Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 6

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

besondere indruk op die aanwesiges moes gemaak het (dit word in verskeie berigte van destyds aangeteken), het Woite in sy laaste ure in Duits teen die muur van sy aanhoudingskamertjie uitgekerf: “Ek vertrou in Jesus. Ek het my in sy hande oorgegee. Ek is dankbaar om te sterf. Oor ’n kort rukkie sal julle my nie meer sien nie, ek gaan na die Vader – Christiaan O. Woite.”32

      Woite is omstreeks 14:00 met geboeide hande onder sterk gewapende begeleiding na die plek van sy fusillering geneem, volgens Du Plessis op dieselfde paadjie as Van der Linden vroeër.33 Austen skryf die graf is in die vlei naby die rivier aan die onderkant van die Royal Hotel gegrawe.34 Weer was daar ’n groot skare toeskouers, onder wie ’n hele aantal gewapende burgers. ’n Vriend en buurman van Woite, die Duitse prediker eerw. B. Köhler van die Berlynse Sendinggenootskap, het ’n kort en kragtige gebed by die graf gedoen. Woite self “bleef stil en kalm tot eindelijk het vonnis over hem voltrokken werd . . . ”35

      Hierdie keer is die vuurpeloton tot agt man vergroot, heel waarskynlik om ’n herhaling van die debakel rondom Van der Linden se teregstelling te verhoed. Na ’n teken gegee is, is die skote afgevuur. “Woite gave one convulsive bound upwards and fell with 3 bullets in the breast and one in the forehead.”36 Op sy sterfkennis word die oorsaak van sy dood so aangeteken: “Dood geschoten te Potchefstroom by vonnis van de Krijgsraad gedurende den oorlog.”37

      Köhler het Woite se oorskot uit die graf verwyder en in die tuin van die tereggestelde se huis op Potchefstroom herbegrawe. Austen skryf ietwat emosioneel daaroor in sy dagboek: “Kohler . . . had the body subsequently removed and buried in (the) deceased’s own garden, where he had spent many of the long summer evenings surrounded by those who loved him, when peace ruled in the land and none dared to make afraid.”38

      Sy oorskot is later in die ou Potchefstroomse begraafplaas herbegrawe. ’n Grafsteen met die Engelse bewoording het sy laaste rusplek daar aange­dui: “Sacred to the memory of Christian Woite born in Hornowd Prussia Germany November the 3rd 1838, died January the 6th 1881 aged 42 years & 2 months leaving a widow and 9 children to mourn their loss. He was cut down in the prime of life.”39

      Volgens Du Plessis is Woite en Van der Linden se verraad onder meer in ’n ernstige lig beskou omdat gevrees is dat die Britte met ’n mislukking van die opstand “al onze voormannen zouden laten vangen en ophangen”. Die voorbereiding van die stryd teen ’n oorweldigende oormag moes sonder lekkasies plaasvind, skryf hy voorts. “Ja, op eene zamenkomst vol bekommerende vrees, een bijeenkomst van zulk een handje vol arme verdrukten, dáár mogten geen verraders komen en toch kwamen er twee.”40

      Na die oorlog het sommige pro-Britte groot gewag daarvan gemaak dat die Boere nie vir Woite en Van der Linden regsgeldiglik kon gefusilleer het nie omdat hulle in daardie stadium nog nie ’n wettige en erkende regering gehad het nie. Die hoofregter van die Kaapkolonie, sir Henry de Villiers, het die argument verwerp deur daarop te wys dat sowel Woite as Van der Linden deur behoorlik aangestelde krygshowe van ’n erkende Boeremag weens spioenasie verhoor is.41 Verder is geredeneer die Boere is deur die vredesverdrag tot wettige oorlogvoerders verhef en dat die burgers wat vir die teregstelling verantwoordelik was, deur die algemene amnestie beskerm word. Van Britse amptelike kant is enige omstredenheid wat daarna nog oor die teregstellings kon geheers het, nie verder gevoer nie.42

      Ander teregstellings het waarskynlik nog gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog plaasgevind. Daar is die minder bekende geval van ’n bruin man, ene Carolus, wat na ’n kort verhoor in Desember 1880 deur die Boere ter dood veroordeel en nog op dieselfde dag in ’n “vallei” buite Potchefstroom gefusilleer is. 43 Die tereggestelde het vroeër sy hulp aan die Boere aangebied met die doel om op hulle te spioeneer, waarna hy op hulle geskiet het.

      Nog ’n burger, Schalk Willem Robinson, was gelukkig om met sy lewe daarvan af te kom toe hy op 31 Desember 1880 op Potchefstroom aan hoogverraad skuldig bevind is. Hy is daarvan beskuldig dat hy in opdrag van die Britse offisiere op die dorp gepoog het om ’n rapport na die Britse mag in Pretoria te smokkel. Hy is op pad na Pretoria betrap. Hy is gevonnis tot ’n boetestraf asook verbanning uit die land met ’n verdere voorwaarde dat as hy sou terugkeer, “hy vogeling zal zijn”. Daarmee is hy voëlvry verklaar. Die Potchefstroomse krygsraad het gedurende die oorlog soortgelyke vonnisse aan etlike ander mense opgelê.44

      Op 27 Februarie 1881 behaal die Boere hul roemryke oorwinning op Majuba en verseker só dat hul onafhanklikheid aan hulle teruggegee word. Dit gee ook aan ’n ontluikende Afrikanernasionalisme ’n groot hupstoot. Tog sou die Afrikaner reeds vroeg in sy geskiedenis geteister word deur verraaiers in sy midde.

      ’n Groot aantal Boere was die Britte tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog goedgesind. Ds. N.J. van Warmelo was byvoorbeeld die enigste predikant wat die republikeinse saak openlik ondersteun het tydens die Britse annek­sasie van die Transvaalse Republiek. Op die dag wat die oorlog uitgebreek het, het die Potchefstroomse NG predikant ds. J.P. Jooste as Britsgesinde onder verdagte omstandighede op sy perd die dorp uitgevlug. Na die oorlog is hy as ’n verraaierpredikant gebrandmerk.45

      Ten spyte van steun vir die Britte, was daar teen 1881 nietemin ’n sterk gevoel onder ’n kerngroep republikeinse Afrikaners teen wat hulle as volks­verraad beskou het. Daar was duidelike polarisasie tussen Republikeins- en Britsgesinde Afrikaners. ’n Sprekende en insiggewende voorbeeld is C.N.J. du Plessis se sterk veroordeling in sy boek in 1882 van Britsgesinde Afri­kaners tydens die Eerste Anglo-Boereoorlog: “De Afrikaansche loyalen [teenoor die Britse ryk] zijn de verachtelijkste schepselen die ooit in de geschiedenis der wereld zijn opgetreden. Het doet mij leed genoodzaakt te zijn zooveel uit te weiden omtrent deze personen. Zij zijn ver beneden het dierenrijk, want zelfs roof- en verscheurende dieren blijven toch hunnen aard en bloedverwantschap getrouw. Ik kan geen ander oordeel over die personen vellen, dan dat zij krankzinnig, slecht van geweten en zonder gevoel zijn, en niets ander dan de --- verdienen.”46

      Hierdie vroeë beskouing van verraad is besonder betekenisvol by die ontleding van die republikeinse vryheidsideaal. Daar is ’n besliste weersin in die optrede van afvalliges, so erg dat met ekstreme stappe teen hulle opgetree is.

      Die enkele fusillerings van verraaiers gedurende die Eerste Anglo-Boere­oorlog was maar net ’n voorskou van wat twee dekades later in ’n veel droe­wiger tydperk op ’n groter skaal in Afrikanergeledere sou plaasvind.

      Die weg daarvoor was egter voorberei.

      3

      Vier broers, een skandegraf

      Die winter van 1901 was buitengewoon koud op die Hoëveld. Die Anglo-Boereoorlog het reeds die vorige jaar sy guerrillafase betree met bittereinder­burgers van Transvaal en die Vrystaat wat geweier het om die stryd gewonne te gee. Die sterftesyfer in die konsentrasiekampe was die hoogste ooit, plase in vele distrikte en baie dorpe byna heeltemal verwoes.1 Net die merkwaardige wilskrag van ’n handjievol onversetlike Afrikaners het die stryd teen die Britse oormag aan die gang gehou.

      Daar was egter ook ’n groot aantal Boere wat besluit het om die wapen neer te lê. Sommige het verder gegaan en besluit om die Britse magte aktief te steun deur self die wapen teen hul eie mense op te neem. So gebeur dit dat Lea Sofia Koch (gebore Brits) van Wakkerstroom in Oos-Transvaal aan die einde van Julie 1901 die hartverskeurende tyding ontvang dat haar man én vier van haar broers weens verraad deur van hul voormalige kommandolede gefusilleer is. Die tereggesteldes het voorheen almal aan dieselfde kommando van Wakkerstroom behoort as waarvan hul tereg­stellers lid was. Boonop was sommige van die vervolgers en die tereggestel­des familie van mekaar.2

      H.J.S. KOCH, G.P. BRITS, P.M. BRITS, O.J. BRITS, C.J. BRITS

      † 26 Julie 1901, Baltrasna, Amersfoort

      Die aanloop tot die gebeure was dat al die mans van die Brits-familie van die plaas Schurvepoort in die distrik Wakkerstroom hul wapens in

Скачать книгу