Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 15

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

nie ’n oortreding begaan deur in die Britse magte diens te doen nie. Wanneer daardie Afrikaners in republikeinse hande geval het, is hulle normaalweg as gewone krygsgevangenes behandel, ondanks die weersin wat hul Britse lojaliteit by hul volksgenote ontlok het. Terwyl die Kaapse rebelle hul lewens op die spel geplaas het deur die republikeinse oorlogspoging te ondersteun, was daar voor en gedurende die oorlog ’n sterk groep Afrikaners in Kaapland wat lojale Britse onderdane was. By hulle was daar nie ’n republikeinse tradisie nie. Dit was nie vreemd om voor die oorlog die portret van koningin Victoria in die voorhuise van Kaapse Afrikaners te sien hang nie.44

      Benewens die juridiese definisie van verraad, behoort dié verskynsel ook vanuit ’n morele oogpunt ontleed te word. Dis egter nie altyd maklik om te bepaal wanneer ’n handeling of beskouing verraad vanuit ’n morele oog­punt daarstel nie, veral nie as iemand vanuit ’n spesifieke geloofs- of poli­tieke oortuiging handel nie. In sulke situasies verskil mense se persepsies oor verraad. Daar kon egter geen voorbeelde gevind word van individue wat die republikeinse oorlogspoging suiwer op grond van ’n eie­soortige ideologiese of godsdienstige standpunt aktief teengestaan het nie. Dit is ook insiggewend dat die meerderheid joiners en hendsoppers eers na vore getree het nadat die oorlogsgety gedurende 1900 teen die Boeremagte gedraai het.

      Dit kan voorts gebeur dat die betekenis van verraad oor tyd verander. Daar moet egter gewaak word teen onhistoriese vertolkings. Soos gereeld in hierdie werk benadruk word, moet handelinge en beskouinge wat moont­lik gedurende die Anglo-Boereoorlog as verraad beskou is, beoordeel word in die historiese konteks waarin dit plaasgevind het.

      Tydens die navorsing vir hierdie werk is die mening by enkele geleent­hede teenoor my geopper dat die bittereinders die stryd onnodig voortgesit het nadat dit lank reeds verlore was. Om dié rede word geargumenteer dat die verraaiers se optrede tans in ’n meer positiewe lig beoordeel behoort te word. Die joernalis Max du Preez het op 7 Mei 2005 in Die Burger die standpunt ingeneem dat Christiaan de Wet se verraaierbroer, Piet, se optrede geregverdig was toe hy die vryheidstryd versaak het deur aktief by die Britse magte aan te sluit.

      Die bittereinder se onversoenbare verhouding met sy broer, ’n voormalige Boeregeneraal, is een van dié tragiese dramas in die geskiedenis van Afrikanerfamilies. Vir ’n wêreldberoemde krygsman soos Christiaan de Wet met sy onwrikbare beginsels moes sy broer se vrywillige oorgawe aan die Britte en latere aktiewe deelname aan die Britse oorlogspoging teen sy volks­genote, as leier van die noordelike afdeling van die joinerkorps Orange River Colony Volunteers, besonder vernederend gewees het. Christiaan de Wet het gedurende die oorlog volgehou as hy sy broer in die hande kry, sou hy hom soos ’n hond doodskiet. Die broers het nooit vrede gemaak nie.45

      In wese baseer Du Preez sy pogings om Piet de Wet se naam in ere te herstel op die argument dat die groot menseverlies in die konsentrasiekampe en die verwoestende gevolge van die oorlog vermy kon gewees het deur ’n vroeër, meer realistiese oorgawe deur die republikeinse magte. Du Preez meen Piet de Wet moet in dieselfde klas as liberale Afrikaners soos Bram Fischer en Beyers Naudé beskou word en behoort daarom in die geskiedenis “gerehabiliteer” te word.

      Du Preez se artikel is gevolg deur ’n heftige polemiek in Die Burger se briewekolomme, waaraan verskeie bekende Afrikaanse historici deelgeneem het. Daardie historici was dit eens dat Du Preez se gevolgtrekkings on­his­tories is en nie aan die standaarde van wetenskaplike geskiedskrywing voldoen nie.46 Anders as Fischer en Naudé het Piet de Wet nie namens stemloses gepraat nie. Die meerderheid historici is van mening dat die republikeinse verset teen Brittanje regverdig was. Trouens, die Anglo-Boereoorlog word allerweë as die eerste vryheids- en nasionale stryd van die 20ste eeu in Afrika beskou.

      ’n Belangrike punt wat Du Preez miskyk, is dat toe De Wet homself in 1900 oorgegee het, was dit onmoontlik dat hy of enigiemand sonder ’n bonatuurlike profetiese insig die katastrofiese gevolge van die Britse ver­skroeide aarde beleid kon voorsien het. Daar was al verraad voordat dié beleid en die konsentrasiekampe hul wrede beslag gekry het. Piet de Wet en ander offisiere se tydsberekening dui op ’n opportunistiese skuif ten gunste van die Britse oorlogspoging wat moontlik ook op persoonlike voordeel gerig was. Die Britse militêre owerhede het hulle finansieel vir hul dienste vergoed. Piet de Wet was ’n koppige en eiesinnige mens wat ongeag die gevolge ’n eie-ingeslane weg gevolg het. Hy is sterk ondersteun deur sy vrou, wat nie trou aan die vryheidstryd was nie.

      In ’n verdere reaksie op Du Preez se artikel is die mening geopper dat as Piet de Wet – en dit geld ander joiners ook – werklik oortuig was van die noodsaak om die oorlog tot elke prys te beëindig, daar ander opsies was wat hulle kon uitoefen. Deur die wapen teen hul eertydse volksgenote op te neem, het hulle egter die oorlog voortgesit en hulself daarmee bereid verklaar om hul volksgenote leed aan te doen.

      Dat Piet de Wet verraad gepleeg het, is nog nooit vantevore deur Afrikaanse of Engelse historici betwis nie. Daar is niks verkeerd met ’n herbetragting van die geskiedenis nie en nuwe geslagte se insigte is noodsaaklik, maar dan moet die historiese konteks nie gerieflikerwys vergeet word nie. Wat in die verlede verraad was, kan nie vanuit die hede skielik ongedaan gemaak word nie – dit bly verraad.

      Wat wel uit die debat in Die Burger geneem kan word, is dat die verskynsel van verraad selfs meer as ’n eeu na die Anglo-Boereoorlog nog steeds soveel reaksie ontlok.

      Die enigste ander bron wat die optrede van die joiners probeer regverdig, is in die menings van enkele direkte nasate van die afvalliges gevind. In 2010 het ek onderhoude gevoer met ’n kleindogter en agterkleinseun van Piet de Wet wat hul voorouer se optrede met argumente soortgelyk aan Du Preez s’n probeer regverdig het.47 Dit herinner aan Johan Schoeman se poging om sy pa, genl. Hendrik Schoeman, in sy boek Genl. Hendrik Schoeman: was hy ’n verraaier? te verontskuldig. Die individuele opinies verteenwoordig egter nie ’n algemeen aanvaarde mening nie.

      In die lig van bostaande word verraad in hierdie werk beskou as optrede deur persone wat, terwyl hulle veronderstel was om lojaal aan die republi­keinse oorlogspoging te wees, dit op een of ander manier doelbewus probeer ondermyn het en gevolglik deur die bittereinders as verraaiers beskou is. Die verraad tydens die oorlog het ’n diepe verdeeldheid onder Afrikaners veroorsaak. Dit was nie vreemd dat familielede die wapen teenoor mekaar opgeneem het nie. Asof die brutaliteit van die oorlog nie genoeg was nie, het verraad so ’n impak op die stryd gehad dat dit amper elemente van ’n burgeroorlog begin toon het. Op die lange duur sou die verraaierverskynsel boonop bepaalde gevolge vir die ontwikkeling van die Afrikaners se politieke psige inhou.

      5

      G’n “Gentlemen’s war”

      “A brave race can forget the victims of the field of battle,

      but never those of the scaffold. The making of

      political martyrs is the last sanity of statemanship.”

      – Arthur Conan Doyle

      Die Boereverraaiers was nie die enigstes wat voor vuurpelotonne gesterf het nie. Teen die einde van die oorlog was teregstellings ’n byna alledaagse verskynsel.

      Honderde swart en bruin mense is byvoorbeeld summier of na ’n verhoor deur republikeinse burgers of Kaapse rebelle genadeloos tereggestel. Soortgelyke teregstellings deur die Britse magte het ook nie in die geskied­skrywing veel aandag gekry nie. Baie van die teregstellings, deur al die strydende partye, het met onmenslikhede gepaard gegaan. Dit maak ’n verdere bespotting van die aanspraak dat die Anglo-Boereoorlog ’n sogenaamde “gentlemen’s war” was.1

      Hoewel oorlog in sy aard wreed is, is teregstellings in ’n klas van hul eie wat gruwelikheid betref. In die abnormale omstandighede van die oorlog was die regspleging dikwels nie so ewewigtig soos in vredestyd nie. Dié uiterste straf is boonop nie altyd net toegepas om onregte te straf nie, maar ook om bepaalde militêre en politieke doelwitte te bereik. In

Скачать книгу