Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 10

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

      Na die oorlog is beweer een van die verraaiers het vir Botha omkoopgeld van £80 000 aangebied as dié sy lewe sou spaar. Hoewel die Koch- en Brits-families welvarend was, toon die likwidasie- en distribusierekenings van die gestorwenes se boedels selfs hulle het nie soveel geld gehad nie. Dit is natuurlik nie onwaarskynlik dat so ’n aanbod in paniek gemaak kon gewees het nie. As so ’n voorstel wel gemaak is, het Botha hom nie daaraan gesteur nie.45

      Die twee families is in totale verdriet gedompel. Susanna Brits het haar vier seuns en ’n skoonseun verloor. Haar dogter Lea Sofia Koch verloor haar man, Hendrik, vier broers en haar skoonpa, Frederick. Elizabeth Koch verloor haar man en seun.

      Grafstene, of eerder smartstene, met boodskappe wat diepe verbittering toon, is op die grafte aangebring. Die grafsteen wat Lea Koch vir Hendrik laat oprig het, lui: “Ter gedachtenis van myn teder geliefde echenoot H.J.S. Koch, geb. 7 Nov. 1868, en zyn dood geschoten door gen. C Botha en zyn officieren, op de 26 July 1901.”46 Sy oorskot is uit die tereggesteldes se gesamentlike graf op Baltrasna opgegrawe en in die familiekerkhof op die plaas Driefontein naby Wakkerstroom herbegrawe.

      Hendrik se pa, Frederick, is op ’n buurplaas, ook ’n deel van Driefontein naby die huidige Daggakraal, begrawe. Sy vrou laat dié woorde op die praal­grafsteen aanbring: “Ter gedachtenis van mijn geliefde echenoot F.W.C. Koch, geb. 12 April 1842, en onschuldig dood geschoten te Roodepoort op 22st Juli 1901 door L. Badenhorst en van zyne manschappen.”47

      Die obelisk van sandsteen wat op die Brits-broers se gesamentlike graf op Baltrasna aangebring is, het deur die jare verweer en later in stukke gebreek toe ’n boom daarop geval het. Op elke kant daarvan word die naam van ’n broer gedenk. Vaagweg kan die woorde “Doodgeschoten door de Boeren” ook daarop onderskei word.48

      Teen Desember 1901 kla die eens welgestelde Elizabeth Koch by die Britse owerhede dat alles op hul plase vernietig is en dat sy en haar familie hulle in ’n benarde finansiële posisie bevind.49 Die familie was klaarblyklik nie meer selfonderhoudend nie weens ’n gebrek aan kontantvloei. Met die Brits-familie het dit nie beter gegaan nie. Die geboue en ander roerende eiendom op die familieplaas Schurvepoort is vernietig of weggevoer. Weens die voortslepende oorlog kon die tereggesteldes se boedels nie afgehandel word nie. Daar is nog tot 1906 gesukkel om dit te finaliseer.

      Die Britse magistraat op Volksrust het uit sy pad gegaan om die tereggesteldes se naasbestaandes te help. Ook die Britse offisier kapt. W.R. Digby wat met die verwerking van die weduwees se kompensasie-eise vir oor­log­skade belas was, het besonder simpatiekgesind teenoor hulle gestaan. Hy het die eis van Susanna Brits, die tereggestelde broers se ma, so gemotiveer: “A most exceptional case & recommended for special treatment.”50 Sy het daarna £1 200 van die Protected Burgher Fund ontvang.51 Digby het die eis van Pieter Mathys Koch se weduwee ook gunstig gemotiveer: “This claimant’s case is an exceptional one. Her husband was murdered by the Boers in July 1901 for having surrendered.”52

      Van die ander weduwees het ook aansienlike bedrae van die Britse ower­heid ontvang as vergoeding vir oorlogskade wat hulle gely het. Lea Koch het byvoorbeeld £1 907 en Maria Brits £800 uit een fonds alleen ontvang.53 Dit was heelwat meer as die gemiddelde bedrae wat die bittereinders of terugkerende bona fide-krygsgevangenes na die oorlog ontvang het. Daar kon nie vasgestel word wat die naasbestaandes uit die ander fondse ontvang het nie. Die bevoordeling van verraaiers en hendsoppers van die omgewing lei tot latere geslagte se verwyte dat veral verraaierfamilies finan­sieel bevoordeel is deur die verkoop van hul siele in ’n ontroue saak. Nasate van die Boerefamilies wat in die omgewing woon, het te kenne gegee die verraaierfamilies is tydens die oorlog en ook daarna nog deur hul verraad bevoordeel.54

      Verbande ten gunste van Frederick Koch sr. was oor plase van burgers geregistreer vir skuld wat hulle voor die oorlog by hom aangegaan het. Dié burgers was ten tyde van sy dood nog op kommando. Vanselfsprekend kon daardie voortvegtendes weens die oorlogsomstandighede nie hul skuld betaal nie. Koch se weduwee en die Britse magistraat op Volksrust het gedurende die oorlog pogings aangewend om die verbande op te roep.55 Dit sou die wrewel teen die verraaierfamilies sekerlik net vererger het. Daar kon egter nie vasgestel word of dit deurgevoer is nie.

      Na die oorlog is dit asof die naasbestaandes van die tereggesteldes laer trek binne die twee families. Hulle het ook verder ondertrou. Kort na die oorlog tree die weduwee Lea Sophia Koch met Lodewyk Christiaan Koch, ’n neef van haar tereggestelde man, in die huwelik. Hy was ’n hendsopper wat gedurende die oorlog van Harrismith na Britse beskerming op Newcastle in Natal gevlug het, waar hy vir die duur van die oorlog gebly het.56 Nog ’n suster van die tereggestelde Brits-broers, Francina Wesselina, het met die tereggestelde Koch se broer, wat die doodstraf vrygespring het en wie se name ook Lodewyk Christiaan is, getrou.57

      Dit is veelseggend dat van hul nasate ontken dat die tereggesteldes verraad gepleeg het. Dié nasate beweer Badenhorst en sy manne was veediewe en rowers.58

      In die geskiedskrywing het die Brits-en-Koch-tragedie feitlik ongemerk verby gegaan.59

      Vandag is daar nog baie tasbare herinneringe aan dié voorval in die omgewing van Amersfoort en Volksrust te sien. Die plaashuis op Rooipoort waar die afvalliges vasgekeer en Koch sr. doodgeskiet is, is klaarblyklik nie ernstig in die oorlog beskadig nie. Daar is oor die jare heen aangebou en veranderinge aangebring. Tog kan die oorspronklike strukture met sy besondere dik klipmure, breë plankvloere en pragtige kaggels nog waardeer word. Die klipmure is later plek-plek gepleister en verberg dalk nog koeëlmerke van daardie aand. Met die skrywe hiervan staan die huis leeg en is dit verwaarloos.60 Die klipmure van die beeskraal naby die huis waar die afvalliges se buitepos was, is nog in ’n goeie toestand.

      Die reis oor die heuwelagtige gedeeltes na die plaas Baltrasna laat ’n mens wonder wat deur die gedagtes van die gedoemdes moes gegaan het op hul tog na hul laaste rusplek. Die opstal op Baltrasna is in ’n indrukwekkende kloof tussen heuwels.61 Ook daar kan die oorspronklike voorhuis, waar die verhoor plaasgevind het, met sy sterk klipmure van die latere aanbouings onderskei word. Slegs die fondasie van die buitegeboutjie waar die veroordeeldes na bewering hul laaste nag deurgebring het, is nog uitkenbaar. 62 Die gesamentlike graf word omring deur die stilte en koelte van ’n plantasie van uitheemse bome in ’n afgeleë wêreld. 63 Die gebreekte obelisk met die name van die tereggesteldes is verwyder en word elders bewaar. Die verrotte boom wat dit stukkend geval het, lê dwarsoor die sementfondasie van die graf. Daar is nog tekens dat die graf vroeër deur ystertralies omhein is.

      Hendrik Koch se grafsteen op die plaas Driefontein by Latemansnek is verwaarloos, maar nog duidelik leesbaar. 64 Ook sy pa se graf op die naburige plaas lyk of dit jare laas enige aandag gekry het. 65 Die gebreekte grafsteen is intussen vir veilige bewaring verwyder. Die mense wat direkte belang by die gebeure gehad het, is lank reeds oorlede.

      In 2007 het Gert van der Westhuizen, skrywer en kenner van historiese gedenkwaardighede in Mpumalanga uit die tydperk van die Anglo-Boere­oorlog, die grafte van die tereggesteldes aan my gaan uitwys. Terwyl ons die graf van die vier Brits-broers op Baltrasna besigtig het, het twee onbekende inwoners van die plaashuis, ’n pa en seun, nader kom staan en luister na die vertellinge van die tragiese gebeure van byna 11 dekades vroeër. Hulle was grootliks onbewus daarvan.

      Nadat hulle alles aangehoor het, het een gevra: “Was dit nou alles nodig gewees?” En bygevoeg: “Al die lyding was tog tevergeefs.”

      Niemand het geantwoord nie.

      4

      “Judasboeren” of miskende altruïste?

      “Verraders! Monsters! Vloek der Aarde!

      Verneerde schepsels der natuur!

      Gods wrake die u tot heden spaarde,

      verdelg

Скачать книгу