Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 9

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

van sy dagboek word van “thorough” gepraat). Marthinus Brits het in sy latere verklaring aan die Britse militêre owerhede gesê die aanklaer het vir minstens twee van die beskuldigdes, Frederick Koch en Louw Joubert, om versagting gepleit. Dit is nie duidelik waarom hulle uitgesonder is nie.

      Nadat al die getuienis dieselfde dag aangehoor is, het die hof na sowat tien minute se verdaging uitspraak gelewer. Al die beskuldigdes is aan hoog­verraad skuldig bevind, met die uitsondering van Gert Oosthuizen wat staatsgetuie geword en daardeur vrywaring ontvang het. Hendrik Koch en vier van die Brits-broers het die doodstraf ontvang. Daar is gelas dat die vonnis die volgende oggend voltrek moes word. Die ander beskuldigdes (dus ook die gewonde Lodewyk Christiaan Koch) het ’n vonnis van 25 houe met ’n stiegriem (’n verstelbare leerband met ’n gespe waaraan ’n stiebeuel hang) ontvang, met die uitsondering van Marthinus Brits, wat 20 houe sou kry. ’n Omvattende soektog na ’n geskrewe hofrekord het niks opgelewer nie. Die drastiese verskil in die vonnisse kan daarom nie verduidelik word nie, ook nie watter regsbeginsels toegepas is nie.

      Dit is onduidelik hoekom Marthinus Brits die doodstraf vrygespring het. Luidens sy latere verklaring aan die Britse owerhede het hy die Maandag voor die skietgeveg na Volksrust gegaan. Gevolglik was hy nie deel van die afvalliges se optrede teen die drie burgers wat die strooptog op die vee uitgevoer het nie. Hy vertel egter in detail hoe hy die aand aan die geveg teen die Boere-aanvalsmag deelgeneem het. Hy meld onder meer daar was ’n storing in die sluitstuk van sy geweer wat hy moes regmaak, waarna hy weer met mening op die burgers gevuur het. Frederick Koch jr. sê in sy latere verklaring hy het nie die aand op die Boere geskiet nie omdat een van die ander mans in die groep sy geweer gehad het.31 Of dít die rede was waarom hy nie die doodstraf ontvang het nie, is egter onseker.

      Die verskil in vonnisse wys nietemin die veroordeeldes is nie oor dieselfde kam geskeer nie. Die teenwoordigheid van ’n assistent-kommandant-generaal wat die vonnisse kon bekragtig en die betrokkenheid van ’n groot aantal Boereoffisiere wys daar kon op ’n hoë vlak oor die vonnisse en die uitvoering daarvan besin word.32

      In wat ’n angstige wintersnag moes gewees het, is die veroordeeldes in ’n buitegeboutjie met ’n vuurherd onder streng bewaking aangehou.

      Die Brits-broers se een suster, Susanna Salomina (Sannie) Groenewald, was teenwoordig. Haar man, Wessel Johannes Jacobus Groenewald, was die eienaar van die plaas Baltrasna. Groenewald was ook ’n lid van die Wakker­stroom-kommando en met die verhoor teenwoordig. Die onbenydenswaardige taak is aan Moerdijk opgedra om vir Sannie Groenewald van haar broers se doodstraf te vertel. “Ek het haar probeer troos so goed ek kon, maar hoe vertel jy iemand dat sy haar broers nooit weer op aarde sal sien nie?”33

      In ’n verslag wat ’n Britse offisier, kapt. MacHardy, op 5 Augustus 1901 oor die teregstellings maak, sê hy een van die Koch-broers was getroud met die suster van die voorsitter van die krygshof, kmdt. Greyling, se vrou. “The remainder are so inter-married their subsequent life would be unbearable.”34 Hy gee egter nie meer besonderhede daaroor nie.

      Benewens die familiebande het die veroordeeldes en hul voormalige kommandokamerade mekaar goed geken. Van die burgers het saam met hulle grootgeword. Die lede van die vuurpeloton moes uit die geledere van dieselfde kommando saamgestel word. Dit is te verstane dat sommige van die burgers nie gretig was om deel van die vuurpeloton te wees nie. Volgens oorlewering het twee swaers, Moolman en Storm, verlof gevra om na die buurplaas Balmoral te gaan om na hul boerderybelange te gaan omsien. Daardeur het hulle doelbewus die moontlikheid ontduik om as lede van die vuurpeloton aangewys te word.35

      Moerdijk vertel die vyf terdoodveroordeeldes was die oggend van die teregstelling kalm. Kort na 08:00 het landdros Bosman en Dirk Kemp vir hulle kom sê die teregstellings sou om 11:00 plaasvind. Werkers het reeds vroeg die oggend ’n graf langs die bestaande Groenewald-familiebegraafplaas teen ’n heuwel voor die plaashuis gegrawe. Kort na 11:00 is Gert, Pieter en Cornelius Brits na die oop graf geneem. Nadat hulle geblinddoek en hul hoede weggeneem is, moes hulle by die graf twee tot drie treë uit mekaar staan. Die aanwesige burgers het ’n psalm gesing, en toe klap die skote van ’n vuurpeloton bestaande uit 12 burgers onder bevel van vdkt. Lourens Badenhorst.36

      Die ander ses veroordeeldes het in daardie stadium buite die deur van die buitegeboutjie gestaan waar hulle aangehou is. Vandaar kon hulle die gebeure skaars 100 m verder sien afspeel. Marthinus Brits skryf later in sy verklaring: “Ekself kon nie daarna kyk nie.”37

      Vir die twee oorblywende terdoodveroordeeldes, Hendrik Koch en Okkert Brits, moes die aanskoue van die eerste teregstelling vreesaanjaend gewees het. Kort daarna was dit hul beurt. Volgens Marthinus Brits is die eerste drie tereggesteldes elk twee keer deur die hart geskiet, terwyl die laaste twee se liggame deur drie skote elk getref is. Dit dui daarop dat die helfte van die vuurpelotonlede se gewere waarskynlik met loskruit gelaai was sodat hulle nie moes weet wie die doodskoot gee nie.

      Beweringe dat die tereggesteldes hul eie grafte moes grawe en dat hulle geweier het om geblinddoek te word, is na alle waarskynlikheid versinsel. Só ook dat een van die veroordeeldes nog bly lewe het nadat die vuurpeloton gevuur het en daarna weer deur die bevelvoerder geskiet moes word.38

      Volgens die oorlewende afvalliges het genl. Chris Botha en Lourens Badenhorst hulle na die teregstelling besoek en gevra of hulle die skote gehoor het. Toe hulle bevestigend antwoord, het Botha volgens die Engelse vertaling van Marthinus Brits se verklaring vir hulle gesê: “Well, this will be a warning to you not to take up arms against the Boers again.”39

      Omstreeks 12:00 die volgende dag het die oorblywende vier gevangenes, met hul klere aan, hul lyfstraf ontvang. ’n Halfuur later is hulle met ’n trolliewa na Vaalpoort geneem waar hulle oornag het. Daarna is hulle te perd na Vlakpoort geneem, waar hulle op Sondag 28 Julie vrygelaat is om te voet na die Britse linies te loop. Vir die duur van die oorlog het hulle met hul families onder Britse beskerming in Volksrust gebly. Gert Oosthuizen, wat staatsgetuie geword het, is na Amersfoort gestuur.40

      Verskillende bronne meld een van die voorwaardes vir die vrylating van die oorlewende verraaiers was dat hulle voëlvry verklaar is. Volgens ’n republikeinse Oorlogsbericht van 29 en 30 Julie 1901 het die vonnis bepaal dat as die veroordeeldes die Boere se linies weer sou binnekom, dit “eenigen burger zal vrystaan ze als vijand te beschouen en dood te schoten”.41 Gedurende die Eerste Anglo-Boereoorlog het krygshowe beskuldigdes ook voëlvry verklaar, maar ander voorbeelde daarvan kon nie gevind word in vonnisse wat gedurende die oorlog van 1899 tot 1902 opgelê is nie.

      Die Boere-opperbevel het die nuus van die teregstellings versprei. Johanna Brandt haal op 17 Augustus 1901 ’n amptelike berig oor die gebeure wat Boerespioene na Pretoria gesmokkel het, in haar dagboek aan:

      Afloop onderzoek der gevangene ‘handsuppers’ door Veldcornet Badenhorst by Zandspruit. Op Donderdag laatsleden werden op de plaats van H. van Groeneveld naam onduidelyk geschreven ter dood veroordeeld G. Brits C. Brits P. Brits O. Brits vier zoons van G. B(rits). Hendrik Kock en Martiens Brits tot 20 gezel slagen en vogelvry verklaard F. Kock, L. Joubert, L. Kock elk 25 geeselslagen en vogelvry verklaard. Zekere D.G. Oosthuizen werd staatsgetuige gemaakt. In gevecht laatst leden Maandag sneuvelde F. Kock, zijn zoon Lodewyk werd gewond. De vonnissen zijn laastleden Vrydag voltrokken.42

      Hoewel die inligting sekere feitefoute bevat, toon dit nietemin dat die republikeinse leiers erns daarmee gemaak het om die teregstellings van Boere­verraaiers bekend te maak en die inligting daaroor te versprei.

      Enkele dae na die teregstelling het Chris Botha die Britse bevelvoerder op Wakkerstroom amptelik van die teregstellings in kennis gestel. Kontant­geld, asook persoonlike items en vier briewe van die oorledenes aan hul vrouens, is na die Britse linies gestuur met die versoek dat dit aan die oorledenes se naasbestaandes oorhandig word. Van die Britse militêre kant is gemeen die afvalliges is oorhaastig en onnodig tereggestel. “The whole thing was a ruse on the part of Chris Botha.”43 Behalwe die jong

Скачать книгу