Blom van Venesië. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blom van Venesië - Susanna M. Lingua страница 6

Blom van Venesië - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

hy jou aanbod sal goedkeur nie. Hy het al juis vanmiddag byna ’n oorval gekry toe hy hoor jy is ’n landboukundige.”

      “Wel, gelukkig het hy geen seggenskap oor my nie, dus sal ek my glad nie aan hom steur nie. En as hy ’n oorval kry, kan hy dit met my komplimente kry.”

      Lana begin meteens saggies lag – die eerste keer dat Terri haar hoor lag sedert sy gister op die eiland aangekom het.

      “Jy is soos ’n tonikum vir ’n seer gemoed, Terri,” sê Lana nadat haar lagbui bedaar het. “Ek hoop van harte dat jy jou tuiste hier by ons gaan maak.”

      “Dit, my ou sussie, hang uitsluitlik daarvan af of jy my gaan toelaat om jou plaasbestuurder te wees.”

      Dit is byna elfuur toe Lana en Terri aanstaltes maak om te gaan slaap.

      Terri staan die volgende dag vroeg op om voor ontbyt te melk en die paar hoenders te versorg, want ná ontbyt wil sy eers na die skuur toe stap om te kyk of die plaasgereedskap darem in ’n goeie toestand is voordat sy die halfgeploegde land klaar ploeg. Dan word die graaf ook nog vanoggend hier op die eiland verwag.

      Die gedagte aan die graaf se besoek stoot Terri terstond uit haar gedagtes. Sy besoek is gelukkig aan Lana en het niks met haar te doen nie. Sy is ook glad nie gretig om met hom kennis te maak nie, net nuuskierig om te sien hoe hy lyk.

      Aangesien die edelman vanoggend verwag word en Terri nie graag haar suster in ’n verleentheid wil stel nie, trek sy haar oorpak uit nadat sy die hoenders versorg het en verklee haar in ’n swart langbroek en knalrooi langmoubloes waarvan die twee punte voor op haar smal middeltjie geknoop word. Haar skoene is swart leerhofskoene met plat hakke. Haar lang, goudblonde hare, wat gewoonlik op haar skouers golf en krul, is nou in ’n netjiese poniestert vasgebind. Haar gesig is liggies gegrimeer en Terri besluit dat sy goed genoeg lyk om voor die graaf te ver­skyn, indien hy met haar wil kennis maak – iets waarna sy glad nie uitsien nie, want op die oomblik stel sy net belang in die plaasgereedskap wat sy ná ontbyt wil bekyk.

      “Mag ek saam met jou na die skuur toe stap, zia Terri?” vra Armando in ’n mengsel van Engels en Italiaans toe hulle ná ontbyt van die tafel af opstaan.

      Dit is egter Lana wat sy vraag beantwoord: “Jy mag saamgaan, Armando, maar hou jou asseblief skoon. Ek wil my nie voor zio Marco vir jou skaam nie.”

      “Toemaar, ek sal sorg dat hy hom nie vuil smeer nie,” belowe Terri. Sy neem die seuntjie se hand en laat hom toe om haar na die skuur te lei.

      Terri is nog besig om een van die skuur se groot deure oop te maak, toe ’n pragtige rooi Ferrari oor die werf aangery kom en voor Lana se huis stilhou.

      “Zio Marco!” roep Armando opgewonde uit en nael so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra na die rooi vuurwa en die man en meisie wat nou uit die voertuig klim.

      Terri kry die groot, swaar deur eindelik oop en stap die groot skuur binne. Dit is taamlik donker in die skuur, gevolglik maak sy ook die ander deur oop.

      Nou kan sy darem beter sien wat om haar aangaan en sy besluit om maar eers die trekker se enjin na te sien. Sy skakel dit aan en dan verdwyn haar kop onder die enjinkap in.

      Daar is ’n donker frons op die graaf se gelaat terwyl hy kyk hoe Terri die swaar deur oopmaak. As hy nog getwyfel het oor sy besluit, is hy nou vasbeslote om dit deur te voer. Hy besef dat dit sy plig is om Terri van die boerdery af weg te hou, want dit lyk nie juis asof Lana haar daaraan steur nie.

      Die graaf en sy niggie Carla wag vir Armando wat na hulle aangehardloop kom. Hy groet die seuntjie met ’n vriendelike glimlag, neem sy handjie en beweeg na die voordeur wat oopstaan.

      “Ek sien jou suster is besig om die skuur se deur oop te maak,” sê die edelman toe hy, sy niggie en Lana sitkamer se kant toe stap.

      “Sy het vroeër vanoggend gesê sy wil gaan kyk of die plaasgereedskap darem in ’n goeie toestand is,” verduidelik Lana.

      Die graaf lyk weer dadelik onthuts, maar kry dit tog reg om bedaard te vra: “Het jy jou suster al gevra om haar tuiste hier by jou en die kinders te maak, Lana?”

      “Ek het Terri gistermiddag op die boot gevra, terwyl sy die pragtige sonsondergang bewonder het,” sê Lana half verwese. “Sy het my verseker dat sy net op een voorwaarde by my sal bly: as sy my boerdery kan waarneem. En ek vrees niemand sal haar van besluit kan laat verander nie, Marco.”

      “Ek dink jy het nie hard genoeg geprobeer om haar van besluit te laat verander nie,” beskuldig Marco haar. “Ek verstaan nie watse soort suster jy is wat sal toelaat dat jou jonger suster die boerdery vir jou behartig nie. Besef jy watter harde werk dit is?”

      “Terri het haar hulp self aangebied, Marco,” verdedig Lana haarself. “Dit is die soort werk waarvan sy hou; daarom het sy in die landbou gaan studeer. Maar sê jy vir my watter verskil gaan dit maak as sy vir my, vir haarself of vir iemand anders boer? Ek verseker jou dit is die enigste manier hoe ek haar hier sal kan hou, as ek haar toelaat om my boerdery te bestuur.”

      “Ek kan glad nie verstaan waarom jul ouers toegelaat het dat sy in die landbou, van alle dinge, gaan studeer het nie. Sy is so . . . e . . . klein en fyn; ek kan my haar glad nie op ’n trekker voorstel nie. Ek dink ek moet haar self oor hierdie onsinnige besluit gaan spreek,” laat die edelman vasbeslote en onverbiddelik hoor.

      “Ek vrees dit gaan nie so maklik wees om Terri van besluit te laat verander nie, Marco,” probeer Lana hom reghelp. “Ek herhaal: Terri laat haar deur niemand vertel wat sy moet doen nie en sy laat haar ook deur niemand intimideer nie. Maar ek sal Armando stuur om haar te gaan roep.”

      Carla het nog nie ’n woord gesê nie, maar van binne word sy verteer deur jaloesie omdat die graaf so begaan is oor die vreemde indringer. Sy is nou wel nie so mooi, fyn en blond soos Lana se suster nie, maar sy is ook nie onaantreklik nie, al is sy lank en donker. Mans het haar nog altyd aantreklik gevind en sy is seker dat sy Marco se liefde sal kan wen as Lana se suster maar net wil teruggaan na haar eie land toe.

      Carla is nog vas van plan om Terri te laat verstaan dat sy benede hul stand is en ook glad nie welkom in Italië nie.

      “Zia Terri, Mamma het gesê ek moet jou kom roep,” hoor die fyn meisie Armando skielik agter haar sê terwyl sy die groenvoersaad ondersoek. “Ek dink zio Marco wil met jou praat.”

      “Goed, ou grootman, gaan sê vir jou mamma ek kom nou-nou,” belowe Terri en stap ná ’n rukkie huis toe. Sy gaan was eers haar hande en stap dan na die sitkamer waar sy Lana en haar gaste hoor praat.

      “Terri, laat my toe om jou voor te stel aan signora Carla Albereto en conte Marco de Castellano . . . My suster, Teresa Massyn,” sê Lana toe Terri haar in die sitkamer by hulle aansluit.

      Terri erken die bekendstelling beleef. Dan tref dit haar dat sy die twee mense die vorige dag in die begraafplaas opgemerk het. Hulle het regoor haar gestaan, en sy het selfs een keer vas in die graaf se oë gekyk ook.

      Terri se blik gaan vlugtig, opmerksaam oor die graaf se geslote gesig nadat hy en sy niggie die bekendstelling erken het, dan verskuif haar blik na Carla, wat haar trots, neus in die lug en uit die hoogte aankyk asof sy iets slymerigs is wat in ’n vullis­blik hoort.

      Die uitgesproke blondekop vererg haar op die plek vir die hooghartige, aanstellerige vroumens. Sy kyk Carla met smeulende blou oë aan en sê diep onthuts: “Ek weet nie wie jy so danig is nie, of jou verbéél jy is nie, mevrou Albereto,

Скачать книгу