Blom van Venesië. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blom van Venesië - Susanna M. Lingua страница 7

Blom van Venesië - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

jou as wat jy ooit van my kan hê.”

      Ná hierdie streng teregwysing neem Terri ongeërg langs Lana op die rusbank plaas en steur haar nie verder aan Carla nie, wat nou met ’n blosende gesig luister na wat haar adellike neef driftig op Italiaans vir haar sê – ’n taal wat Terri glad nie verstaan nie.

      Terwyl Terri aan die woord was, het die graaf sy niggie met ’n donker frons aangekyk. Hy en Lana het albei gesien hoe neerhalend Carla die jonger meisie aangekyk het. Nou blits sy oë woedend op Carla terwyl hy haar driftig aanspreek.

      Terri weet nie wat die graaf vir sy niggie gesê het nie, maar sy is nog steeds rooi tot in haar nek toe sy opstaan, haastig uitstap en buite in die motor gaan sit.

      Carla is nog nie eens by die deur uit nie, toe vra die graaf Terri beleef om verskoning vir sy niggie se onvriendelike gedrag.

      Maar Carla is bitter omdat Terri haar nou by die graaf in onguns gebring het. Sedert haar man se afsterwe koester sy al die begeerte om met Marco te trou en sy gravin te wees – die gravin De Castellano, wat respek en agting van almal sal geniet.

      Carla wou Terri met haar meerderwaardige houding goed laat verstaan het dat sy onwelkom is in hul geledere, maar sy het nooit kon droom dat die Afrikaanse meisie so ’n rissie is wat nie met haar laat speel nie. Lana het nou wel gesê haar suster is pynlik reguit en uitgesproke, maar sy het vergeet om te sê dat sy so ’n klein vuurvreter is.

      Carla is woedend omdat Terri die oorsaak is dat die graaf haar voor Lana moes vra om hier buite in die motor vir hom te kom wag. Sy was nog nooit in haar lewe so diep verneder nie.

      Terwyl Carla buite in die motor voel asof sy slange kan vang, gesels die graaf met Terri oor die nadele van haar ooreenkoms met Lana.

      “So ’n fyn en tenger meisietjie soos jy as plaasbestuurder is absoluut ongehoord, signorina Teresa. So iets is nog nooit in Italië toegelaat nie,” verseker die graaf haar ernstig op Engels.

      Maar Terri laat haar nie so maklik ’n rat voor die oë draai nie.

      “Dit verbaas my dat jy so iets kan sê, meneer die graaf,” laat Terri ewe ernstig hoor. “Ek het van Italiaanse mense gehoor dat die vroue hul mans hier in Italië op die lande en met die boerdery help. Wil jy vir my sê dat die mense vir my leuens vertel het?”

      “O, nee, hulle het nie vir jou leuens vertel nie, signorina,” help die graaf haar dadelik reg. “Die mense het net versuim om vir jou te vertel dat dit die gebruik is onder die arm boere wat nie plaaswerkers kan bekostig nie.”

      “Wel, in daardie geval is dit nie ongehoord vir my om my suster se boerdery te bestuur nie. Ek verseker jou ek is glad nie so tengerig as wat ek lyk nie, meneer die graaf,” kap Terri ongeërg terug.

      “Jou suster is nie een van daardie arm boere wat nie plaaswerkers kan bekostig nie, signorina Teresa. Lana is ’n skatryk weduwee wat oorgenoeg werkers in diens kan neem.”

      “Landbou is my werk, meneer die graaf, dit is waarvoor ek opgelei is. As my suster dan nie my hulp en kennis nodig het nie, sal ek oor twee weke moet huis toe gaan om vir ’n soortgelyke betrekking aansoek te doen, of anders my eie plaas te koop en dit tot ’n lonende onderneming te omskep. Maar ek sou verkies het om my suster te help.”

      “Ek wil graag hierdie grond by jou suster koop, aangesien die res van Santa Teresa reeds aan my behoort,” lig die graaf hulle in.

      “Lana durf nie haar seun se erfenis verkoop nie,” kom dit half verontwaardig van Terri. “Ek verstaan hierdie grond is al baie geslagte in die Contarno-familie?”

      “Nie baie geslagte nie,” help die edelman haar reg. “Roberto se oupa het sy familieplaas op die vasteland aan my oupa verruil vir hierdie stukkie grond op die eiland. Die Contarno-familieplaas, Verde Valle, grens tans aan my plaas, Bella Vista, ’n paar kilometer buite Venesië.”

      “Ek voel nog Lana behoort die grond in die familie te hou vir Armando. Ek glo nie Roberto sou dit goedgekeur het as sy dit nou van die hand sit nie,” hou Terri vol.

      Die edelman se donker oë vernou opmerklik toe hy Terri agterdogtig aankyk en reguit vra: “Veg jy nou vir jou suster en haar kinders se toekoms, of vir jou eie voordeel, signorina?”

      Terri se blou oë begin weer dadelik smeul toe sy vra: “Wat presies probeer jy insinueer, meneer die graaf?”

      “Dit is tog duidelik dat jy tuis nie ’n betrekking het nie en dus hoop om hier vir jou suster te werk. Waarom laat jy jou suster nie self oor haar en haar kinders se toekoms besluit nie, signorina?” voeg die edelman haar skerp toe. Sy mag nou wel die mooiste meisie wees wat hy nog ooit ontmoet het, maar hy weier beslis om haar in hierdie saak haar sin te gee. Sy sake is ook nie met haar nie, maar met haar suster.

      Terri vererg haar bloedig vir die graaf se valse beskuldiging. Haar gesig is opvallend bleek toe sy sê: “Verskoon my. Ek wou net my suster help, nie myself op haar koste verryk nie. Vir jou inligting, meneer die graaf: my diens aan my suster sou gratis gewees het, omdat ek geen sinnigheid koester om op haar te teer nie. Maar dit maak nie meer saak nie, want ek het nou finaal besluit om oor twee weke huis toe te gaan. Ek is nog nooit so deur vreemdes beledig soos deur jou en jou niggie nie. Ek glo nie ek hou van hierdie land se mense nie.”

      Met hierdie woorde staan Terri op en gaan haastig na haar slaapkamer, voordat die edelman haar nog om verskoning kan vra. Van hom en sy niggie het sy genoeg gehad vir ’n leeftyd.

      Nadat Terri haar in haar oorpak verklee het, stap sy na die skuur toe om die trekker te gaan haal. Sy besluit om maar gou die land klaar te ploeg, ingeval Lana nié die plaas aan die graaf verkoop nie.

      Toe Terri ná ’n rukkie op die trekker verby die graaf se duur motor ry, draai Carla haar gesig haastig weg. Sy is nog steeds woedend omdat Terri die oorsaak is dat Marco vir haar kwaad is en haar versoek het om in die motor vir hom te gaan wag. Maar sy besef ook dat sy baie lig sal moet loop vir Terri, want so klein en fyn as wat sy is, sal sy bepaald ook nie skroom om Marco in te vlieg nie. Lana het gelyk gehad. Wanneer haar suster kwaad is, stuit sy vir niemand nie.

      Terri is ook net verby die graaf se motor, toe keer Armando haar voor.

      “Zia Terri!” roep Armando uit nadat Terri die trekker tot stilstand gebring het. “Zio Marco wil met jou praat!”

      “My liewe kind, sê vir jou zio Marco ek sê hy kan met my komplimente in sy peetjie vlieg. Ek het niks vir hom te sê nie en ek wil ook nie weet wat hý te sê het nie,” voeg Terri die seun toe. Toe ignoreer sy die kind se verbaasde gesiggie, skakel die trekker aan en ry in die rigting van die halfgeploegde land.

      Sy het byna klaar geploeg, toe hou die graaf se motor langs die land stil. Hy klim haastig uit, stap na die punt waar die trekker nou enige oomblik gaan draai en beduie met ’n handgebaar aan Terri om stil te hou. Sy doen dit egter teen haar sin, maar bly op die trekker sit en wag dat hy na haar toe moet kom.

      Daar is ’n ergerlike trek op die graaf se skraal, fynbesnede gesig toe hy hom by Terri aansluit en sy blik op haar oorpak val. Maar dan val dit hom weer by dat hy haar om verskoning wil vra omdat hy haar vroeër onwetend beledig het. Haar koppigheid jaag ’n mens ook so die harnas in dat jy dinge sê wat jy andersins nooit sou gesê het nie, dink die edelman en stap nader totdat hy langs die trekker staan.

      “Ek wil jou graag om verskoning vra omdat ek jou vroeër beledig het, signorina,” hoor Terri hom sê. “Ek het geen ver­skoning vir my gedrag nie, dus kan ek net sê ek is jammer.”

Скачать книгу