember 1880 by Potchefstroom gevange geneem is, is hy op die dorp aangehou. Soos met die geval van Van der Linden is daar ook by maj. Clarke verdoemende verslae van Woite oor die Boere se voorbereiding vir die komende stryd gevind.28

      Op 6 Januarie 1881 het ’n krygsraad hom verhoor. Waarskynlik omdat hulle onafhanklik van mekaar op die Boere gespioeneer het, is Woite en Van der Linden se sake afsonderlik afgehandel. Volgens die dagboek van George Austen is Woite reeds teen 10:00 die oggend aan hoogverraad skuldig bevind en ter dood veroordeel. Daar is gelas dat die vonnis nog dieselfde middag voltrek moes word. Woite se seun Wilhelm, wat ook aangekla is, is onskuldig bevind en vrygelaat.29

      Na vonnisoplegging is Woite in dieselfde kamertjie geplaas waar Van der Linden voor sy teregstelling aangehou is. Toe die nuus van die vonnis deur die dorp versprei, het lede van die klein Duitse gemeenskap vergeefs gepoog om die krygshof inderhaas met ’n petisie tot begenadiging van die doodstraf oor te haal.30

      Woite se vrou Anna (gebore Blase) en hul nege minderjarige kinders is die geleentheid gebied om hom te gaan groet. Austen, wie se sentimente sterk pro-Brits was, skryf nog dieselfde dag in sy dagboek: “His wife and family were allowed access to him for a brief parting interview over the heart rending and agonizing nature of which a veil must be drawn – there are scenes in human life and suffering that though not beyond the deepest

Скачать книгу