Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 11

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

se veragting vir verraaiers blyk baie duidelik uit dié deel van ’n gedig wat gedurende die Anglo-Boereoorlog op anonieme kaar­t­jies aan joiners gestuur is.1

      Ontrouheid teenoor die republikeinse oorlogspoging het verskillende vorme aangeneem. ’n Groot groep burgers het met die verloop van die oor­log passief geraak deur nie verder daaraan deel te neem nie. Ander het hulle op verskillende maniere aktief aan verraad skuldig gemaak.

      Afvalliges het byvoorbeeld informeel inligting aan die Britse magte ver­skaf sonder om by hulle aan te sluit. Meer formeel was die georganiseerde vredespogings van afvalliges wat probeer het om die vegtende burgers te oorreed om die stryd te staak. Ander het buite die gevegsterrein die Britse militêre administrasie in die konsentrasiekampe en op verskeie ander gebiede bygestaan, maar dit was op die meer opsigtelike militêre gebied, waar eertydse burgers aktief by die Britse magte aangesluit het, waar verraad die republikeinse oorlogspoging die grootste skade berokken het.

      Reeds met die uitbreek van die oorlog was daar burgers wat kommandodiens ontduik het.2 Die aanvanklike solidariteit wat met die suksesse gedu­rende die eerste fase van die oorlog onder die vegtende burgers geheers het, het teen die einde van die eerste kwartaal van 1900 aansienlik verflou. Namate die oorlogsgety teen die republikeinse magte gedraai het, veral na die oorgawe van genl. Piet Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie 1900 en die daaropvolgende val van Bloemfontein en Pretoria, het ’n gees van moe­deloosheid en défaitisme die burgers beetgepak waartydens duisende hul wapens neergelê het. Baie was gedemoraliseer en het gehoop daar sou ’n spoedige einde aan die oorlog gemaak word.

      Die meeste van hulle het ’n neutraliteitseed by die Britte afgelê, waarin hulle onderneem het om nie weer die wapen op te neem nie. In die volksmond het hulle as die hendsoppers, afgelei van die Engelse “hands up”, bekend gestaan. Eers het die Britse opperbevelvoerder lord Roberts3 en later lord Kitchener4 verskeie proklamasies uitgevaardig met ’n kombinasie van dreigemente en aanloklike voorwaardes vir diegene wat hul wapens neerlê. Na raming het tussen 12 000 en 14 000 burgers van Maart tot Julie 1900 alleen voor Roberts se proklamasies geswig deur hul wapens neer te lê.5 Daar word verder geraam sowat 40% van dié wat aanvanklik gemobiliseer is, het hul wapens een of ander tyd neergelê, hoewel ’n aantal van hulle later weer by die Boeremagte aangesluit het.6 Die uiteindelike getal hends­oppers bly nietemin aansienlik.

      Die republikeinse regerings het nie die neutraliteitseed erken nie en baie van die wapenneerlêers het weer by die Boerekommando’s aangesluit, veral nadat die Boeremagte nuwe suksesse in die veld behaal het. ’n Groot groep hendsoppers was egter oorlogsmoeg en het net nie die wilskrag gehad om voort te veg nie. Hulle het vir die res van die oorlog passief gebly. Van hulle het by hul gesinne in die konsentrasiekampe gebly. Sommige het vir die duur van die oorlog met hul families na Basoetoland, Betsjoeanaland (Bo­t­swana) en Rhodesië (Zimbabwe) uitgewyk. Ander het na Mosambiek gevlug waarna die Portugese owerhede hulle in Portugal geïnterneer het.7

      Hoewel die bittereinders die hendsoppers geminag het, kon bevestigde gevalle nie gevind word van bona fide-hendsoppers wat gedurende die oorlog deur die republikeinse burgers tereggestel is nie. Al die tereggesteldes het die Britse oorlogspoging op die een of ander manier aktief bygestaan. Die republikeinse magte het hendsoppers wel gestraf. Dié strawwe was meest­al lyfstraf, boetes, tronkstraf, beslaglegging op eiendom en in sommige gevalle is hul eiendom vernietig deur byvoorbeeld hul huise af te brand.

      Uit die geledere van die hendsoppers was daar ’n groep Afrikaners wat bereid was om ’n stap verder te gaan deur in ’n militêre hoedanigheid by die Britse magte aan te sluit en teen hul volksgenote te veg. Hulle het as joiners bekend gestaan, afgelei van die Engelse begrip “join”. Met die verloop van die oorlog het die aantal joiners toegeneem. Onder daardie groep word die grootste aantal teregstellings van verraaiers gevind.

      In die volksmond het ’n verraaier dikwels as ’n “scout” of “national scout” bekend gestaan. Dit moet nie verwar word met lede van die korps National Scouts wat aan die einde van oorlog net in Transvaal ontstaan het nie. Die benaming is dikwels as ’n algemene begrip vir alle joiners gebruik, veral na die oorlog.8

      Daar is aanduidings dat afvallige burgers wat van hul kommando’s gedros en die wapen neergelê het, so vroeg as Maart 1900 as gidse by die Britse kolonnes aangesluit het. Aanvanklik het hulle op ’n ad hoc-basis diens gedoen, na gelang van Britse militêre behoeftes. Mettertyd het van daardie gidse op ’n meer vaste grondslag as verkenners en in ander hoedanighede by die verskillende Britse kolonnes opgetree. Joiners het ook in verskeie ander hoedanighede in die Britse magte opgetree.9

      Die Britse organisasie van joiners het verander en meer gestruktureerd geraak namate die oorlog voortgeduur het. Joiners is byvoorbeeld in plaaslike burgerkorpse (“town guards”) aangewend om dorpe en vee teen Boere­aanvalle te beskerm. Gewoonlik het die korpse die naam aangeneem van die dorp waar hulle diens gedoen het. Daardie joiners is meestal in die omgewing aangewend waaruit hulle gekom het. Sekere lede van plaaslike burger­korpse het met hul lewens geboet weens hul aktiewe deelname teen die Boere. ’n Aantal joiners wat byvoorbeeld aan die Christiana District Mounted Rifles en Vallentin’s Heidelberg Volunteers behoort het, is deur die republikeinse magte tereggestel.

      Ander joiners het by vrybuiterskorpse aangesluit, waar hulle die geleent­heid gehad het om in die buit, veral vee, te deel wat van die burgers afgeneem is. Sekere joiners wat aan daardie eenhede behoort het, waaronder Morley’s Scouts en Steinacker’s Horse in Transvaal en die Burgher Police in die Vrystaat, is deur die republikeinse magte gefusilleer.

      Teen die einde van die oorlog was daar korpse wat uitsluitlik uit joiners bestaan het. In die Vrystaat is die Orange River Colony Volunteers onder die bevel van eertydse Boereoffisiere, onder wie die voormalige Boeregeneraal Piet de Wet (die broer van genl. Christiaan de Wet) en die voormalige Boerekommandant S.G. Vilonel, op die been gebring. In Transvaal is die National Scouts onder die bevel van die voormalige Boeregeneraal Andries P.J. Cronjé (die broer van genl. Piet Cronjé) gestig. Ook joiners wat aan daardie twee korpse behoort het, is deur die republikeinse magte tereggestel.

      Die afsku waarmee die republikeinsgesindes die optrede van die verraaiers beskou het, lê ook daarin dat die verraad meestal vir beloning gepleeg is. In die oë van die vegtende burgers het die joiners hul siele vir geld ver­koop. Die belonings het gewissel na gelang van die fase waarin die oorlog was en die hoedanigheid waarin die verraaiers opgetree het. Aanvanklik het die gidse en verkenners basiese toerusting en ander beloning ontvang. Die vrybuiterjoiners kon ’n persentasie van die buit hou en families van joiners het sekere voordele soos beter rantsoene in die konsentrasiekampe ontvang. Party is in afsonderlike kampe met beter omstandighede aangehou. In die laaste fase van die oorlog is ’n vaste soldy aan lede van die “suiwer” joinerkorpse betaal. Daardie lede het die eed van getrouheid teenoor die Britse kroon geneem en is as volwaardige soldate van die Britse leër ingesweer.10

      Luidens die Britse amptelike verslae was 5 464 voormalige burgers die dag na die vredesluiting op 1 Junie 1902 in Britse militêre diens.11 As ’n mens in ag neem dat sowat 20 000 (volgens ander beramings 17 000) bittereinders aan die einde van die oorlog hul wapens neergelê het, was ’n aansienlike deel van alle vegtende burgers onder Britse wapen.12

      Die ware aantal joiners sal hoogs waarskynlik altyd ’n raaisel bly. Britse amptelike militêre statistieke was boonop dikwels uiters verdag en by tye heeltemal ongeloofwaardig. Dit is onwaarskynlik dat al die voormalige burgers wat in die verskillende hoedanighede in Britse diens was, daarmee in ag geneem is. Daar was burgers wat die Britse oorlogspoging in nie-gevegs­hoedanighede, soos diens in die spoorweë, ondersteun het. Dit was nie net joiners of ander wat in Britse diens gestaan het wat blatante verraad gepleeg het nie. Verraad het ’n verskeidenheid vorme aangeneem en die omvang daarvan blyk uit die kompensasie-lêers in die argief in Pretoria, veral dié van die Protected Burghers. Daarin beskryf die afvalliges onbeskaamd hul bydrae tot die Britse oorlogspoging om vir kompensasie te kwalifiseer. Boon­op was daar soos reeds genoem onder die krygsgevangenes

Скачать книгу