So was dit. Johan van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу So was dit - Johan van Wyk страница 4

So was dit - Johan van Wyk

Скачать книгу

oomblik in die riller Whatever Happened to Baby Jane, met Joan Crawford en Bette Davis, kon my pa nie verder rook nie. Hy het van pure senuwees sy pyp se steel afgebyt.

      In die bio-cafes, vlooiflieke met verversings, het jy ’n milkshake of ’n ice-cream soda op ’n skinkbord gekry terwyl jy na cowboy-flieks van Roy Rogers en Gene Autrey gekyk het. Partykeer was daar double features (twee prente ná mekaar) plus ’n voorprent van “The Three Stooges”, ’n cartoon van Bugs Bunny of Mickey Mouse en tydens die pouse samesang terwyl ’n tafeltennisballetjie in pas met die wysie van liedjies op Springbok Radio se treffersparade op die skerm gehop het. Liedjies soos “Sail alone silvery moon”, “Cruising down the river on a Sunday Afternoon” en “Red sails in the sunset”. In die agterste rye het jy vir die Springbokspan gevry.

      Ander nabygeleë kuierplekke was die beroemde eertydse Waldorf Café en die guitige Del Monica waar Eve Boswell, Cherry Wayner en die beroemde tromspeler Don Storer mense in die 1960’s aand ná aand vermaak het. Offisiere van Duitse duikbote wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in Tafelbaai geskuil het, het glo saans met ’n roeibootjie aan wal gegaan en in burgerlike drag in die Del Monica gekuier.

      Nie alle besoekende Ondervelders het in hotelle tuisgegaan nie. Toe jong mense die platteland verlaat en in die stede gaan werk het, het hul ouers by hulle gaan kuier en só met die stad kennis gemaak. Só vat ant Hannie Stofkraal toe eendag kort ná die Tweede Wêreldoorlog die trein Kaap toe om vir haar dogter, Florrie, te gaan kuier wat toe al lank daar gewerk en vanweë ’n huwelik met ’n Ier, met kleuter en al, verengels het. Florrie sleep haar bejaarde ou moeder stad toe.

      Tuis ná ’n uitputtende inkopiedag, waartydens sy die OK Basaar se roltrap drie keer ná mekaar gery het, vra die bekkige klein Florence: “And how was granny’s day in town?”

      Ant Hannie, wat tot standerd twee in die plaasskooltjie op Klipwerf gevorder het, het haar beste Engels bymekaargeskraap: “Oh, granny se baains paains so much from shops den in and shops den out.” Sy het haar geswelde voete in ’n skotteltjie lou soutwater gehou, gaan lê en gewens sy is terug op Stofkraal.

      Tuis het sy tot en met haar sterfdag voor sy saans gaan slaap ’n paar druppels van die bottel 4711 Eau de Cologne wat Florrie vir haar by die OK gekoop het, op haar bulsak uitgegiet. Sy het die Kaap nie weer gesien nie. Ná die begrafnis het mense by koffie en melktert gefluister ’n laventelreukie het oor die graf gedraal toe die kis in Stofkraal se blou Hantam-gruis afgesak het.

      Stefaans-sonder-sokkies en Martiens-sonder-huis

      Salig is die oë wat vir uiterlike dinge gesluit is,

      maar die innerlike kan raaksien

      Thomas a Kempis

      Stefaans-sonder-Sokkies en Martiens-sonder-huis was twee oujongkêrelbroers. Hulle het dié byname gekry omdat Stefaans nooit sokkies by sy velskoene wou dra nie en Martiens nie ’n huis gehad het nie. Hulle het op twee aangrensende grondjies, geërf van hulle pa, met bokke geboer: Stefaans op Poortjie en Martiens op Klipplaatsdrif.

      Hulle pa was bekend as Kruppel Eeljas. Hy het op 40 kruppel begin loop nadat sy linkerbeen kort onderkant die knie deur ’n stampboor se skepper versplinter is toe die boortou gebreek het. Toe kouevuur intree, moes die been afgesit word. Hulle was te arm vir ’n kunsbeen. Kruppel Eeljas het toe vir hom ’n houtbeen uit ’n bloekompaal gemaak.

      Die paal is na ondertoe met ’n hoefrasper skuins afgewerk totdat dit netjies in ’n leë konfytblik gepas het. Hy het spesiaal vir dié doel ’n tweepondblik se appelkooskonfyt by die Jood se winkel op Brandwag gekoop. Dit was die eerste keer dat hulle geblikte konfyt in die huis gehad het. Van soetgoed het hulle net bruin suiker, turksvy­stroop, pampoenkoek en kweperlekkers geken.

      Voor die blik oopgemaak is, wou Stefaans en Martiens, toe al mooi groot, by hulle pa weet hoe die mense jêm in ’n toe blik kry. Omdat hy nie self geweet het nie, het hy net gesê: “Die mense is deesdae baie slim.”

      Daarop het hy die blik met sy Paul Kruger-sakmes, met die Transvaalse wapen en die leuse “Eendraght maak Maght” op die hef, op die kombuistafel oopgesny. Hulle het die jêm op rooster­koeke ge­smeer wat hulle ma oor ’n oop vuur in die gannaskerm op die werf gaargemaak het en die blik in een slag opgeëet.

      Toe het Kruppel Eeljas, om die ergste slytasie aan sy houtbeen te voorkom, die leë blik om die bloekompaal se punt met die kort taxies vasgespyker waarmee hy altyd Stefaans en Martiens se swart, breëpunt kerknêwwies met blousool op ’n lees vasgeslaan het. Toe het hy die stuk bloekompaal met die oogklaprieme en gespes van ’n donkie­trens om sy knie vasgetrek.

      Met die hulp van dié selfgeprakseerde kruk het hy 34 jaar lank oor die weg gekom, al hinkende want die houtbeen was effens korter as die gesonde een. Wanneer hy saans die houtbeen afgehaal het en die vleis en vel om sy knie rooi geskaaf was, het hy samboksalf aan die rou plekke gesmeer.

      Toe Kruppel Eeljas, moeg en afgemat ná ’n leeftyd van swaarkry, stil in sy slaap sterf, het hulle hom gewas, op sy katel uitgelê en hom sy enigste, verslete pak klere by ’n wit losboordjiehemp sonder die boordjie aangetrek. Die broek se pyp is ingevou en onderkant die af­been se knie met ’n haakspeld vasgesteek. Hy is só gekis, sonder die houtbeen.

      Toe hulle die kis die dag met die begrafnis uit die kamer dra, het die houtbeen wat in ’n hoek staangemaak is, skielik en onverklaarbaar op die misvloer omgeval. Die blinkgeskuurde jêmblik se boom was toe al deurgestamp. Langs die kante was skraapmerke van kriedoringbosse en klein duikies wat klippertjies oor die jare gelaat het.

      Stefaans, wat met die “helmet” gebore is en die nag toe sy pa ge­sterf het troebel water – glo ’n onheilsteken – in ’n droom gesien het, het geskrik toe die houtbeen omval. Hy het vir sy ma, ta’ Mieta, gefluister: “Pagoed wil sy been gehêt-tit . . .” Terwyl die roubeklaers, wenend in die voorhuis, gewonder het wat die oponthoud veroorsaak, het ta’ Mieta en die seuns die kis oopgemaak, die broekspyp afgerol en die houtbeen op sy plek ingeskuif.

      Stefaans kon sweer dat ’n tevrede grynslaggie oor sy pa se bleek doodsgelaat gespeel het toe hulle die kis met die houtbeen in weer toemaak. Dit was natuurlik ’n leuen. Wat waar is, is dat Stefaans gehoop het om sy pa se houtbeen vir ’n stut teen ’n ankerpaal te gebruik. Pale was duur en bloekomhout sterk. Met Kruppel Eeljas se heengaan was hulle juis besig om jakkalsproef te span.

      Ná hulle pa se dood het Stefaans en Martiens ’n ruk lank saam geboer en in die ou opstal op Poortjie, waar hulle gebore is en grootgeword het, by hulle bejaarde ou moeder bly woon. Hulle was toe al ge­swore oujongkêrels – diep in die 40 – en ten spyte van hulle armoe­dige bestaan, bederf deur ’n vlytige, dienende Martha. Dit het hulle lui gemaak. Wanneer hulle nie bokke gewerk het nie, wat hoofsaaklik in lamtyd was, het hulle merendeels kitaar gespeel, geëet en geslaap. Veral Stefaans.

      Toe hulle jonger was, het hulle wel hier en daar by meisies in die buurt gekuier, maar hulle kon nie hond haaraf maak nie. Hulle het nie juis geweet hoe om te vry nie en die enkele hubare jong nooiens van die kontrei se ouers was kieskeurig. Wanneer ’n vryer opdaag, het die pa gekyk of die man se kar wieldoppe het – ’n teken van sorgsaam­heid – en of daar ’n koerant, ’n bewys dat hy kan lees, op die sitplek lê.

      Stefaans was boonop altyd sonder sokkies. Sy voete het gestink van die rouleervelskoene en dit het die meisies afgesit. Sy verskoning was dat sokkies sy voete brand. Sy enigste paar het hy een keer drie weke aanmekaar gedra. Die sokkies het bly staan toe hy hulle uit­ge­trek het.

      Die afgeleefde donkiekar, gebou op ’n ou motoronderstel, wat Krup­pel Eeljas vir sy seuns nagelaat het, het wel ’n dif gehad maar die wiele was sonder wieldoppe en daar het ook nie ’n

Скачать книгу