So was dit. Johan van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу So was dit - Johan van Wyk страница 5

So was dit - Johan van Wyk

Скачать книгу

hulle ma een môre nie opstaan en hulle met koffie en beskuit in die ramhok, ’n buitekamer waar hulle geslaap het, bedien nie, het Martiens in sy lang wit onderbroek en ’n frokkie na haar kamer ge­slof. Sy het op haar rug gelê. Haar hande wat jare lank geslag, gebak, ingelê, seep gekook, gewas, gestryk en kos gemaak het, het blou en koud oor haar bors gevou.

      Die saggeaarde Martiens het lank na haar staan en kyk voor hy die laken oor haar getrek het en die stoof in die kombuis aan die gang gekry en koffiewater opgesit het. Wetende dat niks op Poortjie weer dieselfde sal wees nie, het hy by die kombuistafel gaan sit en met sy kop in sy hande droewig begin huil.

      Toe hulle kort ná die begrafnis stry kry oor beurte vir houtmaak en kos opsit en die parmantige Stefaans al hoe astranter word, het Mar­tiens gesê: “Ek het te het.”

      Die volgende dag het hulle gedeel: 150 bokooie vir elkeen. Toe het Martiens in die pad geval Klipplaatsdrif toe. Die troppie bokke het aan die groen uitloopsels van kraalbos gepeusel, geil in die leegtes ná ’n spoegnatbuitjie, terwyl hy sy baaisiekel met sy kitaar en kooigoed op agter hulle aangestoot het. Daar het hy die vlermuismis in die klipstoor – wat sy pa self gepak het – met ’n biesiebesem uitgevee en die een hoek met fluitjiesriet en streepsakke afgesper. Die res was snags die bokke se skuiling teen jakkalse en rooikatte.

      Dis hoekom die mense hom Martiens-sonder-huis genoem het. Hy het nie ’n huis gehad nie en dít wat daar wel was, met sy bokke ge­deel.

      Op Poortjie het die eensaamheid Stefaans gou gevang. Maar uitkoms was op pad.

      Sy naaste buurman, Hennerik Hakskeen van Klipfontein, het versmoor toe ’n puts se wal op hom instort. Sy Lettie het ’n weduwee geword en Stefaans het moed geskep. Op byna 50 het hy na Lettie begin vry. Sy was nie juis aansienlik nie; mollig en ook nie meer te jonk nie. Op haar bolip was tekens van ’n snorretjie en sy het spatare gehad van al om die ander jaar se lank staan met ’n ongespeende suigeling op haar heup.

      Sy was egter nie onwillig nie en Stefaans het na ’n aanspraak ge­smag. Maklik sou dit egter nie wees nie. Haar knorrige pa, ou Giel Hardehand, en haar ma het ná Hennerik se tragiese afsterwe by haar ingetrek om met die boerdery en haar vyf kleintjies te help. Om Lettie voor die kansel te kry sou hy ou Giel moes beïndruk.

      Sy kans het gekom toe Jan Teelepel en sy swaer, Piet Breedt, baan­meester op Hoedjies, helder oordag skelm gejag en ’n wilde volstruis in Klipfontein se veld naby Poortjie se grensdraad geskiet het. Jan, Bloedsap wat hy was, het sy naam gekry omdat hy soos genl. Jan Smuts sy koffiekoppie in een hand gehou het terwyl hy met die ander een die teelepel in die piering vasknyp.

      Stefaans, onder sy bokooie, het die skoot gehoor en hom na die toneel van die daad gehaas. Rook het nog uit die loop van Jan Tee­lepel – ’n bottel Kommando-brandewyn in sy gatsak – se Lee Metford gedraai toe hy hulle op heterdaad by die dooie volstruis betrap.

      Hulle het beteuterd daar gestaan terwyl Stefaans beduie hoe hy alles vir sy “aanstaande skoonmense” sal gaan vertel. Hy het ook. Die volstruis was nog warm toe lap hy die hele petalje, ten aanhore van Lettie, by ou Giel Hardehand uit.

      Jan Teelepel se Lee Metford is deur die polisie gekonfiskeer en Piet Breedt is deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens na Pampoen­poort verplaas nadat die magistraat albei ’n boete van vyf pond opgelê het. Hulle moes Lettie ook elkeen vyf pond skadevergoeding betaal. Dis toe dat Stefaans, met die goedkeuring van ou Giel, trots op sy brawe aanstaande skoonseun, die ja-woord kry en met Lettie afhaak.

      In die kafhok op Klipfontein het die bruilofsgaste – behalwe Martiens-sonder-huis wat nie genooi was nie – weggelê aan die volstruis se gepekelde stuitjie, vlerke en maag saam met ander vleiskos, wit koek en perskebrandewyn waarna hulle drie dae lank koeksoda moes drink teen die sooibrand.

      Toe die bruidspaar, Stefaans die eerste keer in jare met sokkies, ná die bruilof half skoorvoetend kamer toe beweeg, het ou Giel vir Stefaans eenkant toe getrek en by kerslig ’n strategiese paragraaf uit “Wat elk aanstaande eggenoten behoort te weten” aan hom voor­ge­lees. Stefaans het aandagtig geluister, die raad ter harte geneem en die huweliksbed vol vertroue en in haas betree.

      Hy en sy skoonpa sou nie vir lank langs dieselfde vuur sit nie, sy heldedaad tydens die onwettige volstruisjag ten spyt. Ou Giel se bynaam was nie verniet Hardehand nie. Hy het sy pennies gedruk dat ou koningin Victoria se oë traan en ook ’n wakende oog oor Lettie s’n gehou.

      Toe Stefaans besluit om ’n kar te koop, laat kom hy die Jood van Middelpos af met ’n Fordjie – die eerstes met opdraaivensters – sodat hy die nuwigheid kan deurkyk, natuurlik teen ou Giel se sin. Stefaans, alte in sy noppies, het agter die wiel ingeklim en deur die toe venster vir sy skoonpa gevra: “Hoe lyk ek vir Pa?”

      “Soos ’n drol in ’n kênfroetbottel,” het ou Giel deur sy pruimpie se twaksop gegrom.

      Hy het nietemin die kar gekoop, op skuld. ’n Jaar later was Stefaans-sonder-sokkies, toe bekend as “Blink Stefaans”, ook sonder sy erfgrond. Die koper op die bankrotvendusie was Martiens-sonder-huis. Ná die vendusie het Martiens, met sy kitaar en kooigoed op sy baai­siekel, sy bokke teruggejaag Poortjie toe en in sy ouers se opstal ingetrek.

      Niemand het hom daarna weer Martiens-sonder-huis genoem nie.

      ’n Koekie lekkerruikseep

      TOE DIE SAKRIVIER die jaar mooi afkom en sy saaidamme vol­­stoot, maak Gert Kriedoring ’n oesie.

      Die dag toe die laaste mudsakkoring by die koöperasie op Kootjies­kolk in­gelewer is, het hy met ’n lied in sy hart in sy afgeleefde Dodge-bakkie – met die koöperasietjekkie, minus die jaar se skuld, in sy sak – plaas toe gery.

      By die huis het hy by die witgeskropte kombuistafel gaan sit, sy sweetdeurdrenkte hoed agtertoe gedruk, die tjek uit sy ka­kiehemp se bo-sak gehaal en effens huiwerig vir sy vrou, Let, gesê: “Hartjie, as dit na jou sin is, kan ons vir ’n paar daggies ’n bietjie Strand toe gaan.”

      Let het van die stoof af weggedraai, haar sagte oë vraend, en die koffiekan voor Gert neergesit. “Strand toe?”

      “Netso,” het Gert gesê en die tjek trots oor die tafel gestoot. “Die oes se geldjie.”

      “Moet jy nie eerder mielies koop nie? Die ooie begin lam ná Nuwe­jaar. Sê nou dit word droog?” Anderkant die onderdeur het ’n noor­dewind verdroogde rolbosse oor die werf gejaag.

      Asof hy wou bevestig dat hy seker is van sy saak, het Gert sy hoed weer oor sy voorkop – wit soos die driehoekie onder sy keel – getrek en gesê: “Ons sal deurkom.”

      ’n Skamerige tinteling het deur Let se skraal lyf gegaan toe sy vir hom koffie skink.

      Op hulle eerste oggend in die gewilde losieshuis Die Afrikaner­oord in die Strand, het Gert vroeg opgestaan, die gordyne weggetrek en die venster oopgestoot. ’n Vars seebries het die kamer gevul. Hy het die stoel met sy broek daarop nadergetrek, ’n tienpondnoot uit sy beur­sie gehaal, dit vir Let gegee en gesê: “Hartjie, koop nou vir jou net wat jou hart begeer.”

      Sy het die noot in ’n vierkantjie so groot soos ’n Wilson-toffie ge­vou, in die een hoekie van ’n kantsakdoekie met die reuk van Three Flowers-poeier toegeknoop en dit bo by haar rok ingedruk.

      In Friedman & Cohen se winkel in die Strand het sy aan die geblomde, kraaknuwe lakens gevoel; die sagte, wit donskussings opgetel – en weer neergesit. In die klerasie-afdeling het sy na die rye en rye rokke gekyk.

      “Jy

Скачать книгу