Boereverraaier. Albert Blake

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Boereverraaier - Albert Blake страница 8

Boereverraaier - Albert Blake

Скачать книгу

’n rol in die Amersfoort-hinderlaag gespeel het, het die joiners se verraad tydens dié voorval bygedra tot die latere optrede teen die mans van dié twee families.18 Inligting uit die Pretoriase Argief het gehelp om ’n prentjie te skets van wat tot die Koch- en Brits-mans se einde gelei het.19

      Op Maandagaand 22 Julie 1901 was 12 afvallige Afrikanermans van Koch’s laager of surrendered burghers op die plaas Rooipoort naby Volksrust saam­getrek. Saam met hul leier, Frederick Koch sr., was sy drie seuns, Frederick Wilhelm jr., Lodewyk Christiaan en Hendrik Johannes Stephanus, die vyf Brits-broers, en nog drie ander, Lodewyk (Louw) Christiaan Joubert, Gert Pieter Oosthuizen en Gert Brink, teenwoordig. Al die Koch- en Brits-vroue, -kinders en die Brits-weduweemoeder was die aand in die plaashuis bymekaar. Omdat dit ’n groot groep was, is sommige in ’n tentlaer langs die opstal gehuisves. ’n Onbekende aantal swart werkers en hul families was ook in die nabyheid.

      Vroeër die middag het drie burgers ’n strooptog op die Koch-groep se vee uitgevoer. Dit het in ’n skietgeveg ontaard waaraan nege van die afvalliges deelgeneem het. Die drie burgers het met ’n aantal beeste weggekom, hoewel die Koch-groep hul skape kon terugkry. Die jongste van die Brits-broers, Cornelius, moes tydens die skermutseling na die opstal teruggeneem word nadat hy van sy perd afgeval en seergekry het. Dit was reeds donker toe die ander afvalliges na hul vesting teruggekeer het.

      Die skietgeveg vroeër die dag moes ernstige wrewel by die burgers ontlok het. Daar is besluit om nog dieselfde aand ’n vergeldingsmag van 25 burgers na die Koch-vesting op Rooipoort te stuur om met die verraaiers af te reken. Die Boere-aanvalsmag, bestaande uit burgers van die Wakkerstroom-kommando, die Edwards Verkennerscorps en twee lede van asst.kmdt.genl. Chris Botha20 se staf, het onder leiding van kapt. M.W. Myburgh21 en vdkt. Badenhorst22 na Rooipoort opgeruk. Hulle het die plaas omstreeks 23:00 bereik. Die burgers het hul perde sowat 600 treë van die opstal gelaat en onopgemerk te voet na die opstal beweeg.

      Toe die burgers omtrent 40 treë van die opstal was, het ’n hond begin blaf, waarna alarm gemaak is. Daarna het ’n buitewagpos van die afvalliges die Boere by ’n beeskraal gekonfronteer. Die burgers het met geweervuur geantwoord.

      Die wagposlede het na die plaashuis teruggeval en die burgers het dit omsingel. ’n Hewige geveg het uitgebreek. Gert, die oudste Brits-broer, het eerste ’n vleiswond aan die arm opgedoen. Terwyl Frederick Koch sr. regop geloop en sy manne aangespoor het om hulself met mening te verdedig, het hy ’n skoot deur die kop gekry en dood neergeslaan. Daarna is sy seun Lodewyk gewond. ’n Swart man en meisie is ook raakgeskiet toe hulle waarskynlik in die kruisvuur beland het. Die meisie het later aan haar wonde beswyk.23

      Bevestiging kon nie in die argivale bronne gevind word van beweringe dat Koch sr. op die voorstoep van die opstal ’n aggressiewe houding teen­oor die burgers ingeneem het voordat die skietgeveg uitgebreek het nie. Daarvolgens het hy half agter sy vrou Elizabeth op die stoep geskuil, terwyl hy gedreig het om die burgers te skiet. Twee burgers het hom gelyktydig geskiet toe hy vir ’n oomblik agter haar uitbeweeg het. Volgens Koch se kleinseun Jan Fick was sy oupa so naby aan sy ouma dat sy bloed op haar gespat het. Oorlewering wil dit verder hê dat die verraaiers daarna die wit vlag gehys het, maar toe die burgers nader aan die huis beweeg, het die verraaiers weer op hulle begin skiet, gevolg deur ’n onafwendbare geveg.24 Dié aspek word ook nie in die destydse verklarings genoem nie.

      Die verraaiers moes geweet het hulle kon genadelose behandeling te wagte wees as die burgers hulle vang en het hulle hardnekkig verset. Die burgers het hulle herhaaldelik gewaarsku om oor te gee, maar hulle wou nie. Volgens die ongepubliseerde dagboek van Jan Leendert Moerdijk, ’n lid van die Boere se Edwards Verkennerscorps en pa van die bekende argitek Gerhard Moerdijk (Moerdyk), het die geveg sowat ’n uur en ’n half lank voortgewoed. Deur hulle so te verset, het die verraaiers hul uiteindelike lot waarskynlik vererger.

      Die verraaiers was gedoem omdat die Britse mag op Volksrust hulle nie te hulp gesnel het nie. Die ligging van die opstal is van so ’n aard dat dit moeilik verdedigbaar is. Voor die huis is ’n laagte en aan die noorde- en oostekant is hoogtes, van waar die opstal maklik bestook kon word. Die burgers kon boonop onder dekking van die donkerte onophoudelik deur die vensters en voordeur skiet.

      Intussen het van die burgers die huis aan die agterkant aan die brand begin steek. Nie net die afvallige mans nie, maar ook hul vroue en kinders het in lewensgevaar verkeer. Dié het histeries begin gil en huil. Intussen het die mans aan die voorkant van die huis in ’n stoepkamer saamgedrom waar die burgers hulle vasgekeer het. Die burgers het hul geweervuur gestaak en die verraaiers weer tot oorgawe geroep. Die verraaiers se situasie was uiters desperaat. Daar is toe uiteindelik besluit om oor te gee. ’n Ongewapende Frederick Koch jr. het na die deur beweeg en hul oorgawe aangebied, waarna die burgers die afvalliges se wapens afgeneem het.

      Die verraaiers is nie sagkens gehanteer nie. Die twee gewondes, Gert Brits en Lodewyk Koch, asook die beseerde Cornelius Brits, is saam met die ander verraaiers weggeneem voordat enige Britse versterkings kon opdaag. Later het Marthinus Brits verklaar dat die burgers aggressief was en hulle onder meer toegesnou het dat Koch sr. sy dood verdien het en dat hulle spyt was die gewonde Gert Brits het nie dieselfde weg gegaan nie omdat hulle sy bloed lankal gesoek het. Moerdijk praat van ’n aandoenlike toneel waar die vroue en kinders buite gestaan en die gebeure aanskou het.25 Koch sr. se dood was net die begin van die families se tragedie.

      Nog dieselfde nag het die burgers met die nege gevange verraaiers (om ’n onbekende rede was Gert Brink nie onder hulle nie), gebuite perde, heelwat beeste en ander los goed na Alfred Robertson se plaas, Elandsberg, ver­trek waar hulle die volgende oggend aangekom het.26 Daarna is die gevangenes op ’n trolliewa met agt muile gelaai en na die laer op Goedehoop geneem. Teen vroegmiddag op Woensdag 24 Julie 1901 is hulle na die plaas Baltrasna, oos van Amersfoort, geneem waar verskeie Boereleiers reeds vergader het.

      Op Baltrasna het ’n krygshof op die verraaiers gewag. Die volgende dag is hulle op aanklag van hoogverraad verhoor. In die klagstaat is hulle daarvan beskuldig dat hulle hul eerstens aan die Britse magte oorgegee het en tweedens wapens teen die republikeinse magte opgeneem het. Volgens Moer­dijk is daar ook beweer hulle het by die Britse magte aangesluit. Al die beskuldigdes het op die eerste aanklag skuldig gepleit, maar onskuldig op die tweede. Hul verweer was dat hulle bloot hul vee teen strooptogte verdedig het, ongeag wie dit uitgevoer het. Daar was heel waarskynlik ’n verdere aanklag teen Gert Brits – dat hy medeburgers probeer omhaal het om hulle aan die Britte oor te gee. Spesifieke getuienis in dié verband is tydens die verhoor aangebied.

      Uit die aard van sy rang as assistent-kommandant-generaal het Chris Botha die bevoegdheid gehad om die doodsvonnis te bekragtig en het hy daarom nie deel uitgemaak van die krygshof nie. Die hof het uit sewe lede bestaan met kmdt. Izak J. Greylingh27 as voorsittende beampte en Adriaan Badenhorst28 as ondervoorsitter. Die ander lede was asst.vdkt. Piet Badenhorst29 en Dirk Kemp (almal van Wakkerstroom) en Willem Buhrman van Ermelo. Landdros Bosman was die aanklaer en lt. Jordaan die klerk van die hof.30

      Die verhoor het in die voorhuis van die plaasopstal op Baltrasna plaasgevind. Die vervolging het minstens sewe getuies geroep. Die beskikbare bronne is vaag oor die presiese aard van die getuienis teen die afvalliges. Benewens die getuienis oor die skietgeveg is Gert Brits daarvan beskuldig dat hy vroeër ’n leidende rol in die aanhitsing tot die oorgawe van burgers gespeel het. Dit het ook teen hom getel dat hy ’n voormalige assistent-veldkornet van die Wakkerstroom-kommando was. Later het sy broer Mar­thinus verklaar die getuies was “baie bitter” teenoor sy oudste broer.

      Hy het ook beweer hulle is geen kans gegun om hulself te verdedig nie, maar te oordeel aan die weergawes van die ander beskuldigdes wat die gebeure oorleef het, was dit nie die geval nie. Die krygshof het wel geweier dat die saak op versoek van Gert Brits vir die roep van ’n verdedigingsgetuie uitgestel word. Volgens die hof kon dié getuie niks tot voordeel van die beskuldigdes getuig nie en ’n vermorsing van tyd wees. Hoewel die beskuldigdes nie regsverteenwoordiging gehad het nie, is daar aanduidings dat hulle die geleentheid gehad het

Скачать книгу