Stukkies van die hemel op aarde. Dirkie Smit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit страница 12

Автор:
Серия:
Издательство:
Stukkies van die hemel op aarde - Dirkie Smit

Скачать книгу

is. Ons sien meestal egter eers goed hoe belangrik dissipline regtig is wanneer sake begin skeefloop. En hy noem verskillende voorbeelde.

      Dissipline loop skeef in gevalle van verwaarlosing, waar dissipline saam met die gesinslewe totaal verbrokkel het en kinders op straat – of dalk alleen voor die televisie of die rekenaar – hulself grootmaak.

      Of dit loop skeef in permissiewe gesinne waar dissipline doelbewus deur ouers versaak word, dikwels vanweë ’n verbruikersmentaliteit van doen-tog-maar-wat-julle-wil, begeer-net-wat-julle-wil, geniet-wat-julle-ook-al-wil, koop-wat-julle-wil, soveel en so vryelik as wat julle kan.

      Maar sake loop ook skeef waar rigorisme voorkom, sê Van der Ven, waar daar wel dissipline is, ja, maar ’n siek soort dissipline, dwingend en onderdrukkend – soos in die berugte Pruisiese opvoedingsopdrag om “die kind se bose wil te breek” deur middel van dissipline.

      Wat is gesonde dissipline dan? vra Van der Ven. En hy antwoord self: Dis nié outoritêr, soos in rigorisme nie. Nóg is dit alte verdraagsaam, soos in permissiwiteit. Nóg is dit onverskillig, soos by verwaarlosing.

      Gesonde dissipline verg wel sterk beheer, sê hy, maar altyd sáám met baie omgee, baie sorg en baie liefde.

      Goeie dissipline vra dat kinders gelei en aangemoedig word met ’n duidelike doel, naamlik: dat hulle sal groei tot volwassenheid, gesonde oordeel en vryheid. Dat hulle voortdurend gehelp sal word om te verstáán wat op die spel is in die norme, reëls en waardes waaroor die gemeenskap so sterk voel. Dat hulle ondersteun word om dié waardes en norme bewustelik al meer vir hulself toe te eien, al meer hulle eie te maak.

      Maar tegelyk moet hulle deurentyd bewus bly van die volkome aanvaarding van die kant van hulle ouers, en nóóit verwerp voel of ervaar dat liefde van hulle weerhou word as vorm van dissipline nie. Selfs die straf wat soms nodig mag wees, moet altyd deur hulle beleef word as gestaltes van liefde, nie as vorme van kritiek of verwerping nie, sê hy.

      En waarom is sulke dissipline so belangrik? Wel, sê hy, in vaktaal, omdat dit lei tot gewoontevorming, en dié weer tot selfregulering.

      Dissipline kweek gewoontes. En dié word later deel van jou karakter, jou aard, jou menswees. Sodat jy dié dinge later vanself en van harte, as tweede natuur, begin doen. Sodat jy jousélf later in die lig daarvan leer meet en weeg en, waar nodig, verander. Gelowiges noem dit bekeer.

      Sonder súlke mense – wat hulself as ’t ware van buite kan sien, kan beoordeel, en indien nodig, kan regruk en toewy aan menslike waardes – is enige samelewing siek tot die dood, sê hy.

      Ja, dit klink so eenvoudig, ’n mens staan eintlik verbluf oor hoe iemand wat oor morele vorming skryf, in sy eerste boek die waarde van dissipline kon vergeet! Maar dan weer, as ’n mens ’n bietjie rondkyk, is jy amper nog méér verbaas dat iemand dit uiteindelik tog wel ’n slag weer onthou het . . .

      Om na op te kyk?

      Wanneer nuusberigte vertel van kindermisdaad behoort enige samelewing te skrik. Wanneer ons hoor van geweld in skole, van verkragting deur jeugdiges, wanneer kinders met messe en wapens die strate regeer, wanneer die gesigte van gesoekte misdadigers op die TV-skerm soos opgeskote kinders lyk, flikker alle gevaartekens rooi.

      Want dan word menswaardige saamleef in die jare wat voorlê diepgaande bedreig.

      Dalk onthou iemand nog daardie grusame inkyk in ons soort wêreld toe, in 1994 in Chicago, twee seuns van tien en elf die vyfjarige Eric Morris van die 14de verdieping van ’n gebou afgegooi het omdat hy nie vir hulle wou lekkers steel nie. Sy agtjarige boetie Derrick het vergeefs probeer keer. Albei dié klein misdadigers het in daardie stadium van hulle jong lewe reeds lang kriminele rekords gehad. En albei se pa’s was op dié tydstip self in die tronk.

      Die openbare reaksie was een van skok en verslaentheid. Dis na volwassenes, het president Clinton destyds roerend gesê, dat kinders opkyk vir voorbeeld en leiding, en wat sien hulle?

      Dié reaksie is begryplik. Baie van ons, ja, dalk die meeste, dink só: dat moraliteit aangeleer word deur op te kyk na ander en hulle voorbeeld te volg. Daarom is rolmodelle so belangrik.

      Moraliteit kom deur sosialisering, sê geleerdes, deurdat individue die waardes en norme van hulle groep en tradisie by ander raaksien en self aanleer, internaliseer, hulle eie maak. Daarom moet ons kan opkyk en sien: Só maak mense, en so maak mense nié. Moraliteit leef van goeie geselskap.

      En sekerlik is dit waar. Maar net gedeeltelik.

      Dinge is ingewikkelder as wat ons mag dink.

      Want wie is dié volwassenes na wie opgesien moet word? Waar en wanneer kyk ons so op na hulle? Is ons eie waardes en norme presies gevorm deur volwassenes êrens langs ons lewenspad?

      Dalk van ons ouers? Nee, sekerlik nie. Van ouers en familielede kry ons uiteenlopende morele seine. Hulle doen weerspreek dikwels hulle sê. Hoe hulle van ander mense praat, of met mekaar, verloën dalk die waardes wat hulle aan ons voorhou. Trouens, die gesinswaardes wat ouers koester, die politieke waardes waaroor hulle graag praat, die godsdienstige waardes wat hulle oënskynlik bely, lê soms wêrelde uiteen, en dalk ook nog ver verwyder van die ekonomiese waardes wat hulle boonop self najaag, en wat hulle wil hê hulle kinders moet ook najaag. Nee, soms is al wat kinders sien as hulle opkyk dit wat hulle nié wil wees nie.

      Daarby speel talle ánder mense ook sleutelrolle in ons eie lewensverhale. Daar is significant others wat óók vir ons tel, wat saak maak, wat ons beïnvloed. Dink aan vriende, tydgenote en die geweldige groepsdruk van ons tyd. Dink aan openbare figure en helde, musiek- en rolprentsterre, kunstenaars, suksesvolle sport- en sakelui, dié wat swierige klere, motors en besittings kan bekostig, ja, dié wat allerlei soorte wapens dra en ongestraf die buurt regeer.

      Nee, ons kyk nie net op nie, maar ook óm ons – én boonop kyk ons televisie en video’s. Ons sien ’n veelvoud van so-maak-mens-verhale rondom ons. En daarom is dit ongelukkig nie net vir opkyk nie.

      Alhoewel dit uiteraard sou help as ons vérder wou opkyk, en hoër, en langer in régte Goeie Geselskap sou vertoef. Maar dis weer ’n ander storie.

      In die spieël?

      Ons samelewing smag na morele vorming.

      Morele vorming bou karakter, dit help vorm mense van integriteit, mense wat weet wie hulle is, wat weet waarvoor hulle staan, wat weet waarin hulle glo – en wat bereid is om só te leef, ook al hou niemand hulle dop nie. Ware morele mense se gedrag is nie afhanklik van ander se opinie nie, maar van hulle eie, selfs al kos dit iets, selfs al moet hulle daarvoor opoffer en ’n prys betaal. Morele mense leef moreel omdat hulle nie ontrou wil wees aan hulself nie.

      Hulle wil nooit skaam wees om in die spieël te kyk en hulself te sien nie.

      Maar ons moeilikheid is dat dié sienings deesdae ouwêrelds klink. Ons leef nou in ’n pluralistiese, gefragmenteerde wêreld, sê mense. Eintlik leef ons in talle wêrelde tegelyk, elk met sy eie spelreëls en sy eie manier van doen. Dis tipies van die moderne lewe, in moderne samelewings, so sê hulle. In óns land is dit dalk nog nuut, is dié tendens nog besig om te ontwikkel, om te groei en ryp te word as die volle vrug van snelle demokratisering en sekularisasie, maar elders is dit al ou nuus.

      Kenners van sosiale teorie beskryf die verloop van modernisasie presies só. Lewensterreine wat vroeër nog één was, val uiteen. Waar politiek, die onderwys, godsdiens en kultuur vroeër op mekaar ingewerk het, word dit nou aparte leefwêrelde, elkeen met sy eie reëls

Скачать книгу