Blom van Venesië. Susanna M. Lingua

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Blom van Venesië - Susanna M. Lingua страница 8

Blom van Venesië - Susanna M. Lingua

Скачать книгу

die man niks wys kan word nie. “Ek wil graag die land klaar ploeg en die saad insit . . .”

      “Moet asseblief nie verder met die ploeëry aangaan nie, signorina. Ek –”

      “Verskoon my, meneer, maar ek aanvaar nooit bevele van ander nie,” val Terri hom opstandig in die rede. “Dit is my suster se plaas . . .”

      “Nie meer nie,” help hy haar dadelik reg. “Die grond behoort nou aan my. Trouens, die hele eiland behoort nou aan my. Jy kan jou dus nou soos die dame gedra wat jy is, en die boerdery aan die mans oorlaat.”

      “In daardie geval sal ek my so gou moontlik van jou eiendom verwyder, meneer,” belowe Terri, nog steeds met ’n geslote gesig.

      “Hoe gaan jy die eiland verlaat, signorina?” wil die graaf weet. Vir Terri klink dit asof daar iets soos ’n uitdaging in die man se stem is. Maar dan gaan hy ter verduideliking voort: “Al my bote is in Venesië. Ek het met die helikopter hierheen gevlieg.”

      “O, ek sal wel ’n plan maak, al moet ek ook ’n vissersbootjie huur . . .”

      “Ek sal jou aanraai om liewer jou suster te gaan help inpak om na die vasteland te verhuis,” versoek hy Terri met oë wat smeul van ergernis oor haar halsstarrigheid.

      “Gaan gee bevele aan jou onderhoriges, meneer,” raai Terri hom met ’n ongenaakbare houding aan.

      Hierna ignoreer sy die graaf openlik. Sy skakel die trekker aan en neem dit terug na die skuur, sonder om eens vir hom tot siens te sê. Vir Carla sal sy eerder met die trekker uit haar pad ry as om vir haar tot siens te sê.

      Met vernoude oë kyk die edelman die pragtige, uitgesproke meisie agterna. Dan gaan sy blik stadig oor die halfgeploegde land, en dit is vir hom duidelik dat sy baie goed opgelei is. Maar onder sy mense het elke vrou haar plek – en Terri se plek is by haar suster in die huis.

      Daar is ’n ongelukkige trek op die graaf se aantreklike gelaat toe hy in sy motor klim en na sy herehuis toe ry wat op die hoogste punt van die eiland staan. Vandat hy Terri gister in die begraafplaas gesien het, so beeldmooi, fyn en vroulik, het hy gehoop dat hulle vriende kon wees, mekaar goed sou leer ken, en later . . .

      “Lana se suster is absoluut ongemanierd om jou so af te jak, Marco,” maak Carla met ’n ligte frons ’n einde aan sy gedagtes.

      “Nee, dit is nie juffrou Teresa wat ongemanierd is nie, Carla, dit is jý wat jóú maniere iewers verloor het,” wys die graaf haar streng tereg. “Wie het jou die reg gegee om juffrou Teresa aan te kyk asof sy iets onaangenaams en benede jou is? Ek blameer haar glad nie dat sy jou op jou plek gesit het. Dus, moet nooit dink jy is beter as sy nie, Carla, want jy is nie en jy sal dit nooit wees nie. Maar vir jou inligting: juffrou Teresa het ’n rede waarom sy my afgejak het, en jou belediging is deel van daardie rede.”

      Hy vertel Carla egter nie dat hy Terri ook vroeër onwetend beledig het nie, en dat dit lyk asof die pragtige witkop nou glad nie van Italië en sy mense hou nie. Hy voel bitter teleurgesteld hieroor en hy kan maar net hoop dat Lana haar sal kan oorreed om wel haar tuiste hier in Venesië te maak. Hy hoop nog steeds om haar vriendskap en vertroue te wen, ten spyte van haar afjak.

      Carla voel op die oomblik platgeslaan en baie bitter omdat Marco so openlik kant kies vir daardie parmantige witkop. Sy erken dat haar optrede aanstoot gegee het, maar dit was bedoel om die klein snip af te stoot sodat sy huis toe kan gaan en nie dalk by Lana haar intrek sal kom neem nie. Sy hoop egter dat sy in haar doel geslaag het, anders het sy haar Marco se gram­skap verniet op die hals gehaal.

      Carla is diep bewus van Marco se afsydigheid teenoor haar, maar sy maak asof daar niks tussen hulle gebeur het nie. Sy sal dit alles en nog meer van hom verduur, as sy maar net eendag die geëerde posisie as sy vrou, die gravin De Castellano, kan beklee.

      Ná haar tuiskoms gaan Terri dadelik bad en verklee haar in ’n bruin langbroek en blompienk bloes. Daarna lui die klok vir middagete en moet sy haar dadelik na die eetkamer haas.

      Terwyl hulle die maaltyd nuttig, gesels Terri oor gemeen­skaplike vriende in Suid-Afrika wat Lana jare laas gesien het. Sy meld egter nie ’n woord van die graaf se aankondiging dat Lana na die vasteland gaan verhuis nie. Sy het reeds besluit om haar liewer uit Lana se sake te hou, voordat haar goeie bedoelings dalk weer verkeerd vertolk word.

      Ná die ete kondig Terri aan dat sy ’n entjie langs die strand wil gaan stap. Maar dan hoor sy Lana sag en vriendelik sê: “Kom sit eers ’n rukkie by my in die sitkamer, kleinsus. Daar is iets belangriks wat ek jou wil vertel.”

      Hulle neem in die sitkamer op ’n rusbank plaas, en toe Terri niks sê nie, laat Lana met ’n sweem van ’n glimlaggie hoor: “Dit lyk asof jy nie belangstel in wat ek jou wil vertel nie.”

      “O, nee, ek stel belang, ousus. Ek wag maar net dat jy my moet vertel,” sê Terri en kyk Lana afwagtend aan.

      “Ons gaan na die vasteland verhuis, waar jy in ’n motor sal kan klim en ry net waar jy wil wees. Ek is seker jy sal gelukkig wees op die vasteland –”

      “Jy verhuis tog seker nie om mý onthalwe nie, Lana,” val Terri haar in die rede terwyl sy haar ousus ernstig en reguit aankyk.

      “Wel, Marco meen dat jy meer tevrede op die vasteland sal wees . . .”

      “Wag ’n bietjie,” keer Terri met ’n gesteurde frons. “Sê asseblief vir daardie Marco-vent om nie my lewe te probeer reël en vir my te besluit nie. Dit gaan my nie aan waar jy en jou kinders woon nie, Lana. My tuiste is Suid-Afrika, nie hier in Italië nie. En waar jy die volgende twee weke bly, terwyl ek by jou en die kinders kuier, maak aan my geen verskil nie. Moet dus asseblief nie dink jy moet jou grond op die eiland om my onthalwe van die hand sit nie.”

      “Ek verkoop nie hierdie landgoed nie, Terri, ek verruil dit vir die Contarno-familie se oorspronklike familieplaas, Verde Valle, wat aan Marco se familieplaas grens,” vertel Lana. “Die ruil van plase pas my baie goed, want Armando moet volgende jaar skool toe gaan en dit sou baie ongerieflik gewees het om hom elke dag by die skool op die vasteland te besorg.

      “Die plaas Verde Valle is natuurlik ook baie groter as hierdie een op die eiland. Marco het ook gesê hy sal vir my ’n baie bekwame plaasbestuurder bring, wat sal sorg dat alles glad verloop.”

      “In daardie geval het jy dan nie my hulp nodig nie. Maar ek sal jou eers help om na die nuwe plaas te verhuis en gevestig te raak, voordat ek huis toe gaan om my eie sake in orde te gaan bring,” belowe Terri.

      “Ek wens jy wil liewer by my en die kinders bly, Terri. Waarom wil jy alleen op ’n plaas gaan sukkel, of miskien vreemde mense met jou kennis verryk? Die kinders is lief vir jou en ons wil jou baie graag hier by ons hê,” soebat Lana. “Sal jy nie maar jou besluit heroorweeg nie?”

      “Ek vrees dit is vir my heeltemal onmoontlik om van besluit te verander, ousus. Met ’n bekwame plaasbestuurder in jou diens sal daar vir mý niks te doen wees nie. Ek is ook nie van plan om my studiegeld in die water te gooi deur nou met gevoude hande te sit en niks doen nie. Ek het feitlik die helfte van my erfgeld gebruik om my in die landbou te bekwaam. In Suid-Afrika is baie werk, ás ek dalk nie ’n lening kry om my eie plaas te koop nie.

      “Ek sal ook nooit gratis by jou kan bly nie, ousus, al is jy ook hoe ryk. Om by jou te bly, moet ek ’n verdienste hê om vir my verblyf te kan betaal, en die enigste werk waarvoor ek opgelei is, is nie hier vir my beskikbaar nie,” verduidelik Terri. “Vergeet dus nou alles en vertel my wanneer en hoe jy na die

Скачать книгу