Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 16

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

was dikwels in die oorlog ’n dun skeidslyn tussen ’n wettige teregstelling en moord. Die strydende partye het mekaar deurlopend van gruwels op die slagveld beskuldig. Daar was wedersydse beskuldigings dat gevange soldate en gewondes op die slagveld summier tereggestel is sonder ’n verhoor. Die regsgeldigheid van summiere teregstellings was hoogs twyfel­agtig. Gevolglik is die teregstellings, naas die konsentrasiekampbeleid en miskien die verskroeideaardebeleid, sekerlik die mees omstrede aspek van die oorlog.

      Die langtermyngevolge van sekere teregstellings was ingrypend. Dit was die ideale teelaarde vir martelaars en helde. Die emosionele nalatenskap van die teregstellings van Kaapse rebelle en republikeinse burgers deur die Britse magte het byvoorbeeld die oorspronklike militêre oogmerke daarvan heeltemal oorskadu. Daarteenoor is die teregstellings van honderde swart en bruin mense en die Boereverraaiers grootliks vergete.

      Teregstellings deur die Britse magte

      Die Britte se twyfelagtige regspleging en die gevoellose wyse waarop hulle Kaapse rebelle en republikeinse burgers tereggestel het, het in baie gevalle blywende bitterheid onder Afrikaners veroorsaak. Die tereggesteldes is na hul dood deur hul volksgenote tot helde- en martelaarstatus verhef. Reeds in 1904 het G. Jordaan die nagedagtenis van Kaapse rebelle en ander Afrikaners wat in die Kaapkolonie tereggestel is in Hoe zij stierven verewig.2 In die gedenkalbums van latere dekades is die tereggestelde republikeinsgesin­des vereer as helde wat die hoogste offer vir hul volk gebring het.3 Ook in die Afrikaanse letterkunde en veral in die digkuns is daardie slagoffers as martelaars besing.4

      Meer as honderd bevestigde gevalle is gevind van Kaapse rebelle en republikeinse burgers wat met of sonder verhoor deur die Britse magte tereg­gestel is, terwyl daar aanduidings is dat die getal selfs hoër mag wees.5

      Daar bestaan geen twyfel dat die Britse militêre oppergesag uiters gefrustreerd was met die oorlog wat nie met ’n beslissende oorwinning tot ’n einde gebring kon word nie. Saam met ander stappe was die teregstellings maar net een van die instrumente om die republikeinse magte tot oorgawe te dwing. Die Britse militêre howe het byna onbeperkte magte gehad om die doodstraf oor republikeinsgesindes vir sogenaamde oorlogsoortredings uit te spreek. Die Britse opperbevelhebber, Kitchener, moes dit net bekragtig.

      Om dié oorlogbeleid uit te voer, het die Britse militêre howe hulle aan drakoniese regspleging skuldig gemaak. Aanvaarde regverdigheidsbeginsels is ondergeskik gestel aan militêre oorwegings. Afrikanerseuns van so jonk as 16 en 17 jaar is op ’n arbitrêre wyse skuldig bevind en op ’n skandelike wyse ten aanskoue van hul mense tereggestel. In baie gevalle is die tereggesteldes skuldig bevind aan sogenaamde oorlogsmisdade wat inderwaarheid standaard oorlogspraktyk was. Hulle is byvoorbeeld aangekla vir die aanval en ontsporing van treine, die buit van voorrade en perde (wat in die klagstate diefstal en roof genoem is), asook dat hulle Britse soldate vermoor het wat in werklikheid op die slagveld gesneuwel het, en dan vir die gebruik van dum-dum-patrone. In die lig van die Britse beleid van verskroeide aarde het die skuldigbevinding en latere teregstelling van Boere weens byvoorbeeld brandstigting, die Britse regspleging in ’n klugspel laat ontaard.6

      Die Britse militêre howe was wel by magte om die Kaapse rebelle aan hoogverraad skuldig te bevind en die doodstraf op te lê omdat hulle Britse burgers was. Die toepassing van die doodstraf op die rebelle was nietemin om verskeie redes omstrede. Die militêre owerhede het op ’n partydige en geselekteerde wyse te werk gegaan. Veral gevange rebelle wat gesagsposisies in hul kommando’s beklee het, is ter dood veroordeel. Deur die topstruktuur van die kommando’s te teiken, is van die tereggesteldes ’n voorbeeld gemaak. Van die bekendste gevalle was die fusillering van kommandante Hans Lötter en Gideon Scheepers, wat ironies genoeg nie Kaapse rebelle was nie. Veral die teregstelling van die befaamde 22-jarige Scheepers het hom tot held en legende verhef.7

      Om die afskrikwaarde van die teregstellings te optimaliseer, is dit oor ’n wye gebied uitgevoer – op minstens 16 Karoo- en ander Kaapse dorpe. Die fusillering van die Kaapse rebelle het met ’n besondere genadeloosheid gepaard gegaan. Die vonnisopleggings en sekere teregstellings is in die openbaar uitgevoer. Die wreedheid daarvan is vererger deurdat plaaslike inwo­ners wat daarvan verdink is dat hulle die republikeinse saak goedgesind was, dit moes bywoon, anders is hulle gestraf. Selfs ’n pa moes die onmenslike foltering verduur om sy seun se teregstelling te beleef.

      Die geestelike marteling van aanwesige republikeinsgesindes is vererger deur die feestelike skouspel waarmee die verrigtinge gepaard gegaan het. Dikwels is winkels toegemaak terwyl die veroordeeldes te midde van ’n skare toeskouers na die dorpsplein gebring is om die vonnis aan te hoor. Daar is ’n militêre parade gehou met ’n orkes wat gespeel het. Die militêre spektakel is met die teregstelling herhaal. Daar was gevalle waar die terdood­veroordeeldes aan verdere vernederings onderwerp is met ’n gekoggel van­uit die skare. Soms het die orkes met ’n triomfmars “More work for the undertaker” gespeel. Die meeste veroordeeldes is deur ’n vuurpeloton gefusilleer, terwyl ander gehang is. By geleentheid het die Britte ’n windpomptoring gebruik toe ’n galg nie beskikbaar was nie.8

      Die teregstellings en drakoniese bepalings daarrondom is amptelik deur die Britse owerhede gekondoneer. Dit het heftige kritiek in die buiteland en veral van die pro-Boere-beweging in Brittanje uitgelok.9 In die Kaapkolonie het dit eens lojale Afrikaners vervreem en vooraanstaandes het openlik hul misnoeë daaroor te kenne gegee. Die skryfster Olive Schreiner het haar die gramskap van die Britse owerhede op die hals gehaal toe sy haar ontsteltenis uitgespreek het oor die ernstige afwyking van beskaafde beginsels wat veronderstel was om die ruggraat van die Britse regstelsel te wees.10

      Die jingopers in Brittanje en in die twee kolonies was verheug oor die genadelose optrede teen veral die Kaapse rebelle. Dit is insiggewend dat sekere toonaangewende Britse koerante summiere teregstellings, nie net van Kaapse burgers nie, maar ook van republikeinse burgers begin propageer het. Op 17 Oktober 1900 het die Daily Telegraph daarop aangedring dat die Britse magte weldra moes begin om alle Boere wat voortveg sonder genade tereg te stel wanneer hulle gevang word. Op 16 Oktober 1900 het The Standard aanbeveel dat elke Boere-krygsgevangene tereggestel word. Dié koe­rant het die voorstel op 2 Januarie 1901 herhaal. Dié radikale standpunt is ook in ander Britse koerante herhaal.11 Daar was oor ’n betreklike breë front gerugte dat ’n beleid van “take no prisoners” van Britse militêre kant gepropageer is. Op 6 Februarie 1901 het ’n berig in die Cape Times verskyn waarluidens die hoogste Britse militêre gesag opdrag sou gegee het dat Boere nie meer as krygsgevangenes geneem moes word nie. Nadat die redakteur, Albert Cartwright, geweier het om sy bron oor dié inligting te openbaar, is hy tot ’n jaar gevangenisstraf gevonnis.12

      Hoewel die bestaan van so ’n amptelike beleid sterk te betwyfel is en sulke voorvalle in die praktyk in elk geval nie algemeen voorgekom het nie, het dit ’n klimaat geskep wat summiere teregstellings aangemoedig het. Die bekendste geval is sekerlik dié van die twee Australiese offisiere, Harry (“Breaker”) Morant en Peter Handcock, wat daarvan beskuldig is dat hulle minstens 22 burgers en ander burgerlikes koelbloedig in Noord-Transvaal vermoor het. Hulle het aangevoer die Britse owerhede het die summiere teregstelling van Boere amptelik goedgekeur. Albei is egter deur ’n Britse krygshof skuldig bevind aan moord en in 1902 in Pretoria tereggestel.13

      Teregstellings het ook in eie geledere binne die Britse leër in Suid-Afrika plaasgevind. Benewens die geval van Handcock en Morant is daar enkele ander gevalle waar Britse soldate weens drostery en ander oortre­dinge tydens die oorlog deur hul eie magte gefusilleer is.14

      Die Britse militêre owerhede het die Boeremagte voorts daarvan beskuldig dat hulle swart en bruin mense wederregtelik tereggestel het. Minstens 15 republikeinsgesindes is in dié verband op aanklagte van moord of poging tot moord skuldig bevind en daarna deur Britse militêre owerhede tereggestel.15 Wat die Britse militêre owerhede gerieflikerwys verswyg het, is dat hulle hulle self ook daaraan skuldig gemaak het. Die Britse magte het ’n onbekende aantal swart en bruin mense tereggestel wat van verraad verdink is of dat hulle vir die Boere gewerk het. Dié skynheilige houding van die Britse owerhede het

Скачать книгу