So was dit. Johan van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу So was dit - Johan van Wyk страница 3

So was dit - Johan van Wyk

Скачать книгу

verbleik, het Johny ’n blik verf gekoop en haar in die agterplaas met ’n vlieëgifspuit in die kleur van sy sigaretboksie oorgeverf – in “Gunston orange”. Die Essex het soos ’n king-size Navel-lemoen gelyk toe hy klaar was.

      Met die oorskiet het hy die paraffienblikke met sy ma se malvas daar­in op die rooi sementstoep ook “Gunston orange” geverf.

      Maar Lewies sou die Floorse se eer herstel.

      Toe Ongunsfontein jare later – sy ouers en broers was reeds dood en hy afgetree – in die mark kom, het hy met ’n glimmende swart Mercedes Calvinia toe gery en sy pa se grond binne ’n dag ongesiens kontant teruggekoop.

      Ná die transaksie het hy uitgery Ongunsfontein toe. By die bekslanerhek het hy stilgehou, ’n blikkie verf en ’n kwassie uit die Mercedes se kattebak gehaal, die “On” op die naambordjie doodgeverf en die “g” ’n hoofletter gemaak sodat dit “Gunsfontein” kon lees.

      Daarna het hy, soos sy oupa toe hy op Giflaagte gesterf het, op die klipstoep van die vervalle ou kleihuis gaan sit en kyk hoe die Jan Swartsberge pers word in die ondergaande son. Toe dit donker word, het hy in die oorblyfsels van sy ma se kookskerm vuurgemaak, ’n bottel White Horse uit die Benz gehaal, ’n lamsrib op die kole gegooi en dit by swart koffie en roosterkoek met sy knipmes afgeëet. ’n Sekelmaan het agter vlieswolkies deur die eensame nagtelike hemel geskuif terwyl hy tot laat sit en kyk het hoe die gloeiende kole ver­dof en as word . . .

      Sy liggaam was reeds koud en styf, sy oë hemelwaarts verstar, toe ’n skaapwagter hom vroeg die volgende oggend daar gekry het.

      Die Ondervelders gaan stad toe

      Die kruik bewaar lank die geur

      van waarmee dit deurtrek was toe dit nog nuut was

      Horatius

      “ONDERVELDERS”, soos die Noordweste se boeremense ’n geslag ge­lede bekend was, het nie juis gereis nie. In ’n swaarkrytyd het hulle ook nie die geld gehad om dit te doen nie. Hulle was tevrede om hul lewe op verafgeleë plase en klein dorpies te slyt. Hulle was ook bang vir vreemde, gevaarlike stede, hoewel toe veel kleiner en veiliger as vandag.

      Die boere se afgesonderde lewe is bepaal deur die gang van die sei­soene en die eise van lamtyd, saaityd en oestyd. Dit is slegs afgewissel deur dope, troues, begrafnisse en om maandeliks dorp toe te gaan vir negosieware.

      Toe ’n nuwe predikant op huisbesoek, nadat hy tydens ’n swaar droogte Habakuk se gebed voorgelees en vir reën gebid het, by Annie Geelhoek wou weet of sy al in die Kaap was, het sy haar arms oor haar borste gevou en gelate geteem: “Nee, dominee, hier by ons is dit maar net ‘Geelhoek op’ en ‘Geelhoek af’.”

      As dit moet, het net die dapperstes dit buite die grense van hul distrik gewaag. Meestal vir ’n operasie, ander mediese behandeling of “om onder die ligte te kom”, soos hulle na die neem van x-straalfoto’s verwys het. Daarvoor – en vir kwaai oujongnooimatrones, vreemde reuke, smaaklose hospitaalkos en geleerde dokters in lang wit jasse – was hulle nog banger as vir die stad. Toe my suster in 1947 ’n operasie in die Volkshospitaal in Kaapstad moes ondergaan, het my ma, met spesiale toestemming van die matrone, op ’n mat voor die bed in haar kamer geslaap en vir haar kos ingesmokkel wat van die plaas af saam­gebring is.

      Met die groot wol boom in die 1950’s het boere ryk begin word en is lekker karre kontant gekoop en die lang pad aangedurf. ’n Nuwe wêreld – die groot stad met sy blink liggies, hotelle, bioskope en winkels – het vir hulle oopgegaan. Toe Willem Naald op sy eerste besoek in Kaapstad rondgeneem is, het hy verwonderd uitgeroep: “Vandag doen ek wêreldkennis op!”

      By strandoorde het boervroue wat dit voorheen nie sou waag om meer as ’n enkel te wys nie, in stemmige two piece-baaikostuums op lilo’s in die branders gebaljaar terwyl die “bediendes” – die rokspante by hul bloomers teen die bobeen ingedruk – met die kinders in die vlak watertjies gespeel en sandkastele gebou het.

      Laatmiddag is sundowners op hotelstoepe gedrink. Saans is by keurige spyskaartetes, bedien deur kelners met wit handskoene, aan­gesit vir sop, vis, drie soorte vleis, vegetables in season, geskep uit ’n silwer bak met afskortings, twee soorte poedings en kaas en beskui­tjies by koffie en likeur. ’n Gewilde gebruik was om die vleiskosse saam te voeg. Toe Jannie Blomfontein die eerste keer in die White House-hotel in die Strand eet, het hy die spyskaart net een kyk gegee en gesê: “Combine!”

      Die spyskaart is van bo tot onder deurgewerk. Seelug gee jou eetlus. Daarna is stof uitgedans tot ligdag toe op die musiek van regte orkeste. Alles vir ’n oulap en ’n bokstert vergeleke met vandag se pryse.

      In Kaapstad was die Carlton Hotel, aan die onderpunt van Adderley­straat, ’n gewilde blyplek vir boere uit die Noordweste wat in die stad gaan vakansie hou het. Daar het ek my eerste Engels gebesig: “Waiter, please bring me a glass of water.” Waarna my suster my probeer oor­tref het met: “Waiter, please bring me some tomato sauce.”

      Ons kon nie genoeg kry van die outydse hysbak met sy traliedeur nie wat bedryf is deur ’n wit hysbakdrywer in ’n uitspattige uniform. Ons het op en af tussen die verdiepings gery. Hotelle het doormen ge­had wat die groot glasdeure by die ingang en jou kar se deure vir jou oopgemaak het wanneer jy voor die hotel stilhou. Dit was nou ver­al by die grênd hotelle soos die Bordeaux en Arthur Seat in Seepunt, die Barberzon Plaza in Groenpunt en die Grand in Adderleystraat.

      Toe Klein Willem Ramskop se seun, Kallie, in 1954 in die Kaap trou, is die onthaal in die Grand Hotel gehou. Met die koffiekoppies nog uit­staande, het ant Hettie Rooiwal ’n kelner nadergeroep en gesê: “Waiter, please bring the kips and the what’sie me call it.” Sy kon nie die Engels vir “pierings” onthou nie. Sy en oom Isak het op die ou Kaapse breekwater gaan wandel waar ’n man met ’n drabord aan ’n tou om sy nek op-en-af gestap het terwyl hy kort-kort “Dates!” uitroep. Oom Isak het aan ant Hettie gedruk en gefluister: “Hy sê hy praat Duits.” Die man was ’n straatsmous wat pakkies dadels verkoop het.

      Twee seuns van Brandvlei het weer op ’n keer ’n geleentheid saam met ’n Engelssprekende handelsreisiger Paarl toe gekry om hul hoër­skoolloopbaan by Boys’ High te begin. Die Engelsman het verskrik­lik op die stofpad Calvinia toe gejaag en hulle angsbevange gemaak. Hulle wou die man stop sodat hulle kon uitklim, maar weet toe nie hoe om dit op Engels te sê nie. Toe hulle die gejaag nie langer kon verduur nie tik die dapperste een, bang om aanstoot te gee, die Engelsman versig­tig op sy skouer en sê: “Mister, just laai we here off.”

      Die Carlton was naby groot winkels soos Stuttafords, Spracklens, Fletcher & Cartright, Garlicks en die OK en C to C Basaars. Ek dink dís waar spaarsamige boervroue leer shop het. Die OK se roltrap was ’n groot avontuur en is voetjie vir voetjie bestyg. Oor Kersfees het flik­kerende neonliggies op die OK se balkon ’n slee uitgebeeld, getrek deur rendiere terwyl Kersvader die leisels vashou. Kinders wat saam met hul ouers kom inkopies doen het, het ’n lucky dip gekry. Binne-in was ’n jojo, klappers en lekkers vir die seuns.

      Saans is window-shopping in veilige strate gedoen. Die laaste keer wat ek dít in Kaapstad gedoen het, was ná die moord op dr. Verwoerd in 1966 in die Parlement. Sy foto, gedrapeer in lanfer, is in die vensters van winkels in Adderleystraat uitgestal. Mense het verslae deur die glas daarna gestaar. Party het gehuil.

      Ná 60 jaar onthou ek steeds die kosreuk in die Carlton se houtgepaneelde eetsaal, die reuse-waaiers teen die versierde staalplafon, die wit damastafeldoeke en -servette, die swaar silwer eetgerei en die rooi fez op die hoofkelner se kop.

      Om die hoek was die Metro-, Alhambra-, Colosseum- en Van Riebeeck-bioskope waar meisies in kort rokkies,

Скачать книгу