So was dit. Johan van Wyk

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу So was dit - Johan van Wyk страница 7

So was dit - Johan van Wyk

Скачать книгу

haal ek my hoed af as ek in die Karoo by een verbyry. As hy naby die pad is, hou ek stil om te luister hoe sy wiel sing. Dis een van die mooiste plaasgeluide.

      Soms klim ek oor ’n draadheining om die koel water, gehyg uit die aarde, bakhand by sy bek te drink en te hoor hoe dit in ’n dam plons. Wanneer ek by ’n windpomp in die Karoo vertoef, roep ek graag CM van den Heever se versreëls op: “O verre wydtes van die groot-oop dag / my siel vloei na die wasige vertes in / en voel dat in die sluimer-stiltes wag / ’n vrede heilig soos die oerbegin.”

      Dan onthou ek ook ’n hartseer windpompstorie, uit die mond van ’n Kaapse vriend, oor ’n jong man van die plaas Klawerberg, 60 km oos van Windhoek se voormalige JG Strijdom-lughawe. Willie Mehrtens was ’n sogenaamde halfnaatjie, soos kinders van wit en nie-wit ouers genoem is. Sy pa was ’n Suidwes-Duitser en sy ma ’n Hererovrou wat nie met mekaar getroud was nie. Willie het ’n deugsame man met ka­rakter geword en trots op sy afkoms. Maar hy moes sy plek ken.

      Terwyl sy wit halfbroers skoolgegaan en op Stellenbosch gestudeer het, het hy Klawerberg tot ’n puik beesplaas opgebou met die belofte dat vir hom “voorsiening gemaak sal word”. Hy het ook geleer om Klawerberg se windpompe in stand te hou.

      Toe Willie se pa sterf, moes hy hoor sy naam is uit die testament weg­gelaat. Hy het ’n bywoner geword, maar nie gaan lê nie.

      Hy het sy kennis van windpompe ingespan om ’n lewe te maak. Hy was gou onmisbaar by die boere. Hy het torings uitgeklim, wiele en koppe afgehaal, ratkaste reggemaak en pype opgetrek. ’n Ou, flenter­gatwindpomp het weer gesing wanneer Willie met hom klaar was.

      Die wind het aan hom geruk die dag toe hy teen die toring van ’n boer se 15 m hoë Climax uitgeklim het. Toe hy bo kom om aan die wiel van 4,5 m te werk het die verrotte houtplatform onder hom mee­gegee.

      Daar was ’n nattigheid in talle boere se oë toe hy weggebêre is.

      Die Climax wat Willie Mehrtens se lewe geëis het, was jare lank een van die gewildstes onder die verskillende soorte windpompe wat aan­vanklik uit veral Amerika ingevoer, maar later hier vervaardig en op grond van boere se ervaring en voorstelle verbeter is.

      In die Noordweste waar ek grootgeword het, was daar ook talle Aermotors. Soos boere onder mekaar gestry het oor of ’n Chev of ’n Ford die beste kar is, het hulle doerie tyd ook gestry oor watter wind­­pomp die ligste loop en die minste probleme gee: ’n Climax of ’n Aermotor.

      Ongeag hoe goed hulle was, is daar dikwels ook in swaarweertale oor windpompe gepraat. Hulle kon jou gryshare gee. Wanneer hulle gebreek het, het daar sweet getap. Ook wanneer pype uit ’n diep boor­gat opgetrek moes word of as hulle soms in die gat geval en met groot moeite uitgevis moes word. Jy het nie geslaap voordat die wind­pomp reggemaak is en weer begin gooi het nie. Net die liewe Here kan ’n groot trop skaap water gee as ’n windpomp staan.

      Die windpomp se grootste vyand is stormwinde. As die briek nie minstens halfpad aangedraai was nie, kon hy uitmekaar ruk. Die een wie se plig dit was om daarna om te sien, het deurgeloop as hy versuim het om dit te doen. Wanneer die noordewind in Augustus oor die vlaktes dreun, was die refrein: “Is die windpompe se brieke vas?” Dan ook die angstige vraag aan ’n skaapwagter wanneer hy uit die veld kom: “Gooi hulle?”

      Uit eie ervaring moet ek sê die Aermotor was so vlugvoetig soos ’n balletdanseres. In ’n dooie windstilte kon jy hom met ’n asemstootjie laat draai. Sy Amerikaanse vervaardiger se leuse was nie ver­niet: “Wher­­­ever you go, you see them. And wherever you see them, they go.”

      Onder Amerikaanse boere was hy bekend as die Cadillac van wind­pompe. In Suid-Afrika sweer baie Karooboere wat hulle windpompe liewer as hulle vroue het, vandag nog by die Aermotor.

      Salueer gerus die Aermotor as jy by een verbyry. Die kanse is goed dat hy amper 70 jaar nadat die eerstes in 1946 ingevoer is, steeds werk. Talle is, soos Johnny Walker se oorspronklike slagspreuk, “still going strong”. As jy een het, kyk mooi na hom. Die geheim is goeie instandhouding. En om die briek aan te draai as ’n sterk wind opsteek.

      Dan kan hy dalk vir nóg 67 jaar sy lied van genoegdoening sing. Geen musiek maak ’n boer se hart blyer nie.

      ’n Long drop sonder weerga

      Van al die teleurstellings wat ’n boer kan tref, is ’n nuwe, droë boor­gat sekerlik een van die ergstes. Die enigste water wat so ’n gat op­lewer, is die trane wat uit jou oë drup terwyl jy die boorman se tjek uitskryf.

      Die alternatief is trane van vreugde wanneer ’n straal helder, vars water uit ’n nuwe boorgat borrel en jy in jou verbeelding groen lu­sernlande onder ’n vol dam water sien. Of droom hoe jou vee dik gesuip om die krippe lê terwyl die windpomp se wiel van lekkerte sing en jy die koel water diep uit die aarde by die uitlooppyp se bek skep.

      Dit is een van die wonderlike vreugdes van boerdery.

      Nog ’n lekkerte was die vroeëre gebruik onder Karooboere om, wan­neer hulle in die veld boor en goeie water kry, ’n ranktuintjie met vrugte- en koeltebome en ’n paar akkertjies lusern by die nuwe gat aan te lê – as hospitaalkampie vir siek of swak diere. Jy sien dit nie meer nie.

      So ’n groenigheidjie en koeltetjie met geriewe vir skaapwerk was in ’n barre, stowwerige wêreld ’n klein oase. ’n Bykomende lekkerte het daarin gelê dat jy somertyd, nadat ’n trop skaap deurgewerk is, in die dam kon afkoel en ’n waatlemoen uit die ranktuintjie oopsny. Be­halwe vry is niks lekkerder nie as ’n stuk soet, rooi kroon onder ’n koelteboom op ’n Karooplaas ná ’n voormiddag se rugbreekwerk, ter­wyl jy kyk hoe jou ooie rustig die rante in wei.

      Maar dit alles bly net ’n droom wanneer jy boor en die gat is droog. Of dit word ’n nagmerrie wanneer die watertafel in ’n erge droogte sak en die veldwater begin ingee. Dis wanneer die waterwysers en die boormanne ingeroep word.

      Terwyl die waterwysers met ’n mikstokkie of ’n bottel water rondloop en die boormanne vir die aanwysing wag, begin die spanning op­laai namate die beitel dieper deur die ysterklip sak terwyl die volgende drom diesel nader gerol word en jy weet dat jy voor die bankbestuur­der sal moet kniel om die boorman te kan betaal.

      Al die tyd is die groot vraag in jou gemoed: Wanneer moet ek die boordery stop as die gat droog bly? Dis die handewringende besluit wat veeboere moet neem elke keer wanneer hulle boor, want sê nou maar jy sak net nog ’n meter en slaan dalk ’n aar raak wat die water bo by die bek laat uitspuit of die stampboor se skepper laat oorloop?

      “Sak!”

      En die beitel boor dieper die onbekende in. G’n wonder die NG Kerk het boerdery tot dobbelary verklaar nie.

      Ek weet nie wat ’n lugdrukboor jou vandag kos nie, maar dit moet sekerlik, soos die Engelse sê, ’n “arm and a leg” wees. Hoewel dit nie van vandag af is dat boordery ’n duur storie is nie.

      Die bekende prof. Francie van Zyl, eerste dekaan van Stellenbosch se mediese fakulteit, het op ’n keer op ’n boorman se vrou geopereer. Ná die operasie wou die boorman by hom weet waarom die rekening so hoog is. Hy moes toe hoor dat dit ’n “baie spesiale” operasie was.

      Die boorman se kans het gekom toe hy later op die professor se toentertydse plaas, Van Zylsdamme by Ladismith, vir water moes boor. Toe die snydokter kla oor die hoë rekening, sê die boorman droogweg: “Professor, dit was ’n baie spesiale gat . . .”

      Wat my weer laat dink aan die ou boer wat, om darem ’n bietjie

Скачать книгу